Roep van die woestynwind. Malene Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Roep van die woestynwind - Malene Breytenbach


Скачать книгу
nader. “Laat ek julle voorstel aan my voorman, Mamdi Al-Haloul. Hy is, soos ek reeds gesê het, van die Bedoul-stam.”

      Dale praat Arabies met die man, wat verstom en beïndruk lyk toe die twee vroue hom op Arabies groet.

      “Dié vrou het hare soos die son,” sê hy en kyk verbaas na Denise.

      “Ja, en oë soos die hemel,” skerts Dale, wat Denise laat bloos. “Sy lyk soos een van die Franke wat eeue gelede met die Kruistogte hierheen gekom het.”

      Die Bedoeïen het ’n wit gewaad, swart baadjie en sandale aan. Op sy kop dra hy die rooi-en-wit koffia wat met ’n swart band om die kop stewig gehou word. Sy gesig is soos dié van ’n roofvoël, die neus snawelagtig. Daar is ’n swart baardjie aan sy ken. Hy lyk kwaai, maar sy oë glimlag vriendelik. Denise sien dat hy na haar kakiebroek kyk, en sy vermoed hy dink dis nie die soort ding wat ’n vrou behoort te dra nie.

      Dale raak saaklik en begin verduidelik waarmee hulle by die uitgrawings besig is. Denise en Julie bekyk alles en hanteer die antieke potskerwe wat eenkant neergesit is versigtig. Hulle is so besig om hulle aan alles te vergaap dat Denise verras is toe Dale aankondig dat dit die tienuur-teetyd is.

      “Ek wil iemand aan julle voorstel,” sê hy. “Dis die direkteur van die onafhanklike Petra National Trust, Insar Bedawi.”

      Denise is dadelik op haar hoede, asof sy ’n voorgevoel oor die vrou het. Hulle loop terug en toe hulle by die hotel aankom, staan daar ’n viertrek voor die gebou geparkeer. Op die deur staan Petra National Trust in Engels en Arabies. ’n Vrou sit op die stoep en wag.

      “Hallo, Insar!” roep Dale hartlik toe hulle by die trappies oploop. “Bly jy het tyd ingeruim om hier te kom kuier. Ek weet jy is baie besig.”

      Al Denise se vrese word bewaarheid. Dis ’n baie mooi vrou in haar vroeë dertigs, met lang swart hare, wat uit haar stoel opstaan en hulle inwag. Hierdie is beslis nie een van die konserwatiewe vroue wat sy oral met kopdoeke en lang gewade sien nie, dink Denise. Insar is modern aangetrek in ’n vleiende bloes en romp. Sy dra ook grimering.

      Denise se eerste emosie is agterdog – en jaloesie. Moenie sommer aanvaar dat daar iets tussen Dale en dié vrou is nie, probeer sy haarself betig, maar tevergeefs. Sy moet toekyk hoe Dale die vrou nadertrek en op albei wange soen, en hoe bly sy lyk om hom te sien.

      “Vir jou het ek altyd tyd, my vriend,” antwoord sy met ’n mooi, heserige stem en glimlag stralend op na hom. Sy is maklik ’n kop korter as hy en net-net korter as Denise.

      “My kollegas van die Universiteit Stellenbosch,” sê hy en stel almal aan mekaar voor.

      Insar Bedawi groet oënskynlik vriendelik, maar in haar blinkswart oë sien Denise ’n kilheid, byna ’n vyandigheid, terwyl sy haar onderlangs takseer.

      Dié vrou beskou haar as kompetisie, besef Denise. Dus is hulle in dieselfde bootjie. Sy hou haar egter ongeërg en skud Insar Bedawi se hand met ’n gedwonge glimlag.

      Julie is besig om van Insar na haar te kyk en Denise weet sommer dat sy hulle houding teenoor mekaar raakgesien het. Dale lyk egter asof hy niks agterkom nie.

      Mans kan tog so stiksienig wees, dink Denise ergerlik. Vir wat het hy vandag dié vrou genooi? Net om haar wat Denise is se ewewig te versteur. En sy voel juis emosioneel so broos.

      Hulle drink swart tee met suiker en kruie, wat baie verfrissend is, en Insar Bedawi gesels land en sand met Dale. Sy praat net nou en dan met Julie, en glad nie met Denise nie.

      “Insar is vir ons ’n groot hulp,” verduidelik Dale. “Sy is baie kundig oor die Nabateërs.”

      “Ek gaan nou vir Denise op ’n toer van die grafte neem,” sê Julie. “Insar, wil jy saamkom?”

      “Nee dankie, ek wil eers met Dale praat. En dan moet ek weer vertrek.”

