Tryna du Toit-omnibus 4. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit


Скачать книгу
Emily is besig om vrugteslaai vir middagete te maak en Ria sit self die koppies reg en maak vars tee. Toe sy terugkom in die studeerkamer, is Paul en sy buurvrou verdiep in ’n gesprek oor ’n siek melkkoei. Ria skink die tee en gaan stil eenkant sit. Sy luister graag wanneer die boere gesels, en sy luister met dubbele belangstelling wanneer Paul en sy buurvrou gesels – al gaan die gesprek oor ’n siek koei.

      Emily kom later in en Ria glip weg kamer toe om haar briewe te lees. Die brief van die uitgewer, geteken deur Bill, is net om te sê dat die proewe van Die Blom van die Berge op pad is. Haar pa se brief is vol stywe gemeentenuus, maar in die laaste paragraaf wens hy haar voorspoed toe met haar boek. Sy het Danie se brief twee maal gelees, dit was so warm en onderhoudend geskryf. Vir die eerste keer vandat sy op Towerwater gekom het, is sy bewus van ’n tikkie heimwee.

      Met vingers wat effens bewe, skeur sy Bill se brief oop. Dis warm in die stad, skryf hy, en die lewe is maar saai en vervelig. Cynthia is weg en hy mis die kinders meer as wat hy verwag het, maar hy mis Ria die meeste van almal. Noudat sy weg is, besef hy hoe ’n belangrike deel van sy lewe sy geword het, en hy weet nou dat hy nooit weer gelukkig saam met Cynthia sal wees nie. Hy het Ria lief; hy het haar nodig; sonder haar het die lewe vir hom min betekenis. Hy wil hê sy moet so gou moontlik terugkom stad toe sodat hulle die toekoms kan bespreek en besluit wat hulle moet doen.

      Diep ontsteld vou sy die brief op en steek dit weer in die koevert. Sy het verniet gedink sy het die afgelope veertien dae hier op Towerwater berusting gevind. Bill se brief het weer al die verlange in haar hart blootgelê.

      In die gang gryp sy een van Emily se ou hoede en vlug by ’n sydeur uit. Die fel strale van die middagson skroei op haar neer, maar sy kies half blindelings koers verby die dam en vyelaning en deur die jong bloekomplantasie tot sy haarself voor die toe hekkie van die plaas se kerkhof bevind. ’n Oomblik aarsel sy, dan maak sy die hekkie oop en gaan in.

      Sy was een maal vantevore saam met Paul hier, maar toe het hulle nie lank gebly nie. Vandag stap sy tydsaam deur die netjiese kerkhoffie terwyl sy die opskrifte op die grafstene lees. Hier rus hulle almal, die Therons van Towerwater, ná die woelinge en storms van die lewe. Paul Theron, hulle ou voorvader, en sy vrou is langs mekaar begrawe, maar niemand weet waar Sophia Maria se graf is nie. Daar is ’n paar onbekende grafte – miskien is een van hulle hare. Niemand kan met sekerheid sê nie, en eintlik maak dit ook nie saak nie. Die herinnering aan haar leef voort en sy sal sorg dat dit vir altyd vir die nageslag bewaar word.

      Sy staan ’n lang ruk stil by Winnie se eenvoudige grafsteen. My geliefde vrou, Winifred Julia … Hoe bitter jonk was sy nie. Pas een-en-twintig.

      Ria haal haar hoed af en gaan sit plat op die kweek met haar rug teen ’n sipresboom. Die wind roer saggies in die hoë bome, veraf is daar die gezoem van bye.

      Sy sluit haar oë en laat die vreedsaamheid van die loom somerdag oor haar seer hart spoel. Wat moet sy doen? Bill sê hy het haar lief en het haar nodig. As sy na hom toe gaan, soos hy vra, sal hulle ooit saam gelukkig wees? Het Issie se verhouding met haar vriend haar ooit gelukkig gemaak?

      “Geluk is nie die belangrikste ding nie,” het Danie gesê. “’n Mens moet met jouself en jou gewete kan saamleef.”

      Die kerkhof se hekkie kraak en toe sy opkyk, sien sy dis Paul. Haastig vee sy met haar hand die trane van haar wange af, maar sy staan nie op nie. Hy kom tot by haar.

      “Is dit waar jy wegkruip? Ek het gewonder waarheen jy verdwyn het.”

      “Het jy gedink ek het weggeloop?” vra sy. Haar stem is spottend, maar haar lippe bewe effens.

      Hy hurk langs haar op die kweek. Hy kyk na haar wit gesig, die tekens van trane wat nog op haar wange lê, en vra sag: “Wat makeer, Ria? Wat het jou ontstel?” Die simpatie in sy stem bring ’n knop in haar keel en sy skud net haar kop.

      “Het jy slegte nuus van jou familie – jou pa of jou broers – gekry?”

      “Nee, dit gaan goed met hulle. Hulle sê groete.”

