Rodriguez. Piet van Rooyen

Читать онлайн книгу.

Rodriguez - Piet van Rooyen


Скачать книгу
Die generaal se stem is skerp.

      Rodriguez gee ’n verleë laggie. Dis nie antwoord genoeg nie, weet hy, maar hy kan nie aan enigiets meer dink om te sê nie. Hy moenie sy saak nóú kom deurmekaarkrap nie!

      “Is jy ’n rassis?”

      “Nee, generaal, maar ek verkies melk in my koffie,” sê Rodriguez. Hy hoop nie hy het vir Pappa geaffronteer nie. Dat hy nou sy hele saak weggegooi het nie. Maar op ’n manier móét hy teenoor Monique verantwoording doen. Sy offer genoeg op om hom so lank en so ver te laat weggaan, die kinders sonder ’n pa, die gevaar, die gedurige, dringende moontlikheid van dood. Hy behoort ten minste teenoor haar, en teenoor hulle, getrou te bly. Dit gee hom ook iets om aan vas te hou. ’n Soort moraliteit om aan te klou. Anders stort hy later heeltemal in duie, raak hy volledig roekeloos. Dis al hoe hy homself kan regverdig. Maar dít kan hy nie vir die generaal sê nie.

      “Alda is ’n goeie mens,” sê die generaal, sy stem nou sag en vol emosie. “Jy sal haar nog leer ken.”

      “Ja, generaal.”

      5

      ’N Jong man, ’n Afrikaner, ’n student met die naam Skerf Malan, het die belangstelling van die owerhede wakker gemaak, vroeg reeds guns in hul oë gevind. In die weermag, met diensplig, in ’n uitsoekeenheid by die spesiale magte, 32 Bataljon, het hy hom as besonder dapper onderskei. Hy’t ’n aardige landmynvoorval oorleef, sy linkeroor wel doofgeskiet, sy arm tot in die vleis gebrand, maar met sy terugkeer, en na sy herstel, hoog gedekoreer. Bevorder na sammajoor. Hy was ’n held. ’n Seun van die Nasie. Sy onverskrokkenheid bewese.

      As student het hy hom in die staatkunde begin bekwaam, ’n paar tale bygeleer, Portugees onder meer. Ten spyte van sy lewens- en doodservaring het hy hom gewillig aan die doopproses op kampuskoshuis laat onderwerp, gesag goedgunstiglik aanvaar, al was dit van watter soort snuiters. Sy akademiese prestasies was van meet af bogemiddeld, en hy het hard gestudeer. Hy het by die regte verenigings aangesluit, gerig op godsdiens en op die Afrikaner. Hy’t goed rugby gespeel, as oopkantflank. Sy patriotisme was bo verdenking. Dus, sonder twyfel, ons man.

      Die werwer was ’n kampussluiper met swaar ooglede, donker oë en ’n hees stem. Hy’t hom agtervolg tot iewers aan die punt van ’n leë gang, gekug, sukkelend gepraat: “Is jy Skerf Malan?”

      “Ja-ak.” Verbaas.

      “Ons soek jou.”

      “So? Wie is jy?”

      “Noem my sommer Snuffels.”

      Hy het aangesluit, is geklaar, eers vlak, toe dieper, en mettertyd heel diep, koverte operasies.

      6

      Hy’t die nuwe damestudent dadelik raakgesien waar sy skuins oorkant hom in die bank van die lesingsaal ingeskuif het. Daar was iets aan haar wat sy aandag gevange gehou het – ’n elegansie, ’n manier van sit, ’n sweem van bedroefdheid om die oë en om die hoeke van die mond. Sy het ’n aura van selfversekerdheid gedra, asof sy maar altyd deel van die klas was. Waar kom sy nou skielik vandaan, het hy gewonder.

      Die dosent, Jan Gag, ’n aweregse karakter met slierterige hare en ’n ongekamde baard, was bepaald op sy stukke. Skerf het hom egter meer gesit en verwonder aan die nuwe meisie se lag as aan die geslepe professor se manewales. Haar glimlag het by haar lippe begin, oor haar mond gevee, van daar af oor haar hele gesig gespoel en in die oë gaan sit. Skerf het vasgenael gesit en kyk hoe dit die melankolie van haar gesig afspoel, alles in die rimpeling van ’n paar oomblikke. Sy was mooi, baie sag en vroulik. Haar gelaat was bleek en haar hare ’n skakering tussen donkerblond en vaal. Dit was die eerste keer dat hy haar in die klas sien. Sy moes ’n besoeker wees, of ’n laat aankomeling. Hy het daardie dag bitter min ingeneem van wat Jan Gag vertel, die meisie het sy kop te vol gemaak.

