Leeus met letsels (skooluitgawe). Fanie Viljoen
Читать онлайн книгу.wys na die bergreeks in die verte. “Dis die Waterberge.” Die soliede groen en bruin berg se geriffelde rand sny donker oor die helder hemel.
Nie lank nie, of hulle kom by ’n massiewe houthek met stewige klipmure aan weerskante. ’n Naambord lees: Isigubhu. En onder dit, in kleiner letters: Drum.
’n Sekuriteitswag maak die hek oop. Hulle ry deur en volg die grondpad wat voor hulle uitkronkel. Uiteindelik draai hulle in na ’n groep geboue waarvan die klipmure en hoë strooidakke afgeëts staan teen die agtergrond van die Waterberge.
“Hierdie is die hoofgebou,” verduidelik Lwazi.
Buyi kyk oopmond na die indrukwekkende gebou met die groot vensters en massiewe houtdeure waarop diere in ingewikkelde patrone uitgekerf is. Daar is ook ’n geskenkwinkel, ’n spa en skoonheidsalon. Buyi staar na die uitgestrekte tuin vol blomme, groot koeltebome en grasperke. Dit herinner hom aan die tuine in Londen. Maar hierdie tuin is anders, meer natuurlik en aards.
“Welkom by jou nuwe tuiste!” sê Lwazi toe hy in die skadu naby die hoofgebou stilhou.
“Watse plek is hierdie?” vra Buyi.
“Weet jy dan nie?” vra Lwazi met ’n glimlag. “Dis ’n wildreservaat. Dis waar jy nou gaan bly – by jou pa in sy chalet, in die personeel se gedeelte van die oord. Dis ’n entjie verder met die pad af.”
Buyi kry weer daardie benoude gevoel in sy bors. Hy gaan in ’n wildreservaat bly. Is dit ’n goeie of slegte ding? Hy kyk vinnig rond om te sien of daar enige diere in die omtrek is. Moet hy bang wees? André en Simoshile spring uit die voertuig. Hulle lyk heel op hulle gemak. Nie in die minste bang nie. Maar Buyi het al op die Discovery-kanaal gesien wat wilde diere kan doen. Hy gaan ’n krieketkolf of een of ander wapen nodig hê as ’n wilde gedierte uit die bosse losbreek en op hom afpyl.
“Oe! Hy is hier!” hoor Buyi iemand uitroep. ’n Groot vrou met ’n kleurvolle rok en bypassende kopdoek storm by die hoofgebou uit. Haar arms is uitgestrek. “My seun!” roep sy. Haar hele lyf bewe van opgewondenheid toe sy Buyi gryp. “Kom laat ek ’n bietjie na jou kyk!” Toe trek sy hom teen haar vas. “Unjani?” neurie sy. “Hoe gaan dit?”
Buyi is heeltemal onkant gevang. Wie is hierdie vrou? Wat moet hy doen?
“Welkom tuis, Buyisiwe,” sê sy. “Jy het uiteindelik teruggekom. My naam is Unathi.”
“Mama Unathi bestuur die kombuis,” sê Simoshile.
“En sommer al die ander goed ook, as jy haar ’n halwe kans gee!” terg André.
“Hei, suka!” roep sy en maak asof sy kwaad is. “Moenie jou aan André steur nie, Buyi. En pas op vir hom. Hy sal jou net in die moeilikheid laat beland. Kom ons gaan kry vir julle iets om te eet.” Maar hulle kom nie verder nie, want nog ’n veldvoertuig met toeriste agterop kom aangery. “Oe, kyk, Buyi” sê Mama Unathi. “Jou pa is hier.”
4
Buyi voel bewerig. Aan die bestuurder se gelaatstrekke kan hy aflei dit is hy: Themba. Die langmouhemp van die uniform is opgerol oor sy gespierde voorarms. Hy dra leerstewels en ’n wyerandhoed. Sy gesig is sterk, sy oë donker.
Soos hy naderkom, klop Buyi se hart al hoe vinniger. Hierdie man – sy pa – is deel van hom, maar hy ken hom glad nie.
Met sy hoed in sy hand staan sy pa voor hom. Sy gesig is strak.
Buyi weet nie wat om van sy pa te verwag nie. Hy maak hom reg vir ’n omhelsing soos Mama Unathi s’n. Maar dit kom nie.
Sy pa hou net sy hand uit en sê met ’n sterk stem: “Hallo, Buyisiwe.” Net dit. Geen omhelsing nie. Geen glimlag nie. Net ’n afgetrokke hallo. Buyi skud sy hand soos Lwazi syne vroeër geskud het.
