Donker Web. Fanie Viljoen
Читать онлайн книгу.red nie. Jy soek net jou kind. Dis al.”
Haar oë boor ’n oomblik lank in myne, dan vou sy haar arms om haar lyf asof sy skielik koud kry.
Ek weet nie wat om vir my ma te sê nie, net soos ek nie weet hoe dit voel om ’n kind te verloor nie, en sy nie weet hoe dit voel om ’n broer te verloor nie. Verdrink ons nie maar almal so in die stilligheid nie?
“Wat gaan Ma doen as ek weg is?” vra ek uiteindelik.
“Ek kan seker kies om te doen wat ek altyd doen. Of ek kan aangaan met my lewe.”
Weer die ongemaklike stilte. Daar is ’n kwesbaarheid aan die manier waarop haar skouers sak, ’n rouheid in haar stem.
“Weet jy wat ek soms ná John se dood gedoen het? Toe jy daar by Lawson Kollege was, jou pa wie-weet-waar op sy sakereise, en ek vasgekeer in hierdie verdomde huis?”
Ek skud my kop.
“Ek het gewag totdat al die werkers laatmiddag weg is. Dan het ek die deure en vensters toegemaak. En ek het geskree. En geskree. En geskree.”
Die bekentenis ruk my.
Haar mondhoek krul senuweeagtig asof sy dit nie moes gesê het nie. Dan kom nog ’n belydenis om die desperaatheid van haar stil bestaan te onderstreep. “Almal vir wie ek lief is, word van my af weggevat.” Sy frommel haar hande inmekaar, bly staan so asof sy beswaarlik regop kan bly teen die emosies.
“Ma?” vra ek versigtig. Bang. Ek staan vinnig op, sit my arms om haar en druk haar styf teen my vas. “Is Ma oukei?”
Geen antwoord nie.
Ek sit my hande weerskante van haar gesig. Kyk dringend na haar, my polsslag rusteloos. “Ma?”
Haar mondhoek pluk. Sy draai haar kop effens, soen my hand. “Nag, Greg, ek gaan nou slaap. Ek is baie moeg. Sit die lig af as jy kamer toe gaan.”
In geskokte stilte kyk ek hoe sy wegstap, sien in my gedagtes my tenger ma in die sitkamer, of die kombuis, of haar slaapkamer. Haar hande in vuiste gebal. Kop agteroor gegooi. Oë toegeknyp. Mond oopgesper.
Binne my hoor ek haar skree. En die rou krete wat deur die leë huis weergalm.
<h2>Vertrek</h2>
Ek word wakker op John se bed. Van buite streep die lig bo die gordyne. Ek vee die slaap uit my oë, vryf deur my hare en gaap. Terwyl ek tot verhaal kom en die nag se onrustige drome verdryf, kom ek regop.
’n Diep sug. “Cheers, Boet,” sê ek met ’n grofheid in my stem, soos iemand wat gehuil het.
In die kombuis wag ontbyt wat ek vinnig inwerk, daarna ’n warm stort, skeer en tande skrop. Ek pluk gemaklike klere aan vir die rit Kaap toe.
Met ’n pet op die kop, begin ek die eerste bokse met die trappe afdra na die kar in die oprit. ’n Nuwe BMW 118i-sportmodel wat ek uit my trustrekening gekoop het. Entry level, maar hy doen dit vir my.
Twee tasse volg. Dan ’n klomp losgoed, en natuurlik my laptoprugsak.
Alles pas lekker agter in die kar en op die agtersitplek. As nagedagte draf ek weer terug kamer toe en haal die Conrad Botes-skildery van die muur af. Dit sal goed lyk in my nuwe plek.
Op pad uit, val my oog op die foto van John op die tafeltjie in die ingangsportaal. Ek sit die skildery neer en grawe my selfoon uit my broeksak, neem ’n foto daarvan. Om die derde dood te besweer.
“Cheers, Greg,” hoor ek ’n stem van bo die trappe af. Helder en duidelik. John se stem. Ek ruk my kop op, maar daar is niemand nie.
Terwyl ek nog wonder of ek my verbeel het, kom my ma uit die studeerkamer. Vanoggend is sy stylvol aangetrek, mooi skoene, grimering perfek. Die raakvatter-vrou, nie die vrou wat die stiltes met ’n gil verdryf nie. Só steek ons seker almal iets van onsself weg.
Ma kyk na die foto op my selfoon. “Alles wat nou voor jou lê, Greg, was nie vir jou broer beskore nie,” merk sy nadenkend op. “Elke nuwe lewensfase is iets wat net jy sal beleef.”
