Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit


Скачать книгу
eenvoudige plaashuis deur ’n onverfynde plaasboer soos dié Pieter Malan tot verantwoording geroep word? ’n Arm, ongeletterde man soos hy wie se plaas vir hom sy ganse heelal is, ’n man wat in geen opsig hulle gelyke is nie? Die skerp naels sny diep in haar handpalms soos sy veg om haar ewewig te behou. Want sy moet kalm bly. Sy veg vir Paul, vir sy geluk. Sy mag niks doen wat hom mag benadeel nie. Chris het belowe hy sal Paul help. Sy moet net vertrou.

      Die dokter antwoord saggies, bedaard. “Meneer Malan, ons voel ook soos jy. Maar verwyte sal nie nou help nie. Dis ons kinders en hulle het ons nodig. Ons het gekom om hulle te help. Ons moet net besluit wat die beste is vir hulle en vir ons almal.”

      “Daar is niks verder om te besluit nie,” sê Paul vinnig. “Ek het gekom om met Debbie te trou, so gou moontlik.”

      Die naels byt dieper in Tina se handpalms in, maar haar stem is koel en helder. “Wag eers, Paul. Mevrou Malan, voordat ons verder gaan: Bestaan daar geen twyfel oor jou dogter se toestand nie?”

      Paul moet hom bedwing. Hy sien hoe Debbie nog bleker word. Hy sien die donker blos wat mevrou Malan se gesig bedek. Waarom al hierdie heen-en-weer-pratery? Dit maak alles net meer ingewikkeld, dink hy. Dis tog heel eenvoudig. Hy kan byna nie hoor wat Debbie se ma sê nie, hy sien net haar verleentheid.

      “Ons het haar nog nie dokter toe geneem nie, mevrou Hugo, om redes wat jy goed sal begryp. Maar by my bestaan daar geen twyfel nie.”

      Maar Tina is nie tevrede nie. “Sal jy omgee as my man . . .?” Tina sien die pyn en skaamte in die ander vrou se oë. ’n Oomblik kry sy haar diep jammer, voel sy of sy die vrou om die hals kan val en bitterlik saam met haar kan huil. Maar dan onthou sy: Dis Paul se geluk, Paul se toekoms, wat hier op die spel is. Sy mag nie swak wees nie. En sy vervolg: “Dat ons heeltemal seker kan wees?”

      Een tree en Paul is langs Debbie. Sy gesig is so wit soos hare. Die blou oë blits vuur. “Dis onnodig. Ek sal dit nie toelaat nie.”

      Maar mevrou Malan sê stil: “Dit sal goed wees. Dan weet ons verseker.”

      “Natuurlik,” sê die dokter kalm. “Maar dit kan maar later kom. Ons gaan nou van die veronderstelling uit dat dit wel waar is, soos seker ook die geval is. Gaan sit gerus maar, Paul.”

      “Waarom moet julle dié pynlike storie onnodig uitrek?” vra Paul opstandig.

      “Dis vir ons almal pynlik, Paul. Maar ons wil doen wat die beste is vir julle albei. Wag, Paul,” sê sy pa streng toe hy hom weer in die rede wil val en Paul sien dat sy pa ergerlik word. Sonder ’n woord gaan hy sit.

      Dokter Hugo wend hom tot Pieter Malan. “Meneer Malan, jy weet seker dat Paul en jou dogter reeds probeer het om te trou. Hulle wou dit vir ons wegsteek, wat ook maar natuurlik was. In dieselfde omstandighede sou ons moontlik dieselfde gedoen het. Maar ons moet nou aan die toekoms dink. Die kinders is albei nog baie jonk. Paul is heeltemal afhanklik van my. Hy het nog nie ’n werk nie. Ons plan was dat hy medies sou studeer. Hy reken hy sal ’n werk aan die Rand kry en dat hy vir hom en Deborah daar ’n heenkome kan vind. Ek het nog nie sy planne verder met hom bespreek nie. Ek het gevoel ons moet almal saam wees. Paul moet jou dogter se wense ook in aanmerking neem.”

      Debbie wil praat. Sy wil sê dat sy enigiets sal doen wat Paul wil hê, maar haar keel is te droog en styf.

      Pieter Malan is nog stroef, maar hy knik instemmend. “Ja, Dokter. Ek kon nie planne maak nie. Ek ken nie julle omstandighede nie. Solank hy maar net met my dogter trou en na haar kyk. Sy sê sy het hom lief.”

      “Ek is net bevrees dat dit nie so maklik sal wees nie, meneer Malan. Tye is baie swaar en al is Paul redelik goed geleerd, is hy heeltemal onervare. Hy sal nie so maklik ’n werk kry wat hom in staat sal stel om ’n vrou en ’n kind behoorlik te onderhou nie.”

      “Hy moes eerder daaraan gedink het. Ek het ook in my lewe swaar gehad. Ek kry nou nog baie swaar. Ek kan hulle nie help nie. Ek het ook nie die minste plan om hulle te help nie. Ek het nog twee dogters. Ons het skade en skande genoeg gely. Hier het ons vir Deborah met groot opoffering . . .”

