Speurhond Willem en die seerowers. Elizabeth Wasserman
Читать онлайн книгу.skinkbord vol bont drankies wag ons in.
“Welkom aan boord, mevrou Senekal en . . . Maar waar is meneer Senekal dan?” vra hy. Sy vals glimlag sak skeef toe hy my sien. Ek dink nie hy hou baie van kinders nie.
“Hy kon ongelukkig nie kom nie. Hierdie is my seun, Adriaan,” stel my ma my voor.
“En Willem!” fluister Willem moedswillig uit my skouersak.
“’Skuus, mevrou?” vra die kelner. “Is u seun se naam Adriaan of Willem, of dalk Willem-Adriaan?”
My ma, wat niks gehoor het nie, lyk verbaas. “Adriaan!” sê sy ferm.
Ek kyk die kelner op en af. Ek hou sommer dadelik nie van die vent nie. Sy kuif is effens olierig, en dit hang slap
oor sy linkeroog. Hy sukkel ’n bietjie met aknee en sy adamsappel spring op en af soos ’n klimtol wat in sy lugpyp vassit.
Hy dra ’n naamplaatjie wat aankondig dat hy “Preston” heet.
Wat ’n simpel naam!
Preston gluur my aan.
“Kinders ouer as elf is natuurlik welkom op die boot. Ek is seker u weet van ons reël vir kinders jonger as dit?”
Dit is ’n oorlogsverklaring.
Natuurlik is ek al elf. Die kêrel soek skoor!
Uiteindelik kom ons verby die vent se sogenaamde verwelkoming. Ek en my ma deel ’n kajuit op die middelste dek. Ons bagasie is reeds daar. Daar is twee gemaklike enkelbeddens met laaikassies, ’n tafel met ’n yslike bos blomme, ’n beknopte hangkas en ’n klein badkamertjie met ’n stort.
My ma smyt net haar handsak op ’n bed neer en haas haar weer uit.
“Kom kyk, Adriaan, die boot gaan vertrek! Ek wil Tafelbaai van die see af sien.”
“Ek kom nou, Ma.”
Sodra die deur toeklap agter haar, trek ek die ritssluiter van my drasak oop.
“Willem, ons moet jou hier wegkry! Dit gaan nooit werk nie.”
Ek is doodbenoud. Hoe onnosel kan ’n mens wees? Hier is nêrens plek om my hond weg te steek vir ’n hele week nie. Ons gaan verseker in groot moeilikheid beland. Ek sien al hoe smyt hulle ons twee oorboord en hoe grynslag daai mislike kelner van vreugde om van my ontslae te raak!
Willem strek hom doodrustig uit en skud sy lippe. Dan gaan sit hy op die deken en krap sy oor.
“Hou op stres, Adriaan,” paai hy. “Ek is honger. Hoekom kry jy nie eerder vir ons iets om te eet nie?”
Ek gluur hom aan. Hy het bietjie gewig opgetel die laaste maande. Mens sal hom selfs kan beskryf as ’n vet hondjie. My skouer voel nog lam van sy gewig in my sak.
“Jy dink deesdae gans te veel aan kos!” snou ek hom toe. “Dink eerder wat ons met jou gaan maak in hierdie klein kajuit!”
“O, maar ek gaan nie hier bly nie. Drie deure van hier af is daar ’n klein linnekamertjie, net reg vir my. As jy nou klaar gekerm het, kan jy my soontoe neem. En vir my ’n paar hamtoebroodjies bring, en ’n bottel water. En maak tog seker dit is nie van daai water met die borrels in nie!”
Die arrogansie van my hond verstom my. Hy sê nie eens asseblief nie.
“En hoe weet jy van dié linnekamer?”
Hy staar my net oor sy neus aan.
