Die Afrikaners. Hermann Giliomee

Читать онлайн книгу.

Die Afrikaners - Hermann Giliomee


Скачать книгу
leeglopery: “I deny that there was a general feeling against the freedom of the Hottentots … The clamour was about their depredations, which acquired in the eyes of the ignorant (and not unnaturally) the appearance of being warranted by the enactment.”

      Die burgers se kritiek was dus gemik op die toepassing en nie die beginsel van die ordonnansie nie. Die groot afstand wat baie base van die naaste dorp gewoon het, het dit moeilik gemaak om bediendes wat oortree of vermeende veediewe na die hof te bring. Met Philip aan die spits het die filantropiese drukgroep daarin geslaag om die aanname van ’n wet teen leeglopery te fnuik en sodoende die Khoisans te beskerm. Maar ander mense wou ook beskerm word. Die koloniste het beskerming verlang teen diewe wat hul vee steel. In 1829 het die regters van die hooggeregshof daarop gewys dat die polisie nie in staat is om misdade deur sommige rondlopers te beveg nie.

      Philip het erken dat daar wanpraktyke uit ordonnansie 50 voortspruit en by een geleentheid het hy “meer tronke, magistrate en konstabels” gevra. Diefstalle het inderdaad in die dekade ná die uitvaardiging van die ordonnansie aansienlik toegeneem.

      Alhoewel Stockenstrom ’n leegloperswet voorgestaan het, het hy geen geduld gehad met boere wat so ’n wet wou hê slegs met die doel om die Khoi-Khois in ’n staat van onderwerping te hou en hulle vir baie lae lone te laat werk nie. Hy het gemeen daar is burgers wat nie hul werkers die soort werksomstandighede wil bied wat hul lojaliteit sou verseker nie. Baie boere het nog steeds baie lae lone betaal, soms net drie tot twaalf bokke en vier sjielings en ses pennies tot agtien sjielings vir ’n jaar se werk.

      Stockenstrom het opgemerk: “I have never believed that civilization consisted in one man being forced to serve another who had deprived him of his country, his game, his all, under a severe lash for four shillings and sixpence per annum.”

      Aan N.T. van der Walt, ’n boer in Colesberg wat hy goed geken het, het hy geskryf as ordentlike lone betaal word, sou daar geen rede wees om werkers te verplig om op die plase te bly nie. Die ou orde van beperkings op die Khoisans is finaal beëindig: “Let me tell you this, my dear friend, we shall never again see the day when under British rule different degrees of rights and privileges will exist for different classes of His Majesty’s subjects.”

      Stockenstrom se idee van oorlewing vir die burgers was heeltemal anders as dié van party boere. Om die regeringsmag op eensydige en verdrukkende wyse te gebruik om die koloniste te bevoordeel is onnodig vir hul sekuriteit, het hy geoordeel. Dit is kontraproduktief, want so iets sal slegs die swartes se haat uitlok en hulle sal die eerste die beste geleentheid soek om hulle op die koloniste te wreek.

      “Net soveel ’n vrye burger as jy”: die uitwerking van ordonnansie 50

      Die Khoisans het ordonnansie 50 as ’n bevryding beskou. In 1834 het ’n Khoi-Khoi, Platje Jonker, op roerende wyse laat blyk wat die ordonnansie vir sy mense beteken: “Every nation has its screen; the white man has a screen, the colour of their skin is their screen, the 50th ordinance is our screen.”

      Ordonnansie 50 staan ook in die geskiedskrywing bekend as ’n keerpunt wat die beginsel van nierassige gelykheid gevestig het. Op voetsoolvlak was die werklikheid baie anders. Die meeste Khoi-Khois het bediendes gebly of in groot armoede in ’n krot buite ’n dorp of op ’n sendingstasie gaan woon.

      Danksy die druk en ywer van Stockenstrom het die Katriviernedersetting in 1829 in die sogenaamde verowerde gebied aan die oosgrens tot stand gekom. Hier kon Khoi-Khois op klein skaal boer. Die beweegrede was egter nie maatskaplike transformasie nie, maar om die verdediging van die grens deur digte besetting te verbeter.

      Teen 1833 het 2 114 Khoisanmense en Basters al hier ingetrek. Hulle het elkeen vier tot vyf acres en regte op ’n gemeenskaplike weiveld ontvang. Hulle het slote vir besproeiing gegrawe en in die tweede jaar was daar ’n redelike haweroes. ’n Trotse inwoner, Andries Stoffels, het gesê: “The 50th Ordinance came out, then did we first taste freedom that other men eat so sweet and now that it is mingled with Water & Ground it is 20 times sweeter than forced labour.”

