Vlinder teen die ruit. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Vlinder teen die ruit - Ettie Bierman


Скачать книгу

      “Ek terg sommer. Jy lyk pragtig, hoe jy ook al jou hare kam.” Hendro steek berouvol sy hand na haar uit, maar sy skuif weg.

      “Moenie jy my ook soos ’n kind behandel nie.”

      Douw het haar klaarblyklik verkeerd opgevryf, en Hendro probeer olie op die troebel water gooi. “Douw lyk soms soos ’n brander wat ’n rots soek om plat te slaan, maar dis net ’n front wat hy voorhou – ’n wal wat hy om hom bou om nie weer aan die diep kant in te val nie. As jy hom leer ken, ontdek jy ’n heel ander soort mens as wat jy gedink het. Die soort pêl wat jy in ’n oorlog langs jou wil hê. Of in Survivor in dieselfde span as jy.”

      “Ek is nie van plan om oorlog toe te gaan nie, en ek hou nie van realiteits-TV nie.”

      “Moenie hom vlak kyk nie, sussie. Hy’s ’n nice ou, baie soos jy.”

      “Is ek ’n ‘nice ou’? Dankie, dis vleiend!”

      Hendro steur hom nie aan haar buierigheid nie. Irene het hom gewaarsku haar suster wys ystervarkpenne as die onderwerp van mansmense ter sprake kom. Een of ander kêrel wat haar glo in die steek gelaat het …

      “Jy weet wat ek bedoel,” sê hy rustig. “Jy is meelewend en gee om vir mense, soos hy. Maar jy leef ook agter ’n wal, met jou emosies diep weggebêre. En jy maak nie maklik oop vir mense wat wil inkom nie. Dis hoekom ek sê julle is eenders.”

      Nogal ’n mondvol, waaraan sy later sal herkou … “Hoekom sê jy hy wil nie weer aan die diep kant inval nie? Wat het gebeur?”

      “Douw is geskei. Sy vrou en kind woon in Amerika.”

      Dus het sy reg geraai: hy was getroud en het al voorheen fopspene gesoek en bababottels aangemaak. Suri vra nie verder uit nie, want sy wil nie regtig weet nie. Sy stel nie belang in Douw van der Linde se neuroses en komplekse nie. Tog is sy bly dat Hendro praat. Hy was die afgelope tien dae stomstil, asof daar ’n bottel binne-in hom is wat gis, en waarvan hy die prop styf toegeskroef het. Praat keer dat die stresmengsel ontplof.

      “Dis ’n dogtertjie, daarom dat hy erg is oor Maja. Irene het haar soms deur Douw laat vashou, hopend dit vergoed vir die gemis aan sy eie kind. Douw sal ’n goeie pa uitmaak, en ’n goeie man vir sy vrou.”

      “Miskien is hy gangbaar, miskien selfs aangenaam – eendag wanneer hy sy egskeiding verwerk het. Maar ek stel nie belang nie, swaer. Moenie vir my ’n man soek nie.”

      “Jy sê altyd jy het ’n man nodig soos ’n vis ’n fiets nodig het. Maar Irene was besorg oor jou. Sy wou jou gevestig sien met ’n man, ’n huis en ’n gesin.”

      Eers ’n lang relaas oor Douw en nou is dit blykbaar haar beurt. Dis asof Hendro afleiding soek, weg van sy eie probleme.

      “Ek het mos nou ’n kitsgesin,” terg Suri. “Jy en Maja.”

      Hendro se gesig bly ernstig. “Jy moet uitkom en ander jong mense ontmoet. Ek is bekommerd dat jy nou as gevolg van ons selfs meer huisgebonde sal wees.”

      “Ek is nie ’n djoller nie. Ek klim liewer in die bed met ’n mooi boek as met ’n simpel man. As ’n ou wil kom kuier, moet hy tevrede wees as ek meer aandag aan die baba gee as aan hom.”

      “Geen kêrel sal daarmee tevrede wees nie.”

      “Dan kan hy vir hom ’n ander meisie soek, want dit beteken hy het ’n aandagprobleem.”

      “Hokaai!” keer Hendro. “Jy’s te kras. Mans is nie almal sleg nie; party het besondere deugde.”

      “Ja, as jy ’n klavier wil skuif of ’n olifant wil parkeer. Andersins veroorsaak hulle net ergernis en hoë bloeddruk.”

      Hendro vryf haar kuif deurmekaar. “Daarso! Nou lyk jy net soos die kapokhaantjie wat jy naboots.”