      Hy ignoreer dit. “Wil jy nie vir my sê wat gebeur het nie? Ek kan mos sien iets het jou ontstel. Is dit jou verloofde?”

      “My verloofde?” Sy kyk verbaas na hom, haar trane vergete. “Ek is nie verloof nie. Waar kom jy daaraan?”

      “Mona het gesê jy het vir haar gesê jy is verloof en jy gaan binnekort trou.”

      Sy bloos bloedrooi. “Ek … ek het nooit gesê ek is verloof nie,” stamel sy verleë. “Ek het net gesê daar is ’n moontlikheid dat ek miskien gaan trou.”

      Die blou oë is skerp, ondersoekend. “En nou? Wat het nou gebeur? Het hy jou afgesê?”

      ’n Onwillige glimlaggie verjaag vlugtig die skaduwee van haar gesig, maar sy skud haar kop. “Ek kan dit nie met jou bespreek nie. Dis … dis iets waaroor ek self moet besluit.”

      Hy kyk ’n oomblik na haar, dan steek hy sy hand uit. “Kom, dit word etenstyd. En hou maar moed. Met tyd kom raad.”

      Sonder ’n woord lê sy haar hand in syne. Sy vingers sluit sterk en vertroostend om hare en hy trek haar langs hom op.

      Hulle was al halfpad huis toe toe sy agterkom dat hy nog altyd haar hand vashou, asof sy ’n kind is wat troos nodig het. Haastig trek sy haar hand uit syne, dankbaar dat sy haar verleentheid agter Emily se hoed kan wegsteek.

      Tillie se motor staan nog voor die deur. Sy eet blykbaar saam met die familie. Ria het nie baie lus vir Tillie se geselskap nie, maar voor sy verskoning kan maak, sê Paul: “Gaan was jou gesig en kom tafel toe. Emily het genoeg probleme met Mona. Sy kan nie nog ’n pasiënt behartig nie.”

      Vererg kyk sy na hom van onder Emily se hoed, maar hy kyk reg voor hom en is blykbaar nie eens bewus daarvan dat sy haar vervies het nie.

      Mona het ná middagkoffie vir die eerste keer weer te voorskyn gekom. Sy was nog bleek, maar het gesê haar hoofpyn is beter. Ria het later weer gaan stap, maar haar voete was vandag sonder veerkrag – miskien was dit maar net haar hart wat swaar was – en moeg en tam het sy heelwat vroeër as gewoonlik weer by die huis gekom. Sy gaan stort en terwyl sy besig is om aan te trek, hoor sy iemand in die sitkamer sing: “When Irish eyes are smiling, sure it’s like a voice in spring.”

      Verras luister sy. Dis ’n vrouestem, soet, suiwer en gevoelvol. Vinnig trek sy klaar aan, dan stap saggies sitkamer toe om te sien wie die kuiergas is. Sy bly verstom in die deur staan. Dis Mona wat voor die klavier sit. Met haar kromgetrekte hande kan sy haarself nie behoorlik begelei nie, maar haar aanslag is lig, amper liefkosend. Roerloos bly Ria in die deur staan, ontroer deur die pragtige stem en die amper stralende uitdrukking op Mona se gesig. Eers as die liedjie klaar is, draai sy stil om en stap weg.

      Sy kry Emily by die hoenderhokke, besig om eiers bymekaar te maak. Terwyl sy help eiers soek, vertel sy haar wat gebeur het. Emily glimlag oor haar verbasing.

      “Het jy nie geweet sy sing nie? Sy is natuurlik baie sku en sal nooit voor vreemde mense sing nie. Haar ma het ook ’n pragtige stem gehad.”

      “Vertel my van hulle ma, Emily. Jy het haar mos geken, nè?”

      Daar is ’n dringende klank in Ria se stem en Emily sit die mandjie met eiers neer en gaan sit op ’n boomstomp. Sag sê sy: “Ek het Eileen goed geken. My pa was destyds ’n bywoner hier op Towerwater, maar die mense was baie goed vir my en ek het dikwels by hulle aan huis gekom. Dit was in die hartjie van die depressie en almal het swaargekry. My pa kon nie bekostig om my op skool te hou nie, maar hulle het gesorg dat ek matriek maak en my toe weggestuur sodat ek as verpleegster opgelei kon word.

      “Eileen was van Ierse afkoms – Paul en Mona het albei haar Ierse blou oë geërf – en ek het gedink sy is die mooiste mens wat ek nog ooit gesien het. En sy was nie net mooi nie, sy was ook vriendelik en baie begaafd. Sy kon nie net sing nie, maar ook baie mooi klavier speel. George het haar en die twee kinders aanbid. Almal wat hier gekom het, kon aanvoel hoe gelukkig hulle is. Maar dit het nie lank geduur nie. Eileen is met die geboorte van haar derde kind oorlede – Paul was toe vyf en Mona agt – en daarna was die lewe nooit weer dieselfde nie. Die een


Скачать книгу