Een glas dooswit. Linette Retief
Читать онлайн книгу.nie. Die tweede keer verduidelik hy dat hy vir my spesiale toestemming moes kry vir ’n tweede reëling naas die vorige, verontagsaamde een – en dat City Power, soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), nie deel van die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) se plan van aksie is nie.
“Reëlings tref” is dus nie deel van die prentjie nie. En daar, wonder bo wonder, bespeur ek iets wat lyk soos simpatie in sy oë toe hy sê: “Power is something you have to budget for these days, Magdalena.” Met dié verdwyn hy ’n derde keer en kom terug met ’n pak papiere wat ek moet onderteken om te bevestig dat ek nou nóg R1 000 gaan uithaal en dan vir die volgende vyf maande R1 024 opgehoopte skuld moet terugbetaal.
Toe ek die laaste bladsy onderteken en die datum byskryf, sê hy op ’n manier wat my amper op sy skouer laat huil: “Now, Magdalena, you must pay this, otherwise they’re going to come and take out your meters.”
Twee uur, R2 000 en 20 liter sweet later strompel ek terug na my motor toe waar ek vir die karwag R10 belowe het. En my enigste poeding na dié stewige porsie humble pie is nog humble pie …
Ek het naamlik ’n afspraak met my persoonlike bankbestuurder, wat my altyd gebel het op my verjaardag en met wie ek, in gelukkiger dae, lekker geklets het oor katte, kinders en die tieners vir wie sy Sondagskool gee by die Rooms-Katolieke kerk.
Nou sit ek en wag om vir haar te sê ek moet al my rekeninge toemaak, want dit is terugbetaaltyd.
By die deftige tak in die deftiger winkelsentrum kry ek nou wel nie tee nie, maar tog simpatie. In daardie stadium was alles tussen die bank en die NKR nog nie gereed nie. Weens ’n enorme ophoping by die bank het Claudia steeds vir inligting gewag. (Klaarblyklik is ek dus nie die enigste siel in verdrukking nie?!)
Maar nadat tannie Cathy my situasie eindelose ongemaklike minute lank soos ’n sfinks op haar rekenaar bestudeer het, het ons weer gepraat oor kinders, katte en haar groep tieners by die Rooms-Katolieke kerk. En toe ek gaan, gee sy my ’n drukkie en sê: “I know our paths will cross again.”
En so gaan dit aan: My rekenmeester, George, is ’n staatmaker. My boekhouer, Gerda, is ’n kampioen. Al die mense om my, na aan my, is op die een of ander manier dáár in die oomblik van my benoudheid, sonder om bloedgeld uit die klip van ’n leë beursie te probeer tap.
Toe ek daardie aand in my bed lê, te vol humble pie om aan springmielies te dink, vliet daar ’n gedagte deur my kop dat ek tog eendag vir Jones wil dankie sê … vir sy 1% inspirasie by my 99% perspirasie, om nie te praat van sy sonderlinge City Power-simpatie wat selfs vir Mona Lisa ’n les in misterieuse glimlaggies sou kon leer nie.
14.06.2009
‘If you think nobody cares, just miss a couple of payments.’
Anoniem
Sophie Tucker was ’n kabaretsangeres in die 1920’s; ’n sonderlinge ou tannie met ’n stem wat klink soos ’n kruis tussen 30 Texan Plains en ’n rooi fluweelrok, en treffers soos “Vitamins, Hormones and Pills” en “Inhibition Papa (Your Mama’s Just Been Psychoanalysed)”.
Êrens in my prille jeug het ek een van haar langspeelplate in my ma-hulle se versameling gekry en my jare lank verkneukel in haar diep, stout stem en praat-sing-weergawe van lirieke soos “You may hate yourself in the morning, but you’re gonna love it tonight”.
Wel, as geld uitgee ’n paartie is, is skuldberading en die gepaardgaande realiteite ’n enorme finansiële babelas. En dit is waarmee ek nou sit.
Behalwe dat die “love it tonight”-stukkie so uit soos koekies in die weeshuis is, is die nugtere werklikheid van “hate yourself in the morning” nou deel van my lewe vir die voorsienbare en onvoorsienbare toekoms. (Die einste Sophie het ook glo gesê: “I’ve been rich, I’ve been poor. And believe me, honey, rich is better.”)
Wat nou gemaak? Wel, stap nommer 1 is om my toevlug tot selfmotiveringsliteratuur te neem. Aan die een kant het ek ’n broertjie dood aan al die ingewikkelde en tydrowende paadjies na sogenaamde enlightenment – hetsy sielkundig, geestelik of finansieel. Maar aan die ander kant is die sirenesang van selfverbetering ’n aks te sterk vir my Calvinistiese siel.
