Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten

Читать онлайн книгу.

Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten


Скачать книгу
haar donker oë op hom, steeds die glimlag om daardie vol lippe, klam in die onhelder lig.

      Hy skuif die koppie weg en vra: “Uh … iets om te drink?”

      Sy bepeins die vraag. “Ja, ek dink tog so,” en wink vir die kelner. “Twee glasies rooiwyn, seblief, Vusi.” Sy kyk vraend na Thomas: “Is shiraz oukei?”

      Hy knik weer, begin voel soos een van daardie knikkende honde van jare her op paneelborde of in agtervensters van ou karre. Dis wat sy aan hom doen! Want aan sy gesonde selfvertroue skort gewoonlik min. Maar vanaand, in die geselskap van hierdie betowerende vrou, is hy skoon van sy klip af. Duidelik is Amalia Rojas daaraan gewoond om haarself te laat geld.

      “Jou aksent?” vra hy.

      “Ja, almal wonder altyd. Dis Spaans. Ek’s van Argentynse herkoms. Dis waar my perde ook vandaan kom. Ek voer hulle uit Argentinië in en ek rig hulle almal self af.”

      “Maar jy praat so vlot Afrikaans?”

      “Omdat ek al so lank hier woon, langer as ’n dekade. My man, uh, hy’s ’n Boertjie. ’n Daneel.” Sy betrag hom eers weer voor sy byvoeg: “Boertjie, maar nie plaasboertjie nie.”

      O so, tog getroud, maar sonder ring. Wel baie armbande wat klingelend saampraat.

      “Hy’s nie hier nie?”

      ’n Sigeuner. Dít is waaraan Amalia Rojas hom herinner. So rustig agteroor in haar stoel, vingers spelend met die armbande.

      “Hy’s nooit hier nie,” sê sy. “Die perde is mý stokperdjie. Hulle hou my besig terwyl hy elders sy eie ding doen.” ’n Hartklop of twee. “Hy ontwikkel landgoedere en bou huise.”

      Vusi bring die wyn en skink. Thomas se oë bly oor háár landskap dwaal, uitgedaag deur die welige kontoere van die stywe bloes.

      “Cheers!” sê sy en lig haar glas.

      “Cheers.” Hy sluk. Om hulle kuier die laaste klompie voornemende klante. “Dit word laat … ”

      “Hy’s in Argentinië,” sê sy sag, afgetrokke, asof dit net ’n gedagte is wat onverhoeds in woorde uitglip, turend by hom verby na iets in die verte.

      “Wie – jou man?”

      Sy sel lui. Donna. “Thomas …”

      “Wat’s fout?” Hy herken oombliklik daardie hoë toon van angstigheid in haar stem, wat neig om aan paniek te grens, gewoonlik gereserveer vir nuus oor een van die kinders.

      “Dis Pa …”

      “Donna, haal diep asem. Wat van Pa?”

      “Hy’s weg.”

      “Weg? Wat bedoel jy?” Hoe kan Rolf weg wees?

      “Tant Lizzie het gebel. Dis donker en Pa is nie by sy huis nie.”

      Thomas blaas ’n sug eenkant toe uit, lig sy wenkbrou na die mooi Argentynse vrou met die rooiwyn aan haar klam rooi lippe. “Tant Lizzie, huh?”

      “Dis negeuur, Thomas! En hy antwoord nie sy sel nie, ek’t al hoeveel boodskappe gelos.”

      “Hy’s by Willem Nolte, Donna. En hy’t sy foon by die huis vergeet, jy weet hoe verstrooid hy word.”

      “Hy’s nie by Willem nie, ek’t klaar soontoe gebel.”

      “Dan drink hy en Wollie ’n knerts en speel skaak. En jy weet hoe hulle oor die skaakbord van tyd vergeet.”

      Amalia Rojas sit haar glas neer. Hy draai sy oë na haar. Dit lyk of sy ’n oomblik huiwer, en staan op. Beskou hom eers weer, draai dan weg. Sy oë volg haar terwyl sy stadig tussen die tafeltjies en gaste wegslenter. Die bos swart hare oor die skouers, rug en skouers kiertsregop soos dié van ’n balletdanser, die geoliede wieg van haar tergende heupe. Hy hou haar dop tot by die groepie waar sy opnuut aan’t gesels raak.

      “Thomas!” sê Donna.

      “Ek’s hier.”

      “Ek het soontoe ook gebel. En na die Krone en Swanepoels. Nie een het hom vandag gesien nie.”

