Klawerjas. Adam Small
Читать онлайн книгу.ection>
Klawerjas
Gedigte
Adam Small
Tafelberg
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Klawerjas mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
Opgedra aan Rosalie
oftewel Penelope
deur hierdie Odysseus
Inleidend
Hierdie poësie – met mý soort rym, en ook vrye verse – stuur weg van platvloersheid, dog is terselfdertyd bestem vir gewoon-intelligente mense en wil nie ’n vertoon van geleerdheid en obskure hoogdrawendheid wees nie.
Laat my ook sê dat dit nie juis bevorderlik vir die begrip van sake is om te vra wat ’n gedig “beteken” nie. Om poësie te waardeer is soos om wyn te proe of, soos ons op Engels sê, “savour”: geniet net die woorde, die sinne, die sentimente, die gedagtes, die opgaaf van herinneringe – meestal val dit alles soos manna uit die hemel op die digter se papier neer.
Enkele elders gepubliseerde maar tot dusver ongebundelde gedigte word ook in hierdie bundel opgeneem.
Aangesien daar erotiese verse in hierdie bundel voorkom, is dit nodig om daarop te let dat daar ’n groot verskil is tussen ’n erotiese gedig en ’n pornografiese vers – ’n verskil wat party digters nie skyn te eerbiedig nie.
Pornografiese skrywe is onvergeeflik wat ernstige poësie betref.
Ook: te veel mense meen poësie is ’n saak van rym op rym. Maar dis nie so nie. Ryme sal soms hul opwagting maak, en soms glad nie. Daar’s natuurlik ook verskillende soorte rym. In my geval lê die ryme soms vlak naas mekaar; meestal egter is hul versprei deur die teks en moet lesers en hoorders hul oë en ore oophou vir die musiek wat die verse deurtrek. Hoe ook, poësie bly ’n werklikheid van die ontlading van emosie by wyse van die sinvolle, innige gebruik van taal wat betowerend werk, soms selfs net die stel van groot gedagtes en die skep van ontroerende beelde, en inderdaad sommer net die vestiging van die leser of hoorder se aandag op ’n ander digter se wonderlike woorde. ’n Mens kan miskien daarop let dat daar aan goeie poësie altyd iets surrealisties en geheimenisvol is.
Goeie gebede ook, nes psalms, kan mooi poësie wees, bygesê hierdie moontlikheid word deur die meeste predikante verfoes. Daar’s ook die beoordelaars wat meen dat ’n goeie vers “ontroerend” moet wees. Maar wát beteken “ontroerend”? Wat vir die een dít is, is nie noodwendig vir die ander so nie. Poësie strek wyer as ontroering.
Dan ook: ’n Digter het die voorreg, die prerogatief, om sy eie woorde, punktuasie, en veral beelde te skep. Daar’s egter één voorbehoud: dié skepping moet sy werk meer toeganklik vir sy lesers maak, en indien dit voorgelees word, vir sy hoorders. Ek is egter bewus van digters, groot name ook, wie se werk al minder toeganklik raak soos hulle hierdie voorreg beoefen, al meer obskuur.
Ten slotte: Ek verwonder my aan die “taalkenners”, hoe hulle alles in verseëlde houertjies wil pak: waar en wanneer daar gekoppelteken moet word, hoofletters moet wees, bokas-onderkas geskryf moet word en dies meer. Taalgebruik, en natuurlik die poësie, buig net nie voor hierdie simplistiese taalbeskouing nie.
Groot Liefdesgebed
(Vir Rosalie van Adam: 12 Oktober 2012)
Jare gelede, liefling
het ek ’n Groot Krismisgebed geskryf.
Nou skryf ek hierdie Groot Liefdesgebed.
Vir jou.
Ek laat jou dit kry
met blomme.
Ook met hartseer.
Die digter Bashoe
was reg: blomme hoort héél te bly,
nie gepluk en gebreek te word nie.
Maar ons leef in ’n gebroke wêreld,
hoe ánders dan?
Aanvaar maar hierdie gedig,
só gebroke.
Wanneer mens bid
sê jy “God”
– nie omdat jy wéét So-iets bestaan
tasbaar nie, maar dié woord
skyn die enigste te wees wat emosie
kan bestuur. Nou, liefling, God gee
dat ons nog lank, langer as die
drie-en-veertig jaar van nou,
sáám sal wees, hoewel ons, soos
die draaikewers van Dirk Opperman,
die tyd om ons verby voel gaan – ja,
“vinnig gaan om jou en my, die tyd
verby, die tyd verby”.
Want ek moet eersdaags sterf,
my liefling. Die Bybel – ondanks alles
’n wyse Boek – praat van sewentig jaar
as ’n perk vir die leeftyd van ’n mens,
ietwat langer indien jy “sterk” is.
Ek is reeds vyf-en-sewentig.
Moet ek daaroor spog of pruil?
Wanneer ek gaan, sal ek met my gewone
stilte gaan, net miskien, tussen ons, die
mooi klank van ’n klokkespel, en sang
van engele, ’n mooi chanson, soos ek reis.
Ek het jare gelede in ’n mindere verband
gesê dat as daar nou swart en bruin
en wit is, die grootste hiervan vir my
die liefde bly. Laat my nou ook sê dat as berou
en trane swaar in my rus oor enige pyn
wat ek jou besorg het, die uitkoms
hiervan vir my tog, wonderlik, jou liefde is.
’n Soort chemiese proses
Die skryf van poësie tref my soms
as ’n soort chemiese proses.
Jy sit ’n woord, ’n frase, ’n reël neer
op papier, en dis ’n klein kern, ’n pit,
wat dan fomenteer, bruis en skuim
met die taal rondom, totdat daar –
dit verstom jou – ’n gedig vorm
en jou papier versier.
In die diep nag
In die diep nag wanneer die wêreld rondom slaap,
word ’n digter soms wakker, oorval deur woorde,
opgeraap tot die hemel van sy taal. Ánder hoor
dit nie, maar dan sing vir hom ’n nagtegaal
en aanskou hy, met verwonderde gelaat, prag en praal
soos van ’n Taj Mahal. Krag vaar sy skryfhand in,
sy hele wese ’n ervaring van kleure en klanke
in hul vele nuanses. Poorte van die lug gaan oop,
hy sien gesigte, is ’n slaapwandelaar en, verstom,
in die oggend, sien hy die woorde wat gekom het
– van wáár? – op die papier neffens sy bed.