Haar naam was Marina Neser. Susanna M. Lingua

Читать онлайн книгу.

Haar naam was Marina Neser - Susanna M. Lingua


Скачать книгу
ek neem jou uitnodiging aan, señor,” glimlag sy liefies, en dit laat die jong man se hart sommer wild klop.

      So ’n beeldskone vrou soos Marina het hierdie jong man nog nooit ontmoet nie. Hy maak ook geen geheim van die bewondering wat hy selfs na so ’n kort kennismaking reeds vir haar koester nie.

      “Jy doen my gewis ’n groot eer aan, señorita Marina,” laat hy warm hoor. “Wees verseker dat ek vir ewig jou slaaf is …”

      “O nee, asseblief!” keer sy met ’n tintelende laggie. “Ek sal nie weet wat om met een te maak nie!”

      Sy kyk hom laggend aan. In sy oë is daar ’n onmiskenbare uitdrukking van aanbidding, fel en oorweldigend, en sy laat dadelik haar blik sak.

      Wel, Marina, dit het jy nou van jou voortvarendheid, sug sy en trek die kamerdeur sag agter haar toe. Waarin het jy jou begeef? vra sy haarself in die stilligheid af. Besef jy dis ’n verliefde man wat hier langs jou loop? En besef jy dat ’n verliefde man veeleisend kan wees? Jy het jou beslis in ’n ding begeef deur hierdie spontane uitnodiging van hom te aanvaar. Hy sal van nou af oral saam met jou wil rondpiekel, en wat dink jy gaan Frikkie daarvan sê as hy dit te hore kom? Hy was juis so gekant teen hierdie reis …

      Hulle bereik die ruim privaat sitkamer van die hotel, en met ’n sjarmante buiging nooi hy haar om te sit. Toe neem hy langs haar op die bank plaas. Die kelner verskyn langs hul tafeltjie en op Portugees plaas Ricardo die bestelling. Dan draai hy na haar en bekyk haar weer met ’n warm blik. Sy stem klink baie ernstig toe hy sê: “So, dan is jy eintlik ’n Suid-Afrikaanse produk! Was jy al ooit verlief, señorita?”

      ’n Kort oomblik kyk Marina die man langs haar met ’n geamuseerde blik aan, maar dan verskyn daar meteens weer ’n ondeunde vonkeling in haar lewenslustige blou oë.

      “O, baie dikwels al. Omtrent elke ses maande, sou ek sê. Maar Frikkie – dis my aanstaande verloofde – het ’n jaar gelede ’n einde aan hierdie wispelturigheid van my gemaak. Maar jy was waarskynlik ook al dikwels verlief, nè, señor?”

      Hy skud sy kop ontkennend. “Nie dikwels nie, señorita, slegs een keer … Toe ek jou flussies die eerste keer daar in jou kamer voor die venster met die glans van die son in jou hare sien sit het.”

      ’n Sagte laggie borrel oor haar aanloklike lippe. Sy weet dat sy nog nooit ’n man soos Ricardo ontmoet het nie – een wat na so ’n kort kennisgewing nie skroom om pront sy gevoel te erken nie.

      “Jy sal dit oorleef, señor,” sê sy en blik hom met ’n alwyse glimlaggie aan. “Glo my, liefde is soos ’n ligte somersbui. So vinnig as wat dit uitsak, klaar dit weer op.”

      “In my geval is dit baie onwaarskynlik,” sê hy sag. “Ons Portugese se liefde is net so fel en onblusbaar soos ons haat. Ons het óf lief, óf ons het nie lief nie, señorita … Maar hier is ons drankies nou.” Hy bied Marina met ’n hoflike buiging ’n glasie wyn aan. “Nektar van die gode, soet soos die lippe van die mooiste señorita wat ek nog ooit ontmoet het,” stel hy ’n soort heildronk op haar en hul nuwe vriendskap in, en dit laat Marina ongemaklik bloos. Die man is voorwaar oorweldigend met sy aandag en komplimente.

      Op heel diplomatiese wyse stuur sy die gesprek in ’n ander rigting deur te vra: “Ek neem aan jy is nie ’n inwoner van Lissabon nie, vandaar jou verblyf hier in die hotel?”

      “Nee, ek is nie ’n inwoner van Lissabon nie,” beaam hy, “en ook nie ’n gas in hierdie hotel nie. Ek en my suster, Celesta, is hier op uitnodiging van my neef, die marquês Renaldo de Conna. Maar ongelukkig was hy gister met ons aankoms uitstedig en moes ons noodgedwonge hier oornag. Ons is oorspronklik van Coimbra.”

      “En waar is jou suster nou, señor?” verneem sy belangstellend.

      “Ek het haar vroeër vanoggend na die castelo geneem en net teruggekeer om ons bagasie te kom haal.” Hy kyk na sy polshorlosie en vervolg verskonend: “Ek vrees ek sal aanstons moet gaan, señorita, anders het Celesta geen geskikte tabberd vir middagete nie – en dit sal onvergeeflik wees. Die marquês is baie gesteld op etiket, en sulke nalatigheid sal hy my nooit vergewe nie.”