      “Wat van sy suster? Het jy tant Sienie gebel?”

      Hy merk hoe sy ’n slag na hom loer, half onder haar hare deur. Haar tande pêrels in die glim van ’n lig toe sy vir ’n opmerking lag, die verbeelde ritseling van haar armbande toe sy haar hand lig om die hare met haar vingers van haar gesig weg te kam. Eers dán draai sy haar gesig na haar gespreksgenote terug, beëindig die kontak. Of ’n mimiese boodskap?

      “Thomas!” sê Donna. “Hoe lank gaan jy nog besig wees? Ek’s regtig bekommerd, tant Lizzie sê hy’s nooit so laat uit nie.”

      “Goed, ek’s op pad.”

      Hy staan op.

      By haar raak hy met sy vingers aan haar arm: “Jammer oor die onderbreking.”

      Sy haal ’n skouer op, leun effe na hom oor en fluister vertroulik met ’n warm asem: “As die baas bel … ” Hou haar hand dan formeel vir hom. “Sien jou later, meneer Maas. Groete by die huis.”

      Haar hand is warm en sag, en op pad kar toe dink hy: Amalia Rojas het ’n vreemde uitwerking op hom. Is dit hoe alle mans haar ervaar? En hoekom geen ring aan daardie trouvinger nie?

      Maar dan skuif hy haar uit sy gedagtes uit, dwing sy aandag na Donna se oproep en sy skoonpa. Waar kan hy wees? En maak dit saak? Hoekom kan hulle Rolf tog nie in vrede los om sy eie lewe te lei nie? Hoekom hom soos ’n kind oppas? Orige ou Lizzie voor in die koor.

      Thomas stop by Blue Haven se sekuriteit en vee die kaart oor die valhek se oog. Hy leun by die venster uit, ken omtrent al die wagte. Een kom uit die verligte wagkamer.

      “Roy, meneer Rolf is weg, het jy hom dalk hier sien uitgaan?”

      “Ja, meneer Rolf het nog gegroet en gesê hy stap gou winkel toe.”

      “Stap? Hy’s sonder sy kar uit?”

      “Meneer Rolf hou mos van stap.”

      “En hoe laat was dit?”

      “O, so vyfuur, meneer Maas, so spitstyd, jy weet, toe almal van die werk af huis toe begin kom het.”

      Thomas ry in, verby rye meenthuise met netjiese tuine. 32 is Rolf s’n, 34 Lizzie s’n. Lizzie ontferm haar al oor Rolf van hy ’n wewenaar is. En praat van die duiwel! Hy sien hoe sy hom onder haar stoeplig inwag. Donna moet haar laat weet het.

      “Hy’s nog nie terug nie,” sê sy met ’n armswaai na 32. “En hy’t nie eers gegroet sodat mens darem weet waarheen hy gaan nie.”

      “Hy’s mos winkel toe, of hoe?”

      “Dit het hy nie vir my gesê nie, anders kon hy vir my twee tamaties saamgebring het. Toe ek weer sien, piekel hy hek toe.”

      “Doen hy dit gewoonlik? Sê hy altyd vir tant Lizzie wanneer hy winkel toe gaan, of waarheen ook al?”

      “Altyd. Dalk het ek hom nie hoor klop nie, met dié dat ek die radiostorie sit en luister het. My verbeel ek hoor iets, maar toe ek uitkyk, trek hy al doer.”

      “Daar was niks snaaks aan hom nie? Ek bedoel, hy’t nie vroeër laat val dat iets hom pla nie?”

      “Niks van daai aard nie. Rolf is Rolf, hy’s elke dag dieselfde. Dalk bietjie meer verstrooid, maar dis mos hoe ons almal raak, in hierdie verstrooide jare. Hy’t gister sy sleutels hier by my kom soek. Sondagoggend, ja. Gesê hy moet daar by julle gaan eet en hy kry nie sy sleutels nie. Was mos Florie se verjaardag, as ek dit nie mis het nie. Ewentwil, ek loop soek toe saam met hom. Ons keer die hele huis om. Later sê ek wag, nou eers bietjie tee vir krag. Ek haal die melk uit, en daar lê die sleutels in die yskas! Kan jy glo?”

      “Dankie, tant Lizzie. Ek’s seker hy’t net by een van sy vriende gaan kuier en tred verloor met tyd. En sy selfoon hier vergeet. Laat ek gaan kyk of ek


Скачать книгу