Waar is die kleure heen?. Louisa du Toit

Читать онлайн книгу.

Waar is die kleure heen? - Louisa du Toit


Скачать книгу
werk. Voorlopig, in elk geval.”

      Hy is humeurig, soos dikwels die afgelope tyd. “Nou vir wat moes jy gaan staan en stories aandra?” trap hy die handlanger, ’n broerskind van hom, uit.

      In die klein kantoor gee Laura pynpille aan Josef en probeer verstandig met hom gesels. “Dis nie dat jy oorbodig sal word nie, Josef. Die winkel sal jou steeds nodig hê. Maar is dit nie verstandig dat jy liewer iemand vir die werk help oplei nie? Dan hoef jy nie self so hard te werk nie. Jy kan net bystaan en raadgee. Waarom lei jy nie vir Petrus op nie?”

      “Dan is ek binne ’n week dood,” kreun Josef. “Hy het mos hoeka pap in sy hande.”

      Laura sug. “Nou hoe dan? Jy weet my swaer stel nie belang in die saak nie. Dis nie winsgewend genoeg nie. En dis nie my of jou skuld nie, Josef. Ons kan wonderlik uitbrei. Maar dan moet ons vir ander ook staanplek gun. Ons kan geheel en al ’n meubelwinkel van hierdie plek maak. Ons kan matte verkoop en lê. Ons kan ’n oudhede-afdeling hê. Maar nie ek en jy alleen nie. Ons wins verlede maand was hopeloos te min. Ek moet meneer Meyer gelyk gee: dit regverdig nie die moeite om die plek oop te hou nie. Dit was ’n ander saak toe meneer Piet nog hier was. Op ’n manier het hy gehou van die werk, soos ek en jy daarvan hou.”

      Josef sug nou ook. As hy sy kop in sy hande druk, sien Laura dat die hare met die fynkrul grys begin word. Hartseer stoot in haar op. Sy voel nog baie week en kwesbaar na Saterdag, toe sy Piet se sterfdatum herdenk het.

      “Goed, juffrou. Ek sal iemand leer. Maar asseblief net nie vir Petrus nie. Kry vir my ’n sterk man wat weet hoe om die lap oor die frame te trek, ’n Man met ’n geestelike oog, soos ek, wat met toe oë kan gaan sit en die stoel vooruit kan sien soos wat hy moet lyk wanneer hy klaar is.”

      “Ek sal iemand kry,” belowe Laura blindweg. Maar wie tog? Sy kan adverteer en iemand kry wat vakleerlingskap vir hierdie soort werk ondergaan het, maar so iemand wil gewoonlik nie op Sederburg of ’n dergelike plek sit nie.

      “Alle goeie dinge kom langsamerhand,” vervolg sy, maar haar woorde klink in haar eie ore soos ’n vloekskoot tussen ’n swerm wildeganse in. Hoe lank wag sy self al op die terugkeer van die goeie dinge?

      Klein Pieter word wakker waar hy in die hoek op sy matrassie gelê en slaap het. Hy is ’n kind wat saans tot laat wakker is, en soggens is hy dan vroeg pootuit. Dis iets wat Minah nie kan begryp nie … ’n kind wat tot laat in die huis rondloop. “Myne moes altyd vroeg bed toe,” sê sy dan, sodat Laura haar laglus moet onderdruk. Sal sy ooit vergeet met hoeveel vuur Meyer en Piet haar eenkeer vertel het van hulle vroeg-bed-toe ganery. “Ek het eers gedink dis ’n sin vir roetine, nou besef ek dit was ’n manier om ons onder haar voete uit te kry,” het Meyer vertel.

      “Ja,” het Piet laggend aangevul, “soos die baddery. Ek het gedink sy het ’n reinheidsmanie, want as sy mens sien, het sy eerste gevra: ‘Het julle al gaan bad?’ Ook ’n manier om ons onder haar voete uit te kry, sien.”

      Die geleenthede wat die twee broers so saam met haar geskerts het, was bitter, bitter weinig. Alte gou was die breuk daar, die vertroebeling, verbittering, wat tot op hede voortduur. As sy tog een keer uit haar hart met Meyer kon praat, hom vra om die strydbyl te begrawe. Maar so iets sal seker nooit gebeur nie. Hy het haar die afgelope jare nooit deur woord of daad aangemoedig om openlik met hom te praat nie. Sy kry die indruk dat hy haar tot elke prys sou wou vermy, dat dit vir hom ’n kruis is om te weet sy woon nog op dieselfde dorp, en dat familiebande hulle teen wil en dank bind.

      “Het ek gou geslaap?” vra Pietertjie, wat skynbaar steeds bang is dat hy iets kan misloop deur die ongewenste, onvermydelike slaapproses. Dit benou soms vir Laura. Die kind lyk na haar. Maar daar is in sy rustelose geaardheid tog veel van Piet. Hoe verknog sy ook aan die driejarige is, net so ver voel sy haar soms van hom verwyder in belewenis. Dis asof hulle ligjare uit mekaar lewe, selfs wanneer hy sy armpies om haar nek sit en haar druk.

