In jou hande. Malene Breytenbach

Читать онлайн книгу.

In jou hande - Malene Breytenbach


Скачать книгу
Sy gaan ’n vreeslike foltering deur, soos hy destyds self deurgegaan het.

      Hy het lanklaas soveel empatie met ’n pasiënt gehad, veral omdat hy weet dat haar hele toekomstige loopbaan as arbeidsterapeut afhang van hoe goed hy sý werk doen. Sy is bykans totaal in sy hande.

      “Nou goed, ounooi,” sê hy. “Met jou mediese kennis behoort jy alles te kan verstaan. Jou vriendin is nie breindood nie. Hoe weet ons dit? Eerstens het die EEG getoon dat daar elektro-aktiwiteit in die pasiënt se brein is. Tweedens het ons ’n radio-aktiewe isotoop in haar bloedstroom gespuit om bloedvloei na die brein te bepaal. Daar ís bloedvloei na haar brein.”

      Michelle kreun en hy plaas ’n warm hand vertroostend oor hare, maar hy neem dit vinnig weg, asof hy hom bedink.

      “Soos jy weet, is ’n pasiënt dood of lewend, nie amper dood of amper lewend nie. As iemand breindood is, beskik die mediese wetenskap deesdae oor die vermoë om die organe en liggaamsfunksies aan die gang te hou hoewel die brein nie meer lewensvatbaar is nie. Ons weet egter dat die persoon nooit weer gaan terugkom nie. Jou vriendin het geweldige trauma gehad en sy het nog nie haar bewussyn herwin nie, maar breindood is sy beslis nie.”

      Michelle skryf: Breinskade?

      “Wag, laat ek vir jou dinge duidelik maak, al is ek nie ’n neuroloog nie. Sandra van Heerden se dokter is Peet Human, en hy is ’n uitstekende neuroloog. Koma weens koptrauma beteken dat daar bilaterale skade aan die retikulêre formasie van die middelbrein is – dié deel wat slaap reguleer. Die uitkomste wissel van herstel tot dood. Komas duur van dae tot weke tot jare. Dis selde langer as vyf weke. Sommige mense is ongelukkig daarna vegetatief – hulle word wat ons in leketaal noem ‘vegetables’. ’n Diep koma beteken nie dat die persoon nie kan regkom nie. Jy moet dus nie sommer aanvaar dat jou vriendin nou ’n vegetable gaan wees nie.”

      Ek wil haar sien, skryf Michelle.

      Die dokter kyk haar met medelye aan. “Later sal ons jou na haar kan neem, nog nie nou nie. Ons kan jou nie sommer beweeg nie. Jy is veel erger beseer as wat jy besef.”

      Die vriendelike suster Erna kom in, saam met twee verpleegsters.

      “Hallo, dokter, hallo, Michelle. Ons kom jou kossies gee, al is dit net vloeistof wat jy deur ’n strooitjie gaan drink. Is dokter nog besig?”

      “Nee, ek is klaar, suster. Gaan julle maar voort.” Hy groet en loop uit.

      Michelle se blik volg hom. Hy is so groot, met breë skouers, maar dis nodig, dink sy, want hy dra soveel mense se hartseer daarop. Nou het hy hare bygekry. Hoe simpatiek was hy nie. Hoe medemenslik.

      Die verpleegsters begin met hulle werk.

      “Ek is nou dertig, maar ek het ’n suster wat so oud is soos jy,” gesels die suster. “Agt-en-twintig. Haar naam is Jean en ek is baie lief vir haar. Sy het haar eerste baba verloor en ek bekommer my altyd oor haar, want sy is nie sterk nie. Ek sou nooit aan haar kon doen wat jou suster aan jou gedoen het nie. Asof jy nie swaar genoeg kry nie, gaan maak sy jou las nog swaarder. Ek weet dis sy wat jou vertel het van Sandra. Sy kon jou maar vir eers die nuus gespaar het. Ag, ek skinder, maar ek was so kwaad vir haar.”

      Michelle wens sy kan vir haar glimlag, maar sy skryf op haar boekie: Dankie vir als.

      “Ons doen ons beste,” glimlag die suster.

      Michelle het nog nooit in haar lewe so totaal hulpeloos gevoel nie. Die verpleegsters lig haar versigtig, trek die bed skoon oor, was haar en ruil verbande. Sy kan net na hulle kyk terwyl hulle dit doen en saggies met haar praat.

      Sy is gedoem om aanmekaar te dink en te wroeg sonder verligting. Nie eens die slaap bring verligting nie. Haar kop voel skoon deurmekaar. Van al haar emosies is hartseer en skuldgevoel die ergste.