Soos gisteraand stuit my ma se woorde my. “Ek sal die swottings vir ons albei doen, Ma.”
“Ek praat nie net van universiteit nie, Greg.” My ma se oë rus swaar op my, asof die gewigtigheid van die oomblik haar tot stilstand dwing. “Jy gaan die ver paaie loop waarby jou broer nie kon uitkom nie. Hoe bitter gelukkig vir jou. Hoe bitter jammer vir hom.”
Binne my wel die hartseer onverwags op. Waar is daardie bulletproof baadjie wanneer jy hom nodig het? Ek kyk weg, want dis steeds moeilik om my emosies voor mense te wys.
“Die pad is lank, Ma. Ek moet waai.”
“Het jy alles?” vra sy toe sy saam met my buitentoe stap.
Ek beduie na die oorvol kar. “Hoop so.”
’n Ruk lank bly my ma stil. “Onthou, die dinge wat jy inpak, is die dinge wat jy saam met jou moet dra,” sê sy uiteindelik.
Ek knik. Staan dan vinnig nader en soen my ma, gee haar ook ’n drukkie. “Kyk mooi na Ma-self, en as Ma vir Pa gaan sien …” Ek maak nie die sin klaar nie. “Anyway, ek sal ’n boodskap stuur as ek daar is.”
“Jy jaag nie.”
“Ek is mos ’n jaagduiwel,” terg ek en spring in die kar. Maak die deur toe. Kry lekker musiek vir die pad op my selfoon en bluetooth dit na die klanksisteem. Bluetooth – die tegnologie wat, van alle dinge, na ’n Viking-koning vernoem is. Harald Blåtand se gladde bek het glo die mense van Denemarke en Noorweë verenig, nes die Bluetooth-tegnologie data van verskillende toestelle soomloos kan verenig en met mekaar laat kommunikeer. Selfs die Bluetooth-simbool is ’n samestelling van die Viking-runes H en B:
Ná my ondervinding met die hacking stuff steek sulke useless tegnologiese inligting deesdae in my kop vas as ek op die internet daarop afkom.
Ek waai ’n laaste keer vir my ma en brand haar beeld in die truspieëltjie in my geheue vas terwyl die sekuriteitshek stadig oopskuif. Onder die bande kraak ’n paar los klippies toe ek die kar in eerste sit en in die teerpad voor die huis wegdraai.
Dis ’n hoofstuk van my lewe wat ek afsluit. Op ’n manier maak dit my weer hartseer, daarom draai ek die musiek harder en los ’n kreet wat by die oop ruit uitgalm, soos John toe hy die rekswaai in Durban gedoen het.
Hoekom doen jý dit, Greg? Hoekom gaan jy weg van die huis af?
Vir die val. Vir die vrees.
Toe ek die kar in die rigting van die snelweg draai, laat ek die ruit opgly, stel die aircon en skuif gemaklik in die sitplek. Stellenbosch, hier kom ek!
Die langpad is gemaak om jou kop skoon te kry. Dit besef ek soos die dorpe en stede langs die N1 verbyvlieg. Soweto. Potch. Kroonstad. Bloemies, waar ek stop om iets te eet en te drink. Dan verder, verby Edenburg, Trompsburg, Springfontein, die Gariepdam.
My lyf raak seer van die sit.
Soos ek die klein Karoo-dorpie Hanover nader, halfpad tussen Johannesburg en Kaapstad, haal die spoke van die verlede my in. Ek beleef weer die verpletterende oomblik toe ek uitvind van Eckardt Wilken se verraad. Hoe hy tydens ons matriekjaar by Lawson Kollege voorgegee het hy is my vriend, maar dat dit alles net skyn was. Hoe hy as uitgeslepe hacker eintlik ’n massiewe social engineering-aanval op ons gesin geloods het. Sy motief? Om wraak te neem vir sy pa, ’n regter, se dood ná ’n korrupte gemors oor binnehandel met aandele. Die regter het daarna “verdwyn”. Hy is vermoedelik vermoor. Dit was doktor Alec Pienaar, Lawson se skoolhoof, se werk – as ek my pa kan glo. Maar my pa was wel betrokke by die binnehandel en die omkooptransaksie van die regter wat tot sy moontlike dood gelei het.
Eckardt, die duiwel self, het my geleer om rekenaars te hack en my toe vir sy wraakaanval gebruik. Nie net het ek sodoende doktor Pienaar se volgende skandaal, Project Nursery Rhyme, oopgevlek nie, ek