Die verlore seun vannie Gaatjie. Ivor Swartz
Читать онлайн книгу.te laat kry wat hy verdien nie. Dit was ’n nou-of-nooit-saak. Dit wat sy nie vir haarself kon gee nie, daarvoor het sy baklei om vir haar kinders te kon gee, veral as dit by onderrig gekom het. Sy’t vir haar ’n Rothmans-sigaret aangesteek en haar vrou gaan staan teen die vooroordeel teenoor haar seun. Ek is toe by die program ingesluit, en ek het ’n stuk selfvertroue gekry wat skrik vir niks, omdat ma Lettie vir niks geskrik het nie.
Ma Lettie is een wintersoggend amper verkrag terwyl sy op pad was werk toe. Sy wou nie die ekstra uitgawe aangaan deur gebruik te maak van die vervoer wat haar werk verskaf het nie. Sy sou dan met baie minder geld per maand moes klaarkom. Dié Saterdagoggend het sy, soos al die ander dae, vroeg die huis verlaat om sewe-uur by die werk te wees, kopdoek, groen pakkie en handsak onder die arm. Skaars vyftien minute later het sy uitasem teen die deur gekap en geskree. Terwyl sy bloed en trane van haar gesig afgevee het, het sy vertel wat gebeur het. Hoe die man haar bestorm het en haar in die bos wou insleep, maar hoe sy hom afbaklei het en huis toe kon hardloop.
Deon het dadelik opgespring, sy lang byl gegryp en die donker oggend in gejaag op soek na die lafaard. Selfs soos ek hier sit en dié oggend se gebeure deur my kop laat hardloop, gee dit my koue rillings. Ek kan my nie indink hoe ’n vrou deur so ’n ervaring aanhou leef en die lewe weer aanpak nie. My hart breek vir elke vrou wat hierdie soort trauma moes beleef.
As jong laaitie het ek nie geweet wat trauma is nie, en dat ma Lettie eintlik vir berading moes gegaan het nie. Maar sy het net die dag afgevat en was die volgende dag terug op haar pos by die werk, al was haar nek seer, haar oog blou en haar gesig vol skrape. Die opoffering vir haar kinders het haar die krag gegee om deur te druk.
Dit het ’n baie lang pad gekos om my die vrugte van my ma se opofferings te laat sien. Maar ma Lettie bly een van die groot redes hoekom ek ’n verskil wil maak in mense se lewe, hoekom ek wil teruggee, hoekom ek wil baklei vír mense, hoekom ek glo niemand se agterstand in die lewe kan so erg wees dat hulle nie kan opstaan, dalk ’n Rothmans-sigaret aansteek en vreesloos vorentoe stap nie.
BOSSTRAAT 197 SE MONSTER
He who makes a beast of himself gets rid of the pain of being a man
– Samuel Johnson.
Just because you’re a man, it doesn’t mean you have to become a monster
– die karakter Emily Dickenson in die TV-reeks Dickenson.
Ma Lettie was amper net so bang vir Deon soos die res van ons. Want Deon het altyd ’n punt daarvan gemaak om elke plesierige geleentheid te gebruik om ons te herinner dat die toorn van God in sy hande gelaat is, en hy vat sy verantwoordelikhede ernstig op. Hy’t gevoel hy moet ons die hel gee wat ons so begeer om in die hiernamaals te ontsnap. Hy het dit gereeld en met genot gedoen. Dit was sy idee van sy manlikheid aan ons bewys; sy manier van Pieter-Bingo se skoene vol staan.
Deon was 17 toe Bingo dood is, en dalk het hy sy bes probeer om my en Peter in sy voetspore te laat loop. Om ook ons pyn as die middel tot manlikheid te gebruik. Dalk was pyn al wat hy geken het. Dalk het hy – nes ek later – ook baie vrae gehad oor Bingo se dood, en niemand kon hom voorsien van bevredigende antwoorde nie. Deon het te vroeg ’n verlore seun geword, sonder dat daar vir hom die opsie gegee is om te kies of hy wou wegloop en verlore raak. Dis hoe ek soms sy dade in my kop probeer regverdig. Dat hy ook seer gehad het, en dit as brandstof gebruik het om ander seer te maak. Soos ons almal weet: seer mense maak ander seer, veral wanneer hulle nie weet wat om met hul seer te maak nie.
Ek was omtrent tien jaar oud toe ek in die veld deur ’n by gesteek is. Ek het die regte ding gedoen en huis toe te hardloop, want Deon was daar. Hy sou weet wat om te doen. Hy sou die regte salf kon aansmeer. Die teenoorgestelde het gebeur. Hy het my vieslik aangerand met ’n besemstok. Eerstens omdat ek in die veld gaan speel het sonder sy toestemming, en tweedens omdat ek toegelaat het dat ’n by my steek.