      Natuurlik ’n humeurige ou man met ’n grys baardjie, arendsneus en ’n yslike bles, som sy die marquês in haar gedagtes op, maar sê hardop: “Dit was aangenaam om met jou kennis te maak, señor. Maar ek sal nie graag wil sien dat jy om my ontwil by die marquês in die moeilikheid beland nie. As jy dus wil gaan, sal ek jou verskoon.”

      Hy kom orent, kyk haar met oneindige hunkering aan en lyk duidelik onwillig om so gou afskeid te moet neem. Dit amuseer Marina; sy vind die kêrel nogal verfrissend.

      “Dit was vir my ’n groot eer om met jou kennis te maak, señorita,” verklaar hy met ’n effens weemoedige uitdrukking in sy vurige oë. “As dit vir jou geleë is, wil ek jou graag nooi om ons eerskomende naweek te vereer met jou teenwoordigheid op die marquês se jag. My neef het ’n gesellige uitstappie gereël ter ere van Celesta se een en twintigste verjaardag – ’n seereis na sy quinta aan die noordelike punt van die Sierra de Estrella-berge. Ek is oortuig daarvan dat jy die reis sowel as die naweek se verblyf aan sy quinta baie sal geniet.”

      Marina wil nog besware opper, maar hy is klaar gereed met ’n antwoord. “Ek verseker jou dat jy baie welkom sal wees, señorita. Die marquês sal jou teenwoordigheid hoog op prys stel.”

      “In daardie geval neem ek jou uitnodiging aan, señor Ricardo. Maar ek verkies nogtans om ’n uitnodiging van die marquês self te ontvang, aangesien hy die gasheer is …”

      “Jy sal ’n uitnodiging van die marquês self ontvang, señorita,” verseker hy haar en tel sy hoed van die tafeltjie op.

      Ook Marina kom orent en saam stap hulle na die hysbak om na die eerste verdieping te gaan. Voor haar kamerdeur neem sy afskeid van Ricardo.

      Pas voor middagete het sy klaar uitgepak. Toe gaan bad sy en verklee haar in ’n ligte, moulose rok. ’n Oomblik bekyk sy haar foutloos gegrimeerde gesig noukeurig in die spieël, dan draai sy om, verlaat haar kamer en stap na die eetkamer waar die gaste reeds vinnig begin instroom.

      Hoflik lei die kelner haar na ’n tafeltjie in die verste hoek. Nadat sy plaasgeneem het, neem sy die spyskaart en bestudeer dit met onverdeelde aandag. Ofskoon sy nie veel daarvan kan uitmaak nie, plaas sy nietemin haar bestelling en wens haarself geluk omdat sy darem daarin geslaag het.

      Onderwyl sy op haar bestelling wag, neem sy die vertrek in oënskou. Dis ’n ruim eetkamer met ’n veertigtal gedekte tafeltjies, almal met haelwit gestyfde tafeldoeke en servette. Vanuit haar hoekie kyk sy oor ’n see van vreemde gesigte, en in haar enigheid wonder sy wie van die klomp nou eintlik Fanus Erlank heet, en van watter deel van Suid-Afrika hy afkomstig is.

      Toe sy egter nie een man opmerk wat skynbaar aan die naam Fanus beantwoord nie, draai sy haar blik weg van haar medegaste en bepaal al haar aandag by die smullekker gereg wat die kelner aan haar voorgesit het.

      2

      Pas na ontbyt, twee oggende later, besluit Marina dat sy dit vandag alleen stad toe gaan waag. Die vorige dag het sy heeldag langs die strand en in die golwe verwyl, maar vandag voel sy lus om hierdie vreemde stad te gaan besigtig.

      Sy het nog nie die vreemde Fanus opgespoor nie, en sy gaan in die vervolg ook geen moeite meer doen om hom te ontmoet nie. Hy is blykbaar menssku, of anders is hy so bitter oninteressant of onaantreklik dat hy moontlik te skaam is om sy gesig tussen die gaste te wys, besluit sy. Sy raap haar handsak van die bed af op en verlaat die vertrek met haar trotse kop parmantig in die lug.

      Buite skyn die son heerlik en Marina voel dat dit die ideale dag is vir ’n uitstappie deur die Portugese hoofstad. Van die hotelbestuurder het sy gister al verneem waar om ’n bus te haal. Gewapen met die hotel se haas onuitspreekbare naam en adres op ’n stukkie papier geskryf, voel sy oorgehaal vir enigiets wat hierdie vreemde stad kan oplewer, of wat die dag se avontuurtjie ook al vir haar sal inhou.

      Soos ’n ervare toeris stap sy met die straat op. Agter haar dreun en klots die golwe woes teen die rotse


Скачать книгу