      Die Khoisans het nie baie voordeel getrek uit die nuwe wetlike raamwerk nie. Baie bepalings van ordonnansie 50 kon nie in werking gestel word nie omdat mense so ver van die dorpe gewoon het. Mondelinge kontrakte tussen boere en werkers was steeds aan die orde van die dag. Die Britse regters wat nou op die regbank was, het min substansie aan die beginsel van gelykheid voor die wet gegee. Dit is ’n illusie dat ordonnansie 50 aansienlike vordering vir die Khoi-Khois beteken het. Die wanindruk het by die regering posgevat dat die Khoi-Khois se probleme nou alles opgelos was.

      Daar het ook gou nuwe wetgewing gekom wat allerlei beperkings aan werkers opgelê het. Dit was daarop toegespits om die werkersklas te beheer eerder as om alternatiewe moontlikhede vir plaaswerk te skep. ’n Ordonnansie wat in 1841 uitgevaardig is, het al die verskille uitgewis wat vroeër die Khoisans vryer as die slawe gemaak het. Die Kaapse samelewing het gepolariseer geraak tussen blankes aan die een kant en aan die ander kant ’n groot groep mense wat arm en hoofsaaklik bruin of swart was, en wat min anders kon doen as om vir blankes te werk.

      Die blankes het ’n hegter gemeenskap begin vorm. Hoewel ’n groot aantal nog steeds arm was en aan die rand van die gemeenskap as huurders of knegte gebly het, was daar ’n toenemende neiging onder plattelandse blankes om hulle self as ’n gemeenskap te beskou waarin hul ras-identiteit meer getel het as die klasseverdelinge in hul geledere. Die staat het in sy verskaffing van onderwys toenemend onderskei op grond van ’n kombinasie van kleur en klas. Lord Charles Somerset het vrye openbare skole ingestel om wat hy genoem het “die burgers van die kolonie” te leer lees, skryf, somme maak en Engels praat. ’n Amptenaar van die Departement van Onderwys het verduidelik dat die term “burgers” mense van Europese afkoms beteken.

      Daarteenoor het gekleurde kinders en ook arm wit kinders gesukkel om toegang tot die regeringskole te kry. Die sendingskole, wat geen kleurskeidslyn getrek het nie, het al hoe meer die arm kinders van al die gemeenskappe ingeneem. Teen die einde van die eeu was ’n derde van die wit kinders wat in die Kaapkolonie op skool was in sendingskole.

      Die sendelinge het hul volgelinge geleer om hulle as “respektabele en gerekende mense” te gedra, en ná die uitvaardiging van ordonnansie 50 het Khoisans wat aan dié standaarde voldoen het, verwag om met dieselfde ontsag as die blankes behandel te word. Stockenstrom het gesê: “Die Hottentotte is nou gebore burgers en geregtig om grond te besit en staan op ’n natuurlike wyse nou op dieselfde vlak as die burgers.”

      Die koloniste het egter nog die ou terminologie gebruik. Ene J. de Villiers het vertel dat hy aan ’n klomp mense gevra het wie se Hottentotte hulle is. Die antwoord was kortaf: “Dit traak jou nie; ons is net soveel vrye burgers as jy.”

      Maar burgerstatus, hoewel slegs ’n informele status, het gepaard gegaan met die nakom van burgerpligte, veral kommandodiens en die betaal van belasting. As gevolg van ’n gebrek aan grond het baie Khoi-Khois bly rondswerf. Hulle het nie kommandodiens gedoen of belasting betaal nie. In 1834 het ’n amptenaar van Graaff-Reinet gerapporteer dat slegs een uit 500 Khoi-Khois kommandodiens doen. Wanneer belasting ingesamel is, het party Khoi-Khois dit ontduik deur na ’n ander distrik te trek. ’n Boer naby die Katriviernedersetting het geringskattend gepraat van die sogenaamde “rondswerwende vrygekleurdes”, en van die sogenaamde “geel en swart vryburgers”. Mense ongeag kleur was nou koloniale onderdane, maar op die grondvlak is slegs Afrikaanse of Hollandse blankes as burgers beskou.

      Ordonnansie 50 het alle statusonderskeide afgeskaf, maar informeel was sowel die regering as die wit koloniste geneig om alle gekleurde mense saam te gooi as lede van ’n afsonderlike groep en na hulle as die “gekleurde bevolking” te verwys. De Zuid-Afrikaan het na ingeboekte slawe en Khoi-Khois as “gekleurden” verwys en regeringsamptenare het dieselfde gedoen. Die term kleurlinge of Kaapse kleurlinge is ook soms gebruik. Daar was ’n groeiende neiging om kleur met armoede te vereenselwig. TheSouth African Commercial Advertiser het ’n frase gebruik soos “the poor or coloured population”. Slegs ’n aansienlike groep van vrye gekleurde mense met eiendom sou die korrelasie tussen ras, kleur, status en klas kon verbreek, en daarmee die toenemende polarisasie tussen wit mense en gekleurde mense. Daar was egter nie so ’n groep nie.

      Die vrystelling van die slawe

      Selfs


Скачать книгу