      “Wag, meneer Malan. Jy verstaan my verkeerd. Ek het aan ’n ander moontlikheid gedink. Soos ek sê, het ons dit nog nie met Paul bespreek nie. Ek wou hom nie vooraf beïnvloed nie. Ons moes ook eers weet hoe jy en mevrou Malan daaroor voel. En die kinders moet in elk geval self besluit. Dis bloot omdat hulle so bitter jonk is dat ek ’n ander voorstel wil maak. Hulle weet nog nie hoe swaar die lewe kan wees nie. En hulle sal dubbel swaar begin. Dit sal ook nie reg wees dat ons hulle help nie, nie as hulle besluit om te trou nie. Dan sal hulle nooit leer om selfstandig te word nie.”

      “En wat is jou plan, Dokter?”

      Almal wag gespanne. Die kamer is doodstil.

      “My plan is net moontlik as Debbie en Paul bereid is om die baba af te gee.”

      Debbie wag dat Paul moet opspring en uitroep dat hulle sonder sy pa se hulp sal klaarkom, dat hy nie daarvan droom om die baba af te gee nie, dat hulle nie omgee om swaar te kry nie. Maar Paul bly met sy kop op sy bors sit en hy sê nie ’n woord nie.

      Die dokter gaan voort: “Ons laat Debbie en Paul stil voor die landdros trou. Ons kan Johannesburg toe gaan, of na een van die buurdorpe toe. Ek dink dit sal beter wees as ons dit stil hou, as net die betrokke families daarvan weet. Ek sal sorg dat daar ’n goeie huis vir die kindjie gevind word . . . en Debbie en Paul gaan voort met hulle studie soos die oorspronklike plan was.”

      Daar is stilte. Nie eens ’n stoel kraak nie. Dan sê die dokter: “Ek maak hierdie voorstel nie ligtelik nie. As ek vertroue gehad het in die toekoms wat andersins op die kinders wag, sou ek dit nie voorgestel het nie. Maar ek is bang vir wat kom. Hulle is te jonk en te onervare om staande te bly teen die ontnugterings wat vir hulle wag as hulle nou hulle eie potjie moet krap. Ons weet dat dit nie speletjies is om met niks van voor af te begin en ’n kind groot te maak nie. Hulle sal miskien baie jare lank swaarkry. Ons weet nie wanneer toestande gaan verbeter nie. En dis nie net dat hulle sal swaarkry nie, hulle sal later onthou dat Paul sy roeping gemis het en begin wonder of die opoffering nie te groot was nie. Nou gee ons hulle die kans om hulleself eers deeglik voor te berei vir hulle lewe saam. En as Paul klaar is, kan hy sy vrou kom haal.”

      Pieter Malan gee ’n bitter laggie. “Ek sal nie weer ’n pennie bestee om ’n dogter van my universiteit toe te stuur nie. Dit was alreeds bitter teen my sin dat sy in die eerste plek gegaan het. As sy dan nie saam met jou seun wil swaarkry nie, kan sy gaan werk. Van my kry sy nie weer ’n pennie vir geleerdheid nie. En waar moet sy intussen bly?”

      “Jy het my nie mooi verstaan nie, meneer Malan. Ek sal alle verantwoordelikheid vir Paul se vrou aanvaar. Sy kan vanselfsprekend nie hier bly nie. Ek sal haar na ’n plek toe neem waar sy goed versorg sal word. Ek sal haar dadelik neem – dit sal lyk of sy maar net weer universiteit toe gaan. En volgende jaar hervat sy haar kursus in alle erns.”

      “En dan?”

      “Dit moet die tyd ons leer. Debbie kan vir Paul wag. Dis nie so baie lank nie. Nog vyf jaar, dan kan hulle weer begin. Maar soos ek gesê het, moet hulle natuurlik self kies. As hulle verkies om hulle eie paadjie in te slaan moet hulle self sien kom klaar. As hulle my voorstel aanvaar, sal ek hulle help, soveel as wat ek kan.”

      Debbie sit langs haar ma by die tafel. Sy is strak en haar hande rus styf inmekaargeklem in haar skoot. Miem Malan het met een hand haar oë bedek, die ander het sy op Debbie se hande geplaas. Sy sit roerloos. Dit lyk of sy bid.

      Pieter Malan sit nog stroef en ontevrede, sy hande op sy knieë, maar daar is tog verligting op sy gesig te bespeur. Tina hou haar oë op haar hande, wat sy gevou op haar skoot hou. Hulle moet Chris se voorstel aanvaar, hulle moet. As hulle eenmaal weg is van mekaar sal die res maklik wees.

      Paul is bleek en die spiertjie trek al weer langs sy mond. Debbie kyk na hom, maar hy hou sy oë op die vloer.

      Hier is geen simpatie vir haar nie, geen liefde nie, dink Debbie. Net haar ma begryp. Haar pa wil ten alle koste van haar ontslae raak, al breek dit ook haar ma se hart. Die Hugo’s skerm net vir Paul. Paul se ma is haar bitter vyandiggesind. Is dit hoe Paul


Скачать книгу