Die Afrikaners. Hermann Giliomee
Читать онлайн книгу.op die plase begin. Baie burgers was sonder ammunisie en het geen ander opsie gehad as om voor die voet te vlug nie. Die invallers het plase geplunder en vee weggevoer. Boere in feitlik die hele suidoostelike deel van die kolonie het hul plase ontruim. Generaal Francis Dundas, waarnemende goewerneur, het inderhaas saam met oudlanddros Maynier na die grens gegaan en gewaarsku dat burgers wat nie na hulle plase terugkeer nie alles sou verloor. Maynier is aangestel as resident-kommissaris in Graaff-Reinet met ’n klein troepemag van 22 Britse soldate, 19 Khoi-Khoi-troepe en 80 ander gewapende Khoi-Khois; die mag het ook vier kanonne tot sy beskikking gehad. Dit was onverstandig om Maynier aan te stel, want die toestand was hoogs plofbaar en baie boere het hom nie vertrou nie. Die troepemag was nie voldoende om voornemende rebelle af te skrik nie, maar genoeg om aanleiding te gee tot gerugte dat Maynier bose planne teen hulle beraam.
Hierdie mag het agterdog by die burgers gewek, maar ’n tyd lank het die vrede gehou. Maynier het dit reggekry om die meeste Khoi-Khois wat saam met die Xhosas geveg het, oor te haal om na die plase terug te keer. Hy het beloof dat hy sou toesien dat werkskontrakte gesluit word wat hulle beter teen slegte base sou beskerm. Hy het onmiddellik opgetree wanneer hy gehoor het dat ’n werker mishandel is. Om die boere se vrese te besweer, het hy patrollies van jong burgers, later aangevul deur gewapende Khoi-Khois, uitgestuur om die spoor van gesteelde vee te volg. Hy het egter geweier om ’n groot kommando uit te roep om die Xhosas oor die Visrivier te druk en gesteelde vee teug te vat.
Die verbreking van die brose vrede het gevolg op die aankoms op Graaff-Reinet vroeg in 1801 van eerwaarde Johannes van der Kemp, ’n Hollandse sendeling wat deur die Londense Sendinggenootskap (LSG) uitgestuur is. Van der Kemp was ’n charismatiese mens, belese en vol ywer. Sy vader was ’n predikant en sy broer ’n professor in die teologie. Hy self het ’n doktorsgraad behaal en het onder meer in filosofie, teologie, medisyne en militêre strategie gestudeer. Die groot katarsis in sy lewe was ’n persoonlike tragedie: sy vrou en enigste kind het tydens ’n gesinsuitstappie voor sy oë verdrink.
Van der Kemp was ’n onverskrokke afskaffer – hy wou slawerny summier afskaf (Maynier het hom daarop gewys dat dit onprakties sou wees) en alle diskriminasie teen die inboorlinge beëindig. Hy het min geduld gehad met die gedagte dat hy met oorreding vooroordele moes afbreek en die boere vir die saak van die sending moes wen. Ds. M.C. Vos, ’n Kaapsgebore predikant, het die aanvanklike teenstand van die wit lidmate in die gemeente Roodezand (Tulbagh) teen die kerstening van slawe só oorkom. Toe ds. Vos Graaff-Reinet in 1801 in opdrag van die goewerneur besoek, het hy ’n totaal ander prentjie as dié van Van der Kemp geskilder. Hy skryf van mense wat deur “moordsugtige heidene” van hul plase verdryf is, van hul vee en goed beroof is, van vroue en kinders wat nou in die veld moet woon terwyl hul mans op kommando is en van mense wat byna van “armoede en ongemak” vergaan. Hy skryf dat hy met “die grote Van der Kemp in sommige opsigte” nie eens kan word nie.
Op Graaff-Reinet het Van der Kemp by James Read, ’n ander LSG-sendeling, aangesluit. Ongeveer duisend Khoi-Khois het nou na die dorpie Graaff-Reinet gestroom en daar by die twee sendelinge skuiling gesoek teen base wat wou wraak neem. Van der Kemp het onmiddellik ’n geesgenoot gevind in Maynier, wat hy in ’n Engelse brief as “this gentle man” beskryf het. Maynier het aan Van der Kemp en Read verlof gegee om die koloniste se kerk te gebruik vir godsdiensoefeninge vir hul volgelinge. Die Khoi-Khois het ook die dienste op Sondae begin bywoon in die kerk wat die boere help bou het.
Die burgers aan die grens was woedend. Sommige was ontstoke dat mense wat van diefstal en moord verdink word in die kerk aanbid. Ander was ontsteld oor die daad van gelykstelling op ’n tydstip toe daar geen predikant of onderwyser vir die burgers op Graaff-Reinet was nie. Van der Kemp het geskryf dat die burgers gegrief is omdat die Khoi-Khois “deur ons onderrig word in lees, skryf en in die godsdiens en sodoende op ’n gelyke voet met die Christene geplaas word”. Van der Kemp het nooit verwys na die chaos in die distrik wat gevolg het op die Van Jaarsveld-opstand en die ingryping van Vandeleur se troepemag nie. Die burgers het daarop aangedring dat die Khoi-Khois toegang tot die kerk geweier word en dat “die sitplekke gewas, die paadjie opgebreek en die preekstoel met ’n swart kleed bedek moet word as ’n roubetuiging”. Maar Van der Kemp het hom nie van stryk laat bring nie. Sy standpunt was dat die Khoi-Khois “volkome vry moet wees, op ’n gelyke voet in elke opsig met die koloniste en onder geen dwang moet wees om by hulle in diens te tree nie, en dat die regering aan hulle ’n eie stuk grond moet gee”.
