Dwaalpoort. Alexander Strachan

Читать онлайн книгу.

Dwaalpoort - Alexander Strachan


Скачать книгу
van die teerpale het ek gesien hoe my pa se lyf Mafika word. Hy het meteens net anders gelyk. Reg voor jou oë, terwyl jy nog vir hom gekyk het, het hy sy plaasnaam geword.

      Ek het die teerpale geruik toe Mafika vir Bullet-hulle skreeu om op te hou uitkeer. Die beeste het blasend in die hoeke van die hokke saamgedruk en ek het gesien hoe Julius natgesweet in die beesmis gaan staan. Ek het geweet sy kop is lankal nie meer by Dwaalpoort se beestroppe nie. Sy gedagtes het baie verder as die plaas gestrek. Eintlik het dit al kleintyd begin toe hy die gravering op die groot antieke vertoonkas in die eetkamer met sy hande bevoel het wanneer sy ma van die statte af gekom het om huis skoon te maak. Toe al het sy kop verder as Dwaalpoort, na die oorkant van die see begin mik, terwyl sy ma se bont rok om die stoele swiep.

      “My kopers warm nog net so ’n bietjie op, oom Ludwig,” het ek die afslaer se stem gehoor. Hy het sy hande senuagtig teen mekaar gevryf, maar sy stem het hierdie keer heelwat langer gesing.

      Toe die hamer val, het Mafika geknik.

      Sy vetosse het hy gebêre vir die laaste lot – tien jaar oud, nooit onthoring nie. Die veewagters se voorslae het in die stof agter die rooiblink velle geklap terwyl hulle die beeste vorentoe dryf. Die osse het met die kop skuins in die drukgang afgekom, want daar was nie plek vir hulle horings nie.

      Almal het geweet hier kom ’n ding.

      Toe die hek agter die osse toeklap, het die veewagters hul swepe laat sak en met hul arms op die teerpale gerus. Voor hulle het die beestrop bly rondmaal. Die trop wat hulle onder Mafika se hand in die veekraal van hul ma’s afgespeen het terwyl die gebulk drie nagte lank oor Dwaalpoort se vlaktes gehang het. Die trop wat hulle vroegsomer te perd met swepe teen die hange uitgedryf het op boontoe, suurveld toe, en jaar na jaar vroegwinter weer afgedryf het na die vleie se soetveld.

      In die verkoopsring het die werker in die oorpak, wat die vee aanhoudend moes ronddraai vir die kopers om beter te kon sien, op die nat beesmis gegly, maar betyds teen die veiligheidsleer uitgeklouter.

      Zulamfula, rivier wat kronkel! het die veewagters Dwaalpoort se Zulunaam uitgeroep.

      Onder in die ring het die osse se horings teen mekaar gekap; hulle het aan die teerpale geruik, hul koppe weggeruk en deur die neus gesnork. Die kopers in die voorste ry stoele het gekoes vir die slym wat spat. Dwaalpoort se uitsoeklot, bestem vir vanaand se streeksnuusaankondiging oor die radio.

      Die afslaer het vir ’n openingsbod geroep en uit die koperstoele het ’n ry hande gelyk opgeskiet. Hy het heen en weer gekyk, asof hy ’n oomblik nie geweet het waar om die eerste bod te vat nie. Toe word sy stem ’n grammofoon. Links en regs het hy met sy hand gewys soos hy elke keer ’n bod vat. Mafika se gesig het niks gewys nie, terwyl die hamer vir die soveelste keer in die lug gehang het. Maar weer het daar ’n hand opgeskiet. Vir die laaste keer. Toe val die hamer. Die afslaer het omgedraai en sy hand uitgesteek. “Geluk, oom Ludwig.”

      Mafika het die rand van sy vendusiehoed gelig, die een met die smal rand met die klein tarentaalveertjie in die band. Toe die osse deur die hek in die gang af verdwyn, het ek omgedraai en na die bakkie geloop.

      Daai jare sou Julius-hulle vooruit met die groot trok gery het. Ons sou nie dadelik teruggaan plaas toe nie, maar net Bullet kon saam met my pa by die kroeg ingaan, selfs al was hy nog onder die ouderdom. Ek moes in die bakkie wag. Natuurlik was ek skaam die ander leerlinge sien my, ek was darem al ver op hoërskool. En hoe kry jy dit reg om in ’n plaasbakkie vol vendusiestof na iets te lyk? Ek het my lyf klein gemaak op die sitplek en my verbeel ek drink in die dorp se eerste koffiekroeg gekleurde koeldrank deur ’n strooitjie. Maar toe sien ek die stof onder my naels en ek gaan sit sommer op my hande.

      Deur die oop kroegdeur kon ek inkyk. Oral het rugbydasse en pette gehang, en ’n pooltafel heeltemal uit plek teen die oorkantste muur voor die dik portretrame wat die storie van die Britse inval op die dorp vertel het . . . die bebaarde Boere met hulle opslaanhoede en dan die Britse offisiere in hul netjiese uniforms met hul snorre weggekam. Boer of Brit? Ek kon dit nie help nie, albei was vir my ewe grillerig. Was hulle dan in Henriette se tyd aantreklik?

