Vergeet my nie. François Bloemhof

Читать онлайн книгу.

Vergeet my nie - François Bloemhof


Скачать книгу

      Lara, nou die passasier, stel liggies uitasem voor: “Ons het darem ook Picasso, Michelangelo en Van Gogh?”

      “Oom Thys se katte tel nie.”

      “Wel, daar is ook tannie Soekie se voorliefde vir Cher, die slaghuis se Salvador Dalí-vleiskalender … en volgende jaar begin Aardklop.”

      Nog ’n verkeerslig: rooi. Mardaleen bring die Honda tot stilstand en spring uit; die ander meisie ook. So in die hardloop skree sy vir Lara:

      “Potch is nie Oudtshoorn nie – wie gaan ’n fees hiér bywoon?”

      3

      Toe Mardaleen en Lara by Vergeet-My-Nie uitgestap kom, is dit die ene pers en geel, want hulle het albei die koshuisuniform aan. Insluitend natuurlik die geel VMN-hoedjie.

      Hier het hulle mekaar nou byna ’n volle vier jaar gelede ontmoet. Dadelik by mekaar aanklank gevind. En byna net so vinnig beste vriendinne geword.

      “En dan wil ek …”

      Mardaleen kom nie verder nie. Sy het ’n bekende gesig gewaar. Uiters bekend.

      Braam, wat eenkant staan.

      Met ’n bos rooi rose.

      “Ek dink,” sê Lara, “ek groet jou nou eers.”

      “Oukei. Sien jou later.”

      Mardaleen frons nie vir Braam nie, maar doen ook nie juis moeite om plesierig te lyk nie. Dis darem mooi blomme – wat sy sonder ’n woord by hom neem. Dit lyk asof hy nie seker is of hy ’n piksoentjie moet waag of nie, en sy neem die besluit uit sy hande deur weg te draai.

      Hy volg haar tot by die bankie waar hulle al ’n paar keer gesit het, altyd in ’n veel gemoedeliker atmosfeer.

      Sy wag. Kyk af na die rose eerder as na hom, en wonder hoeveel dit gekos het. Dis nogal ’n belegging, komende van Braam; lief vir geld uitgee is hy nie. Hulle gaan nou net langer as ’n jaar uit en haar verjaardag- en Kersgeskenke was aan die nederige kant.

      Hy skraap sy keel.

      Sy wag.

      “Ek’s jammer oor nou die aand.”

      Sy draai haar kop na hom en knik. Is half verbaas dat sy nie nou die pyn voel wat sy onnadenkende opmerking haar besorg het nie. Ook nie eens meer kwaadheid nie. Aan die een kant voel sy lus om dit net nog so ’n rukkie vir hom moeilik te maak; aan die ander kant moet ’n mens nie so traag wees met jou vergifnis nie. En sy moet onthou dat hy die aand in Bourbon Street te veel ingehad het.

      Bygesê, sy het nog nooit geglo mense se persoonlikheid verander wanneer hulle te veel drink nie – eerder dat die ware persoonlikheid dan uitkom.

      Sy gee ’n effense glimlag.

      Wat vir hom ’n aanduiding is dat hy kan nader leun vir ’n soen.

      Wat sy net mooi gereed is om te gee – hy hét dan sulke vol, soenbare lippe – toe ’n groepie VMN-eerstejaars verbyloop. Sy en Braam is onmoontlik om mis te kyk hier op die bankie, veral met die bos rooi rose, en veral met sy gesig sentimeters van hare af.

      “Môre, mejuffrou Coetzer!” kom dit in ’n koor.

      Dis hoe die eerstejaars die seniors heeljaar moet aanspreek. Is dit regtig net drie jaar sedert sy dit self gedoen het? Sy voel dekades ouer!

      Sy druk Braam ’n entjie opsy. Knik formeel vir die vier meisies.

      “Hulle is net eerstejaars,” protesteer hy, maar nie met baie vuur nie. Hy kan aflei die oomblik is verby.

      Mardaleen sit die rose langs haar op die bankie neer en haal ’n boek uit haar rugsak.

      London 1998. Elke volgende jaar se reisgids verskyn om en by dié tyd en sy was eerste om dit by die boekwinkel aan te skaf. Het haar naam op die waglys gesit. Trouens, haar naam wás die waglys.

