Op die vrou af 2. André le Roux
Читать онлайн книгу.loop terug telefoon toe.
“Hallo, dis weer ek. Ek’t vergeet om te vra: Hoekom het jy nou eintlik gebel?”
April 2004
Oor oorbelle
Staan sy daar ten volle geklee en aangetrek – toeknoop-oopknoop-bloes en een of ander jacket, jeans en skoene (jy moet daardie skoene sien, seer tone gewaarborg, want dit maak oneindige lang punte, om van die hemelse hakke nie te praat nie).
Maar dis nie die punt nie.
“Wag, ek’s nie AANGETREK nie!” sê sy. Jy dog jy’t verkeerd gekyk en draai vinnig om net vir ingeval. Sy’t nog steeds al haar klere aan, toegeknoop.
“My oorbelle,” sê sy.
Want sonder oorbelle voel sy nie aangetrek nie. Moenie vra hoe dit werk nie, dit werk so. Sy gaan nêrens heen sonder oorbelle nie. Vir party vroue is dit ’n horlosie, vir ander ’n hangertjie of ringe. (Ringe raak natuurlik maklik weg, dan’s die lewe soos sy dit tot op daardie oomblik geken het onherroeplik verander, want dié een was haar ouma se verloofring.)
“Ek’s seker ek’t my ringe hier op die spieëltafel neergesit toe ek ’n bietjie room aan my hande wou smeer. Nou’s dit WEG,” sê sy.
Julle is klaar laat, maar hoe kan enige vrou êrens gaan as sy nie aangetrek voel nie?
“Agter jou op die bedkassie,” sê jy.
Plaas sy eerder aangetrek voel sonder ’n bra, maar jy sê niks, netnou trek dit jou aan en julle is klaar laat. (Dis ’n ander storie en seker ook nie die punt nie.)
“Laat ek jou ’n punt of twee wys,” sê sy, en jy dink sy gaan sowaar haar bra uittrek vóór julle uitgaan.
Maar nee.
“Kyk, só lyk ek sonder oorbelle, sien jy? Kyk nou weer: Só lyk ek met een oorbel (punt nommer een) en so lyk ek met twee oorbelle (punt nommer twee),” demonstreer sy asof jy nooit iets raaksien nie. Vir jou lyk sy mooi met of sonder oorbelle, maar jy sê liewer niks, hoe sal jy nou weet hoe ’n vrou voel met of sonder oorbelle.
Sy verstel haar bra-strêp. (Vroue doen dit altyd terwyl hulle effe vooroor hang, aham.) Jy wil nog help, toe’s sy klaar weer regop en julle is klaar laat.
“Ons is laat,” sê jy, “jy het mos nou jou oorbelle aan én jou ringe.”
“My hangertjie,” sê sy, “van watter een hou jy die meeste?”
Van die halsbandjie, sê jy, maar sy ignoreer dit.
O, die hals van ’n vrou! Daar, net daar in die kuiltjie ’n tikseltjie parfuum, ’n slanke sleutelbeen met ’n sweempie saligheid as jy nader kom. O, feromone! Gekielie deur Chanel. Jou vure gestook deur Givenchy (very élégante, very you, very roosblaar). Skoon lighoofdig gemaak deur Issey Miyake (ennit issie nou ekkie!).
“Wag, ek sit net gou ’n tikseltjie parfuum aan,” sê sy. Agter die ore en agter die oorbelle ook. Jy laat haar begaan. Die pad na ’n man se hart loop deur sy neus.
Jy kom agter vroue vat toe glad nie so lank om aan te trek nie. Dis die bykomstighede wat hulle ophou. Die oorbelle is maklik. Uit die tien pare wat sy het, dra sy net een, haar gunsteling – morning, noon en night – anders voel sy immers nie aangetrek nie. Ringe is ook min of meer konstantes, sy’t dit self gekies. Hangertjies is ingewikkelder, want dis modegebonde. Deesdae is dit juis sulke groot sirkels wat lyk soos platgetrapte skulpe. Haar ouma se stringetjie pêrels pas nie by elke geleentheid nie.
“Mmm,” sê jy, “jy ruik lekker.”
En mmm, sê jy later weer, jy ruik darem lekker. En later sê jy mmm, nou ruik jy wragtig lekker. Ai, dié Issey Miyake darem …
“Pasop vir my oorbelle. Sien, daar stamp jy nou die een af. Nou’s dit WEG.”