Soms het Van der Kemp wel besef dat die verhouding so gepolariseer is dat politieke wysheid aan die dag gelê moet word. Hy het dit gedoen toe Klaas Stuurman, die vernaamste Khoi-Khoi-kaptein wat aan die rooftogte deelgeneem het, hom gevra het om onder sy mense te kom werk waar hulle in die bosse skuil. Van der Kemp het na hom as die “terror” van die land verwys en iemand wat meer moorde as enigiemand anders op die aarde gepleeg het. Hy het dus die versoek geweier. Terselfdertyd het hy egter gemeld dat die Khoi-Khois onder soveel ontbering en onreg gebuk gaan dat dit nie verbasend is dat hulle tot sulke uiterste dade gedryf word nie; die nood van die Khoi-Khois is dringender as die burgers se vrese.
Die grensboere was wel nie juis geletterd nie, maar hulle was nie mense wat jy sonder handskoen kon aanpak nie. F.R. Bresler, wat Maynier in 1795 as landdros opgevolg het en ook verjaag is, het na hulle verwys as “proud and overbearing men”. ’n Groot aantal boere in die suidoostelike wyke het die gerug geglo dat Maynier beplan om sy vyande met ’n koalisie van Xhosa- en Khoi-Khoi-vegters aan te val. Hulle het van hulle plase in die suidoostelike deel gevlug en in die noordoostelike deel van die distrik in laers saamgetrek. In Junie 1801 het ’n afvaardiging op Graaff-Reinet opgedaag en geëis dat toestemming gegee word om die Xhosas aan te val, dat arbeidsgeskille deur die veldkornette besleg word en dat die Khoi-Khois uit die kerk gehou moet word. Maynier het net op die laasgenoemde punt toegegee. Die rebelle het later geëis dat die Khoi-Khois aan hulle oorgelewer word, maar Maynier was vasbeslote om hulle tot sy laaste druppel bloed te verdedig, aldus Van der Kemp. In een stadium het die rebelle en die mense op die dorp op mekaar geskiet, maar die geveg was onbeslis en daarna het die rebelle die dorpie beleër.
Laat in 1801 het Britse troepe uit Kaapstad opgedaag en die beleg beëindig. Kort daarna het die regering aan Van der Kemp en Read opdrag gegee om Graaff-Reinet te verlaat en ’n sendingstasie by Bethelsdorp naby Algoabaai te vestig. Hier het die twee sendelinge openlik die noodsaak verkondig om die Khoi-Khois op alle vlakke op gelyke voet met die koloniste te plaas. Albei het met Khoi-Khoi-vroue getrou.
Te midde van groot onbestendigheid het die burgers ontsaglike verliese gely. Klein groepies Khoi-Khois en Xhosas het rondgeswerf, vee wat daar nog op die verlate plase was, weggevoer en opstalle afgebrand. Verskeie boerekommando’s het in 1802 uitgetrek, maar hulle het weens die gebrek aan dissipline en mannekrag nie veel uitgerig nie. Toe Tjaart van der Walt, die enigste effektiewe leier, sneuwel, het Khoi-Khois van die heuwels af geroep: “Kyk, daar lê jul mag. Op wie sal julle nou vertrou? Vlug maar met die vee. Ons sal dit gou weer afvat.” Die burgers het onder mekaar begin stry – “every one wishing to direct but no one to obey”, soos ’n Britse offisier dit raak uitgedruk het. Verskeie boere is op hul plaas deur stropers om die lewe gebring. Selfs in die Swartberg, die mees westelike wyk van Graaff-Reinet, het groepies Xhosas rondgeswerf en vee gebuit. Die vrou van veldkornet S. de Beer, wat op kommando weg was, het van die huis aan hom geskryf: “Ek rus geen enkele uur in die nag nie. Die vyand is op ons hakke.”
Teen 1802, aan die einde van die eerste Britse bewind, was 470 plase geplunder en verlaat – omtrent die helfte van al die plase wat in die distrikte Graaff-Reinet en Swellendam geregistreer was. Volgens een bron het die syfers, nadat twee derdes van die Graaff-Reinetse burgers hul verliese verklaar het, op die volgende te staan gekom: 858 perde, 4 475 osse, 35 474 beeste, 34 023 skape en 2 480 bokke. Dit was die mees traumatiese terugslag wat die burgers in amper 150 jaar beleef het.
“Om die vyand met skrik te vervul”
Die Bataafse Republiek (van Nederland), wat tussen 1803 en 1806 die kolonie bestuur het, het ook misnoeë uitgespreek oor die wyse waarop sommige grensburgers hul bediendes behandel. Maar die plase het arbeiders nodig gehad en net soos die Britte het die Bataafse bewind geen alternatief daarvoor gesien dat die Khoi-Khois na die plase terugkeer nie. Hulle het aan ’n paar kapteins grond gegee en dit het die Khoi-Khoi-verset laat disintegreer. Die regering het ook twee nuwe distrikte,