Sondes van die vaders. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.vergiftig jy jou liggaam met die gestig in Kliprand se medikasie. Staak dit. Jy is geroepe om my verteenwoordiger te word. My profeet. Om mý instrument van regstelling te word.
Gabriël raak yskoud onder sy lae warm klere. Hy wag, maar nou is die stem stil.
God het vir hom gesê om sy medikasie te staak.
Nee. Dit kan nie wees nie. Dit was ’n ander stem. Moet wees!
Aan die begin het die vier kapsules per dag hom mislik gemaak, maar dis so lank gelede dat hy nie eens die gevoel onthou nie. Nou is al wat hom hinder daaromtrent, dat hy een keer ’n maand Kliprand toe moet ry vir die herhaling van sy voorskrif. Dit herinner hom aan Hansie. Die ou weergawe van hom wat hy nie wil onthou nie. Ou Hansie Horrelpoot is tog dood. Hy was deel van Pretoria Sentraal Gevangenis. Van die Pot, van die lang gang waar die veroordeeldes in hulle hokke gewag het. Daardie is ou Hansie se terrein en het niks met hom te make nie. Gabriël wil ook nie die lang jare in die getraliede gestig onthou nie. Elektriese skokke. Eensaamheid in sy siel.
Nou is dinge soveel anders. Nou het hy ’n roeping. Hy is die pastoor van wie mense praat, na wie hulle in hulle duisendtalle optrek. Hy kan drie ander Tabernakels begin as hy lus het. Geld is geen probleem meer nie. Hoekom moet hy nog die ellendige kapsules drink?
As antwoord kan hy weer doktor Botes se stem hoor: “Hansie, jy mag nóóit ophou om jou medikasie te gebruik nie, verstaan jy dit?”
En nou begin Gabriël bewe. Hy het iets besef: hy kan nie onthou hoe die kapsules lyk nie. O, hy weet hulle is groen-en-rooi, maar hy kan geen visuele beeld oproep van die kapsules wat in sy handpalm lê nie. Slegs van ’n enkele Panado. Hy kan behoorlik proe hoe hy dit in sy mond stop en droog afsluk.
Gabriël hardloop na die badkamer. Dit kan nie wees nie! Maar hy weet wat hy gaan aantref nog voor hy die kabinet se deur oopgepluk en die houertjie met kapsules uitgehaal het.
Dis nog vol. Hy het seker net een keer daarvan gedrink.
Daarteenoor is daar net drie Panado’s in die ander houertjie oor. Hy kry nooit eens kopseer nie. Dít is wat hy elke oggend gesluk het, byna ’n maand lank. Dis sy bose kant wat dit gedoen het. Hy moet sommer dadelik ’n klomp van die goed sluk, nou!
Maar nee. Hy voel ’n groot kalmte oor hom neerdaal. Daar is reeds besluit, en dit was die regte besluit. Dis buitendien nou te laat. Hy is al te lank sonder die medikasie en ’n klomp op een slag sal hom net siek maak. En hy het dit tog nooit nodig gehad nie. Dit was dan om die stem weg te hou – en die stem laat deesdae goeie dinge gebeur. Dit is aan die stem te danke dat hy hier staan, dat hulle dié wonderlike plek het.
Nou besef hy ook daar lê iets groters voor. Iets waarvoor Hansie nooit opgewasse sou gewees het nie. Ook nie ’n Gabriël wat deur onnodige medikasie aan bande gelê word nie. Hy is die begenadigde – die een wat God by sy naam geroep het. Die talentvolle prediker van die Tabernakel, meer besielend met elke preek. Hy word voorberei vir ’n groter taak.
Vieruur die oggend spoel Gabriël die maand se voorraad kapsules in die toilet af. Hy sal steeds sy voorskrif by Kliprand gaan haal, want hy wil geen agterdog wek nie. Die dokters sal baie vinnig sy pa laat weet as hy dit nie meer doen nie. Sy pa sal nie verstaan nie. Hoe kan hy aan hom verduidelik van die boodskap, die stem wat hom geroep het en wat hy nou móét gehoorsaam?
Drome. Daar kom nou meer drome. Pretoria Sentraal. Dit is asof hy soos ’n gees deur die leë gange loop. Hulle hou nie meer mense daar aan nie, weet hy. Hulle hang ook lankal nie meer mense nie. Die nuwe regime het die doodstraf afgeskaf. Hoekom droom hy nou daaroor? Geregtigheid! kom die antwoord. Maar geregtigheid vir wie, en hoe? Weer sien Gabriël die mense wat liggies aan die galgtoue in die pit swaai. Hulle monde beweeg asof hulle praat – maar hulle is almal dood, begrawe in bedelaarsgrafte.
Met ontbyt ná nog ’n lang nag van sulke drome sê hy vir sy pa dat hy in sy siel voel hy het sy plig versaak betreffende die aangehoudenes. Die mense in die tronk moet óók die boodskap ontvang. Veral hulle mag nie buite die genade gelaat word nie.