Met dié pak ek ’n boek aan wat my lankal lok, maar wat nog nooit die stryd teen moordrillers en chick lit gewen het nie: The Art of Possibility deur die dirigent-cum-motiveringsghoeroe Benjamin Zander en sy nou gewese vrou, Rosamund.
Ek lees die grootste deel van ’n week daaraan, en werk nie net stelselmatig daardeur en onderstreep die relevante dele nie (wat eintlik maar die hele boek is), maar ek maak sommer ook ’n opsomming van die 12 beginsels wat hopelik die paradigmas van my wêreld gaan verskuif. En van 1 tot 12 sit ek in stille verwondering voor die wysheid van hulle woorde en omgord my lendene met aanhalings vir elke geleentheid.
Maar juis op dié hoë noot herontdek ek nóg ’n immergroen waarheid, naamlik dat wyse woorde nie rekeninge betaal nie. Dit staan nie tussen jou en paniekbevange bankbestuurders wat wil weet wat aangaan nie. Of tussen jou en die swart hond wat jou wakker blaf in die desperate ure van die oggend nie.
Nie dat die Zanders en hul Kuns van Moontlikheid die enigste is waarop ek kan terugval nie. Ek oefen gereeld. Ek bly ’n liefdevolle en prettige mamma, en hopelik ’n goeie vriendin en mens. My finansiële verdrukking ten spyt drink ek my vitamiene. En ek dink nou en dan aan daai kortverhaal van Jan Rabie met die reël “aanhou beweeg en geraas maak”.
Tussendeur kom kuier my pa en hy word bitter siek, so erg dat hy in die hospitaal opgeneem word en my broer van die Kaap af opvlieg. Nou balanseer ek skuldberading en die Milpark-hospitaal, en nie noodwendig in dié volgorde nie. Dit is baie rof, maar dis lekker om my boetie te sien. En, ten spyte van die trauma, my pa.
Maar toe ek hulle ná sy ontslag by die Lanseria-lughawe gaan aflaai en terug huis toe ry met Johannesburg se wolkekrabbers en ’n broeiende donderstorm voor my, en stof en blare wat in mini-tornado’s verbybaklei, voel ek so alleen. Ek weet my kind wag vir my, ek weet my huishulp en haar kinders wag vir my, en dit is wat ek wil hê.
Maar wat ek ook graag wil hê, is iemand wat my inwag en sê: “Toemaar, dit gaan oukei wees, jy gaan oukei wees. Laat ek vir jou ’n bad intap of ’n koppie tee maak of ’n glasie wyn skink.” Of al bogenoemde.
En so, vir die volgende paar dae, kyk ek my in my meer pessimistiese oomblikke vas teen ’n bitter beker eerder as ’n koppie soet tee vir die skok. Maar selfs die luukse van volgehoue pessimisme is my nie beskore nie. Met ’n huishouding, ’n loopbaan en ’n finansiële kaartehuis wat almal saam fyn bestuur moet word, is dit – durf ek dit sê – ’n kwessie van aanhou beweeg en geraas maak.
21.06.2009
‘It’s more important to have a steady income than to be fascinating.’
Oscar Wilde
My pa het altyd gesê hy gaan eendag vir ons elkeen ’n rol doringdraad nalaat om te kyk of ons dit ook deur ons agterente kan trek. Helaas het ek nou reeds in my leeftyd my paraatheid op dié spesifieke vlak gedemonstreer. Die probleem is, as jy genoeg draad deurtrek, is die uiteinde gewoonlik klippe kou.
En daarvan het ek ook my regmatige deel gehad die afgelope paar maande – van die opbou van my skuldkrisis en die konfrontasie met die onvermydelike tot my benoude aanklop by die skuldberader.
In die proses het ek darem nie net slapelose nagte en hol gevoelens leer ken nie, maar ook sonderlinge genietinge op onverwagte tye en plekke. So het ek byvoorbeeld onlangs vir die eerste keer in amper 12 jaar weer van 9 tot 5 begin werk.
Met ’n bevange hart het ek die eerste oggend in my motor geklim en die spitsverkeer Sandton toe aangedurf. Soos my goeie vriend Tobie tereg gespot het, dit was my eie persoonlike back-to-school.
Danksy my gainful employment was my dae van Club Duvet, oftewel lê en láát slaap as daar nie werk is nie, getel. Ook die rondslof in ’n sweetpak tot vyfuur die middag, die lekker lang middagete, die ingeboude Vrydagmiddag