Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten

Читать онлайн книгу.

Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten


Скачать книгу
by: “Tensy julle natuurlik klaar ’n ander afspraak het.”

      “Ek sal jou bel,” sê sy bloot en die venster gly op en sluit hom uit. Die kar vertrek, glip in die aandverkeer in, en is weg.

      * * *

      In die loop van Woensdagoggend word sy aandag deur konferensieaktiwiteite in beslag geneem, sy sel op Mute. Maar wanneer hy af en toe loer, is daar van Donna en Annie whatsapps, maar geen teken van ’n oproep, stempos of whatsapp van Amalia nie.

      Met teepouse vra Jan Enslin: “Waar eet ons vanaand?”

      Thomas aarsel. “Ek’s nie seker of ek tyd gaan hê nie.” Hy knik na sy agenda.

      Health Professions Council of South Africa (HPCSA): Practice Framework for Psychologists, Psychometrists, Registered Counsellors and Mental Health Assistants.

      “Komaan, Thomas. Net tot negeuur, dan kan jy kom voorberei.”

      Sy eie voordrag gaan oor Die bestek van ’n sielkundige praktyk: Hoe sielkundige beraders hulle pasiënte beoordeel, diagnoseer en op behandeling besluit vir hulle sielkundige en emosionele welsyn.

      Halfvier die middag wonder hy of sy nog gaan bel oor sy uitnodiging vir vanaand se ete.

      Van die hoofpunte wat hy wil behandel, is: Beoordeel pasiënte se kognitiewe, emosionele, neurosielkundige en persoonlikheidsfunksies.

      Frans sê: “Ek het van ’n ander lekker eetplek gehoor, in Langstraat.”

      Toon tydens berading simpatieke begrip vir huweliks-, gesins- en saamwoonverhoudings.

      “Hoe laat wil julle gaan?” vra Thomas. “Weer so sesuur?”

      “Ja,” sê Jan. “Ons eet en kuier vir drie ure en is steeds vroeg terug vir huiswerk. Hoe klink dit?”

      Identifiseer en diagnoseer alle moontlike ongesteldhede.

      Moet hy haar bel? Nee!

      “Goed, my slap arm is gedraai.”

      Identifiseer alle moontlike terapeutiese intervensies.

      En die laaste, maar baie belangrike punt: Bedryf jou sielkundige praktyk te alle tye ingevolge die riglyne van die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) en Beroepsraad vir Sielkunde, en binne toepaslike wetgewing.

      * * *

      Eers Donderdag, kort voor die breuk vir middagete, is daar ’n vibrasie en ’n nuwe whatsapp:

      So, waarheen vat jy my vanaand?

      Hy het gister al navraag gedoen oor ’n gawe restaurant:

      Spesiale tafel by Pigalle in Groenpunt. Kan ek jou kom oplaai?

      Sy laat weet:

      Ek kry jou daar. Moenie laat wees nie.

      Ha-ha-ha

      Die tafel vir twee is intiem in ’n hoek. Hy sluk aan sy water en loer na die ingang. Sy is al amper twintig minute laat. Hy wonder of sy hom doelbewus aan lyntjies hou, eers met haar whatsapp, nou met haar aankoms. Is dit ’n spel? Terg sy hom? Of het iets voorgeval? Maar dan sou sy hom sekerlik laat weet het? Of sou sy? Hy wonder of hy haar moet bel. Besluit nee, hy wil nie oorgretig klink nie.

      Hy kyk van sy selfoon op en daar staan sy in die deur by die maître d’. Hulle draai albei in sy rigting. Die maître maak ’n delikate gebaartjie met sy hand en begelei haar na hom toe. Hy merk hoe van die ander gaste haar nadering gadeslaan, asof haar swewende figuur en golwende bos swart hare alle oë mesmeraais. Ook syne.

      Hy staan op, vat haar hand, soen die rugkant.

      Sy glimlag toe sy gaan sit. “So galant.”

      ’n Kelner, asof uit die niet, vul die ruimte gelaat deur die maître, stel homself voor, hou die wynlys vir Thomas, verdwyn weer.

