Waar is die kleure heen?. Louisa du Toit

Читать онлайн книгу.

Waar is die kleure heen? - Louisa du Toit


Скачать книгу

      Meyer bars uit van die lag. “Waar’s die brood?” wil hy weet. “Hou jy vir ons ook een?”

      “Ja, jy kan die korsie kry voor jy ry.”

      Meyer loop deur die breë gang. Ou huis, tipies dorps. Dik mure, ’n feit wat duidelik blyk as mens na die houtkosyne kyk. Hoë plafonne. Vrekkoud nou in die winter; g’n wonder hy bly verkoue nie. Kos hulle ’n fortuin aan vuurmaakgoed om te oorleef. En daar sal ook weer geverf moet word, dis voor sy pa se dood laas gedoen. Toe het hy dit saam met sy twee seuns gedoen.

      Sedertdien is altwee Piete dood, pa en seun. Sy pa, daarvan is Meyer oortuig, het gesterf vanweë die mees algemene kwaal onder mans: getroude lewe. Met die jonger Piet was dit egter ’n ander storie. Meyer voel hoedat sy greep op die varsgebakte brood hard word. Hy kneus die kors soos hy die mes daarteen druk. Broer Piet, dink hy skamper, is dood in sy poging om meer uit die lewe te probeer druk as wat, menslik gesproke, daarin kon wees.

      Piet het verongeluk, skaars ’n halwe kilometer van sy huis af, in die omringende veld waar die eerste dorpshuise begin. Hy het te vinnig gery, te veel ingehad … en hy was nie alleen in die motor nie. ’n Ander vroumens, die een wat nou in die apteek in die hoofstraat werk, was by hom. Dit was Laura se verdiende loon, roep die een helfte van Meyer se gemoed sedertdien uit. Maar die ander helfte voel bar en doods, ’n wintervlakte.

      Minah kom ook die kombuis binne. Haar spieëlbeeld het haar kortstondig opgeskerp vir haar eie voorkoms. Sy is besig om los hare terug te druk, maar dis ook sover as wat dit kom. Sy draai die tweede brood in ’n doek toe. Die doek self ruik na ou brood, wat bewys dat dit lank laas gewas is. Hy hoop Mie het haar hande gewas voordat sy geknie het. Broodbak val onder haar min huishoudelike deugde. Sy het skynbaar een aktiwiteit uitgekies waarin ’n mitiese deug­saamheid vir haar opgesluit lê, en die beoefen sy. Dit moet dan seker vergoed vir baie ander tekortkominge. Die kombuis is nie netjies nie, maar het tog ’n soort ordelose geselligheid. Geruite, platgesitte stoelkussings op die wakis, die bekende houtkas vol stronke langs die swart stoof. Minah het ’n elektriese stoof, maar dis ’n wit olifant. Sy ontsien die moeite om dit te leer ken.

      “Sê vir Laura ek stuur dit,” beveel Minah.

      “Dit spreek tog vanself.”

      “Ja, maar sê dit nietemin. Jy is kapabel en smyt dit sonder ’n woord by haar deur in. Dis tog darem iets om te sê,” besluit Minah prakties. Wanneer sy prakties probeer wees, is dit net so kragteloos as wanneer sy vies probeer wees.

      Sy loop saam met hom tot by die voordeur. Dis vreemd. Sy is nie die saamstapsoort nie. Een van die redes, seker, waarom sy so min vriendinne het. Sy lyk altyd haastig dat ’n besoek moet eindig, lyk grondig in die knyp met los geselsies en aanvaarde standpuntjies. Daarom kom sy so hopeloos oor die weg met haar skoonseun Freek, wat allerweë geag word vanweë die uitsonderlike en breedsprakige wysheid wat hy voorgee.

      Meyer het al gewens Freek moet op ’n manier net stilweg verdwyn. Maar, dis waar, dan bly ’n mens sit met Susara en die twee kinders, en dis nog erger. Die ergste ding wat Freek ooit kon oorkom, was om ’n belangrike persoon hier op Sederburg te word. Hy het ’n status wat hy moet handhaaf, ’n beeld waaraan hy steeds moet dink, en persoonlik vind Meyer dit ’n ondraaglike toedrag van sake. Hy kan in sekere dinge dalk na sy oorlede pa aard, maar in ander is hy deur en deur Minah se kind.

      Soos sy, verag hy enige vorm van gekunsteldheid, van bestudeerdheid. Terwyl Meyer die hoë stoeptrappe afklim op pad na die garage, ontwikkel hy ’n splinternuwe vrees: sê nou Freek besluit om saam rugby toe te gaan vanmiddag? Sederburg teen ’n besoekende studentespan … Freek sal hom mos daaroor moet kan uitspreek, Maandag in die skool se personeelkamer. Gelukkig, daar is darem nog sowat ’n halfuur speling.

      Om Freek en Susara se huis te bereik, moet Meyer dwarsdeur die middedorp ry. Freek het, heel gepas, in die nuwe uitsoekbuurt laat bou; ’n pralerige huis, sonder smaak ingerig. Op skuld, natuurlik. Maar dis seker ook nie die ergste nie. Die meeste mense steun maar op boulenings. Een probleem wat ek darem nie het nie, besluit Meyer lakonies. Sal seker maar lewenslank by Mie bly. Hy voel nie lus om te trou, nie na wat tussen hom en Laura gebeur het nie. Nog een so ’n knou, en dis klaar met ’n ou. ’n Mens, selfs ’n mansmens, wat dikwels as ’n beestelike spesie bestempel word, kan nie maar net aanhou met seerkry sonder om onder te gaan nie.

