Klaprose teen die wind. Marzanne Leroux-Van der Boon

Читать онлайн книгу.

Klaprose teen die wind - Marzanne Leroux-Van der Boon


Скачать книгу

      “Jou Nederlands klink nie te vrot nie.”

      Marc bloos effens. “Ag, jy weet hoe dit is, dis so na aan Afri­kaans …”

      “Dis juis die moeilikheid, dan kry jy dit nóg moeiliker reg.”

      “Bly jy hier?” vra Marc.

      “Jy kan seker half so sê. Ek’s al ’n paar jaar hier rond.”

      “Studeer?”

      Jurgen skud sy kop. “Nee. Ploeter maar rond. Hier iets en daar iets. Weet jy?”

      Marc weet natuurlik nie, maar hy knik.

      Jurgen kyk hom met skerper belangstelling aan. “Het jy net kom kuier?”

      Marc trek hom sigbaar bymekaar. “Ek … weet nog nie seker nie. Dalk ook nog studeer of so …”

      “Army-probleme?”

      Marc se oë vernou, maar die ander bly hom so sonder skroom aankyk dat hy tog sê: “Jaa …” Maar op die ou end voeg hy niks daar­by nie.

      Die meisie kom sit Marc se bier en broodjie voor hom neer. “Ken julle mekaar eintlik, Jurg?” vra sy.

      “Nee, meid, maar ons het allebei dieselfde vaderlandjie.”

      “Prettig, hè!”

      “Jy kan dit miskien so sien,” sê Jurgen en kyk in sy koffie om sy glimlag te verberg. Marc lag.

      Wanneer sy haar wegdraai, sê Jurgen: “Ja, wij kan daar waaragtig tog ook niet altijd over huilen, jongen.”

      Marc skud sy kop by gebrek aan ’n gepaste opmerking en eet sy broodjie hongerig op.

      Jurgen sit hom ondersoekend en aankyk. “Jy hét wel ’n ouma hier?”

      Marc knik hewig en eet sy mond haastig leeg om te kan sê: “My pa was Nederlands. Hy’s ’n paar jaar gelede dood en ek het my voorgeneem om my ouma te kom opsoek as ek so ’n bietjie afge­studeer is.”

      “So, jy hét werklik ’n blyplek.”

      “Definitief,” antwoord hy kouend.

      “Hoe’t jy hier gekom?”

      “Skip. Oorgewerk.”

      Jurgen frons geïnteresseerd. “Ek wis nie dat mens dit nog kan doen nie.”

      “Eintlik nie, maar ’n vriend van my pa is ’n verteenwoordiger in Suid-Afrika van die eienaar van een van die kleiner lyne wat gereeld tussen Kaapstad en Rotterdam vaar. Hy’t dit vir my ge-wangle.”

      “Lekker. So, jy’s redelik ge-organise?”

      “Hoekom vra jy?”

      “Nee, sommer, want ek het in my tyd al heelwat van die ge­wetensbeswaardes sien uitspoel wat nie ’n aardse idee het wat hier van hulle moet word nie. Hul reken hul kom in Kanaän aan. Maar dit vat nie lank nie om uit te vind dat die veelbesonge Nederlandse toleransie met vrydenkers bepaald ook sy perke het. Die meeste sit sonder geld ook.”

      “My pa het my ’n bietjie geld nagelaat.”

      “Dié raak jy hier ook met min moeite kwyt, hoor.”

      “Ek kom so agter.”

      Hulle drink in stilte tot Jurgen skielik na buite wys. “Kyk.”

      Marc swaai hom vinnig om op sy hoë stoeltjie. Dit het begin sneeu, vlokkig sag in die fyn reën. Teen die verdwynende middaglig kom vlokke soos blinde voëls vanuit die duiselende hoogte teen die raam aangevlieg.

      “Pragtig,” sê hy eerbiedig.

      Jurgen knik, sy oë op die ander se ekspressiewe gesig.

      ’n Man en vrou bars gearmd en natgereën die kafee luidrugtig binne. Saam met hulle kom ’n snerpende wind en die reuk van die nat honde wat by hulle is.

      “Jurg, jongen!” roep die man verheug, “wat aardig om jou weer ’n keertjie terug te sien.”