      Hy sê: “Jy lyk … wat’s die woord? Jy lyk subliem.”

      Sy betrag hom steeds geamuseerd. “A, dankie vir nog ’n kompliment, meneer Maas, komende van jou, ekspert in die misteries van die vrou se gees.”

      Hy lag. “Nee, nie ’n ekspert nie, ek waardeer net ’n mooi vrou.”

      “En ek is mooi?”

      “Betowerend.”

      “En Donna neem genoeë met jou waardering van betowerende vroue?”

      Hy bestel die wyn en sê vir haar: “Ek doen dit diskreet.”

      “Diskreet? En tog, hier sit ons. Openlik. Twee getroudes. Maar nie met mekaar nie.”

      “Enige mens moet eet,” sê hy. “Daar’s seker nie fout as twee kennisse besluit om sáám te eet nie.”

      “Darem hopelik teen dié tyd meer as net kennisse, want van my weet jy klaar alles wat daar te wete is. Van my mans, my huwelike, my sekslewe. Dis intieme inligting wat blote kennisse nie juis met mekaar deel nie. Of hoe, Tomás?”

      “Dis inligting wat in ’n formele, professionele kompartement hoort,” sê hy. “Sal ons wyn bestel?”

      “So, dit sal onvanpas wees as ek skielik vanaand hier, oor ’n informele ete, my arme gebroke hart uitpraat teenoor jou, ’n blote kennis?”

      Moet hy saamspeel? Ja, hoekom nie? Dit is hoe hy haar die afgelope vier weke leer ken het. Eers ernstig, dan speels. Wat haar bui die volgende oomblik gaan wees, bly ’n verrassing. Dit is dalk wat hy so van haar geselskap geniet. Haar onvoorspelbaarheid. En soms haar byna kinderlike eerlikheid. En natuurlik die mond, die oë, die kuit in sy palm, en daardie boesem. Waarop ’n man sy kop kan neerlê en sag heengaan.

      “Tomás?”

      “Uh, jy wil jou hart hier uitpraat?”

      “Nee, nie noodwendig nie. Ek wil net weet hoe die proses werk, volgens jou professionele mening. Wanneer beweeg ons van kennisse tot vriende – met ’n tweede informele ete, ’n derde, dalk eers die vierde een?”

      “Ons is nie veronderstel om vriende te word nie,” sê hy.

      Sy frons. “Hoekom nie?” Beloer hom oor die wynglas in haar hand.

      “Jy’s my pasiënt. Ek’s gebind aan sekere professionele kodes.”

      “Ja, ja,” sê sy en vat ’n slukkie, sit die glas neer, kyk hom in die oë. “En as getroude man is jy ook gebind aan sekere gebooie. Mag nie egbreuk pleeg nie, mag nie ’n ander man se vrou begeer nie.” Hy voel die skoppie onder die tafel. “Of is ek nie begeerlik vir jou nie?”

      Die kelner vra: “Gereed om te bestel?”

      Toe hy weg is, sê sy: “Meneer Maas, hierdie rok. Ek het dit spesiaal gaan koop. Vir hierdie ete. En jy sê niks nie. Hou jy nie daarvan nie – sit dit te styf, wys dit te veel boesem?”

      Hy glimlag en leun na haar in, sit sy hand oor hare. “Amalia, jou rok laat my kop draai. Jy en jou rok maak my duiselig.”

      “Dankie,” sê sy en hy voel haar tone liefkosend teen sy maermerrie. “Was dit nou so moeilik?”

      “En ek geniet dit om hier saam met jou te sit.”

      “Jy geniet dit? Soos jy dit geniet om saam met ’n vriend by ’n rugbywedstryd te sit?”

      Hy hou sy hand op hare. “Jy’s ’n baie begeerlike vrou, Amalia.”

      Sy herkou dit eers, vra dan: “Is ons besig met sonde?”

      “Nee, sover ek weet is dit nie sonde om saam te eet nie. Ons verbreek tog geen etiese kodes of gebooie nie.”

      “Nog nie,” sê sy en lig haar glas.

      Hy trek sy hand terug, lig ook syne. “Op jou.”


Скачать книгу