Louisa du Toit Omnibus 5. Louisa du Toit

Читать онлайн книгу.

Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit


Скачать книгу
intens.”

      Nou begin die waarskuwende klokkie beslis tieng. Haar stem is koel toe sy praat: “Laat die geheim maar myne bly, asseblief.” Sy besluit om nie weer van die parfuum aan te tik, in elk geval nie in kantoortyd nie.

      “Natuurlik. Ons moet eintlik oor werksake praat.” Aldus kom hy haar tegemoet in haar poging om na ’n onpersoonlike vlak terug te keer.

      Sy is bewus van die presisie waarmee hy die vleis van die beentjie sny terwyl hy eet. So het sy hom leer ken in sy werk: presies, doelgerig. Hy gee nie opdragte en herroep dit nie, spreek nie ’n woord wat onnodig is nie. Waarom, dan, moes hy haar op haar hoede stel deur sy vleiery? Was dit wel nodig vir die voortgang van die gesprek?

      “Ek wou maar net sê, Elna, dat ek jou beslis gaan aanbeveel vir hierdie verhoging.”

      “Dankie, meneer Collins.” Dis beslis nie nou die tyd en plek om hom mee te deel dat sy dalk in die huwelik tree nie. As sy met Johnny trou, sal dit wees op die voorwaarde dat sy aanhou met werk. Dis ononderhandelbaar. Kom daar kinders, is daar dinge soos kraamverlof en bewaarskole.

      “Daarmee saam sê ek dan ook dankie, en sterkte.” Neil Collins se hand reik uit en druk hare vlugtig waar dit langs haar bord rus. Net ’n sekonde, maar diep innerlik ontstel dit haar. Dit behoort nie te gebeur het nie.

      Die middagson is ongenadig skerp in hulle oë toe hulle uitstap. Ter wille van parkering het hulle netnou die twee blokke afgestap, en hulle moet hulle treë nou rek om betyds terug te wees.

      Terwyl die groot, grys gebou van hulle bestemming reeds voor hulle opdoem en hulle by die laaste verkeerslig wag om oor te stap, ry Christopher Ligthart vlak teen hulle verby. Hy het Elna amper te laat raakgesien om haar nog te eien, en tog lyk hy nie verbaas nie. ’n Vinnige glimlag pluk aan sy mondhoeke, en hy knik haar amper oordadig toe.

      Dit is bykans asof hy my hier verwag het, dink Elna. Hy spioeneer tog nie op haar nie? Het hy dit beplan? Tot haar ergernis voel sy ’n ligte bewing in haar bene. Sy het nie eers teruggeknik nie, sy was ook te verbaas. Dit is die heel eerste keer dat sy hom sien sedert daardie laatwintersaand toe …

      Nee, nee, sy gaan nie nou daardie ontstellende herinnering terugroep nie. Nie met Neil Collins hier langs haar nie, en met die wete van die bevordering, en alles. Sy moet nou eerder daarop konsentreer om dit te laat lyk asof sy en haar baas mekaar toevallig raakgeloop het en oor kantoorwerk loop en gesels.

      “ ’n Bekende?” vra Collins en sit sy hand liggies onder haar elmboog om die straat oor te steek.

      Soos Christopher, dink sy blindelings. Julle soort, het ek vir hom gesê. Alle mans is nie meer so galant nie, want alle vroue wil dit nie meer hê nie. Dit tas hulle gelykheid aan. “Dis my neef,” antwoord sy net.

      “Nou toe nou. Geen wonder hy het so ingenome gelyk toe hy jou sien nie.”

      Verdwaas loop sy langs die man, weet dat sy skaars hoef te wonder oor sy bedoeling. Hy het iets aan haar houding agtergekom. Sy dwing haar om in die hyser saaklik met hom te gesels, en selfs van die ander wat op pad terug is, in te sluit.

      Sodat sy ook kalm en vriendelik is toe sy mevrou Collins deurwys na haar man se kantoor. Dis die eerste keer dat die vrou hier kom. Af en toe in die verlede het Elna hom wel oor die telefoon met haar hoor praat.

      Terwyl die vrou agter die geslote deur by haar man verkeer, lê Elna se vingers stil op die toetsbord. Wanneer sy rondom haar kyk, sien sy veelseggende oogopslae. Mevrou Collins is net te opgesmuk, asof sy almal hier wou kom beïndruk. Die rok se soom is net te hoog en die hals net te laag. Grimering te swaar. Haar hare is salon-gekap, te hoog gepluis, soos dit ’n paar jaar terug mode was. Sy kyk nie links of regs nie, groet nie, loop sommer regdeur. Allermins professioneel. Sy kort natuurlikheid en sjarme, en Elna vind dat sy half verantwoordelik voel vir die vrou se voorkoms en optrede. Sy is so gewoond daaraan om vir haar mense se doen en late in die bresse te tree. Met vinnige pyn onthou sy die breuk met haar ma, sien sy duidelik vir Makkie in die bed lê. Sou dit al beter gaan? Die foon moet afgesny wees, sy het probeer bel maar daar was net ’n lang besettoon. Sy sal seker maar met geld moet help, al woon sy nie daar nie. Dit pyn in haar. Daarom voel dit half of sy moet opkom vir mevrou Collins, wat duidelik deur haar man verbygegroei is.

