Klaprose teen die wind. Marzanne Leroux-Van der Boon

Читать онлайн книгу.

Klaprose teen die wind - Marzanne Leroux-Van der Boon


Скачать книгу
section>

      

      Klaprose teen die wind

      Marzanne Leroux-Van der Boon

      Tafelberg

      Een

      Marc loop rillend langs die gragte. Selfs vir einde Maart is dit koud in Amsterdam. Onder sy dik jas dra hy ’n baadjie en ’n trui en nog voel hy die genadelose aanslag van die wind.

      Eers merk hy nie die mense wat op die voetbrug bondel nie. Hy slenter onsiende tussen hulle in voor hy besef dat hulle na iets aan ’t kyk is. Oorwegend mans staan daar. Hewig verskans teen die ele­mente, hande argeloos in die jassakke, hier en daar ’n kop in ’n wolk sigaarrook versluier. Voordat hy iets te sien kry, registreer hy die toon van hul lag. Onderskei spoedig ook van die opmerkings.

      ’n Ruk lank staan hy besluiteloos. Onwillig om deur die mense na voor te wurm en tog ook te vasgevang om sommerso weg te gaan. Die keuse word vir hom gedoen toe twee groot mans voor laggend omdraai en hul pad deur die omstanders oopdruk om uit te kom. Marc bevind hom meteens in die voorste ry.

      Daar sit ’n meisie langbeen op die nat keistene van die bruggie. ’n Rooierige, rondegesig Hollandse meisie. Sy dra ’n swart baret op haar blonde hare wat stringerig oor haar rug en skouers hang. Ten spyte van die bitsige koue het sy ’n skamele vuilwit hemp aan wat klam aan haar ronde borste kleef. ’n Kort leerromp het tot bokant haar knieë opgeskuif. Swart kouse en gehawende swart hoëhakskoene. Verder niks. Sy is kollerig blou van die koue, haar lippe byna pers, maar dit lyk nie of sy daarvan bewus is nie. Marc let op dat haar oë hasjisj-stom kyk en baie ouer as haar ander sigbare jare is.

      Om haar roer die mans opgewonde. Die meisie se mond is kle­we­rig. Haar tepels, styf van die bittere koue, vlek bruin teen die nat hemp wat sy langsaam losknoop. Marc voel die sweet in sy oksels kom en tas onhandig na ’n pakkie sigarette in sy binnesak. Hy slaag be­we­rig daarin om een opgesteek te kry en trek die rook so vinnig en diep in sy longe dat hy aan die hoes gaan. Maar dit laat die bewing van sy hande enigsins bedaar.

      Toe eers sien hy die geld wat rondom haar op die plaveisel lê en dit begin by hom deurskemer wat aan die gang is. Hy sluk, trek weer diep aan sy sigaret en dwing homself om argeloos te bly toekyk.

      Dwelmbeneweling het die meisie geensins van haar natuurlike instinkte gestroop nie. Sy is duidelik bewus van haar omstanders. Van haar uitwerking op hulle. Haar hande bly die twee vol borste toevou, maar só dat die bruin tepels soos hondeneusies daarbo sigbaar is. Sy kyk uitdagend op in die kring gesigte wat haar omring. Marc sien die punt van haar tong deur haar lippe blink. Sy keel brand van die rook wat hy te vinnig daardeur intrek. Hy stoot sy voete versigtig uit­me­kaar om sy half swikkende bene makliker staande te hou.

      Verskeie guldens rol oor die keistene na haar toe. ’n Vyfgulden­noot dwarrel in haar skoot. Sy maak ’n kru beweging met haar heupe in die rigting van die skenker en laat haar borste vry oopval. Die mans druk vorentoe, fluit laag. Marc sien met ’n ontroering wat aan skrik grens die fyn blou aartjies oor die albaste rondinge. Hy dink vlugtig hoe hy dit die treffendste op papier sou kon vaslê. Nog ’n banknoot laat die hemp op die grond val, stroop die kouse. Haar vlymskerp kommentaar hou die omstanders aan ’t fluit en lag. Marc se oë soek so opvallend moontlik na ’n pad uit die kring, maar die mans staan bankvas agter hom.

      “Laas week het die polisie-agente haar opgetel,” sê ’n diknek-Am­ster­dammer aan sy makker, “en op die buro het sy haar weer net so sit en uitklee. Vir niks. Gelukkige bliksems!”

      “Jasses,” prewel die ander een en sy bolip glim.

      ’n Man buk vorentoe en laat vyf klinkende guldens langs haar bobeen val. “Vir die broekie!” skree hy uitgelate.

      Sy pen hom met haar oë vas. “Nee, hoor. Dié gaan alleen maar vir ’n tientjie.”

