Emma en die geheime gang. Marianna Brandt

Читать онлайн книгу.

Emma en die geheime gang - Marianna Brandt


Скачать книгу
én koek! Emma kan nie glo wat sy hoor nie. Dis g’n wonder die kinders lyk so nie. Hoe gaan sy ná ’n kwartaal in hierdie koshuis lyk!

      “My gunsteling is wortelkoek. Emma, waarvan hou jy?” vra Anja.

      “Eh … ek? Appeliefietert.” Emma het so lanklaas appe­liefietert gehad sy kan amper nie eens meer onthou hoe dit proe nie.

      “Appeliefietert? Sê net vir die kombuis en hulle maak dit,” sê Anja. “In dié koshuis is ons soos eregaste in ’n vyfster­hotel.”

      2

      Die eetsaal se stoele is nes die beddens, ekstra groot, asof die koshuis spesiaal ingerig is vir al die vet kinders.

      Die tafels is keurig gedek met bakke en bakke groente met ryk souse, borde met gebraaide hoender, skaapboud en vark. Daar is ook hoenderpastei en souttert. Emma let op daar is nie slaai nie.

      Niks nie.

      Sy gaan sit tussen haar kamermaats by ’n tafel vir ses. Drie ander meisies kom sit by hulle en Anja en Willa stel die kinderhuismeisies aan Emma voor.

      Haar oë dwaal oor die bakke kos op die tafel. Hier moet sy oppas, of sy word net so vet soos haar kamermaats. Nou kan sy verstaan hoekom hulle so lyk.

      “Die kos lyk baie lekker,” sê Emma.

      “Ons sê jou mos. Wie kan nee sê daarvoor,” antwoord Anja en lag.

      “Ons het nie vanmiddag by die kinderhuis geëet nie. Me­vrou het gesê ons sal genoeg hier kry vanaand,” sê Willa en kyk oor die tafel. “Waar is die milkshakes?”

      Emma kyk haar verbaas aan.

      “Ja, ons kry altyd ’n milkshake voor ete. Die melk kom van die koshuis se eie koeie,” verduidelik Willa.

      “O,” sê Emma en gril. Sy het nog nooit van melk gehou nie. Ook nie van melkskommels nie. Sy kan in elk geval nie melk drink nie. Sy is allergies daarvoor. So dit pla haar nie.

      Dan swaai die kombuisdeure oop en vier kelnerinne kom in met skinkborde vol sjokolade-melkskommels.

      Emma sien vir Hendrik ’n entjie van hulle af sit. Sy weet hy hou baie van melkskommels, en as hy moet weet dis ’n instelling hier, sal hy in sy element wees.

      Die kelnerin sit ’n melkskommel by elke bord neer.

      Emma gee dit terug. “Nee dankie, ek drink nie melk nie.”

      “O …” sê die kelnerin met ’n frons en vat die glas. “Almal moet. Dis goed vir julle gesondheid.”

      “Nie vir myne nie,” sê Emma. “Melk maak my siek.”

      “Siek?” vra Willa en frons. Sy tel haar melkskommel op en slaan dit met ’n paar teue weg.

      “Ja, ek het op sojamelk grootgeword.”

      Emma sien hoe die kinders hulle melkskommels weg­sluk en wonder hoe ’n mens ’n vol bord kos kan eet nadat jy so iets gedrink het.

      Haar oog vang weer vir Hendrik en sy sien hoe hy en die seuns by sy tafel lag en gesels. By elke bord staan ’n leë glas.

      “Nou kan ons begin inskep,” sê Anja en lek haar lippe af toe sy die groot bak met gebraaide hoender nadertrek.

      Emma kyk vlugtig na Anja se oorvol bord.

      “Dis my voorgereg,” sê Anja en glimlag. “Toe, skep vir jou, anders ly jy honger.”

      “Dankie.” Emma skep ’n normale bord kos in.

      Anja en Willa smul asof hulle vir die eerste keer in maan­de iets te ete kry. Hulle eet al hoe vinniger en dit lyk of hulle die kos heel insluk.

      Die saal is doodstil, behalwe vir die geskraap van messe en vurke op die porseleinborde.

      Emma se oë rek toe Anja en Willa ’n tweede bord kos inskep. Soos die vleisgeregte en groente op die tafel opraak, sit die kelnerinne nog skottels neer.

      Nadat Anja en Willa elk drie borde kos verorber het, kom die kelnerinne met allerhande soorte poeding om van te kies.

