Die Afrikaners. Hermann Giliomee

Читать онлайн книгу.

Die Afrikaners - Hermann Giliomee


Скачать книгу
vee op te pas nie.

      Die vernaamste struikelblok was die invloedryke drukgroep van Britse offisiere, spekulante en setlaars wat Stockenstrom op elke punt probeer ondergrawe het en wat sy naam beswadder het. Daar was die bewering, wat ook deur Retief gemaak is, dat hy die koloniste se reputasie in Londen beswadder het. ’n Selfs meer bedenklike gerug is versprei dat hy in 1830 ’n Xhosa koelbloedig doodgeskiet het om sy vader se dood te wreek. Dit het sy gesag so ondermyn dat hy Duncan Campbell, die siviele kommissaris van Albanie, hieroor weens laster gedagvaar het.

      ’n Wrede lot het nou gewag op hierdie man wat sy hele loopbaan gerig het volgens die beginsels van reg en geregtigheid. Die hooggeregshof, met sommige van sy vyande as regters op die bank, het bevind dat daar nie genoeg getuienis teen Campbell is nie. Hoewel ’n daaropvolgende hofbeslissing Stockenstrom volkome gelyk gegee het, het hy hom nou in ’n onmoontlike situasie bevind. Sy ongewildheid het die nuwe goewerneur, sir George Napier, daartoe beweeg om sy ontslag aan te beveel. ’n Nuwe minister van kolonies het Stockenstrom in Augustus 1839 uit sy pos ontslaan.

      Hierdie ontwikkeling was ’n terugslag vir die Xhosa-kapteins wat Stockenstrom vertrou het en wat hul bes gedoen het om die stelsel te laat werk. Selfs Maqoma het vyf jaar ná Stockenstrom se ontslag opgemerk: “Ek sal vashou aan Stockenstrom se woorde tot ek sterf … As ons verplig word om die verdrae prys te gee, sal niks oorlog verhoed nie.” Sonder Stockenstrom en miskien selfs met hom het die stelsel nie ’n kans gehad om te werk nie.

      Veediefstal deur die Xhosas het nooit heeltemal opgehou nie. Selfs goewerneur Napier, wat hom self beskou het as ’n kampvegter vir swart regte, het moedeloos geraak. Hy het aan Londen geskryf dat hy eenvoudig moet ag slaan op die klagtes van die grensboere oor die voortdurende roof van hul kuddes en die moorde op hulle veewagters. J. Hare, ’n luitenant-goewerneur van die oostelike provinsie, was ten einde raad. In 1842 het hy aan die goewerneur geskryf dat hy moeg is van al die gepraat met die kapteins, wat by elke geleentheid mooi beloftes maak, maar hulle nooit daarby hou nie. Die regering het nou weer die boere toegelaat om die grens oor te steek en na hulle vee te soek op ’n manier wat aan die ou terugvatstelsel herinner het. Dit het verdrae eensydig verander en mettertyd heeltemal geskrap.

      Sou Stockenstrom se verdragstelsel, indien dit behoorlik toegepas is, stabiliteit teweeggebring het? Stockenstrom het sy swakhede gehad, maar hy was nie naïef nie. Die Xhosas, het hy gesê, is nie “mild, gentle shepherds” nie. Dit is soms nodig om hardhandig teen hulle op tree. “Vigour is as necessary as justice in your dealings with them, and if you allow them to become masters you must give up the colony.” Hy het besef dat die verdrae nie op hulle eie kon staan nie. Die koloniale regering sou hulle moet opdwing op ’n manier wat dit duidelik maak dat hy nie teenstand sou duld nie. Maar die regering het hierdie visie nie gehad nie en ook nie die wil om op te tree nie.

      ’n Duur les

      Met die opbloei van wolboerdery en die sterk styging in grondpryse in die 1830’s en 1840’s het die geleenthede vir spekulasie met grond sterk toegeneem. Die gevolg was dat daar steeds groter druk op die regering was om van die Xhosa-gebied in die kolonie te inkorporeer. Geeneen van die stemme uit die geledere van die setlaars was luider as dié van John Mitford Bowker nie. Hy het geskryf net soos die duisende springbokke op die vlaktes moet die Xhosas ook weggevee word om plek te maak vir miljoene beskaafde mense.

      ’n Nuwe goewerneur, sir Peregrine Maitland (1844-1847), het weer die ou wet ingestel waarvolgens ’n patrollie die spoor van gesteelde vee tot by ’n kraal kon volg. Dit was hierdie wet wat Stockenstrom met soveel weersin vervul het toe dit dertig jaar tevore ingestel is. In 1846 het die sogenaamde Sewende Grensoorlog uitgebreek, wat later bekend sou word as die Oorlog van die Byl. Selfs John Philip het opgemerk dat die grensboere die Xhosas geen rede gegee het om oorlog te maak nie. Stockenstrom, reeds afgetree, is oorreed om in die oorlog te veg as die enigste persoon wat die burgers as die bevelvoerder van hul kommando sou aanvaar. Die burgers was nog steeds verbitterd oor hulle swak behandeling in die vorige oorlog deur Britse offisiere.