      Hierdie winkel bied geen uitdagings aan hom nie. Hy is nie die gewone soort seuntjie wat hou van donker hoekies en ’n deurmekaar geweste nie. Hy stel belang in stralers, supersoniese dinge. Sy wou hom al in die kleuterskool sit, maar kry die eienaardige idee dat dit vir hom ’n belediging sal wees om tussen kunsfeetjies en -kabouters te beweeg, met klei te speel en prentjies in te kleur.

      “Jy het baie gou geslaap,” verseker Laura hom, en kry dan ’n dankbare ingewing: dis mos nog skoolvakansie, dalk kan sy vir John Walters vra om Pieter vir die dag te kom haal. Sy bel dadelik, tog dankbaar vir die familiebande met Freek en Susara. Susara is wel ’n nydige soort mens, maar sy hou van die kleintjie en Freek, veral, verneem gereeld hoe dit gaan en of hy met iets kan help. Dis meer as wat sy van Meyer kan sê. Sy kry die indruk dat hy, indien hy haar in die straat sien lê, bo-oor haar sal tree en die moeite dan nog ’n jammerte sal vind.

      Noudat Pietertjie saam met John weg is, draal die Maandag onmeetlik langsaam verby. Laura verkies haar lewe deur nog ’n vinnige pas. Ledigheid akkordeer nie met haar nie. Sy verbaas haar oor Meyer en Minah, wat so swyg­saam kan sit en staar. So was Piet ook nie. Sy en Piet was in daardie opsig eenders; te eenders. Beweeglik. Dis net dat hulle beweeglikheid in verskillende kanale gelei is: hare in werksaamheid, syne in plesierjag, uithuisigheid, geldsug. Soos sy later moes uitvind. Hulle huwelik het op ’n manier standgehou, maar daar was nooit werklik eenheid nie. Soos altyd, hok sy die knellende gedagtes af. Sy wil nie ontaard in ’n tobber nie. Tobberige mense is ’n kruis vir die om hulle heen. Hulle is dinkers, nie denkers nie.

      ’n Paar minute voor toemaaktyd ry sy om vir Pieter by die Walterse te gaan haal. Eers nadat sy hom gebad en ete voorberei het, onthou sy om te gaan kyk of die winkel toegesluit is. Inbraak sal ’n ramp wees. Die materiaal is duur, en onvervangbare antieke stukke staan rond om oorgetrek te word.

      Sy maak seker dat die kind tevrede met sy bordjie kos voor die televisie sit en verseker hom dat sy binnekort terug sal wees. Yl, kil skemer het oor Sederburg neergesak. Die lewe het binnenshuis gekeer, want buite sny daar ’n ysige windjie deur die verlate strate. Iewers op die berge moes kapok geval het. Vanaand oor die weervoorspelling sal mens wel daarvan hoor.

      Laura ys toe sy vind dat die winkel inderdaad nie gesluit is nie. Josef se toestand is erger as wat ’n mens besef. Stellig verduur hy genoeg pyn om hom gedagteloos te maak, al wil hy dit nie erken nie. Oomblikke lank staan sy in die verlate, deurmekaar lokaal. As sy haar sin kan kry, word die binnemure uitgebreek sodat die groot pakkamers deel van die lokaal kan uitmaak. Daar kan dan ’n aparte verkoops- en werksafdeling ingerig word, afgeskort van mekaar. Haar gedagtes neem die vrye loop. Dis of sy beter kan dink en visualiseer noudat sy alleen is. Soos Josef sê, kan sy met haar geestesoog sodanige verbeteringe vooruitsien.

      Sy steek haar hand uit na die skakelaar teen die muur. In die enkele sekondes voordat die rommelrige lokaal deur lig oorspoel sal word, verstrak sy meteens. Sy voel staalharde spanning deur elke vesel van haar lyf skiet. Sy het … sy het ’n geluid gehoor, so effens dat dit meer intuïtief as sintuiglik was. Iets soos die kraak van ’n rusbankveer. Ten spyte van die spanning van spier, is daar in haar ingewande ’n onbeheerbare trilling.

      Sy het nog altyd gewonder hoe sy in ’n dergelike situasie sal optree. Nou weet sy dat sy onvermydelik in so ’n situasie is, en sy is panies bang dat die ander persoon haar warm, hortende asemhaling sal hoor. Want sy is doodseker dat daar iemand by haar in die winkel is. In die oomblik van skrik flits een gesig voor haar verby: Meyer. Sal hy omgee as sy iets oorkom? Sal hy weet hoe sy gevoel het … dat hy sterk in haar verskrikte gemoed geleef het?

      Sal hy dan opnuut, en inniger, treur oor wat daar tussen hulle verlore gegaan het, stukkend geval het, vyf jaar gelede?

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно


Скачать книгу