Louisa du Toit Omnibus 7. Louisa du Toit

Читать онлайн книгу.

Louisa du Toit Omnibus 7 - Louisa du Toit


Скачать книгу
het nie? Is dit moontlik om liefde so oortuigend te veins? Maar hoe is dit moontlik dat ’n vrou kan faal wanneer sy moet weet of ’n man haar liefhet? Sy was so absoluut seker.

      Die lewe het al sy vooruitsig verloor. Terug stad toe … waarvoor? Vir ’n salaris, ’n knipperende meneer Langley, onbetrokke kollegas, ’n vereensaamde woonstel? En die vrees om in Johan vas te loop, die pyn en liefde in haar oë in ’n onverhoedse oomblik voor hom bloot te lê. Sy het die ring gestuur, ’n paar dae gelede, sonder ’n begeleidende woord. Haar hart in ’n kosbare pakkie per aangetekende pos. Sy enigste brief het sy ongelees teruggestuur in ’n groter koevert, hoe erg sy ook gebrand het om dit oop te maak.

      By die huis dra Deon vir Tillie na die kamer wat met groot sorg deur Irma voorberei is. Sy het die meubels ver­skuif en ’n staanrakkie vir potplante gekoop, asook ’n paar plante in keurige houers, so geplaas dat dit nie in Tillie se pad sal wees nie. Maar Tillie kan dit versorg, met ’n gieter­tjie water gee, rustig en op haar tyd. Binnekort sal die alpeviooltjie bloei. Tillie sal dit sien en moontlik besef dat alle vorme van lewe nog nie tot stilstand gekom het nie. ’n Goeie afdruk het Irma op die dorp gekoop, Monet se papawerveld.

      Met kille afsydigheid het Matilda bewus geword van die veranderings wat onder haar neus plaasvind, van die wyse waarop Irma kaatjie van die baan speel in die huis wat sy verwerp en verlaat het.

      Deon sit vir Tillie versigtig op die bed neer. Sy kyk rond en beloon Irma met ’n glimlaggie. “Jou werk? Dankie, sussie.”

      “Jy is baie moeg, meisiekind, en nog swak ook. Jy moet dadelik in die bed kom,” beveel Matilda. Hieroor bestaan daar geen twyfel nie; sonder teenstand laat die ander hulle die beslissing welgeval.

      “Kom wys net eers haar stoel vir haar,” vervolg Matilda.

      Woordeloos kyk Tillie hoe hulle die stoel inmekaarsit.

      “Dis net tot tyd en wyl,” sê Irma ongeërg. “Oor ’n week of twee is jy sterk genoeg dat ons jou na ’n spesialis toe kan neem.”

      “Ek het tog gesê ek wil nie gaan nie,” weier Tillie beslis.

      Skerp kyk Matilda op. “En sy is heeltemal reg ook. Daar is geen sprake van so iets nie.”

      “En waarom nie?” Irma se stem is yskoud en afgemete.

      “Daar is so iets soos jou las dra. Die bene wat haastig na die kwaad geloop het, is met lamheid geslaan …” Regop en ongenaakbaar staan sy teenoor Irma, ’n abnormale gloed in haar oë: die engel van vergelding. Irma word haar bewus van die gekweste snikke wat vanaf die bed opklink.

      “Dis oor jóú wat sy hulp weier!” roep Irma uit, en Deon werp sy mening ook in: “As Tillie tog wil gaan, sal ek persoonlik daarvoor instaan.”

      Matilda se gloeiende blik swiep bed toe: “Wil jy gaan?”

      Dit word so stil soos die dood in die kamer waar die spanning oplaai totdat dit voel asof jy dit met ’n mes kan sny. Irma se vingernaels sny in haar handpalms. Oorwin haar nóú, wil sy die intense boodskap oorsein na die meisie op die bed.

      Dit voel soos ’n ewigheid voordat Tillie haar kop skud: “Ek het reeds gesê ek wil geen hulp hê nie. Los dit nou.” Sy sluit haar oë.

      Triomfantelik swaai Matilda om: “En dit was die laaste woord oor hierdie saak. Noem dit in der ewigheid nie weer voor my nie.”

      “Ek gaan lande toe,” sê Deon toe hy eindelik omdraai en merk dat dit net hy en Tillie in die vertrek is.

      “Vat vir Irma saam,” versoek sy.

      “Dan is jy alleen,” verweer hy as hy langs haar kom staan.

      “Dit maak nie saak nie. Ek wil slaap. Ek wens julle kan besef hoe ek voel; dan sal julle ophou om my jammer te hê. Ek voel heeltemal ongeraak.”

      “Dis juis wat ons so ontstel,” antwoord Deon besorg.

      Hy vind vir Irma in haar kamer. Sy sit roerloos op die bed. “Wil jy saamgaan lande toe?”

      “Dit sal hemel op aarde wees.” Die vooruitsig om uit te gaan in die sonnige winternamiddag lok haar onweerstaanbaar.

