Die rooikop van Sonnerus. Susanna M Lingua
Читать онлайн книгу.nie op ’n bed sit nie, hoor! Nee, jong, ek vrees jy sal moet staan.”
“Haai daar! Moet julle twee altyd staan en stry?” kom dit gemaak streng van Marie wat so ’n rapsie ouer is as die ander twee. “Toe, kry jou sit, Anette. En jy ook, Bettie. ’n Mens sal sweer julle het hier in ’n voëlhok aangeland. Onthou, Elise is ’n siek mens.”
“Toe, jong, basta nou met jou vroom siekbedmaniertjies,” knip Bettie haar kort. “Laat ons Elise liewer vertel van gisteraand se doenigheid op Donkerhoek!”
Die drie bars heerlik uit van die lag en dit maak Elise se nuuskierigheid werklik gaande.
“Kom, staak nou dadelik julle lawwigheid en vertel my wat is dit,” gebied Elise duidelik nuuskierig.
“Man, dis hierdie Romeo wat ek jou die ander dag van vertel het,” kom dit nog effens vol lag van Anette.
“Watter Romeo?” glimlag Elise geamuseerd.
“Daardie Van Rijn-knaap, man, jou pa se buurman,” vervolg sy. “Sy verhouding met Christel is ook al weer iets van die verlede. En glo my, hy voer reeds splinternuwe planne in die skild. Raai net vir wie slyp hy nou weer sy tande?”
“Nee, ek sal nie kan sê nie. Wie?”
Anette raak ineens ernstig en dit lyk selfs of sy bekommerd voel ook.
“Jý, my liewe Elise,” antwoord sy.
“Maar jy is aan die dwaal, Anette,” lag Elise. “Gits, mens, is jy seker jy voel heeltemal gesond?”
“So! En waarom die twyfel wat my gesondheid betref?”
“Luister hier, julle drie. Daardie … e … Romeo van julle kan niks in die skild voer wat my insluit nie, want sien, die kêrel ken my van geen kant af nie. Hy het my nog nooit in sy lewe gesien nie! Nee, ek kan julle die versekering gee dat julle hierdie keer ’n verkeerde berig ontvang het.”
“Nee, man, jy verstaan nie,” probeer Bettie op haar beurt verduidelik. “Hy het dit natuurlik nie in soveel woorde gesê nie. Sien, daar was gisteraand so ’n klein onthaaltjie op Donkerhoek, natuurlik ter ere van die nuwe intrekker. Jy het mos al gehoor hoe die aspirant-skoonmoeders wedywer om hom te onthaal! Hy en Neels het later sommerso eenkant gestaan en aan die gesels geraak. En dis mos toe dat hy vir Neels vra wat ’n man in hierdie kontrei maak as die asters begin lastig raak. Maar bid jou aan, in dieselfde asem sê hy aan Neels dat hy hoor sy buurman, oom Hendrik Veldman, het so ’n mooi, hubare dogter!”
“Is dit maar al?” wil Elise nou duidelik vol lag weet. Dan vervolg sy ernstiger: “Luister, outjies, ek koester geen planne om my met so ’n verwaande vent te bemoei nie. Span dus gerus maar julle nette vir hom. Van my kant sal daar geen mededinging wees nie. Ek het ’n idee dat ek niks van die man gaan hou nie!”
“H’m, dis waar wat jy nou sê, ou sussie,” snuif Marie beterwetend. “Wag maar tot jy hom eers ontmoet het, dan sal ons sien of jy nie ’n ander deuntjie gaan sing nie. Ek sê jou, die man besit ’n aantrekkingskrag soos min. Hy is ongetwyfeld die aantreklikste man suid van die ewenaar. En ek weet ook nie of ’n mens hom juis as verwaand kan bestempel nie. Ek sal eerder sê hy het ’n groot mate van selfvertroue, juis omdat hy bewus is van sy aantreklikheid.”
“Jong, Elise, daardie galante heer weet hy het die mag om enige nooi op hom verlief te maak, dis daarom dat hy so selfversekerd en vol selfvertroue is,” vul Anette aan.
“En jy, Bettie,” wil Elise met ’n fyn spotlaggie weet, “is jy ook beenaf soos Marie en Anette, of beïndruk die heer se sjarme jou nie?”
“Gits, ek twyfel of daar een hubare jong dame in die omtrek is wat nie op hom verlief is nie, Elise. Jy moet hom self sien om ’n opinie van hom te kan vorm. Ek is seker die oomblik as jy hom ontmoet het, bedank jy onmiddellik jou pos hier as onderwyseres om naby hom op die plaas te gaan woon.”
“Nee, kyk, nou praat jy die grootste onsin wat ek nog gehoor het. Kom ons verander liewer die onderwerp. Terloops, ek gaan môre huis toe, ingeval julle dit miskien nie weet nie.”
