Wilna Adriaanse-omnibus 2. Wilna Adriaanse
Читать онлайн книгу.dit ’n bedekte seën of ’n vloek is nie. Aan die een kant wil sy die oomblik so gou as moontlik agter die rug kry, maar aan die ander kant sal sy nie omgee as hierdie ontmoeting nie plaasvind nie. Nie vandag nie, nie hier nie … nie ná ’n slapelose nag en tientalle boodskappe van Jacques op haar selfoon nie.
Terwyl sy staan en wag, wonder sy of sy nie haar terugvlug kan vervroeg nie. Miskien kan sy nog saam met Andrew-hulle gaan ski. Dit sal haar goed doen. Sy sien werklik nie kans om nog tot ná Nuwejaar hier te bly nie. Aanvanklik het dit te kort gevoel en was sy hartseer dat die dae so vinnig verbygegaan het, maar nou wonder sy hoe sy die tyd gaan omkry.
Oplaas stap sy tog na die lugdiens se kantoortjie en verneem na die moontlike vervroeging van haar terugkeer. Die meisie begin haastig op die rekenaar tik en Nicolene sien hoe die niksseggende inligting oor die skerm gly. Toe skud die meisie haar donker kop. Nee, jammer, sy kan haar naam op die waglys sit, maar die meisie kan niks belowe nie. Hierdie tyd van die jaar is die vliegtuie baie vol. Die Suid-Afrikaners streep na die ski-oorde toe en die Europeërs vlug agter die son aan.
Die meisie moes die teleurstelling op Nicolene se gesig gesien het, want sy sê Nicolene moet oor ’n week weer bel, miskien is daar dan al ’n plek beskikbaar. Nicolene wil eers vir haar sê ’n week is te lank, maar sy bedink haar. Dis beslis nie die vreemde meisie se skuld dat sy nie meer kans sien vir haar langverwagte vakansie by die huis nie.
Uiteindelik kom die aankondiging dat die vlug van Heathrow-lughawe geland het en Nicolene voel hoe die sweet op haar voorkop uitslaan. Miskien is sy besig om koorsig te raak. Op hierdie oomblik sal sy dit nogal verwelkom om siek te word.
Dit duur nog ’n wyle voordat die eerste passasiers by die deure uitkom en toe Nicolene hom uiteindelik gewaar, is hy vir haar bleker as gewoonlik, maar sy besef ook dis omdat sy self nie meer so wit is nie.
Die herkenning flits in sy oë toe hy haar sien en Nicolene kry dit reg om te glimlag toe hy voor haar tot stilstand kom. Maar toe sy kop sak om haar te soen, moet sy haarself keer om nie weg te draai nie.
Toe sy die motor ’n paar oomblikke later uit die parkeerarea draai, kan sy sien hoe hy om hom rondkyk.
“Hoe was jou vlug?” vra sy sonder om van die pad af weg te kyk.
“Hopeloos te lank. Ons moes ’n uur en ’n half in Johannesburg wag en dit was vrek warm.” Die Afrikaanse naam lê vreemd op sy tong.
Nicolene sug. Hy is van nature nie ’n baie geduldige man nie, maar sy het so gehoop hy sal in ’n goeie bui op die plaas aankom.
“Hoe gaan dit by die huis?” gaan sy geselserig voort.
“Goed. Die ander klomp vlieg almal Sondag Switserland toe. Die sneeu lyk goed. Jy moes saamgekom het.”
“Ek moes, ja …” laat Nicolene instemmend hoor.
“Caroll gaan ook nou saam.”
Nicolene kyk vlugtig na die man langs haar. Caroll is een van die meisies met wie hy ’n verhouding gehad het. Sy wonder of Caroll gevra het om saam te gaan en of hy haar genooi het, maar sy gaan haar nie daaroor kwel nie. Sy het ander, dringender probleme.
“Kuier jy lekker?” Hy vra dit sonder veel belangstelling.
Nicolene knik woordeloos, voordat sy die onderwerp verander en hom die een en ander oor die omgewing vertel. Hy luister stil, maar toe hulle by die plaashekke indraai, kan sy tog sien hoe sy kop belangstellend draai.
“Dis baie mooi. Dit laat my aan Frankryk dink,” merk hy vriendeliker op.
Toe sy langs die huis stilhou en die honde blaffend nader kom, gaan die voordeur oop en Wilhelm en Lisa kom glimlaggend uit. Nicolene kan nie help om te dink hoe anders dit by sy ouerhuis is nie. Niemand kom daar uitgestap nie. Niemand lyk ook juis vreeslik opgewonde om mekaar te sien nie.
“Andrew, jy onthou my ouers …”
Hy knik en neem die ouer man se hand. En toe buk hy en soen Lisa vlugtig teen die wang.
