Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit


Скачать книгу
die beangste meisie gewerk. Sy sien weer die mooi rooibruin kop so styf teen Bennie vasgedruk, die arms wat hom so vasklem. Sy sien weer hoe hy probeer paai en kalmeer. Sy voel weer sy arm styf en beskermend om haar daardie paar minute toe hulle gedink het die wêreld vergaan. ’n Snaakse, interessante vent, Bennie. ’n Man wat die moed het om sy oortuigings uit te leef. ’n Man wat deur geen bande gebind wil wees nie – en veral nie deur die bande van liefde nie. Maar dis ook beter so. So ’n rustelose gees moet vry wees om te gaan as die swerflus hom pak, of hy sal net ongelukkig wees.

      Debbie kyk na die ernstige sproetgesiggie van haar kamermaat wat meteens so diep ingedagte sit en sê: “Die koerantskrywer is ’n gawe ou, nè, Trudie?”

      Trudie, so op heterdaad betrap, bloos effens, maar sê vinnig: “Ek was vanaand baie kwaad vir julle, Debbie. Almal raak ewe skielik weg en daar bly ek alleen met Bennie Fischer sit. En as julle nie almal so blind was vir die waarskuwingstekens nie, was ons nie almal in die storm gevang nie.”

      “Ek is jammer, Trudie. Dit was nie ons bedoeling nie. Paul het sigarette gekoop en ons het roomys bestel en begin gesels. Ons het nooit gesien dat die storm al so naby was nie.” Half verontskuldigend vervolg sy: “Ek en Paul het so baie om oor te gesels en ons tydjie is so kort.”

      “Was julle die hele tyd by die teekamer?”

      Debbie knik en Trudie voel verlig en bly. Paul is regtig lief vir Debbie. Dit klink ongelooflik, maar dit lyk tog of dit so is. Paul sal haar geen kwaad aandoen nie.

      “Was julle regtig die hele tyd alleen?” vra Debbie.

      “Ja. Die ander het net ná julle verdwyn. Eintlik moes ek nie so verbaas gewees het nie, dis glo maar die mode deesdae by pieknieks om so twee-twee weg te raak.”

      Debbie bloos en sê vinnig: “Dis vir my baie lelik. Ek is jammer. Ek sal volgende keer oppas. Ek het nooit so daaraan gedink nie. Maar Daphne . . . sy is dan verloof en gaan binnekort trou?”

      Trudie glimlag suur. “So ’n nietigheidjie sal Daphne nie hinder nie. Sy is ’n absolute klein flerrie. Twee, drie kêrels gelyk is niks vir haar nie. Jy het mos gehoor hoe Paul en Bennie haar spot. Dis net Tobie wat nie kan loskom van haar nie. Sy het hom baie kere ’n streep getrek, maar Tobie kom maar altyd weer terug.”

      Verbaas kyk Debbie na Trudie. Daphne is so lewenslustig en aantreklik. Hoe kan sy haar so goedkoop maak? En toe bly Trudie en die koerantskrywer alleen agter op die reisdekens! Trudie was seker baie vies. “En toe, Trudie?” vra sy ondeund. “Wat het die koerantskrywer gedoen?”

      “Ek en Bennie het maar noodgedwonge gesels,” sê sy koel, maar sy bloos en Debbie begin heerlik lag.

      “Trudie! Trudie!” spot sy. “Jy moet nooit probeer jok nie! Reken nou net . . . jy en die koerantskrywer!”

      “Jy is laf, Deborah Malan!” sê Trudie vererg. “Ek ken Bennie al vier jaar lank.”

      “Dit sê nog niks. Bennie is gaaf. Hulle sê net hy het nie veel tyd vir meisies nie.”

      “Hy is nog vol ander nukke en streke ook. Sy vrou sal nie eens elke aand weet of hy huis toe kom of nie. En sy hande en voete is ook te groot. Ek sal die hele tyd bekommerd wees dat my dogter eendag na hom sal lyk.”

      Debbie glimlag. “H’m, ja. Jy is nog te slim, Trudie. As ’n mens nog so kan redeneer, is jy nog nie verlief nie.”

      Haar kamermaat kyk na haar. In haar wit pajamas, die gesiggie skoon gewas, die blinkswart hare teruggeborsel, lyk Debbie soos ’n jong, onskuldige kind. Maar uit die groot grys oë straal die liefde van ’n vrou. Weer vul ’n onverklaarbare vrees haar hart, ’n voorgevoel dat alles nie so maklik vir Debbie sal gaan nie.