“Wat? En jy sê ons nou eers daarvan!” roep Anette gemaak verontwaardig uit. “Weet jy, Elise, ’n mens weet ook nie aldag hoe jy dit met jou het nie. Jy is die eienaardigste skepseltjie met die eienaardigste idees wat ek nog teëgekom het. Maar so was jy selfs op skool ook.”
Met ’n menigte grappies en gelag verwyl hulle die tyd totdat die klok weer lui en aankondig dat die besoekuur verstreke is. Die drie vriendinne groet haar en verlaat die vertrek met nog veel onderlinge gespot.
2
Geklee in ’n vrolik geblomde rokkie, lyk Elise die bekoorlikheid self. Net soos haar moeder skiet sy effens tekort aan lengte, maar aan haar sjarme en aanvalligheid doen dit geen afbreuk nie.
Met ’n kritiese oog betrag sy haar fynbesnede beeld in die handspieëltjie, dan plaas sy dit bo-op in die gepakte tas en klap die deksel toe. Op dieselfde oomblik stap Piet die vertrek binne.
“Laat ek die tas vir jou dra, Elise,” bied hy aan. Hy tel die tas op, dan gly sy blik waarnemend oor haar. “Jy lyk weer pure perd, Elise,” glimlag hy goedkeurend. “Maar kom ons loop. Tant Irma en oom Hendrik hou seker al die pad dop. Hulle het juis vanoggend teenoor my gekla omdat jy meer as twee maande laas tuis was.”
Hy lei haar met die lang, breë gang af, en eindelik stap hulle by die hoofingang uit.
“Ja, toe, kapittel my maar,” antwoord sy goedig. “Was jy al ooit tuis gedurende die drie maande wat jy nou al hier op Sonnerus praktiseer?”
“Met my is dit totaal anders gesteld.” Hy hou vir haar die motordeur oop, plaas die tas op die agterste sitplek en gaan klim dan self in. “Ek is ’n hardwerkende man,” laat hy weer bedaard hoor, skakel die motor aan en trek weg. “As julle mense nie so vol piep en ipekonders is nie, sal ek ook soms ’n tydjie kan afknyp om my ouers te gaan besoek. Ek kan jou verseker dis vir my glad nie so aangenaam om te weet hulle woon net hier agter die tweede bult en nogtans kan ek hulle nie gaan besoek wanneer ek wil nie!”
“Jy praat asof jy almal se piep en ipekonders alleen moet behandel,” glimlag sy. Dan gly haar blik stadig oor die karaktervolle lyne van sy gesig, oor sy blonde hare wat glad na agter gekam is, na sy lang kunstenaarshande wat ferm op die stuur rus, en eindelik sy atletiese skouers.
Wat Elise hier langs haar sien, dra beslis haar goedkeuring weg, hoewel sy darem ook nie daaroor in vervoering sal raak nie. Piet is geensins ’n figuur wat ’n nooi se asem wegslaan en haar drome laat droom nie. Hy is ’n doodgewone, alledaagse man wat op sy stil manier aantreklik is. Eintlik is dit ’n innerlike aantreklikheid wat uit sy hele wese straal en ’n mens teen wil en dank boei.
“Dis presies hoe sake staan. Almal se piep en ipekonders moet ek omtrent alleen behandel, want bedags is ou dokter Uys nie juis ’n groot hulp nie, en snags verseg hy ten ene male om ’n voet uit sy huis te versit. Ek weet nie wat sal gebeur as hier ’n epidemie moet uitbreek nie. In elk geval, ons gaan nie nou al die moeilikheid agter die bult haal nie. Vertel my liewer of my besoeke aan jou voortaan welkom gaan wees of nie.”
“Piet, jy gaan nou regtig aan asof jy ’n vreemdeling is,” lag sy saggies. “Natuurlik sal jou besoeke welkom wees, jy is dan een van ons, een van die groot familie!”
“Dankie, ek sal dit onthou,” antwoord hy stil en tuur diep ingedagte voor hom uit na die pad wat soos ’n vaal streep oor die bult lê.
Al geselsend spoed hulle voort en binne ’n uur hou hulle voor die ruim woning op Vergesig, die erfplaas van die Veldmans, stil.
Op die voorstoep wag tant Irma, oom Hendrik en die twintigjarige Hennie hulle reeds in, en Elise en Piet word hartlik gegroet.
“Kom, kinders, die koffie wag al vir julle,” nooi tant Irma gul en lei hulle na die sitkamer.
“Elise, maar jy het maer geword, my kind,” vervolg die moeder later besorg toe elkeen met ’n koppie stomende koffie en ’n heerlike stuk melktert in