Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal. Rina Lamprecht
Читать онлайн книгу.optree. Dit moet lyk of hulle weet waarvan hulle praat.
Elke paneellid kry ’n kans om sy groep se standpunt te stel.
Ná elke groepverteenwoordiger se spreekbeurt kan ander leerders hom/haar met vrae peper.
As hy/sy nie die vrae kan beantwoord nie, mag van die ander groeplede help.
Die voorsitter moenie te veel praat nie. Die onderwyser kan as voorsitter optree om toe te sien dat elkeen ’n spreekbeurt kry en dat julle mekaar nie in die rede val nie
Lede moet mekaar in ag neem en saamwerk.
Praat gemaklik en duidelik en gebruik keurige, suiwer taal.
Humor kan gebruik word.
Moenie langdradig wees nie. Kom dadelik tot die punt.
Gaan soos volg te werk:
Verdeel die klas in groepe van ongeveer vier tot vyf lede.
Doen navorsing oor die onderwerp.
Besluit wie julle in die paneel gaan verteenwoordig.
Kies ’n voorsitter as die onderwyser nie as voorsitter gaan optree nie.
Die paneelbespreking kan 10-15 minute duur.
Maak aantekeninge van wat elke groep gesê het, asook tot watter gevolgtrekking julle gekom het. Jy gaan die aantekeninge nodig hê wanneer jy ’n verslag oor die bespreking moet skryf.
Formele assessering
Jou onderwyser sal jou groepdeelname assesseer.
Pitkos gaan jou help om goeie paragrawe te skryf. Lees dit aandagtig deur.
Pitkos
Die paragraaf en die skakeling van paragrawe
’n Paragraaf bestaan uit ’n aantal sinne wat saam die kerngedagte ondersteun. Die sinne vorm dus ’n eenheid, omdat hulle met mekaar verband hou. Dit is belangrik om te onthou dat ’n paragraaf net een kerngedagte besit.
Sinne van die paragraaf moet só gerangskik word dat dit op mekaar volg; daarom moet daar aandag aan aaneenskakeling geskenk word.
Die kernsin of sleutelsin kan die eerste sin van die paragraaf wees, of dit kan in die middel van die paragraaf of aan die einde van die paragraaf geplaas word.
Die ander sinne in die paragraaf ondersteun die kernsin, m.a.w. al die sinne brei hierdie kernsin uit.
Al die sinne in die paragraaf moenie ewe lank wees nie.
Hoe om paragrawe te skakel
Al die sinne in ’n paragraaf word gebind deur die hoofgedagte van die paragraaf.
Wanneer ’n mens twee paragrawe skryf, moet dit by mekaar aansluit.
Let op die volgende:
Aaneenskakelende paragrawe is wanneer elke paragraaf ’n volgende argument bevat wat die hoofidee ondersteun. Gebruik voegwoorde en woorde wat tyd, oorsaak en gevolg aandui om die paragrawe te skakel. ’n Paar voorbeelde: “Vervolgens . . .” of “’n Ander aspek . . .”
Teenstellende paragrawe is handig wanneer ’n mens twee kante van ’n saak bespreek. Die twee paragrawe staan in kontras met mekaar. Hierdie paragrawe moet ook by mekaar aansluit. Jy kan jou tweede paragraaf begin met skakelwoorde soos “Daar is ook ’n ander argument . . .”
Skryf nou twee aaneenskakelende of teenstellende paragrawe oor een van die volgende onderwerpe.
My lewe het verander toe . . .
Suid-Afrika se taxi’s . . .
Werk soos volg wanneer jy jou paragrawe beplan, redigeer en as finale produk aanbied.
Stap 1
Watter tipe paragraaf gaan jy skryf? Aaneenskakelend of teenstellend?
Kies nou twee hoofargumente. Elke argument vorm een paragraaf. Skryf nou langs elke hoofargument ondersteunende gedagtes of voorbeelde neer wat jou hoofargument ondersteun. Hierdie ondersteunende gedagtes van elke paragraaf gaan die sinne in jou paragraaf vorm wat die kernsin ondersteun.
As al jou gedagtes georganiseer is, kan jy jou paragrawe rofwerk begin skryf.
Sorg dat jou eerste sin die hoofgedagte bevat en vir die leser presies sê waaroor jy skryf. Die ander sinne moet hierdie hoofgedagte ondersteun en daarop uitbrei.
Maak seker die eerste sin van die tweede paragraaf skakel met die vorige paragraaf. Hierdie sin moet die hoofsin van die tweede paragraaf wees. Die ander sinne moet hierdie hoofgedagte ondersteun.
Lees jou paragrawe deeglik deur en maak al jou foute reg. Skryf oor indien nodig.
Stap 2
Skryf jou paragrawe nou volledig oor en gee jou werk vir jou maat sodat hy/sy dit vir jou kan redigeer en assesseer.
Stap 3
Skryf nou die paragrawe netjies oor. Sorg dat jy die opskrif en datum boaan skryf en dat jy al die foute wat jou maat vir jou gewys het, reggemaak het. Handig dit in sodat jou onderwyser dit formeel kan assesseer.
Daaglikse assessering
Skep jou eie kontrolelys om jou maat se paragrawe in stap 2 deur te gaan.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
’n verslag en vriendskaplike brief skryf
die stappe van prosesskryf volg.
Pitkos verduidelik hoe ’n verslag benader en geskryf moet word. Lees dit aandagtig deur voordat jy die opdrag uitvoer.
Pitkos
’n Verslag word aan die einde van ’n gebeurtenis soos ’n ondersoek of ’n bespreking, geskryf.
Die doel van ’n verslag is dat ander mense presies kan weet wat bespreek is en wat die uiteindelike slotsom van die bespreking was. Wanneer ’n joernalis in ’n koerant skryf oor iets wat gebeur het, doen hy verslag en ons noem hom ’n verslaggewer. Jou rapport wat jy aan die einde van die kwartaal kry, is ook ’n verslag van die werk wat jy gedoen het.
In die sakewêreld word baie verslae geskryf. Aan die einde van ’n finansiële jaar moet elke maatskappy verslag aan sy aandeelhouers doen oor die suksesse en mislukkings van die maatskappy gedurende die jaar. Dit vertel dan sonder emosie of oordeel presies wat gebeur het.
Wanneer jy ’n verslag skryf moet dit die volgende kenmerke hê:
Dit moet baie kort en saaklik wees en nie woorde soos “ek” of “ons” gebruik nie.
Beantwoord die vrae: wie? wat? wanneer? waar? waarom/hoe?
Die titel moet presies sê watter verslag dit is.
Jou teikengroep is volwassenes/jou onderwyser en daarom moet jou taal meer formeel