      Wel, sy was nog nooit oorsee nie, wat nog te sê van daar gaan bly. Jy moet gereed wees. Voorbereid. Dis ’n moewiese groot onderneming – vandaar die lysies en notas wat oral uit die gids peul.

      Haar stem raak saaklik: “Ek het ons rooster vir die volgende ruk opgestel, om seker te maak ek handig alles betyds in. En dat alles gereël is vir oorsee.”

      “Lief,” gee Braam ’n laggie, “dis eers volgende jaar …?”

      “Planning is bringing the future into the present.” Sy neem sy hand en glimlag sag, want hy is net ’n ou en ouens kan so slegs in die oomblik leef.

      Buitendien het die aanraking haar pas laat onthou dat sy hom regtig liefhet. Dinge gaan so dol hier na die einde van die jaar toe, dis maklik om emosionele dinge uit die oog te verloor.

      Hy neem die rooster by haar. Hulle doen en late vir die volgende paar weke – en maande – is sorgvuldig daarop aangedui. Darem net wat hulle saam gaan doen; Braam se vrye tyd is sy vrye tyd.

      “Ek sien …” dink hy hardop.

      “Ek hoop dis duidelik?”

      Sy herinner haarself dat sy gerus meer toegeeflik kan wees. Hy is ’n vierdejaarstudent soos sy, en twee-en-twintig soos sy. Hy is jonk. Húlle is jonk. Hy kan gerus soms namens hulle albei ’n bietjie van ’n warkop wees. Sy self kan dit nie bekostig nie. En dis mos goed as ’n ou en meisie ’n bietjie van mekaar verskil, dit sorg vir balans.

      Goed dan, heelwat van mekaar verskil.

      “Hoekom die lang gesig?” vra sy toe sy hom fronsend sien wegkyk in die verte, dan na haar.

      “Dit voel of ek versmoor.”

      Mardaleen wonder vir ’n oomblik of hy bedoel daar is fout met haar beplanning – sy het dan soveel moeite gedoen, maar enigiets is seker moontlik – voor sy hom sien snuif.

      “Dis die stuifmeel,” sê sy met ’n mate van verligting. Hulle kry albei dié tyd van die jaar kwaai hooikoors. “Hierso,” kry sy vir hom ’n sneesdoekie uit haar rugsak.

      “Hooikoors is nie geschedule nie?”

      “Braam …” Sy frons, want daar is dit toe tog. Hy kom met blomme, net om dan fout te vind met haar beplanning. Nee, met die feit dát daar beplanning is.

      Wat dink hy sou andersins gebeur? Dat hulle mekaar moet sien net wanneer hy so voel? Hy het ’n onverantwoordelike streep en sou seker elke aand in Bourbon Street gelê het as sy finansies dit toegelaat het. Sy studies is nie heeltemal wat dit behoort te wees nie. Soms vermoed sy dat hy op skool die term “sorgelose student” gehoor en toe besluit het: Dis wat ek wil wees!

      Lewenslank.

      Die lewe werk nie so nie. Hy sal nog leer.

      Hoe gaan daardie ou liedjie nou weer?

      Marry the man today … and change his ways tomorrow!

      “Sorry,” sê hy.

      “Daar is min weke in die jaar oor. En daar is nog hels baie om te doen.”

      “Veral met al jou verpligtinge.”

      “Presies.” Sy wonder of hy sarkasties is, of ten minste ironies. Lyk darem nie so nie. “Dis wat dit is.”

      “Ek verstaan.”

      Dit moet die mooiste woorde wees wat daar al ooit tussen die geslagte gebesig is.

      Daarom trek sy hom met oorgawe nader. Toe dit oplaas kom, is dit geen piksoentjie nie, maar ’n volle lip-op-lip en daardie lippe het baie vir mekaar te sê.

      Alles anders hou op om te bestaan.

      Dis ’n soen wat nooit gaan eindig nie.

      Maar natuurlik eindig dit toe Mardaleen se Baby-G-horlosie piep en die werklikheid soos ’n opdringerige gas tussen hulle inbeur.

      Sy skuif van Braam af weg. Liefdevol dog ferm.

      Staan


Скачать книгу