      Maar dis die honde wat eerste by Jurgen is. Hy trek hulle groot nat koppe teen sy bors vas en vryf hul ore tussen sy vingers. Hulle vertrap mekaar om sy aandag. Die drie mense groet mekaar geesdriftig en verval in so ’n dik Nederlands dat Marc hulle moeisaam volg. Hy merk dat Jurgen se aandag meer by die diere as by die mense is. Die meisie, Willemiene, kom later ook by en toe hulle van Marc onthou, word hy bekend gestel.

      Meer mense kom uit die sneeuerigheid binne en die plekkie dreun weldra van stemme en musiek en Willemiene se lag wat spora­dies opklink. ’n Jong man met olierige hare en ’n verslaapte gesig het van iewers te voorskyn gekom om haar te help.

      Lank nadat Marc klaar geëet het, bly hy nog saam met Jurgen in die behaaglike warmte sit om ’n koerant te deel. Toe die ergste drukte be­daar, bring Willemiene ongevraag vir albei ’n lekker koppie koffie. Ter­wyl hulle dit gesellig sit en roer, vra Jurgen: “Hoe lank is jy al hier?”

      “Ag, net eergister aangekom.”

      Jurgen knik. “By Ouma tuis?”

      “Ja. Bodegraven.”

      “Waar’s dit nou weer?”

      “Vlak by Gouda.”

      “Nog vanaand terug soontoe?”

      “Bus, ja. Ek moet my loop kry.”

      “Ja seker.”

      Marc drink sy koffie klaar. Dit het ophou sneeu en, indien moont­lik, nóg kouer geword. Dis byna heeltemal donker buite. Hy wil graag met Jurgen kontak behou, maar die vrymoedigheid ont­breek hom om dit direk te vra.

      Jurgen grim effens, of hy Marc se probleem aanvoel. “Jy kom darem seker gou weer terug Amsterdam toe.”

      “Natuurlik,” sê Marc gretig.

      “Kom dan daar na my plek toe. Ek dink daar’s heelwat wat ek ’n Afrikaner-landgenoot hierlanges kan laat sien.” Terwyl hy praat, skryf hy sy adres en telefoonnommer op die agterkant van Marc se reke­ning neer.

      “Vir seker!”

      “Ek kyk uit vir jou.”

      “Jy sal my sien!”

      Dis ná tienuur toe hy Oma se voordeur behoedsaam oopsluit, maar haar stem klink nog helder uit die voorkamer op. Sy slaan haar arms om hom en soen hom drie maal toe hy by haar kom. “Ek dag dat jy die weg kwytgeraak het, jongen!”

      “Nee, hoor.”

      “Het jy wel wat te ete gehad?”

      Hy verduidelik van sy broodjie, maar sy gaan onverstoord kom­buis toe om nog iets voor te berei. Hy laat haar begaan. Hy draai die televisie se klank af, skop sy nat skoene uit, stel die gasverwarmer effens laer en gaan op sy sy op die mat daarvoor lê. Die vertrek is oorverhit en feitlik lugloos en uit die kombuis kom die geur van wat ook al sy aan ’t make is. Marc raak meteens aan die slaap. Toe sy later met sy soep inkom, kom hy by soos een uit ’n diepe beswyming.

      Hy rek sy lyf tot sy litte kraak. “Heel stuk geloop vandag. Hele boel gesien.”

      “Glo ek wel. En was jy ook by die Walletjes?”

      Hy kyk op in haar wakker oë en hy moet lag. “Nog nie.”

      “Ek dag dit sal een van die eerste plekke wees waar jy sal gaan kyk?”

      Byna praat hy met haar oor die meisie op die brug, maar bedink hom toe. “Ek gaan nog,” sê hy net.

      Sy sit by hom solank hy eet. Haar aandag verdeel tussen hom en die onderhoud wat oor die televisie met ’n kabinetslid gevoer word. Haar skerp deurlopende kommentaar op alles wat daar gesê word, amuseer en verteder hom. Bring ’n vae herinnering van sy pa by hom op.

      Toe hy klaar is, ruim sy op. “Waarheen gaan jy dus môre?”

      “Môre dag ek om hier by u te bly.”


Скачать книгу