      Sy werp ’n berispende blik na die ander meisies, en dit lyk nogal of hulle dit ter harte neem en verder werk. Maar later, weet sy, sal hulle hartlik onder mekaar skinder. As mevrou Collins weer uitkom, het sy ’n sigaret tussen die vingers. Probeer nonchalant wees. Sy loop weer deur sonder om links of regs te kyk. Dis heel duidelik dat sy omgekrap is. Sou sy en haar man ’n meningsverskil gehad het? En wat kon so belangrik wees dat sy nie maar net kon bel of tot na ure wag nie?

      Eers heelwat later ontbied Collins vir Elna, nadat hy twee onderhoude gevoer en ’n derde gekanselleer het. Sy dag hy wil die briewe teken wat sy getik het, maar hy beduie dit eers eenkant toe en maak ’n gebaar dat sy die deur agter haar moet toetrek. Sy hou nie daarvan nie, maar hy het seker die reg op vertroulikheid.

      “En nou glimlag julle seker lekker,” sê hy stroef.

      “Meneer?” Sy kan nie glo dat hy oor sy vrou praat nie, maar sy volgende woorde bevestig dit wel: “Kan jy vir my een goeie rede noem waarom ’n vrou, sê nou maar een wie se man ’n posisie het om te handhaaf, nie tred met die mode kan hou nie? Julle meisies hier trek so smaakvol aan.”

      “As u nie omgee nie, wil ek liewer nie hierna luister nie.”

      Hy kyk haar ’n rukkie deurskouend aan. “Ja, jy word seker nie daarvoor betaal nie. Ek wou eintlik sê jy kan hierdie leggers terugneem, en bring asseblief vir my die een van die kliënt wat nie opgedaag het nie. En …”

      Sy was reeds op pad uit, maar draai weer om.

      “Ek wou net nog sê: julle wat jonk is, en binne wie se mag daar nog ’n keuse is, moet reg kies. Kies só dat jy by jou keuse kan bly.”

      Sy vra nie wat hy bedoel nie. Wil nie vra, wil nie weet nie. Maar dra sy swaar woorde met haar saam deur die lomer namiddagure, wanneer werknemers meer dikwels op hulle polshorlosies blik as tydens die oggend.

      As ’n stadshorlosie iewers traag vyfuur slaan, kom daar ’n roering. Elna is een van die laastes om weg te gaan. Dit is altyd so. Sy het nog nooit veel gehad om heen terug te keer nie.

      Ofskoon sy deesdae terugkeer na ’n ordelike huis, ’n goed voorbereide ete, en toegewyde aandag. Sy word soos ’n koningin behandel in die huisie van die Ponters.

      Johnny het vir haar ’n enkelbed ingedra spaarkamer toe, sodat die bed-opmaak makliker kan gaan. Sy pa hou vir haar die murgbeentjie, en sy ma maak, benewens Sondag, op Woensdag ook poeding.

      Sy is al etlike weke by hulle, en maak onder protes ’n bydrae tot die huishouding, soos sy by haar ma-hulle ook gedoen het. Sy het alles anders beplan. Sy wou net een of twee nagte daar slaap, totdat sy ander plek gevind het. So ’n warme ontvangs was sy nie te wagte nie. Die ouers sê sy het lewe in die huis gebring. Hulle wil nie hê sy moet weggaan nie. Saam met Johnny, skimp hulle in die rigting van ’n trouery.

      Soms sien sy geen ander logiese uitweg nie. Dit is asof alle paaie vir haar saamgeloop het tot by hierdie punt. Saans, wanneer hulle saam gesels en skerts, voel sy ontspanne, tuis. Sy het dit tog nie teen eenvoud nie, besluit sy dan. Sy het dit teen eenvoudigheid. Teen verarming, eerder as teen armoede. Om stap vir stap terug te gly sonder dat jy dit agterkom. Sy voel bevry toe sy eers tot hierdie besef gekom het.

      Dis of Johnny sagter van voorkoms geword het. So nie, versorg hy hom net beter noudat Elna pal in die huis is. Hy het bely dat hy klere nodig het, maar dom is met die aankoop daarvan. Sy het saam stad toe gegaan en hom ’n keuse help maak. Daarin lyk hy skoon anders, beide in die dienlike werksklere en die goed passende klere vir ontspanning. Sy hare is goed gesny by ’n regte haarkapper, waar sy pa dit maar voorheen “reggevat” het. Dit groei langer uit en krul effens.

      ’n Huwelik tussen ons kan heel goed uitwerk, besluit sy male sonder tal. Hy het al die potensiaal in hom, en dit geld nie net voorkoms nie. As hy ’n vrou kan kry wat ’n bietjie sterker as hy staan. Soms ry hulle rond en kyk na huise in die beter buurte. Met


Скачать книгу