      “Debbie,” sê sy skielik sag. “Dis snaaks, maar ek dink nou skielik aan iets wat my tannie ’n paar jaar gelede vir my gesê het. Sy het nooit met my oor die dinge van die lewe gesels nie, ek moes maar self sien kom klaar. Maar toe ek die dag weggaan Pretoria toe, sê sy vir my: ‘Trudie, my kind, jy is nou groot. Jy gaan nou die sondige wêreld in en jy sal baie versoekings op die pad teëkom. Pas tog op, my kind. Wees veral versigtig vir die mans wat jy ontmoet. En onthou, dis nie vir die man van wie jy nie hou vir wie jy moet oppas nie; dis die man van wie jy baie, baie hou vir wie jy op jou hoede moet wees!’ ”

      Daar is stilte in die kamertjie en ná ’n rukkie vervolg Trudie: “Sy is ’n oujongnooi en ek het destyds gedink sy weet nie veel nie. Maar ek het tog onthou wat sy gesê het en vandag dink ek daar skuil groot wysheid en mensekennis in my ou tannie.”

      Debbie staan op en sit haar borsel weg. Arme Trudie. Sy is ’n weeskind en het by haar streng oujongnooitante grootgeword. Haar kinderjare was eensaam en sonder veel liefde. Miskien daarom dat Trudie so sterk en selfstandig ontwikkel het. Daarom ook dat sy vir haar verantwoordelik voel. Debbie voel diep geraak. Haar oë is blink en nat toe sy vooroor buk, Trudie sag op die wang soen en langs haar gaan sit.

      ’n Rukkie praat sy nie, dan sê sy: “Ek het Paul so lief, Trudie. Ons is in die geheim verloof. Ons wil net nou vir niemand daarvan sê nie. Maar dis wonderlik om dit te weet en ek is so gelukkig. Dis of die wêreld mooier is, of daar nuwe betekenis in my lewe gekom het vandat ek Paul ontmoet het.”

      Sag streel Trudie die glansende swart hare.

      “So moet dit ook wees, Debbie; so hoop ek sal dit eendag vir my ook wees. Ek is baie bly, en baie, baie geluk vir julle al twee. En mag jy en Paul al julle drome sien waar word.”

      Debbie staan op en sit die lig af. Toe stoot sy die gordyne weg en staan ’n oomblik na buite en kyk. Die lug is klam en lekker verfrissend. Diep asem sy die vars lug in. Helder flonker die sterre in die diepblou lug. Die nag is stil en kalm, asof daardie verwoestende storm nooit gewees het nie. Maar teen die mure en op die sypaadjies lê die wit haelstene nog opgestapel – stille getuienis van die krag en geweld wat so sonder genade alles voor die voet verpletter het.

      Ek wonder, dink Trudie, toe hulle stil in die donker lê, waarom ek nooit vir Debbie gesê het dat die koerantskrywer die grootste gedeelte van die aand langs my lê en slaap het nie?

      Hulle het eers die volgende oggend, ’n blou, doufris oggend, besef hoe vreeslik die storm werklik was. Dit het verwoesting gesaai so ver dit getrek het. Die blomtuin was letterlik verpletter. Trudie en Deborah het buite gestaan en verslae het Deborah na haar jakarandaboom gekyk. Die boom was die vorige dag nog soos ’n bruid en nou staan sy naak en geskend daar, lê haar skoonheid bruin bevlek van die modder en reën in vuil hopies om haar stam.

      Mevrou Rabie is al die hele oggend in haar tuin met die snoeiskêr besig om die gewonde roosbome te verpleeg en blomme af te sny. Sy is bedruk en Debbie is baie jammer vir haar.

      Paul het hulle vroeg die oggend kom haal om die vreeslike skade wat die haelstorm aangerig het te besigtig. Sy motor is baie lelik geduik, maar die arme Raoul s’n is feitlik flenters geslaan. Dakteëls is vernietig, ruite by die honderde stukkend geslaan, tuine verpletter en jakarandas gestroop.

      Maar die lug was ’n lieflike blou en die voëls het sonder ophou gesing.

      Hulle het na die boom gaan kyk waar hulle die vorige aand skuiling probeer soek het en besef dat hulle in hul benoudheid in die donker die kleinste boompie uit ’n hele lang ry gekies het. Maar soos Paul sê: Dit sou tog geen verskil gemaak het nie, al het hulle onder die grootste boom geskuil.

      Hoofstuk 7

      Hoofstuk 7

      Debbie aarsel met haar hand op die deurknop. Sy hoop Trudie slaap. Dis reeds lank ná middernag. Sy het nog nooit so laat uitgebly nie en noudat sy alleen is, noudat die gloed van haar opgewondenheid verdwyn het, voel sy so klein en skuldig. Sy is bly haar ouers weet nie; sy hoop Trudie sal ook nooit weet nie. Sy sien nie kans vir die noute van die kamer daar binne nie. Sy wil liewer buite wees, een met die wit maanlignag en die sagte, koel wind wat deur haar hare roer.

      Maar sy moet ingaan.

      Soos ’n skaduwee, donker, geluidloos, glip sy die kamer binne. ’n Oomblik aarsel sy totdat haar oë aan die kamer gewoond word, dan beweeg sy saggies in die rigting van haar bed.


Скачать книгу