“Jy is waarlik ’n geroepene, my seun. Sal jy tyd hê daarvoor?”
“Daar is altyd tyd as mens tyd máák, Pa. Ek belowe ek sal nie die Tabernakel verwaarloos nie.”
Een maal ’n week – soms meer as ’n gevangene versoek om hom te sien – besoek Gabriël nou ’n tronk. Die meeste kere is dit Maksimum C-gevangenes in Pretoria se ou Sentraal. Byna almal is langtermynmisdadigers. Net enkele politieke gevangenes word nog daar aangehou. Gabriël besoek hulle nie; die gees lei hom altyd na dié siele na wie hy werklik moet omsien. Hulle is in die hoofgebou.
Die deel waar die terdoodveroordeeldes eenmaal aangehou is, is nou afgesper. Die owerhede het vir hom gesê dit word gerestoureer as ’n museum. Gabriël sou seker toestemming kon kry om dit te besoek, maar iets sê vir hom die tyd is nog nie reg nie.
En dan ís dit klaarblyklik, toe die owerhede ’n uitnodiging aan hom rig om Maksimum C Gevangenis se galgmuseum te besoek. Van tyd tot tyd word belangstellendes glo genooi. Gabriël het al drie maande vantevore met Maksimum C se hoofbewaarder gepraat en vaagweg laat blyk dat hy belangstel. Hier hou hy die resultaat vas, ’n uitnodiging vir Vrydag. Daar is ’n roering in sy binnenste, asof iets wakker word, of wakkerder. Al verafsku hy daardie aaklige plek, vrees hy al die ou herinneringe, weet hy dat hy moet gehoorsaam.
Daardie nag bid hy by die altaar aan die sykant van die Tabernakel. Pleit hy vir kwytskelding van die besoek, al het hy dit self versoek. Hy wag, maar daar is geen stem wat hom antwoord nie – eerder ’n bewustheid wat posvat in sy brein. ’n Bewustheid wat hy besef uit homself kom. Hy is dan geroepe.
Te veel soek vergelding, Gabriël …
Watse vergelding? wonder die jong pastoor verbouereerd. En hoekom, vir wie? Niks sal die mense wat destyds gehang is terugbring nie, stry hy in sy kop. Gaan dit oor die bewaarders, miskien die laksmanne? Hulle is seker al almal dood, of andersins baie, baie oud. Dan kom dit eindelik weer, helder en duidelik, byna galmend:
Die sondes van die vaders sal besoek word aan die kinders, selfs tot in die derde en vierde geslag.
Begrip begin daag. Die kinders? Kleinkinders?
Gabriël weet drie dae later dat hy ’n antwoord kry toe hy ’n beriggie in Beeld lees:
Jack Erasmus is pas aangestel as predikant van Fourways se NG Kerk-gemeente. Hy is ’n kleinseun van Boet Erasmus, een van Suid-Afrika se min laksmanne uit die apartheidsjare wat nog leef. Dominee Erasmus sê sy oupa, nou 97, is in ’n tehuis vir bejaardes met gevorderde alzheimersiekte.
Woede stu op in Gabriël. So, die ou laksman leef nog. Sy verstand is daarmee heen, maar hy leef nog. Haal asem. ’n Suurstofrower ten spyte van wat hy gedoen het. Dis hiérvoor dat hy voorberei is, weet hy nou. Hy moet ’n verskil maak. Hy sal aan meneer Boet Erasmus ’n besoek bring, en dan aan die res van hulle. Dit kan nie so moeilik wees om hulle op te spoor nie, hy is baie vertroud met die internet.
Dan skree hy byna van frustrasie. Alzheimers … hoe gerieflik. Die man sal nie eens meer onthou wat hy gedoen het nie. Sal ook nie weet waaroor die wraak gaan nie. En hy moet in elk geval op die rand van die dood wees, so watse verskil kán hy wat Gabriël is, maak?
Toe weet hy. Dit is dan reeds aan hom gesê. Hy hoef maar net na die stem te luister, dit het so uitdruklik aangedui waar die wraak besoek moet word. Wat was daardie woorde?
Selfs tot in die derde en vierde geslag …
Hoofstuk 6
Mei 2014, Fourways
Dominee Jack Erasmus kan maar net nie vorder met die preek nie. Hoe meer hy probeer dink, hoe minder kom die regte gedagtes; die regte woorde. Hy kan tog nie Sondag in die kerk met ’n mond vol tande staan voor die hele gemeente nie!
Hy sit in sy studeerkamer voor die rekenaar, want hy het gedink as hy nie inspirasie in homself kan vind nie, kan die internet dalk help. Daar was egter die een dwaalspoor op die ander, en dan die soveelste doodloopstraat. Alles waaroor hy behoort te preek, smaak dit vir hom, hét hy al oor gepreek.