      Suri draai verleë weg.

      “Wat was sy naam?” vra hy sag.

      Sy is dadelik op haar hoede. “Wie?”

      “Die man wat jou gedrop het – wat gemaak het dat jou vriende meesal net in kletskamers woon; wat maak dat jy ’n held in ’n boek verkies bo ’n kêrel van vlees en bloed.”

      Suri spring op. “Dis al laat. Ek wil gaan kyk dat Maja haar nie oopgeskop het nie, en dan moet ek in die bed kom. Ons moet môreoggend vroeg ry.”

      “En maak dat jy altyd verskonings uitdink om weg te hardloop?” dring Hendro aan.

      “Weghardloop? Hoor wie praat!”

      “Ek het opgehou hardloop, miskien moet jy dieselfde doen … Wil jy uitpak, sussie? My skouers is breed, en ek kén hartseer.”

      Sy skud haar kop en loop deur toe. Net voor sy uitstap, druk sy haar hand teen die kosyn en bly staan sonder om om te kyk. “Carl. Sy naam was Carl. Maar ek wil nie oor hom praat nie. Oukei?”

      Hendro knik. Maar dis glad nie oukei nie, dink hy. Sy het nie ’n ma nie, en hy en Irene was so behep met hul eie dinge dat hulle Suri verwaarloos het. Dis tyd dat iemand na haar omsien. Tyd dat hy ouboet speel.

      Hy sluit die deure en skakel die ligte af. ’n Ruk lank staar hy weemoedig na die skemerdonker kombuis, na die netjiese rakke en die ry vadoeke teen die muur wat klaar anders lyk as toe Irene nog hier was. Hy vryf oor sy gesig en sluk swaar, voor hy omdraai om lakens te gaan soek. Hy het nie ’n benul waar Irene dit gebêre het nie.

      4

      In hulle haas om die oggend vroeg te ry, het Hendro vergeet om sy horlosie aan te sit. Die middag probeer hy vergoed vir die halfuur wat Suri op die trap voor haar klaskamer gesit en wag het deur haar boeketas teen die steil houttrap op te dra na haar slaapkamer.

      “Hierdie trappe is nekbrekers!” kla hy. “Soos ’n martelgang uit die Middeleeue! Is jy nie bang jy val nie? Hoekom werk jy nie eerder onder in die eethoekie nie?”

      “Maja slaap bo en as ek onder is, sal ek nie hoor as sy huil nie. Ek is die klim gewoond, en dit gee ’n mens mooi kuite.”

      “Jou kuite is mooi genoeg. Ek het nie besef die plek is so beknop nie. Jy sal nie met ’n stootwaentjie hier kan op en af nie.”

      “Nee.”

      “Hoe kom jy oor die weg?”

      “Ek dra haar, Maja is so lig soos ’n veertjie.” Suri klouter boontoe. “Hallo? Jammer ek’s laat! Nessa, waar’s jy?”

      “Hierso, Soetjie, in die badkamer! Besig om fyngoedjies uit te spoel.”

      Suri loop verby slaapkamer toe. “En waar’s my liefie?” Sy buk oor die wiegie wat langs haar bed staan en tel die baba op, soen haar en koester die warm lyfie styf teen haar. “Was jy vandag ’n soet engeltjie?”

      Die twee pienk voetjies skop plesierig en die handjies gryp na die halssnoer om Suri se nek.

      Suri klingel die reënboog van glaskrale teen mekaar, soos ’n ratel. “Jy hou ook van helder kleure, nes jou mamma. Dis sy wat hulle vir my gegee het – al die pad uit Italië van Murano af gebring. Wanneer jy eendag groot is, sal jou pappa vir jou ook sulke krale koop, en ’n glasperdjie en ’n dolfyn en als wat vir jou mooi is.”

      Maja verstaan nie wat haar tannie sê nie, maar sy hou van die klank van haar stem en gesels lustig saam in haar eie taal. “Ghoe-ghoe! Boe!”

      “Wat sê sy?”

      Suri kyk om na waar Hendro in die slaapkamerdeur staan. “Sy sê eendag is te lank om voor te wag. Sy wil die krale nóú hê!”

      “Dink jy regtig sy het Irene se liefde vir kleure geërf?”

      “Die kans is goed. Of dalk word sy eendag ’n beroemde beeldhouer.”

      Hendro se mond gaan oop en hy staar haar aan asof sy aangekondig het dat hy die Boerpot gewen het.

      “Wil jy haar vashou?” stel Suri


Скачать книгу