Die Potlooddief en die engel. A.S. van Straten
Читать онлайн книгу.af en plaas die oop lekker op die oop sitplek, maar die nooi ignoreer dit. Met sy regterhand maak hy ’n lomp insek na wat na die lekker toe steier op vier pote. Die middelvinger vorm ’n nek en kop wat die lekker ondersoek. Die nooi is geamuseer en loer uit die hoek van haar oog. Die insek gryp die lekker en verorber dit. (Tonie steek die lekker in sy mond.) Die insek word siek, steier rond en val om – met sy bene stuiptrekkend in die lug. Dan lê hy doodstil. Die meisie se linkerhand kom aangestap tot by die dooie insek, streel Tonie se hand wat taamlik gou lewe kry en die streling beantwoord. Haar knieë bly behoorlik bymekaar, maar sy skuif haar linkervoet tot teenaan Tonie se regtervoet. Hulle twee hou handjies en speel voetjie-voetjie en kyk weer na die rolprent. Die engele staan aan een kant en kyk na die ry fliekgangers wie se gesigte almal dieselfde reaksies, dieselfde emosies vertoon.
ENGELA:Hy’s soos ’n sestienjarige skoolseun! Wat gaan jy doen?
WILHELMUS:Ek het al my hoop op jou Lena gevestig, maar as jy nie wil help nie, weet ek nie wat anders ek –
ENGELA:Hoekom doen jy nie aansoek om Spesiale Mag nie?
WILHELMUS:Ek kán nie, jy wéét ek is nog nie ’n volwaardige beskermengel nie ... Dalk word ek nooit een nie ... Jy sien ... hy’s mý seun, ek het hom en sy ma verlaat toe hy twaalf was.
ENGELA:(nie vreeslik verbaas nie) En hoe kom jy toe hiér? Versagtende omstandighede of spesiale genade?
WILHELMUS:Eintlik beide ... maar as loutering moet ek nou aanskou hoe my seun dieselfde foute maak as ek. Dié dat ek so opgewonde geword het toe jy my vertel van jou Lena. Ek was seker sy sou, jy weet ... die vrou wees wat hy nodig het ... Laat ek haar te siene kry, ’seblief ...
TONIE:(Haal ’n notaboekie uit sy sak, beduie hy soek ’n skryfding.)
MEISIE:(Gebruik haar linkerhand om ’n potlood op te diep uit haar handsak. Sy gee dit vir Tonie en fluister haar naam en telefoonnommer.)
OUMA:(Geniet Tonie se flankeerdery.)
TONIE:(Skryf die besonderhede neer en steek die notaboekie én die potlood in sy sak, hou weer haar hand vas.)
ENGELA:Hy’s absoluut skaamteloos. Dit spyt my, Wilhelmus, maar daar’s geen rede vir jou om Lena te sien nie.
WILHELMUS:Asseblief, Engela, net een keer ...
ENGELA:Dit sal net jou lyding vergroot.
WILHELMUS:Dis hoekom ek hier is.
ENGELA:Nou goed. Sy gaan môremiddag stad toe, dan kan jy haar ’n rukkie sien ...
Toneel 4
’n Sypaadjie en winkelfront. In ’n toonvenster is poppe geklee in damesmodes – die jongste “skeppings van Paul Barnard”.
Die engele is êrens “in die lug”.
LENA:(Loop half verby. Stop. Kyk na die modes. Sy dra ’n hemp en langbroek wat glad nie haar figuur beklemtoon nie, en aan haar voete is bonkige sandale. Sy vind die aandrokke in die venster uiters vulgêr en staar verbaas daarna.)
PAUL:(Kom aangestap met ’n portefeulje onder die arm. As hy sien hoe sy na die skeppings staar, hou hy haar dop.)
LENA:(Skud haar kop en grinnik. Hoe meer sy na die skeppings kyk, hoe meer amuseer hulle haar.)
PAUL:Wat is so bleddie snaaks?
LENA:(hoewel sy korter is as die vreemdeling, lig sy haar kop op so ’n manier dat sy op hom neerkyk) Dié modes ... Ek dink hulle –
PAUL:Ja?
LENA:Ek dink hulle skreeu ’n bietjie.
PAUL:Juffrou, jou broek is te wyd vir jou, jy versuip in jou sandale en jou hemp sou beter gelyk het aan ’n man. Ek dink dus nie –
LENA:(onthuts) Is jy ... dalk ... Paul Barnard?
PAUL:(Maak ’n buiging.)
LENA:Meneer Barnard, jy moet jou asseblief nie aan my steur nie. Ek het iets teen duur klere; ek dink mens moet jou geld liewer bestee aan ... ander dinge. Maar ek is seker ’n sekere soort vrou sal baie graag –
PAUL:(sarkasties) Watter sóórt vrou nogal?