Tydens een Kersete, terwyl ons almal gesit en kuier het en gesellig was, het Deon en sy vrou aan die stry geraak oor iets. Sy was ’n klein, saggeaarde mens wat jy maklik kon oorreed of om jou pinkie kon draai. Deon het nooit nodig gehad om haar met geweld te dreig nie. Maar tog het hy. Dis al wat hy geken het. Sy wou liefde en veiligheid hê. Hy wou respek en mag hê. Twee wêrelde wat nooit met mekaar moes getrou het nie. Hulle het later geskei, seker oor sy nie meer onder Deon se gesag kon leef nie. Hulle het ’n tweeling gehad, wat by ons in die huis grootgeword het en soos ’n boetie en sussie vir ons was. Selfs hulle het baiekeer deurgeloop.
Die kans dat daar nié ’n bakleiery sou uitbreek wanneer Deon naby was nie, was baie skraal. En nie eens hierdie Kersfees was ’n uitsondering nie. ’n Mens sou dink Jesus se geboortedag sou ’n bietjie vrede bring. Maar, nee, Deon moes eenvoudig met sy vrou baklei en haar die lelikste goed toesnou, en almal moes net maak of dit nie hul besigheid is nie en nie inmeng nie. Ons almal was in elk geval te bang om in te meng, netnou draai hy sy woede in ons rigting. Suutjies trap was maar die ding.
Die volgende oomblik, met die kinders se gelag naby en glasies wat klink, byt hy ’n stuk van sy vrou se oor morsaf. Dit lê net daar op die grond, leweloos, vuil en rooi soos rou vleis. Al wat ek kan onthou, is hoe sy vrou geskree het, die gevloek van die ander volwassenes, en Deon wat gelyk het of hy aan niks skuldig was nie. Hy het dit laat lyk asof sy verdien het wat na haar toe gekom het. Dat haar optrede ’n tikkende tydbom was.
Dit was maar altyd iemand anders se skuld. Hulle het nie gedoen wat hy vra nie; hulle het nie reg geluister nie; hulle het nie genoeg geld of kos gegee nie.
Ek wonder baie hoe hy homself elke dag in die oë kon kyk. Het die vinger nooit teruggewys na hom toe nie? Of was hy so totaal en al oorgegee en verbind aan sy ego, sy hongerte na beheer oor ander? Wat sou spieëltjie-spieëltjie speel oor hom sê? Natuurlik is jy die beste in die land, Deon! Dis hoekom almal in die huis buig voor jou, Deon!
Die kastige verlore seun was toe die hele tyd die wolf met die skaapklere aan. Hy’t ons almal geflous. ’n Mens kan ook maar net so lank ’n masker dra voordat jou ware kleure wys. Dit het hom gewoonlik net ’n paar glasies bier of een Mandrax-pyp gekos om sy masker af te haal. Dan weet niemand waar hulle met hom staan nie. Hardloop jy weg en kom later terug, of bly jy staan en vat dit soos ’n man? Selfs wanneer hy jou warm en glimlaggend nadergetrek het, was jy onseker of jy ’n drukkie gaan kry, of ’n klap deur die gesig. Dit was maar ’n waagstuk met hoë risiko’s. En maak nie saak hoe die dobbelsteen val nie, jy verloor altyd. Jy kom altyd tweede.
Deon het lang, dun, gespierde arms gehad, waarop die are uitgebult het, nes die wortels van ’n akkerboom met te veel jare se stories. Jy kon nie maklik uit hul greep losbreek nie. Sy hande was groot, vol krake, en hy hoef ’n lyfband net een keer daarom te gedraai het om dit stewig en lojaal te laat sit, gereed vir aksie. Van alles wat hy met al daai liggaamskrag kon doen, het hy gekies om ander te onderdruk.
Die groeiende haat in my wou dikwels nie meer onderdruk of verder verneder word nie. Die haat wou sy man staan. Sou daar ’n kans kom om weg te loop van die huis af? Is dit die moeite werd? En waarheen? En wat van skool, van dokter word, van ma Lettie en van Peter? Ek wou dan juis ’n dokter word vir húlle, nie vir my nie. En nou wou ek wegloop. Die idee van wegloop het vir my net so lafhartig gevoel soos om te bly.
Wanneer die monster gerook en kwaad by die huis aangekom het, het hy ons om die een of ander rede herinner dat ons in sý pa se huis bly. Ons het dieselfde ouers gehad. Donker pa, spierwit ma. Ek het later besef hoe belangrik gesag en stempel afdruk vir baie mans is. Dat die respek wat hul ego’s hulle oortuig hulle verdien, afgedwing moet word op dié wat die naaste aan hulle is, dié in hul eie huis. Maar boelietaktieke het nog nooit ware respek of liefde bewerkstellig nie. Dit lei net tot respek en liefde uit vrees. En liefde uit vrees is nie volhoubaar nie. Jy doen dit omdat jy nie ’n keuse het nie. En Deon het elke beweging van jou gemeet aan waar jy hom daarmee op die respek-skaal sou sit.
Dalk het hy by ons pa die narratief gekry dat hy die man van die huis moes wees wanneer ou Pieter-Bingo die dag nie meer daar was nie; dalk was dit net sy ego. Wie sal weet. Hy het elke slag volgehou dat die huis aan hom behoort, dat hy na die huis moet kyk, al het hy nooit eens ’n sent vir kos of elektrisiteit bygedra nie. Maar enigeen wat in sy pad sou staan of van hom sou probeer verskil hieroor – selfs