      “Goed, as sy nie haar kennis met ons wil deel nie, gaan ons twee maar,” praat Julie Afrikaans.

      Denise is verplig om te groet en saam met haar te loop, elkeen met ’n waterbottel in die hand. Hulle is al ’n hele ent weg toe sy terugkyk en sien dat Dale en Insar steeds op die stoep sit en gesels. Sy kyk nie weer om nie, maar volg Julie en luister na haar vertellinge oor die Nabateërs.

      Hulle keer terug vir middagete en tref Dale en Arend reeds by die hotel aan. Die plek is vol mense wat van die uitgrawings af gekom het en die geur van kos laat Denise besef sy is baie honger. Sy eet met goeie aptyt en luister na Dale se gesprek met hulle kollegas.

      “Ons het vanoggend ’n heel pot gevind, tot Mamdi Al-Haloul se vreugde. Wel, dit was eintlik sý vonds. Gewoonlik kry ons net skerwe. Ons is van plan om ons deel van die Tempel af te sluit, en volgende week gaan ons ons nuwe kamp in Wadi Siyagh opslaan. Julle kom saam met ons na die nuwe kamp.”

      Hy hap ’n mond vol kos, sluk en kyk na Denise. “Jy kan later wéér terugkom na Petra en kyk wat ons hier doen. Ek sal jou intussen laat weet hoe ons vorder.”

      Nooi hy haar sowaar om weer na Petra te kom? dink sy verbaas. Dis omtrent ’n ommekeer in sy houding.

      “Ná ete wil ek en Denise die berg opklim om El Deir, die sogenaamde klooster, te gaan sien,” sê Julie.

      Dale skud sy kop. “Nee, dis gans te warm so vroeg in die middag. Kom ek neem julle na die Moevenpick Hotel in Wadi Musa, wat ’n lekker swembad het. Daar kan ons bier drink en afkoel. Miskien kan ons almal later teen die berg opgaan en na die klooster gaan kyk.”

      “Met bier in ons lyf?” vra Julie ongelowig.

      Dale lag. “Ons sal dit baie gou uitsweet, glo my.”

      “Swem klink vir my lekker,” meen Denise.

      “En bier vir my,” lag Arend.

      By die hotel aangekom, met hulle swemklere in sakke, verstom Denise haar vir die vyfster-opulensie. Die swembad waarnaas hulle op sonbeddens gaan lê, is enorm. Sy gaan sit op die sonbed langs Dale s’n en probeer om nie na sy gespierde, lenige lyf te kyk nie.

      Hy kyk egter openlik na haar toe sy die sarong om haar lyf afhaal en in haar bikini daar staan. Sy probeer haar selfbewustheid wegsteek en gaan duik dadelik in die helderskoon water.

      Julie is fris tot vet, maar sonder enige selfbewustheid loop sy met haar eenstuk-baaibroek na die swembad en duik ook in die water.

      Denise skrik toe iemand haar aan die enkel beetkry en trek. Dale kom proesend langs haar na die oppervlak.

      “Lekker, nè? Ná jou oggend se geloop. Julie is nie een wat wandel nie, sy lóóp met mening.”

      “Heerlik.”

      Denise vee die nat hare uit haar gesig en kyk na hom deur wimpers wat gekoek is van die water. Hy is so naby dat hy amper aan haar raak. Haar ongemak maak dat sy wegswem, na die kant toe, en uitklim.

      Hy volg haar. Sy kyk af na waar hy aan die kant vashou en vir haar grinnik, asof hy weet sy vlug vir hom. Sy draai om en loop na die sonbed, waar sy haar met die hotel se geel handdoek afdroog en haar donkerbril opsit, sodat sy die weerloosheid in haar oë kan wegsteek.

      ’n Hele paar mense wat in Petra met die opgrawings help, is ook daar. Dale gesels hier en daar, voordat hy terugkeer na waar Denise in die son lê en bak.

      “Kan ek vir jou sonbrandroom aansmeer?” vra hy.

      Sy huiwer. Om sy hande oor haar te voel streel, sal haar ongemak net vererger, maar hy het reeds die buisie in sy hand en druk die sonbrandroom op sy handpalm uit. Sy draai op haar maag en laat hom begaan, maar sy is bewus van elke beweging, elke aanraking van sy sterk hande oor haar rug, haar bene.

      Dis onmoontlik om niks vir hom te voel nie, dink sy moedeloos. Sy het net na Jordanië gekom om haar kalmte totaal versteur te kry. Om die hoop weer te laat opvlam dat daar tóg iets tussen hulle kan wees.

      “Dankie,” prewel sy toe hy regop kom en die buisie toeskroef. Sy maak haar oë toe.

      “Hoe gaan dit deesdae


Скачать книгу