(Twee dames kom tot stilstand naby Paul se venster. Hulle klere is gans te nousluitend.)
1STE VROU:(kou kougom) Sjoe! Kyk ’n bietjie dáár!
2DE VROU:Dis styl, hè! Dis nou wat ek styl noem! (Hulle loop nader.)
1STE VROU:Sal ons ingaan?
2DE VROU:Ih-ih, te duur. (Haal ’n notaboekie en potlood uit en teken gou die ontwerp na.) Ons kan dit self maak vir ’n kwart van die prys ...
1STE VROU:Ek kan myself sién in so ’n rok. (Sy poseer soos ’n mannekyn.)
2DE VROU:“Dynamite!” ’n Bom op bene! (Hulle stap laggend verder met swaaiende heupe.)
PAUL:(Tot in sy siel geruk, loop van tabberd na tabberd asof hy hulle vir die eerste keer sien.)
LOKVOËL:(wat verby drentel; gaan staan langs Paul) “Sexy”, hè! Maar ek kan jou voorstel aan léwendige poppies, warm “girls” – en styl, pappa! Hulle het styl! Ek sê jou hulle trek nog “smarter” aan as hiérdie doedies. (Wys na die winkelpoppe.) As jy dink hierdie goed het “class” moet jy my “girls” sien. Tarrá! (Hy swaai sy lang jas voor oop sodat Paul foto’s kan sien.)
PAUL:(moker die indringer oor die kop met sy portefeulje, gooi dit agter hom aan as hy padgee; as hy weer na Lena draai, is hy ’n ander mens; hy stoot sy vingers deur sy hare, staar ongelowig na sy skeppings) Ek moes nnnooit ... Toe ek net vir privaat kliënte ... het ek die beste in elkeen na vvvore ... Maar toe begin ek vir honderde, gesiglose vvroue ... En kyk nou. Ka-ka-karikature! Banaliteite!
LENA:Ek’s rêrig ... Ek ’t nie bedoel om –
PAUL:Oppervlakkige gemmmors! Dis vvvals!
LENA:(vat aan sy arm om hom te kalmeer) Asseblief. Asseblief, man. Dit was nie my doel om –
PAUL:(gryp haar gewrig vas) Jy! Jy’t my ’n groot guns bewys! Jy’t my my integriteit teruggegee! (Hou haar ’n armlengte van hom af.) Nou gaan ek vir jóú ’n rok maak wat –
LENA:(loer weer na sy skeppings) Baie dankie, maar ek dink nie –
PAUL:Ek vat nie nee vir ’n antwoord nie. Dis ’n geskenk net vir jou, vir jou alleen ... En as dit klaar is en jy hou nie daarvan nie, dan vat jy dit nie. (Intens.) Maar ek wil jóú wys, én vir myself, dat –
LENA:Asseblief! Luister na my! Ek voel ontuis in deftige klere. En daar’s eerlikwaar niks wat jy vir my hoef te bewys nie. Ek is nie –
PAUL:Ek gaan ’n rok ontwerp wat vir jóú is en niemand anders nie. (Hy pluk ’n maatband uit sy sak en neem haar mate.) Kom môre vir ’n passing. (Hy kyk op sy horlosie.) Ongeveer dié tyd. Hier’s my kaartjie. Vrydag is jou rok klaar en nogmaals baie dankie. (Intens, kyk diep in haar oë.) Jy kan nie weet hoeveel jy my gehelp het nie. (As hy wegstap, gee hy die portefeulje ’n skop en tel dit nie op nie.)
LENA:(Sy staan en staar na die sakekaartjie, skud haar kop en stap verder.)
WILHELMUS:Daardie man vertrou ek nie. Hy verander soos ’n verkleurmannetjie.
ENGELA:Ek twyfel of hy bybedoelings het.
WILHELMUS:Hy kan bybedoelings kry. Ek ken mans, ek was self een.
ENGELA:Glo my, sy’t ’n vriend nodig. En ek twyfel of Paul Barnard potlode steel of mense skiet.
WILHELMUS:(verhef sy stem bietjie) Ek sal nie verbaas wees as meneer Hoëmode getroud is nie, of geskei ... of iets.
ENGELA:Jy sal moet leer om mense nie sommer te veroordeel nie. Gee Paul ’n kans. As jy so aangaan, sal ek jou nie kan aanbeveel vir vlerke nie.
WILHELMUS:(verleë, verander die onderwerp) Wat van haar pa? Is hý nie vir haar ’n goeie vriend nie?