Medusa. Rudie van Rensburg
Читать онлайн книгу.geplaas, want dié is nie afhanklik van die voltooiing van die bouwerk nie. Sy stryk met haar hande oor haar lyf. Sy het soveel jare laas seks gehad, en boonop was dit ’n selfopgelegde straf ter wille van ’n groter saak.
Nou het sy iemand volgens haar eie voorskrifte bestel. En hierdie keer sal sý sorg dat dit ’n genotvolle ervaring is.
1
Maart 2018
Hy strek sy arms bo sy kop uit, gaap en stap na die badkamer. Onder die warm stortwater was hy eers sy hare, druk dan ’n streep seepjel op die spons uit voordat hy sy lyf was. Hy neurie ’n popliedjie wat hy vroegoggend op die radio gehoor het.
Met ’n vars handdoek wat na seeppoeier ruik, vryf hy homself droog. Die nuwe huishulp het sy handdoeke verlede week op eie inisiatief gewas. Sy lyk na ’n raakvatter.
Hy stap slaapkamer toe met die handdoek om sy middel geknoop, trek die gordyne weg en maak die venster oop. Die lawaai van die straatverkeer is nie meer so hinderlik as toe hy net ná sy egskeiding hier ingetrek het nie. Hy raak nou gewoond aan die woonstellewe.
Met die handdoek vryf hy sy hare tydsaam droog, neurie steeds die liedjie.
Die selfoon op sy bedkassie gee ’n SMS-biep. Hy frons. Wie sal hierdie tyd op ’n Maandagoggend al vir hom ’n boodskap stuur?
Die SMS is bondig: Nuwe besending.
Hy glimlag. As niebetalende erelid van die klub is dit sy voorreg om eerste ingelig te word oor nuwe besendings. Hy móét vanaand ’n draai daar maak.
* * *
Kaptein Kassie Kasselman kyk gesteurd na die lessenaar langs syne. Sy kollega, sersant Rooi Els, is steunend besig om ’n papiervliegtuigie te vou.
Rooi se gesig is die ene konsentrasie terwyl hy sy skepping eers met die sykant van sy hand op die lessenaar platstryk, die vlerke dan versigtig oopvou en ’n laaste verstelling aan die stert maak. Hy lig dit op met sy duim en voorvinger, die ander drie vingers weggetrek van mekaar soos dié van ’n grênd teedrinker. Met een oog toegeknyp lanseer hy die vliegtuigie met die oordrewe polsaksie van ’n veerpyltjiekampioen.
Die resultaat is dieselfde as met die dosynstuks ander vliegtuigies wat ’n paar meter voor sy lessenaar lê. Dit kry vinnig hoogte, maar duik dan met ’n skerp afwaartse trajek in die kantoor se plankvloer vas – die neus van die vliegtuigie onherstelbaar gebuig.
“Bliksis! Ek weet nie hoe Piedt dit regkry om syne so lank te laat float nie.” Rooi trek nog ’n A4-vel nader. “Sodra die brigadier die pad vat, hou ek en hy ’n kompetisie in die gang. En daar’s ’n six-pack op die spel.”
Kassie skud net sy kop en trek die boek op sy lessenaar nader.
Hy wonder wat die nasionale polisiehoof sou sê as hy nou ’n vlieg teen hierdie muur kon wees. Sy Spesiale Spookeenheid in die Kaap hou aerie-kompetisies om die tyd te verwyl, terwyl misdaad oral om hulle hoogty vier.
Kassie weet dit hinder hulle bevelvoerder ook erg dat haar eenheid se drie speurspanne al vir byna ’n maand sonder ’n enkele saak sit.
“Dis ’n helse krisis,” het brigadier Fortuin die oggend bekommerd op hulle weekvergadering gesê. “As dit ’n tendens raak, kan ons maklik ontbind word. En dis nie dat ons omgewing skielik misdaadvry is nie, maar die regte sake duik net nie op nie.”
Sy sal vanmiddag in Bellville by die streekvergadering vir stasiebevelvoerders vra of daar nie cold case-sake is wat hulle vir die Spookeenheid kan gee nie, het sy bygevoeg. Wat ’n bietjie desperaat is, na Kassie se mening.
Hy lig die boek op wat hy ’n tydjie gelede by Clarke’s Bookshop in Langstraat raakgeloop het: Chronological History of Postage Stamps in the Far East. Sy gat af betaal daarvoor, maar dis elke sent werd. Hy lees net kort stukkies op ’n slag, te bang hy kry te vinnig klaar.