      Goed en wel, hy het soos die digterlike doringboompie weer regop gekom, maar ook die litteken sal bly. Hy het vir hom ’n aanvaarbare substituut geskep vir die lewe wat hy aanvanklik beoog en begeer het: ’n lewe van liefde saam met Laura, die eerste en enigste liefde in sy lewe. ’n Liefde wat in sy gesig teruggegooi is. Toe Piet destyds vir Laura afgevry het (dit was vrywel nie die ergste nie, maar dat sy dit toegelaat het!) was hy teen die grond geslaan. Die jonger Piet, losbol … kan ’n vrou ooit so blind wees?

      Ure, dae, maande van vertwyfeling. Die dood kon nie erger wees nie. As Laura, of hy self, liewer dood was, het hy inderdaad dikwels in daardie tyd gedink. Ag, hy was ’n wrak. Het nagte deur wakker gelê, hele nagte. Dis ’n ontsettende ondervinding om ’n hele nag wakker te lê. Dit was asof selfs Mie hom vermy het, asof sy bang was om by sulke dieptes betrokke te raak. Sy was nooit een vir aansprake nie. Daarvoor het sy kleinsielige pa beter geaard, het hy bitter besluit.

      Uiteindelik het hy vir hom ’n veilige paadjie uitgetrap; sonder opwinding, weliswaar, maar ook sonder blootstelling. Hy bly by Mie in die huis, doen in die week sy rekenmeesterswerk, dra geldelik by tot wat Mie die “saak” noem, die sukkelende stoffeerwinkel wat hy en Piet destyds gesamentlik met hulle spaargeld begin het.

      Verder tree hy op as ’n soort voog vir Freek en Susara se kinders, aangesien hulle eie ouers te besig is om opgang te maak. Mens kan nie verwag dat hulle nog ore moet hê vir hulle kinders se behoeftes nie.

      Iewers in Meyer se gewete krap dit omdat hy geen aandag aan Laura se driejarige seuntjie bestee nie. Hy het in die verlede reeds ’n keer of wat probeer om die kind aan te raak, vriendelik aan te spreek. Maar dis ’n eienaardige kind, skraal, beeldskoon, swyend, broeiend. Hy draai sy gesig weg wanneer Meyer met hom praat. Mens kry by hom die eienaardige gevoel dat hy geen kind is nie, maar ’n stokou wyse. Miskien het hy veel van Laura, miskien aard hy na sy ouma Mie. Van Piet het hy in voorkoms egter niks, waaroor Meyer ’n soort dwingende leedvermaak voel asof dit Piet nou nog sou kon deer dat sy kind by Laura nie na hom lyk nie.

      Die kleinerige huis wat deur Laura bewoon word, is net langs die stoffeerwinkel. Die winkel lyk van buite ordentlik genoeg, soos die meeste sakegeboue op Sederburg. Meyer haat dit egter om die plek van binne te sien, en hy wonder hoe Laura dit so kan aanhang. Sy is eintlik iemand vir skoonheid, mooi klere. Hy hoor dat sy meegewerk het aan ’n klerevertoning in die hoteltuin onlangs. ’n Mannekyn, bid jou aan, sy ontpop nou as ’n mannekyn. Maar haar lewe slyt sy in die muwwe kantoortjie tussen monsters van materiaal en geraamtemeubels met uitstaande vere soos doodsbeendere. Hy hou nie daarvan nie. Hy hou van sy werk tussen ordelike syfers. Kolomme en tabelle. Kontroleerbaar. Hy wil nie ou bekleedsels, waarop babatjies met suur en slap tieners met koeldrank gemors het, vervang nie.

      Dat Laura dit nog doen, is vir hom tekenend van ’n soort hardkoppigheid, ’n weiering om te erken dat sy ’n gemors van alles help maak het. Sy wil bewys dat die ou weë nog gangbaar, bewandelbaar is. Sy wil die oë sluit vir die blinde doodloopstraat waarin sy haar en andere laat beland het. Of wil sy nie? Hy weet nie. Weet nie wat sy dink, hoe sy leef nie. Wat hy van haar geweet het, het hy met inspanning vergeet en hy probeer nooit meer daaraan dink nie. Soms, egter, oorval dit hom onverwags en pynlik.

      Dis ’n yl wintersmiddag, met ’n snydende windjie deur die blaarlose, straatkantse bome. Daar is ’n skril noot in die gefluit van die wind deur die motor se venster skreef. Hy moet na die ding laat kyk, die ruit draai nie heel tot bo op nie. Verdeksels, dink Meyer in blinde opstand onderwyl hy buite Laura se hekkie uitklim en die motor se deur agter hom toeklap. Mie met haar brood … Nou moet Laura nog voel dat sy gepamperlang word, dat haar dade van die verlede goedgekeur word. Dis duidelik dat Mie by Laura beter aanklank vind as by haar eie dogter. Geen wonder Susara is so giftig op Laura nie. Maar Susara, aan die ander kant, is sekerlik geen maklike dogter om te hê nie.

      Ek self sou haar nie graag as


Скачать книгу