      Die mans lag dreunend en Marc se hart slaan met langsame, dreunende slae teen sy bors. ’n Nette gryskopheer in beerveljas en geruite Engelse hoedjie trap vorentoe en lê byna liefderyk ’n rooi noot in haar hand. Vyf en twintig gulden.

      Haar vingers vuis rasendsnel daaroor toe. “Geld!” roep sy hees. “Nou word dit geld!”

      “Uit!” por hulle.

      “Ja, hoor, dit begryp ek wel.”

      Sy kom wankelrig regop en gryp woes na ondersteuning. Maar wanneer sy eenmaal staan, du sy onmiddellik alle hande van haar weg. “Laat maar!”

      Aan haar staan, heupe na vore gedruk, merk Marc verwonderd dat sy nie verneder is nie. ’n Oomblik lank kom hy sy ongemak te bowe en sien sy kunstenaarsoë die pêrelrige middaglig teen die wit borste en die halfnaakte dye toe sy die leerrompie met een beweging afstroop en van haar wegskop. Om die kante van die klein broekie wat sy nog aanhet, krul die rooiblonde skaamhaartjies welig na buite. Iemand haal warm en klewerig teen sy agterkop asem. Hy ruik sweet in die woltruie en meteens ook die water wat onder die brug deurvloei.

      “Geld!” roep sy weer, “geld! Dan klee ek my heeltemal uit, jongens! Dan kom my vingertjie daarby …”

      Munte rol soos swaar donderweerdruppels om haar voete. Maar sy spoeg veragtend daarop. “Ek is g’n prostituut nie, hoor!”

      Die mans se lag word brullerig en die agterstes druk begeesterd vorentoe. Sodat Marc hom geleidelik byna van aangesig tot aangesig met die meisie bevind. Verskeie note fladder na benede. Sy trap hulle blitsvinnig met haar kaal voete raak. Toe sy haar klam, bloukoue vingers in die rek van haar broekie druk en dit tartend-stadig begin ondertoe stoot, slaan Marc se ore toe. Hy kyk nog hoe die rooiblonde driehoek styfgekrulde haartjies sigbaar word; dan draai hy hom blindelings om en baan sy weg dringend deur die gesigte waarvan party, die koue ten spyt, natgesweet blink. Hy sluk diep en verlig aan die koue lug buite die kring.

      Naderhand word dit te koud vir hom buite. Dit het fynweg begin reën en die lange dag van alleen wees word vir hom te veel. Hy stoot die deur van ’n klein kafeetjie oop en buk koulik na binne. Die plek is byna verlate, uitgesonder ’n man wat ’n entjie laer af aan dieselfde toonbankie sit en lees. Maar dis warm en daar’s musiek van ’n soort en dit ruik vaag na Oma se keuken.

      Ná ’n oomblik kom ’n meisie deur die bloubont gordyn van agter te voorskyn. Sy druk haar vingers deur haar krullerige hare en lag met Marc. Sy kom teenoor hom op die toonbank leun.

      “Koud, hè!” Sy vrywe haar bo-arms energiek.

      Marc knik verleë. “Erg.”

      “Echt geen normale weer vir einde Maart nie. Heel seker kry ons nog vóór donker sneeu.”

      “Kan dit?” vra hy, dankbaar dat hy homself redelik goed in Nederlands kan uitdruk.

      “Ja seker.” Sy kyk hom skerper aan. “Jy is geen Nederlander nie, tog …?”

      Hy skud sy kop. “Nee.”

      “Waar kom jy eintlik vandaan?”

      “ … Afrika,” sê hy huiwerig.

      Sy skud haar kop half onseker, maar sy is skynbaar tog tevrede gestel, want sy vra nie verder nie. Hy bestel haastig bier en ’n belegde broodjie voor sy dalk meer van sy toekoms wil weet.

      Toe die meisie weggaan om sy bestelling te haal, laat die man hoër op aan die toonbank sy koerant sak en vra sonder enige Nederlandse aksent: “Súid-Afrika?”

      Marc skrik en steek sy hande vinnig in sy jassakke. Maar die skraal, intelligente gesig kyk hom so bedaard aan dat hy sonder meer knik. Die man steek ’n hand uit oor sy koppie koffie. “Jurgen de Villiers,” sê hy, “Franschhoekvallei.”

      Die heel eerste warmte van die dag sprei in Marc oop toe hy die hand aanneem. “Marc de Vries. Ek kom van Stellenbosch af.”

      Die ander se oë verhelder toe hy lag. “Ek dag al ek hoor die Boe­land in jou aksent.” Hy trek ’n stoeltjie nader aan hom uit. “Sit digter­by, man. Magtig, dis ’n barmhartige inval.”

      “Ja, hel,” sê Marc en vryf sy hande ingenome, tas na sy sigaret­pakkie en los dit weer. Dankbaar vir die onverwagte bekendheid en tog onseker oor wat verder van hom verwag word.

      “Wat


Скачать книгу