      Toe die Xhosas uiteindelik hul stryd laat vaar en om vrede smeek, het sir Harry Smith, die nuwe goewerneur, besluit om D’Urban se beleid van twaalf jaar vroeër te aanvaar. Hy het die gebied tussen die Keiskamma- en die Keirivier geannekseer en direkte beheer uitgeoefen oor die Xhosas wat daar gewoon het. Die kapteins was nou nie veel meer as blote amptenare nie en baie Xhosas is uit hul weivelde verdryf. Die regering het dele van die Xhosas se grond aan Engelse spekulante verkoop om sy oorlogskoste te bestry.

      Die Xhosas het die kolonie in Desember 1850 weer ingeval. Vir hulle was die gebrek aan grond akuter as tevore. Sommige Khoi-Khois in die Katriviernedersetting, waar grond ook aan Engelse spekulante verkoop is, het by die Xhosa-invallers aangesluit. Daar was selfs ’n aantal plaaswerkers in die invalsmag. ’n Koloniale mag is weer opgeroep om die invallers te verdryf. Die grensburgers wou nie betrokke raak nie en sir Harry Smith het aan die minister van kolonies geskryf dat die Afrikanerboere aan die grens geen belangstelling toon nie. ’n Britse setlaar was verbaas oor hoe “anti-Engels” hierdie grensboere geword het.

      Die Agtste Grensoorlog (1850-1852) was volgens die historikus Jeffrey Peires “the longest, hardest and ugliest war” aan die oosgrens. Die Britse mag het geprobeer om die bestaansbasis van die Xhosas te vernietig: hutte is afgebrand, oeste is vernietig en daar is op vee beslag gelê. Ongeveer 16 000 Xhosas is doodgemaak. Selfs Xhosa-vroue en -kinders se lewens is nie gespaar nie. Dit het die Xhosa-gemeenskap so getraumatiseer dat die mense ’n paar jaar later ontvanklik was vir die boodskap van die jong meisie Nongqawuse dat hulle hul vee en oeste moet vernietig om hul bevryding te bewerkstellig.

      Stockenstrom het dit in sy getuienis in Londen duidelik gemaak dat die gewone koloniste nie verantwoordelik was vir die oorlog nie. Hy het die skuld op die skouers van die aggressiewe goewerneur en geldgierige spekulante gelê. Slegs ’n verteenwoordigende regering, het hy gesê, kan met die nodige wysheid optree om nog grensoorloë te voorkom. Hy het die enkele vraag gevra: “What single benefit have the Colonists derived from any Kaffir war? Speculators benefited, but what good did it do the Colonists?”

      In 1853 is ’n grondwet vir ’n vorm van verteenwoordigende regering aanvaar. Teen hierdie tyd was die meeste Afrikanerleiers in die westelike deel van die kolonie ook sterk gekant teen verdere pogings om op grond anderkant die grens beslag te lê.

      Tussen die 1770’s en die 1850’s het die Afrikanerboere aan die oosgrens ’n paar duur lesse geleer. In die 1770’s het hulle geprobeer om die Xhosas oor die grens te druk. Al het dit baie probleme veroorsaak, het sommige grensboere bly glo dat hulle die Xhosas oor die grens kon jaag en tot onderdanigheid dwing. Selfs in 1803, net ná die heel donkerste jare aan die grens, het kommandante Botha, Linden en Van Rooyen aan die Nederlandse goewerneur geskryf dat hul kommando kans sien om “met die punt van die swaard” al hul gesteelde vee terug te kry en vrede en sekuriteit te bewerkstellig wat baie jare sou duur. Dit klink na ’n oorskatting van die burgers se mag.

      Stockenstrom het gou agtergekom dat ferm optrede teen die Xhosas nodig is, maar dat hulle nie onnodig lastig geval moet word nie, en dat geen werklike vrede op onreg gebou kan word nie. Bowendien was die kolonie se magsmiddele te beperk om eensydige oplossings op te dwing. In 1857 het ’n Afrikanerleier, J.H. Wicht, in die Parlement verklaar dat indien die koloniste die grond van die swart mense beset, hulle nie moet verwag “om op ’n bed van rose te slaap nie. As jy naby die barbare gaan, is dit soos om na aan ’n perdebynes te gaan.” Dit was ’n waarheid wat die Voortrekkers en hulle nasate ook op ’n pynlike wyse sou ontdek toe hul nuwe gebiede beset het.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно


Скачать книгу