Tryna du Toit-omnibus 8. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Tryna du Toit-omnibus 8 - Tryna du Toit


Скачать книгу
studeerkamerdeur is toe, maar in die verbygaan hoor Ansie oom Jacob se stem. Hy klink kwaad, en onrustig wonder sy wie nou aan die beurt is. Op daardie oomblik gaan die deur van die studeerkamer oop en mevrou Perold kom haastig uit. Haar lippe is opmekaar gepers en sy is wit en ontsteld. Sy kyk nie in Ansie se rigting nie, maar stap reguit na die swaaideur wat na haar eie woonvertrekke lei. Verbaas kyk Ansie haar agterna. Wat sou nou gebeur het? Dit gebeur selde dat die bekwame, korrekte mevrou Perold ’n fout begaan.

      Dis beslis nie ’n goeie voorteken vir haar eie onderhoud met oom Jacob nie!

      In haar kamer stort sy gou en trek aan: ’n wit langbroek en ’n mooi geblomde pienk bloese. Haar lipstiffie is dieselfde kleur as die bloese, so ook die lint waarmee sy haar donker hare vasbind. ’n Oomblik kyk sy na haarself in die spieël. Sy lyk koel en mooi en op haar gemak. Dié wete help om haar selfvertroue te gee vir die onderhoud.

      Oom Jacob se “kom binne” is kortaf, maar sy gesig verander toe hy Ansie in die deur sien staan.

      “Kom binne,” herhaal hy. “En maak die deur toe.”

      Ansie gehoorsaam en kom nader. Oom Jacob sit agter sy lesse­naar en skuins agter hom, bokant die kaggel, hang die portret wat John geskilder het. Dieselfde gesig, streng en onverbiddelik, die kwaai grys oë, die regop, ongenaakbare houding. Maar as jy mooi kyk na die man agter die lessenaar – noudat jy weet – sien jy die eensaamheid en diepe vermoeiens wat hy agter die ou, bekende masker probeer verberg. Sy dink aan sy liefdelose lewe, die swaar las wat hy al die jare alleen gedra het, en skielik is sy nie meer vir hom bang nie.

      Sy kyk na hom en glimlag effens.

      “Ek dink die skildery is pragtig, oom Jacob. Wie gaan dit een­dag erf?”

      Hy lyk verbaas, dan haal hy sy skouers op.

      “Dit sal seker maar na die fabriek gaan. Wie anders sal daarin belang stel?”

      “Ek wil dit graag hê, oom Jacob,” sê sy impulsief. “Ek … ek weet ek het die minste reg daarop, maar as niemand anders belang stel nie …”

      Sy breek af, bewus van die skerp, deurdringende blik wat op haar rus.

      “Ons sal sien,” sê hy bruusk. “Sit, Anna. Ek wil met jou praat.”

      Ansie gaan sit in een van die wye leerstoele en vou haar hande saam in haar skoot. Dis stil in die vertrek. Ingedagte draai oom Jacob sy goue potlood om en om tussen sy vingers, asof hy sy woorde eers versigtig weeg, dan kyk hy na haar.

      “Ek het jou hulp nodig, Anna.”

      Mercia, dink sy dadelik, en verstyf effens.

      “Ek was verlede week by die dokter,” vervolg hy. “’n Gewone roetine-ondersoek, maar sy bevindinge was nie so gun­s­tig nie. Niks ernstigs nie,” vervolg hy haastig. “Op my leeftyd moet ’n mens ’n bietjie aftakeling te wagte wees. Maar dit het my opnuut laat besef dat die jare nie stilstaan nie, dat ek my sake in orde moet bring.”

      “Ek is jammer oom is nie gesond nie,” sê Ansie. “Oom werk natuurlik te hard …”

      “Harde werk is die beste medisyne in die wêreld,” sê hy. “Maar daar kom ’n tyd dat jy die pas net nie meer kan volhou nie. Al die jare – vandat ek besef het dat Mercia en ek geen kinders sou hê nie – was my hoop op Tommie gevestig. Hy is ’n Lessing, my broerskind, en ek sou hom slyp en vorm sodat hy uiteindelik die plek kon inneem van die … die seun wat ek verloor het. Ek was geduldig met hom, ek het toegewings gemaak – hy was jonk en Thelma het hom gruwelik bederf. Ek het gehoop hy sou mettertyd sy voete vind en wys dat hy van die regte stoffasie gemaak is. Maar dis vir my baie duidelik dat Tommie nie die man is wat ek gehoop het nie. Hy het nie die visie, die insig of die oordeel wat ’n goeie sakeman – selfs ’n jong sakeman – moet hê nie. Ek het onlangs weer ’n belangrike kontrak deur sy nalatigheid verloor. Al waarin hy belang stel, is sy sportmotors waarmee hy homself seker nog eendag te pletter sal jaag.”