“Baie welkom. Ons is bly jy kon kom en ons hoop jy geniet die paar dae.”
Nicolene wonder hoeveel van haar ma se verwelkoming word opreg bedoel, maar sy sê liewer niks.
Andrew het net een tas en hy volg Nicolene in die gang af tot by die gastekamer. Sy wys hom die aangrensende badkamer en op sy vraag waar sy slaap, beduie sy met haar kop na die ander kant van die huis. Sy sien hoe sy wenkbroue lig. Sy besluit egter om die gebaar te ignoreer. Sy het hom gewaarsku en dis sy probleem as hy haar nie geglo het nie. Al wat sy weet, is dat sy op die oomblik innig dankbaar is oor dié reëling.
’n Week gelede sou sy aangebied het om sy klere uit te pak, maar nou wil sy verkieslik so gou moontlik uit die kamer kom en tussen ander mense wees.
“Ek gaan solank vir ons iets kry om te drink. Kom stoep toe wanneer jy klaar is; dis koeler daar.” Nicolene beduie met haar kop in die rigting van die stoep. Toe maak sy haastig die deur oop.
In die gang druk sy ’n oomblik haar voorkop teen die koel muur. Skielik is sy nie seker of en hoe sy die volgende paar dae gaan oorleef nie.
9
Aandete word op die stoep langs die swembad geëet en die geselskap word deurgaans baie beleef in Engels gevoer. Nicolene is dankbaar Karen en Gerrit, sowel as Paul en Annemie, het kom saam eet. Hoe meer siele, hoe minder hoef sy te praat.
Sy kan sien hoe Karen se blik kort-kort op Andrew rus en sy wonder wat haar suster dink. As Andrew bewus is van die skelm blikke, laat hy egter niks blyk nie. Sy blou oë bly geslote, al glimlag hy soms vir ’n opmerking van een van die ander. Nicolene sien nie kans om te eet nie, maar onder haar ma se wakende oog is sy verplig om iets in te skep. Sy krap egter lusteloos die kos met haar vurk deurmekaar en is dankbaar toe sy vir Karen kan help om die borde kombuis toe te dra.
“Vir ’n Engelsman is hy nogal aantreklik – baie bleek, maar mooi gesig. Heeltemal anders as Jacques.”
Nicolene kyk gesteurd na haar suster. “Wat bedoel jy?”
“Ek het net altyd gedink jy sal ’n man kies wat min of meer soos Jacques lyk. Al jou kêrels was altyd meer aantreklik as mooi; so ’n buitelugtipe mooi, so reg uit ’n Camel-advertensie.”
“Wie het ooit gesê Jacques is my tipe? En verder kan ’n mens se smaak seker verander.” Nicolene skakel met neergeslane oë die ketel aan om koffie te maak.
Toe sy en Karen met die skinkbord en koffie op die stoep uitstap, moet Karen haastig keer dat Nicolene nie die skinkbord laat val nie. In die skadu van een van die pilare sit Jacques met Paul en Annemie se jongste seuntjie op sy skoot, doodluiters besig om met Andrew te gesels. Nicolene voel hoe haar mond droog word en haar hande onwillekeurig aan die bewe gaan, sodat Paul haastig die skinkbord by haar neem. Sy kan haar broer se blik op haar voel, maar sy kyk nie vir hom nie en vind haastig ’n stoel om op neer te sak.
“Nicci, bring vir Jacques ook ’n koppie,” laat haar ma hoor.
Nicolene staan haastig op. Sy sal met plesier die hele aand heen en weer loop, solank sy net nie in daardie geselskap moet gaan sit nie. Wat maak hy hier! Maar toe onthou sy dat sy hom ’n paar dae gelede genooi het om vanaand te kom koffie drink sodat hy vir Andrew kan ontmoet. Min het sy geweet dit sou die één ontmoeting wees wat sy nie sou wou laat plaasvind nie.
Sy draai so lank as moontlik met die koppie en toe sy in die gang uitstap, kom Paul en hulle oudste seuntjie uit die gastebadkamer en hy beduie dat sy voor moet stap.
“Jy is vanaand besonder stil, is alles reg?” praat hy met haar rug.
Nicolene knik en wonder skielik paniekerig of Jacques hom nie vertel het nie. Hulle is sulke groot vriende. En sy voel weer hoe die sweet op haar handpalms uitslaan.
“Andrew lyk na ’n gawe man …” probeer hy weer die geselskap aan die gang sit, maar Nicolene knik nie eers hierdie keer nie.
Sy het al baie beskrywings van Andrew gehoor, maar gaaf is beslis nie een van hulle nie. Suksesvol,