      Sy het baie goed geweet dat hy na haar kyk. En sy het hom nodig gehad, enigeen nodig gehad op daardie tydstip. Na die klas het sy haar kans waargeneem. Sy het nader gestap en “Hallo” gesê.

      “Hallo,” het Skerf geantwoord.

      “Ek hoor jy’s slim? Jy werk hard?”

      “Wie sê?”

      “Voëltjies fluit.”

      “Hu.” Wat kon hy anders blaf op so ’n wye stelling?

      “Kom jy gereeld klas toe?”

      “Hoe dan anders?”

      “Ek kan nie altyd nie, soos jy seker gesien het. Was lank siek. Sal jy vir my kan notas neem? Ek sal jou op ’n manier weer terugbetaal.”

      “Wie’s jy?”

      “Monique.”

      “Frans?”

      Sy’t gelag: “Nee, ek’s ’n Boeremeisie.”

      Hy’t geglimlag en kop geknik. “Kom ons gaan praat daaroor. Het jy geld vir koffie?”

      “Ek het altyd geld.”

      “Mooi! Dis dié soort vriende wat ek soek.”

      Monique het nooit besef waarnatoe hierdie skertsende gesprek haar sou lei nie, in watter soort ding sy haar aan die begeef was nie. Dis maklik om verlief te raak wanneer ’n mens jonk en onskuldig is. Die omgewing leen hom buitendien daartoe, die berge blou en wasig in die verte, die geruis van die wind in die blare, die smal strate waar die akkerbome skaduwees gooi oor die watervore, skattige eekhorings wat skugter teen skurwe stamme uitskarrel, vinke wat in spatsels geel op die oewer van die kabbelende spruit kweel. Groen gras. Ou, wit geboue met ringmure en gewels. Kieselstene koel onder die voetsole op die sypaadjies. Die maan smaller of geronder snags, volgens die verloop van die maand. Musiek uit koffiekroeë, die vrolike gelag van studente, optimistiese gejuig uit die rigting van die sportvelde.

      Hulle oë het mekaar gou gevind, hulle hande het geraak. Sy het gehou van die donker man voor haar, die intense manier waarop hy al hoe dieper in haar binnewerk in kyk. Die pand is gesmee. Die koeël is deur die kerk, soos die oumense altyd vertel het.

      7

      Hulle het in die Moederkerk getrou, ’n aandoenlike seremonie. Net haar ouers was daar, syne toe al reeds oorlede. Haar vriende het konfetti gestrooi. Syne was afwesig. Het hy ooit gehad? Net die sluiper het eenkant in ’n kerkbank bly sit, eers uitgekom toe al die gaste reeds vertrek het. Hy was so onopvallend dat niemand hom na die tyd onthou het nie. Daar was ’n klein onthaal. Almal is vroeg huis toe.

      Na die euforie van die wittebrood het die varsgebakte huwelikspaartjie hulle in Windhoek gevestig. Skerf was ’n Suidwester, soos hulle in die ou taal gesê het, en kon dus maklik daarnatoe terugkeer. Hy’s in Usakos gebore en het daar grootgeword, waar sy pa, soos baie soortgelykes destyds, vir die Spoorweë gewerk het.

      As kind het hy saam met die Damara-seuntjies, nes ’n eie een van hulle, op die spoorlyn gespeel. Hy het toe al reeds geleer om hom in eienaardige vermommings in te verbeel. ’n Swart seuntjie was maklik om na te maak, hy buitendien blas, en donker genoeg deur die son gebrand. Hy kon die Damara-taal later net so goed praat soos Afrikaans. By hulle het hy geleer om die plek se naam behoorlik uit te spreek: “Oe! sa! kos!” en nie “Jusikis” nie. Hulle was almal ewe vaal van die woestynstof, min te onderskei tussen swart en wit. Hy’t so gou geleer om nie ’n rassis te wees nie. Tog het hy ’n ingebore meerderwaardigheid gekoester, teenoor wie ook al, wit of swart.

      Hy’t dissipline geleer. Sy pa het nie gehuiwer om ’n behoorlike pak slae in te lê as dit nodig was nie, sommer so op hom en die Damaratjies saam. G’n diskriminasie nie. Dit was Afrikaner-tradisie om, saam met die moedersmelk, ’n goeie skeut dissipline in te kry. Wyd en syd.

      Skerf was in sy element in Namibië, maar Monique het maar bra swaar aangepas in die vreemde land. Die plek was toe net mooi op weg na onafhanklikheid toe. Daar was sprake van ’n nuwe bewind. Deurlopend, tussenin, is die bedreiging van die kommunistiese gevaar aangeblaas deur die Suid-Afrikaanse regering. Dinge kon orraait


Скачать книгу