Sy aandag is gou weer vasgevang, maar hy kry nie kans om verder as die eerste paragraaf van hoofstuk drie te lees nie. Lettie, die brigadier se nuwe persoonlike assistent, kom by hulle kantoor in. Volgens Kassie is sy ’n moerse verbetering op die vorige suurpruim. Partykeer glimlag sy selfs.
“Die brig het nou net gebel,” sê Lettie. “Sy waarsku dat julle nie vandag moet rondloop nie. Die eenheid het ’n gróót saak gekry en julle twee gaan dit hanteer.”
Kassie frons. “Is dit ’n cold case van een van die stasies?”
“Nee, sy’s vanoggend net ná ons vergadering ontbied na die Wes-Kaapse streekbevelvoerder se kantoor. Ek weet nie waaroor dit gaan nie, maar sy sê sy’s amper op pad terug hierheen. So julle sal binnekort weet.”
“Dis ’n blessing in disguise.” Rooi frommel sy nuutste vliegtuigie op. “Piedt sou tog net my gat geskop het.”
* * *
Johnny maak sy oë traag oop toe die bitch skrou hulle moet hulle gatte yt die bed kry.
Ha’ blonde hare staan va’oggend soes barbed wire op ha’ kop. Ha’ gevriet lyk nog leliker sonder make-up. Lyk soes ’n blerrie hedgehog wat raakgebliksem is deur ’n thunderbolt.
“Toe, Johnny, jy ook!” skrou sy en pluk die blankets van hom af.
Hy kán nie meer hierie shit handle nie.
En die clock tick ok nog aan.
Dis al six long years wat hy hier is. Op sixteen is hy nou een vannie ou hanne. En ou hanne disappear. Clement, Sipho, Pieter, Connie, Jermaine – almal net gone with the wind.
Johnny wiet ok hulle is nie na greener pastures toe nie. Óf die bitch het hulle ge-execute óf hulle is aangepass na anner dark places toe.
Hy ga’ nie wag om uit te vind wat met hulle gebeur hettie. Sy escape plan begin shape kry.
Hy staan op, vryf die slaap uit sy oë. Hy’s gatvol omlat hy soe laat geslaap het. Hy’s altyd lank vorie anner op.
Hy check homself uit in die handspieëltjie wat op sy bedkassie lê. Hy’t maer geword, kan hy sien. Sy gevriet lyk soos een van die honger kids in daai African country wie se naam hy nie kan onthou nie. Sieka van allie stres in hierie hellhole lat daa’ nou ’n scull innie mirror vi’ hom terugkyk. Sy mooi features waaroor die fokkers hier once upon a time wou vuisslaan, is nou finally iets van die past.
Die bitch skrou orders uit. Ha’ big baboon vanne assistant kom ok byrie deur in en pluk een vannie laatslapers yt’ie bed.
Johnny check die twee yt. Hulle scheme seker dis impossible om hie’ weg te kom.
“Wel, Johnny January ga’ vi’ julle ’n toffie wys en ’n beeline maak. Ek’t six years gehad om yt te figure hoe,” prewel hy.
Dis nou net ’n question van good timing and a little bit of luck.
2
Toe hy op agtien uit die weeshuis stap, het Boon Boonzaier gedink ’n nuwe, opwindende lewe lê vir hom voor. Hy’t nie geld gehad om te gaan studeer nie, maar hy’t geweet hy’s slim genoeg om ’n ordentlike werk los te slaan. Sy goeie matriekuitslae sou daarvoor sorg.
Hy was in sy moer in verkeerd.
Op sy tuisdorp, Brakpan, is hy net bekwaam genoeg geag om die hoofkarwag by ’n groot winkelsentrum te word.
Boon het Kaap toe getrek. Hy wou nog altyd by die see bly, en volgens sy vriende op Brakpan is daar baie beter werkgeleenthede as in die noorde van die land.
Dit was vier jaar gelede.
Sy Kaapse droom het intussen sleg platgeval. Hy’t hier en daar los werkies gekry – ’n kratpakker in die hawe, ’n seisoenwerker op ’n wynplaas in Durbanville, toesighouer oor skoonmakers by die stasietoilette in Bellville, kelner by ’n restaurant in die Kaapse middestad.
Harde, onderbetaalde werk wat nie ooreengestem het met sy visioen van vinnige rykdom en ’n sorgelose bestaan