Jy kruip self onder die stoel in en haal die blêrrie oorbel daar uit. Jy sit sommer die blêrrie TV ook af.
Kom staan sy daar teen die deurkosyn, ten volle geklee en aangetrek – met net ’n geur en oorbelle aan.
Mei 2004
Boodskap gekry?
Aanvaar dit nou maar: Mans gee nie boodskappe nie. Indien wel, gee hulle dit half en halfhartig.
“Karliena het hier gebel,’’ sê jy nietemin pligsgetrou. Dis immers wat sy gesê het jy moet sê.
“Moet ek terugbel?” staan sy gereed.
“Sy’t gesê dis nie nodig nie.” (Teleurstelling.) “Ek moet net die boodskap oordra. Julle ontmoet mekaar môre by die een of ander koffieplek, maar sy moet die kinders eers êrens heen vat. Met die kar.”
“Karliena? Ek ken nie ’n Kar … Dis Caroline! Jy ken haar net so lank soos ek!”
O, Caroline, sê jy. Natuurlik.
“Nou wat’s die boodskap? Jy’t al weer half geluister.”
Jy sê weer van die koffieplek – sy weet tog seker daarvan? – en die kinders en die kar. Meer besonderhede het jy nie, Caroline het ook so baie gepraat.
“Nou moet ek haar in elk geval bel. Kan jy nie ’n ordentlike boodskap vat nie?”
Dit blyk die punt van die boodskap was Caroline (nie Karliena nie, onthou?) wou maar net sê sy moet die kinders iewers heen karwei, maar sy sal betyds wees vir die koffieafspraak, moenie bekommerd wees nie, dieselfde plek, dieselfde tyd, sy sal daar wees.
(Nou as niks verander het nie, hoekom het sy hoegenaamd gebel en jou opgesaal met ’n boodskap wat jy blykbaar net halfpad verstaan het?)
Partykeer neem mans wel ’n boodskap volledig, maar vergeet dan daarvan.
“Hei, hoe lank lê dié boodskap al hier onder die telefoon?” Jy weet nie, maar die papiertjie is al effe vergeel, sien jy. “Sê nou dit was belangrik?”
As die boodskap nog belangrik was, ja … dis nie asof iemand se huis afgebrand het nie, in elk geval nie wat jy kan onthou nie.
Soos daardie ultimate boodskap in Afrikaans, die uitermatige, die wêreld se grootste cliché, bedoeld en onbedoeld, gevraagd en ongevraagd, oor en weer, heen en terug en om en om word dit rondgestuur: “Sê groete!”
Sê groete vir A. Sê groete vir B en sê sommer ook groete vir C. Vroue vind dit aangenaam en bevredigend om êrens in ’n gesprek te kan sê: O, ja, voor ek vergeet, So-en-so stuur vir jou groete. Dan voel hulle trots en welgedaan. Boodskap suksesvol gegee asof dit van internasionale nuuswaarde was.
Jy’s veronderstel om te sê: O, baie dankie!
Jy vra verniet vir ’n man om daardie groete oor te dra. Mans kan nie gebodder wees nie. Wat’s so danig belangrik aan groete? Vir mans kan groete net sowel groente gewees het.
Ja-ja, sê groete vir Mannetjies Roux ook, dink jy.
Gelukkig is daar iets soos SMS’ e. Vroue kan met gemak hul eie boodskappe stuur en kan nie ’n minuut wag om te lees wat wie nou weer vir hulle gestuur het nie. Een van die ergste goed wat met ’n vrou kan gebeur, is as sy moet vra: “Het jy nie my boodskap gekry nie? Ag, nee … ek het gewonder hoekom skryf jy nie terug nie.”
As sy wel ’n boodskap kry, is haar dag ’n sukses. Biep-biep. Dan deel hulle dit met jou.
“Dis van Caroline. Sy sê als is nog reg vir môre by die koffieplek. Sy maak net seker.”
Nou weet jy ook.
“Dan gaan ek solank slaap,” kondig sy aan. “Sal jy kyk of die agterdeur gesluit is?”
Jy gaan kyk dadelik of die agterdeur gesluit is, sommer die voordeur ook, biep-biep.
Want jy kry die boodskap.
Junie 2004
Die