      Ek is so goed soos in die hel, dink sy. Dis net hierdie mense, en my ma se liefde, en daardie wonderlike dokter wat lig in my duisternis bring. Ek sou medelye van Jak kon verwag, maar hy skaar hom by Nicci. As sy aan hom dink, voel sy eerder wrewelig.

      “Vandag haal ons die verband van jou voorkop af en ek was jou hare,” sê die hulpverpleegster. “Dan ontsmet ons weer jou wond en sit vars verbande aan. Jy sal sommer stukke beter voel.”

      Michelle wens sy kan na die wond kyk toe die verpleegster versigtig die verband verwyder, maar sy is ook bang dit lyk te erg. Dis baie gevoelig.

      “Ek sal versigtig wees dat ek nie sjampoe op dié sny kry nie,” belowe die verpleegster. “Anders gaan dit vreeslik brand.”

      Michelle kyk hoe sy ’n skottel, beker warm water en sjampoe gereed kry en handdoeke oor die kussings gooi.

      Naam? skryf Michelle.

      “Cynthia,” glimlag sy.

      Sy stut Michelle se kop met een hand en begin haar hare versigtig was. Dis so lekker dat Michelle sug.

      “Ai, nou kan mens regtig sien watter mooi hare jy het,” komplimenteer die verpleegster haar. “Dit was gekoek van die bloed toe jy inkom.”

      Sy vryf die hare saggies droog, kam dit uit en blaas dit met ’n haardroër droog wat sy by die muur ingeprop het. Toe borsel sy dit sorgvuldig.

      “So ja. Ek speel nie gewoonlik haarkapper nie, maar dit was nou vir my lekker. Kyk hoe blink dit.”

      Daarna verwyder sy die handdoeke, ontsmet die voorkopwond en verbind dit weer. Michelle voel wonderlik skoon.

      “En jy is sommer reg vir jou ete,” grap die verpleegster.

      Sy hou die vloeistofvoeding met die strooitjie voor Michelle en laat haar suig. “Stadig, dat jy nie verstik nie,” maan sy, en wag geduldig totdat Michelle alles inhet. Toe vee sy haar mond skoon af en maak haar weer gemaklik teen die kussings.

      Michelle is baie dankbaar en sy knip haar oë vir die verpleegster.

      “Plesier, ou dier,” skerts dié.

      As ek net weer kan praat, sal ek darem vir dié mense baie dankie sê, dink Michelle. As sy nie innerlik so ontsteld was nie, sou sy nou baie lekker gevoel het.

      Later, nadat die verpleegsters klaar is, kom haar ma weer in.

      “Voel jy nou beter, my kind?” vra sy besorg. “Ek hoor hulle het jou mooi skoon gewas. Volgende keer sal ek jou hare was.”

      Michelle skryf: Dankie voel beter.

      “Jak stuur groete. Hy sal later weer kom, maar hy het besigheid om te doen.”

      Dié besigheid het seker hoofsaaklik met Nicci te doen, dink Michelle.

      Dis asof haar ma haar gedagtes kan lees. “Jy moet maar jou stiefsuster probeer vergewe, Michelle. Jy weet hoe sy is. Ek dink natuurlik dat sy nog altyd op jou jaloers was. Sy is wel baie mooi en ’n suksesvolle model, maar sy weet dat sy nie jou innerlike krag of jou intelligensie het nie. Jy het selfvertroue en jy het jouself lankal uitgesorteer, al is jou pa vroeg dood. Jy het ook so gepresteer op alle gebiede – sport, die akademie, en jy sing boonop pragtig. Verder is jy ’n mense-mens en almal hou van jou. Sy is selfsugtig en veeleisend. Selfs haar pa erken dit. Eintlik is Nicci baie onseker van haarself, dié dat sy altyd mans se aandag nodig het en jou mansvriende najaag. Ek is nie blind nie, my kind. Ek sien alles raak. Sy kon haar ma se dood nie verwerk nie, en ek kan ook nie daardie vrou se plek volstaan nie. Ek is en bly die stiefma. Jy is en bly die stiefsuster en sy kompeteer met jou, al kompeteer jy nie met háár nie.”

      Michelle knip twee keer vinnig.

      “Nee, dis waar. Sy voel minderwaardig teenoor jou, want jy is begaaf. En jy is mooi, my lief, al is jy nie filmstermooi soos sy nie. Ek was nog altyd so trots op jou en op wat jy bereik het ná jou pa se dood, toe ons nog arm was. Jy het in die afgelope jare nooit enigiets van jou welaf stiefpa gevra nie en hy respekteer jou daarvoor.”

      Michelle luister verbaas na haar ma. Sy het nog nooit dié goed vir haar gesê nie. Dis waar dat sy, Michelle, hard gewerk en gepresteer het, maar sal sy dit ná dese ooit weer kan hervat? Is sy nie onherstelbaar beskadig nie – fisiek én geestelik?


Скачать книгу