      Na ’n ruk het ek die cubbyhole oopgemaak – my pa se papiere, vreemde kwitansies wat ek eerder teruggesit het.

      In die kroeg het Bullet en my pa skouer aan skouer gesit en die kroegmeisie het afgebuk om die ysblokkies op te tel wat op die vloer gerol het. “Dubbels!” het ek my pa se stem hoor roep. “Op Dwaalpoort se rekening!”

      Bullet het weer gelag. Hy kon bestel net wat hy wou, het ’n groot sluk gevat en nog ysblokkies met sy hand van die toonbank gevee. Soos met alles kon hy sy sin by my pa kry, net met een ding nie.

      “Short knock!” het my pa geroep.

      Ek het in my stowwerige vendusieklere uitgeklim om Dwaalpoort se pos te gaan haal. Hierdie tyd van die dag was daar gelukkig min mense op straat. In die verbystap het ek die kroegmeisie se oë gesien. Sy was maar ’n jaar of wat ouer as ek. Wou sy iets vir my sê?

      Met die pos in my hand het ek vinnig by die skool verbygeloop, toe stadiger by die oop stuk grond langs die kerk, en by die stadsaal verby. Voor ek in die bakkie geklim het, het ek weer by die kroegdeur ingekyk. Die toonbank was leeg. Teen die agterste muur het my pa met ’n poolstok in sy hand gestaan. Sy statigheid van vroeër die dag by die veeveiling was weg. Ek kon nie help om dit raak te sien nie – sy vendusiehoed het skeef gesit en daar was iets potsierliks in sy houding. Ek het die bakkie se deur hard toegeklap.

      Teen skemer moes ek terugbestuur plaas toe; na al die brandewyne het dit skielik nie meer vir my pa saak gemaak dat ek nog nie ’n lisensie het nie. Bullet het in die middel gesit en hy moes elke keer bo-oor my pa klim om die hekke oop te maak. Daar was ’n baldadigheid in hul stemme, terwyl ek gesukkel het om die ratte te verwissel. In die bakkie se remligte het hulle saam in die stof gepie. Anders as wat vroue dit doen. Uitgelate. Ruik mans soos perde?

      “Het jy die pos onthou?” het my pa gevra terwyl hy terugklim.

      “Wie anders sal, Pa?”

      Ek het weer gesukkel met die ratte. Die pad terug huis toe was uitgerek met Bullet se hand heelpad vatterig teen my bobeen op.

      “Hei!” het my pa geroep.

      Ek het voor die agterdeur stilgehou.

      In die kombuis het yskasdeure geklap. Dit was Bullet se werk om vir hulle die nightcap te meng. “Blouwildebees!” het hy geroep en met die donker mengsel in die gang afgestap gekom.

      Ek het my slaapkamerdeur agter my toegetrek en eers my top uitgetrek en my hande oor my tieties gevou. Ek het oor my heupe gevat. Hulle was nog te smal vir ’n vrou s’n. In die spieël het ek verby die vendusiestof op my vel gekyk. My tieties het by die dag mooier geword . . .

      Ik was 18 jaren oud alleen zonder famili meer in di consentrasi kamp di jaar 1901 van ons oorlog met Groot Britanje. Daar bij di spruit het ik mij jurk uit getrek op een platte klip gesit en met seep gesmeer. Dit was nog vroeg en daar was niemand nabij. Ik het ook mij onder klere uit getrek an mij hele lijf met seep gesmeer. Toe ik om draai het ik vroue gehoor wat op pad was na di spruit. Ik het gou weer mij klere aan getrek, mijn jurk nog nat, en terug geloop na di tente di hele pad denk ik an di Engels ofsier en hoe hij mij naam gese het hoe hij Henriette se.

      Haar hand vee stadig oor die buitekant van haar arm, dan ingedagte oor die dun vel aan die binnekant van haar arm. Sy kyk af na haar hande, haar vingers lê lank en bleek in haar palm.

      “Henriette?”

      Die vreemdheid van haar naam in die Engelse offisier se mond bly die afgelope dae in haar kop ronddraai.

      Sy trek haar rok uit, span dit oor die klip voor haar en vryf die koekie seep oor en oor in die dun materiaal in. Tot haar vingerpunte wit is. Dan spoel sy die rok uit en kyk hoe die water melkerig word. Sy dop die rok om, spoel dit nog ’n keer uit en draai die oortollige water met haar hande uit.

      Dit is nog te vroeg; daar is nie ander mense naby nie en sy trek haar flennie-onderrok uit, vryf die seep oor haar kaal lyf in en skuif stadig teen die klip af na waar die water dieper is.

      Onder haar voete kan sy die los klippe voel en


Скачать книгу