      Anja is skoon histeries toe sy dit sien. “My gunsteling! Sjo­­ko­ladepoeding met roomys. Kan ek sommer dadelik twee bakkies kry, asseblief?” vra sy vir die kelnerin.

      Emma se mond val oop. Sy sal nie eens één so ’n bakkie kan opeet nie.

      Die kelnerin sit twee bakkies warm sjokoladepoe­ding met roomys voor Anja en Willa neer en vra vir Emma: “Waar­van wil jy hê?”

      “Net sjokoladepoeding. Nie roomys nie, dankie.” Emma is definitief nie van plan om soos hulle te stoel nie.

      “Ek sal in die kombuis moet gaan haal. Die poeding het reeds die roomys by,” sê die kelnerin.

      Daarna eet Anja en Willa nog twee porsies elk. Emma kan nie glo wat sy sien nie. Waar kom hulle eetlus vandaan? Hoe hou hulle mae dit?

      Ná die poeding kom die kelnerinne met trollies vol verskillende­ soorte koek. Sjokoladekoek, Swartwoudkoek, gem­mertert, yskastert, wortelkoek, lemoenkoek, konfyt­rol­koek en piesangkoek.

      “Toe, sê vir hulle jy hou van appeliefietert, Emma. Nou is jou kans,” por Willa aan.

      “Ek sal,” antwoord Emma, maar op die oomblik het sy meer as genoeg gehad om nog koek ook te wil eet.

      Anja en Willa eet elkeen drie stukke koek en draai nog ’n stuk in ’n servet toe om kamer toe te vat.

      “Jy weet nie wat jy mis nie, Emma. Die koek is heerlik, beter as enige tuisnywerheid s’n. Ons koshuis het ’n sjef, een van die bestes in Suid-Afrika. Hy het al trofees en medaljes en bekers gewen. Dis hoekom ons sulke lekker kos kry. Die man weet van kook en bak,” sê Anja en druk die laaste stuk koek in haar mond.

      Toe hulle later by die eetsaal uitstap, is Emma skoon moeg geëet vir Anja en Willa se part. Oral op pad na hulle kamer toe is daar klein tafeltjies met bakke grondboontjies, rosyntjies, tjips en kaaskrulle.

      Anja stap vinnig vooruit. “Ek het my blik in die kamer ver­geet. Ek gaan dit gou haal.”

      “ ’n Mens raak nogal honger later in die aand,” sê Willa en maak haar blik wat sy saamgeneem het eetsaal toe vol met eetgoed van ’n tafeltjie af. “Ek sit ekstra in, vir jou ook. Jy moet vir jou ’n blik aanskaf.”

      “Ja … ek sal,” sê Emma. Sy het so baie geëet, sy kan nie dink sy sal later die aand enigiets wil hê nie.

      Anja kom by die trap af met ’n groot ronde koekblik en maak dit vol eetgoed. Voor sy loop, vat sy ’n hand vol grond­boontjies en gooi dit in haar mond.

      “Ek wil vroeg in die bed kruip. Môre is skool en meneer Snopke duld nie laatkommers nie. Hy is ’n baie streng skool­hoof,” sê sy en stap met die trap op kamer toe.

      Emma en Willa volg op haar hakke.

      “Meneer Snopke? Is hy mevrou Snopke se man?” vra Emma.

      “Ja. Die koshuis behoort aan hulle. Die grond was eers deel van die Snopkes se familieplaas. ’n Deel daarvan word nog steeds vir melkboerdery gebruik,” vertel Willa. “Hulle is ryk mense, maar hulle doen hulle deel vir die gemeenskap. Meneer Snopke het ’n oop hand. Hy gee vir baie mense op die dorp werk.

      “Die bakkery bak al die brood en koek wat ons hier en by die skool kry. Die groente kom van ’n groot plaas wat meneer Snopke huur. Daar werk baie mense van die dorp op die plaas.

      “Dan gee hy ook nog vir die ouetehuis en pre-primêre skool verniet melk. O ja, en natuurlik ook vir die kinderhuise, amper vergeet ek. Die kinderhuiskinders gaan almal verniet hier skool,” vertel Willa.

      “Ek het nie geweet nie,” sê Emma. “Dan moet hy baie ryk wees. Waarmee maak hy sy geld? Of het hy ryk geërf?

      “Meneer Snopke is ook die dorp se burgemeester,” gaan Willa aan. “Jy moet die ketting


Скачать книгу