      “Tillie wil slaap. Sy het self gevra ek moet jou saamvat.”

      “Ek wil net ander klere aantrek.” Sy staan op.

      “Ek ook. Sien jou netnou.” Hy gaan na sy rondawel. Die plaas lê songestoof en uitnodigend onder die windstil hemel. Sy kry hom voor die rondawel aan die noordekant van die huis.

      Geil woeker die pers bougainvillea teen die wit ronding van die muur. Dit was eers die melkrondawel, maar sedert Irma se vertrek is ’n ander een opgerig, verder van die huis af omdat dit vlieë lok. Dis al wat verander het sedert sy laas hier was. Verder is die werf net so kaal soos vroeër, afgesien van die stukkie grasperk by die voordeur. Met ’n bietjie moeite en verbeelding sou ’n pragtige tuin hier aangelê kan word. Dit was haar ma se plan, onthou Irma vaag, maar sy was reeds te sieklik.

      Deon het werksklere aangetrek en pos deurgekyk. Hy sien haar nie dadelik toe hy uitkom nie. Diep ingedagte staan hy ’n posstuk en bestudeer voordat hy dit opvou en terug in die koevert druk. Dit tref haar dat hy nooit onbesorg of opgewek lyk wanneer hy alleen is nie. Altyd as hy dink dat niemand in die nabyheid is nie, is daar die frons, die ligte knoppe teen die kake, die peinsende oë. Toe hy haar nou gewaar, glimlag hy haastig, effens selfbewus. “Weet die antie dat jy langbroek dra?” vra hy.

      “Seker. Sy het al die eerste dag in my tasse gekrap.”

      Sy klim agter hom op die ou motorfiets wat hy gebruik om op die plaas rond te ry. Sy plaas haar arms om sy lyf en toe hulle wegtrek, sien sy die gesig van Matilda voor die venster van die eetkamer verskyn. Langs die pad kom haar pa met die motor by hulle verby van die lande af. Hy waai vir hulle maar hou nie stil nie. ’n Stofwors sleep agter die kar aan.

      Hy het ’n krom sfinks geword met ’n pyp in die mond, dink Irma met beknelde gemoed. Die eens gesiene boer, gerekende inwoner en gerespekteerde man wat lange jare as ouderling en op die dorpsraad gedien het, het verander in die wandelende bevestiging van ’n vrou se gesag. Waar hy met die regte vrou aan sy sy gekenmerk was deur nederigheid en beskeidenheid, het dieselfde eienskappe nou vir hom ’n struikelblok geword.

      Eienaardig genoeg, bekommer Irma haar nooit oor hom nie. Diep in haar hart voel sy eerder dikwels ’n verwyt omdat hy uit eie keuse hierdie lot oor hom en sy dogter gebring het; omdat hy dwaas genoeg was om destyds te swig voor Matilda Deysel se valse bekoring. Sy het by verlangse familie op die dorp gekuier. Dalk was dit ’n poging om hulle twee by mekaar uit te bring, niemand sal ooit weet nie. Die familie het sedertdien weggetrek.

      Die wind druis by haar en Deon verby en sy kom nie agter hoe elke spier in sy liggaam verstyf toe sy styf teen hom aankruip om aan die koue te ontkom nie. Sal sy nooit weet wat hy vir haar wil sê nie, peins Deon, tot die uiterste toe gespanne. En as sy weet, sou dit haar vir goed van hom wegdryf? Hoe ver moes hy nie gaan die afgelope weke om sy gevoelens vir haar te verberg nie; hoe moes hy hom inspan ten einde haar vertroue te behou. Deirdre dring vanuit Kaapstad aan dat hulle mekaar moet sien. Maar hoe kan hy? Of moet hy juis? Daardie ander man sit te vas in Irma se hart, hy is seker sy sal na die vent toe teruggaan.

      Hoe dikwels die afgelope tyd het hy byna alles bederf deur ’n onbedagsame woord of gebaar van toenadering. Die aand in haar woonstel toe hy, na ’n lang tyd waarin hy soms getwyfel het oor sy vermeende gevoelens vir haar, skielik van aangesig tot aangesig voor haar gestaan en besef het dat hy haar kwalik met ’n soen durf groet. En toe … die ring aan haar vinger. Verloof, moes hy hoor.

      Die nag in die motor toe hy een keer wakker word en haar skemer gestalte vermoeid agter die stuurwiel sien, en later die oggend in die motor voor dokter Buys se spreekkamer, toe sy toegelaat het dat haar koue vingers warm word in syne. En die aand op haar rug aan die sluimer, met die man se portret op haar bors … die skrynende wete in hom dat sy aan iemand anders behoort.

      Die aand in die koue gang toe sy, weggekruip in sy baadjie, van skok gebewe het. Die goue oomblikke net voor dit toe sy langs hom voor die stoof ontspan het;


Скачать книгу