      “Tommie is ’n genie met motors,” waag Ansie dit. “Dis nie sy skuld dat hy geen aanleg vir sake het nie. En hy is nog jonk – en bederf – miskien moet oom hom nog kans gee …”

      Hy antwoord nie en ’n rukkie is dit stil in die kamer. Dan sê hy: “Ek het gedink – miskien sal die regte vrou stabiliteit aan sy lewe gee, hom aanspoor om sy motors te laat staan en ernstiger te wees oor sy werk. Dis toe dat ek aan jou gedink het, Anna.” Sy kyk verskrik op, maar hy hou sy hand op om haar stil te maak. “Wag eers tot ek klaar is voor jy praat.”

      Wat nou? wonder Ansie onthuts. Waarheen lei dit alles?

      Weer is dit of oom Jacob na die regte woorde soek voor hy aangaan.

      “Toe ek met Mercia getroud is, was ek bereid om jou as my dogter te aanvaar. Ek wou jou wettig aanneem, vir jou my naam gee, alles wat ek ’n eie dogter kon gee. Jy wou nie tot die aanneming toestem nie, en nóg Mercia nóg ek kon jou oorreed om dit te doen. Ek besef vandag my benadering was heeltemal verkeerd. Jy was emosioneel ontwrig, ek moes jou tyd gegee het om aan my, aan die nuwe omstandighede gewoond te raak. Maar ek was nooit ’n geduldige mens nie en ek kon ook nie verdra om gedwarsboom te word nie, en so het ek toegelaat dat ’n situasie ontwikkel wat ons verhouding van die begin af vertroebel het. Jy was opstandig, jy het my gehaat, en die atmosfeer in die huis het so gespanne geraak dat ek later verplig was om jou koshuis toe te stuur. Ek weet jy het my kwalik geneem – ek hoop jy besef vandag dat daar vir my geen ander uitweg was nie.”

      Hy is ’n rukkie stil, dan sê hy: “Toe jy my huis so summier verlaat het nadat jy matriek gemaak het, was ek diep gekrenk en hartseer. Maar ek het terselfdertyd jou moed en koppige onafhanklikheid bewonder. Van almal was jy die enigste een wat dit gewaag het om teen my op te staan, jou lewe in te rig soos jy dit wou hê. Te laat het ek besef dat geld nie liefde of ka­meraadskap – of ’n dogter – kan koop nie; dat dit iets is wat jy moet verdien.”

      ’n Glimlaggie versag sy gesig: “Dit alles, my kind, is bedoel as ’n verskoning – om vir jou te sê ek is jammer – dat as ek terug kon gaan, ek anders sou opgetree het.”

      Ansie staan op en stap na die venster. Sy is diep ontsteld, maar ook ontroer deur die onverwagte bekentenis. Sy weet dit kan nie maklik wees vir ’n man met sy trotse, ingetoë natuur nie. Hoe lank voel hy al so? Waarom het hy nie eerder met haar gepraat nie?

      Na ’n rukkie draai sy na hom en sê bewoë: “Ek is bly oom Jacob het vandag met my gepraat. Dis al geruime tyd dat ek ook hartseer en ongelukkig is oor ons verhouding, dat ek besef hoe anders dit kon gewees het. Ek weet ek was ’n onmoontlike kind, en ek wil graag ook vanoggend vir oom sê: ek is jammer. Ek … ek wil nie verskonings maak nie, maar ek blameer ook my ouma en Mercia vir wat gebeur het.”

      “Ek weet. Jou ouma het my nooit vergewe omdat ek met Mercia getrou het nie. Sy het my nooit vertrou nie. Dit was nie net omdat ek soveel ouer as Mercia was nie; sy was bang vir my geld, bang vir wat dit aan Mercia en aan jou kon doen. En Mercia? Mercia het soos gewoonlik net aan haarself gedink. Sy het jou teen my opgemaak: om my te straf wanneer sy nie haar sin kon kry nie, om jou simpatie te behou. En natuurlik was jy altyd partydig vir Mercia, al het jy ook in jou hart geweet dat sy verkeerd was.”

      Dis die eerste keer dat hy so met haar praat, dink Ansie. In die ou dae sou sy hom ingevlieg het, geweier het om na hom te luister. Sy weet nou hy doen dit nie om Mercia te kritiseer of te verkleineer nie, of om simpatie te soek nie – wat Mercia betref, het hy lankal geen illusies meer nie. Dis maar net dooie hout wat hy wegkap in ’n eerlike poging om die pad tussen hulle oop te maak.

      As sy maar net in die jare wat verby is, kon droom dat hy haar ook nodig gehad het, net soos sy hom nodig gehad het!

      “Waarom het oom Jacob nie lankal met my gepraat nie?” vra sy.

      “Ek wou nie haastig wees nie. Dis maar die afgelope tyd dat ek voel dat daar ook van jou kant ’n bietjie toenadering is. Ek was ook baie besig op kantoor. Ons belange brei steeds uit en die probleme word meer, maar met my komende besoek aan Suid-Amerika het ek besef dat ek my familiesake in orde moet kry. Ek was toe verlede week by my prokureur om ’n nuwe testament op te stel.


Скачать книгу