Ek gaan doen inspeksie. Daar is inderdaad ’n linnekamer drie deure in die gang af. Dit lyk heel skaflik. Daar is rakke vol wit handdoeke, ’n paar emmers met skoonmaakgoed en selfs ’n ronde venstertjie. Ek kyk daardeur uit en sien hoe ’n vet rob in die water van die hawe rondspeel. Hy loer vriendelik vir my terug.
Die deur van die linnekamer kan van binne af toesluit met ’n knip. Dit is nogal vreemd, dink ek. Boonop lyk dit of die slot onlangs ingesit is. Die merke van die ou slot is nog sigbaar in die verf. So asof die plek presies reggemaak is vir Willem.
Maar hoe kan dit wees?
Ek sug en gaan soek hamtoebroodjies.
6
Vreemde gebeure
Ek kry gou my seebene. Die skip het absoluut alles waarvan mens kan droom: ’n speletjiesarkade, twee swembaddens en ’n hele paar restaurante met die heerlikste kos.
Ek geniet my gate uit en vergeet amper van Willem. Eers laat die aand kom ek weer terug in ons kajuit, effens songebrand en doodmoeg. My ma is steeds besig om iewers te rinkink, en ek gaan kuier vir my hond in sy linnekamer, gewapen met ’n braksakkie vol lekker eetgoed uit die restaurant.
Ek klop saggies aan sy deur en draai die handvatsel. Die deur is oop.
Willem lê opgekrul in ’n hoek op ’n klomp handdoeke. Hy lyk trietsig. Skielik spring hy op en hang by die oop kajuitvenstertjie uit.
Willem is seesiek!
Druipstert kruip hy terug na sy lêplek. Ek bars uit van die lag.
“Nou toe nou, ou kêrel!” spot ek hom. “Lyk my jy is geen matroos nie!”
Hy kyk my net verwytend aan.
“Kom,” sê ek, “ek vat jou vir ’n stappie op die dek. Vars lug sal jou goed doen!”
Hy knik sy kop instemmend. Sy oë hang. Hy kry homself baie jammer.
“Ek het nooit geweet dit is so erg nie!” kla hy. “Maar ek moet ’n draai loop. Jy het my heeldag alleen hier gelos! Hoe het jy gedink moet ek maak? My blaas raak vol, jy weet, en . . .”
“Oukei, oukei! Kom ons gaan!”
Ek loer by die deur uit. Daar is niemand in sig nie. Die passasiers wat nie alreeds slaap nie, dans bo in die disko.
Ons sluip af in die gang en op met die trappe na die boonste dek toe.
Dit is ’n pragtige stil maanligaand. Die ligte van Kaapstad het lankal agter die horison verdwyn, en ons is besig om langs die ooskus van die land op te vaar.
Willem voel gou beter. Sy stert wip weer op en hy hol ’n paar draaie. Hy lig sy been teen ’n pilaar, en toe . . .
“En wat dink jy moet ek daarmee maak?” vra ek vies.
“Het jy nie ’n plastieksak saamgebring nie?” kap hy terug.
Maar voordat ons daaroor kan redeneer, hoor ons stemme nader kom.
“Gou!” sê ek. “Spring hier in!”
Ons kruip weg in ’n kas waar skoon handdoeke en stoelkussings gebêre word. Die stemme kom nader.
Ek herken dadelik een van hulle. Dit is Preston, die aaklige kelner. Hy praat met iemand. Dit is ’n man met ’n diep, growwe stem en ’n Franse aksent.
“Jy beter sorg dat alles hier op die boot gereed is. Ek gaan môre by Durban aan wal om die laaste reëlings met Robberts te tref. Ek kan dit nie waag om hom te kontak hier van die boot af nie. Onthou net, as jy ’n fout begaan, sal jy swaar boet daarvoor!”
“Ja, ja, moenie worry nie!” sê Preston. “Ek weet presies wat ek moet doen. Alles sal reg wees. Jy kan maar relax.”
Die vreemde man gee ’n snork. Lyk my hy vertrou ook nie die kelner-vent nie.
Hulle staan nou vlak by ons, en