Skud, duim, skud.
“Haai …” Moet hy hom Pa noem? Of Themba? “Themba …” Sy pa korrigeer hom nie, so dis oukei met hom.
Mama Unathi sien die ongemaklike spanning tussen hulle en nooi vir Themba om saam te kom eet, maar hy maak verskoning: “Ek moet na die gaste omsien.” Sy pa se oë draai weer na Buyi. Steeds sonder emosie.
Is hy dan nie bly om my te sien nie? wonder Buyi toe sy pa wegstap.
Die chalet waarheen Lwazi vir Buyi vat, is onberispelik skoon. Dit is sy nuwe huis. Twee slaapkamers, ’n kombuis, badkamer en ’n sitkamer reg in die middel.
Glad nie soos hulle woonstel in Londen nie. Teen een van die mure gluur die kop van ’n dooie dier af na hom.
“Hierdie is joune,” sê Lwazi en dra die tasse by een van die kamers in. Die vertrek is nogal groot, die bed gemaklik. “Dit lyk of jy sommer klaar tuis is!” lag Lwazi. “Ek moet in die pad val. Ek gaan saam met Johan, André se pa, op ’n nagsafari. Hy is ook ’n wildbewaarder, nes jou pa.”
“En jy?” vra Buyi.
“Ek is ’n spoorsnyer. Ek gaan saam op die safari’s en soek vir spore en ander tekens. Dit help die bewaarder om die wilde diere makliker te kry. Dis nogal opwindend vir die toeriste ook.”
Buyi glimlag flouerig. Hy verstaan nie hoe dit pret kan wees om agter ’n dier se spoor aan te loop nie.
“Hou maar die vensters toe,” sê Lwazi. “Bobbejane kan inkom en sal enigiets eet wat hulle in die hande kry.
“En … ander diere? Sal ek veilig wees hier op my eie?”
“Ja wat, wees maar net versigtig. Die diere is gewoonlik banger vir jou as wat jy vir hulle is.” Daarmee draai hy om en loop uit terwyl hy “Sala khale!” oor sy skouer roep. “Mooi bly!”
Skielik is Buyi heeltemal alleen. Die donker kruip die huis stadig binne. Hy sit al die ligte aan, maar daar is geen televisie in die chalet nie.
’n Skielike skril geluid verbreek die stilte om hom. ’n Telefoon? Hy vat na sy selfoon al weet hy dis nie sy luitoon nie. Dan sien hy eers hy’t nie ’n sein nie. Wa-a-at? Hoe kan dit wees?
Iewers in die chalet lui die telefoon steeds. Hy volg die geluid na die tafeltjie in die sitkamer en antwoord.
“Hallo, Buyi!”
“Ma!” Hy is so verlig om haar stem te hoor.
“Hoe gaan dit met jou?”
“Ek is orraait. En Ma?”
“Ek mis jou. Hoe was die vlug?”
Hy vertel haar van die vlug, die mense wat hy ontmoet het, en hy jok ook en sê dat sy pa baie gaaf is …
5
Ná sy ma se oproep besluit Buyi om sy tasse uit te pak. Die klere sit hy weg in die kas, die paar boeke wat hy saamgebring het stapel hy op die lessenaar langs sy iPod, ’n pak CD’s en DVD’s. Teen die kaal baksteenmuur sit hy ’n plakkaat op van Amir Khan, die bekende bokser.
Hy kyk na die venster hier langs hom. Moet hy dit vir ’n rukkie oopmaak? Maar sê nou net iets spring skielik deur – een van die bobbejane waarvan Lwazi gepraat het?
Hy skuif die gordyn weg en sit sy hand op die vensterknip.
Klik!
Stadig maak hy die venster oop. Die klanke van die nag vloei die kamer binne. Skielik wir ’n gogga by die venster in. Buyi skrik en val agteroor op die bed. Die swartvlerktor vlieg op na die lig. Buyi kan nie anders as om te lag nie. Hy het hom byna doodgeskrik vir die gediertetjie wat nou heeltemal onskuldig lyk.
Hy gaan sit weer by die venster en luister na die naggeluide. Hy probeer die vreemde reuke in die lug uitmaak … rook … droë gras … stof?
Skielik verstyf hy. Iets krap buite in die bosse. Buyi hoor gras ritsel, ’n gekrap, toe droë blare en takkies wat kraak. Dit klink nogal naby. Genoeg bravade vir een aand. Buyi pluk die venster vinnig toe en maak dubbeld seker die knip is deeglik op.
Sy