Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Eerste Addisionele Taal. Riens Vosloo
Читать онлайн книгу.jy iemand wat slange versamel en/of bewaar?
Die verhaal
Sultan Jadi – mag hy geseën wees – het hom in sy paleis verveel. Toe laat hy Mohammed die vioolspeler roep. ’n Paar dae het hy na die vioolspeler geluister en selfs weer gelag en grappe gemaak. Maar dit was nie lank nie, of hy het van vioolspel ook genoeg gehad en hy laat die vioolspeler se kop afkap.
Toe laat hy Joesef die harpspeler roep. ’n Paar dae luister hy na die strelende harpklanke, maar dit was nie lank nie, of hy sê daardie musiek is net ’n gekrap in sy ore en hy laat die harpspeler se kop afkap.
Nog baie ander het gekom om die sultan te vermaak en op te beur, maar elke keer was hy net vir ’n rukkie tevrede. Dan raak hy rusteloos en kwaad en laat sy soldate roep om die vermaakkunstenaars weg te sleep en hulle te onthoof.
Dit het so erg geword dat al die vermaakkunstenaars in die stad gesit en bewe het. Elkeen het gewonder of hy die volgende sou wees om na die sultan se paleis ontbied te word, net om ’n paar dae later onder die swaard te sterf. Toe het almal gevlug: die storievertellers, die musikante, die dansers en die balspelers, almal het die stad verlaat waar die magtige sultan gewoon het.
Maar een môre kom Selham, die man wat met slange speel, by die paleis aan. Hy sê ewe dapper hulle moet tog vir die sultan vra of hy nie mag inkom om vir die sultan met sy slange te speel nie. Die deurwagte bring hom na die sultan en die sultan verkyk hom aan die man wat op sy fluitjie speel terwyl die slange uit sy sak kruip en hulle om sy bene en nek wikkel.
Maar dit was nie lank nie, of die sultan was weer verveeld en nukkerig. Hy was nie meer lus om na die fluitspeler met sy slange te kyk nie. Dié aand toe Selham sy fluit en sy slange vat om te loop, sê die sultan: “My vriend, ek het genoeg gehad van jou fluitspelery en jou slange. Ek sal aan my dienaar met die swaard bevel gee om jou kop af te kap.”
“My heer,” sê Selham, “as u so sê, moet dit gedoen word. Maar gee my nog ’n kans. As u my nog ’n kans gee, sal dit vir u ook die moeite werd wees.”
“Goed,” sê die sultan. “Ek sal dit graag doen. Maar jy moet jou kans verdien. Jy sal ’n kans kry as jy môre wanneer jy hier by die paleis aankom, tegelyk ruiter en voetganger is. Wanneer jy hier aankom, moet jy tegelyk ry en te voet loop. Dis my bevel. Dié wat nie my bevele gehoorsaam nie, sterf onder die swaard.”
Selham buig diep en loop.
Die volgende oggend vroeg staan die sultan op die terras voor die paleis om te sien hoe die slangman daar aankom. Toe die paleis se poort oopgaan, verstar die sultan se oë. Daar kom Selham by die poort in op die rug van die kleinste eseltjie wat die sultan al ooit gesien het. Die esel is so klein dat Selham se voete weerskante op die grond raak. Soos hy na die sultan toe aankom, ry hy op die esel, maar al die tyd loop hy ook.
“Goed,” sê die sultan, “jy het gedoen wat jy moes doen. Maar nou is jy nog nie klaar nie. As jy nie wil hê ek moet jou aan die man met die swaard oorhandig nie, moet jy op drie vrae antwoord. Hier is die eerste: Hoeveel sterre is daar aan die hemel?”
“My heer,” antwoord die slangman, “daar is net soveel sterre aan die hemel as hare op my esel, sonder sy stert. U kan maar tel.”
“Goed,” sê die sultan. “Sê nou vir my: Op watter deel van die aarde is ons?”
“In die middel.”
Toe lag die sultan en sê: “Hoeveel hare is daar in my baard?”
“Net soveel as op die stert van my esel. Sny maar u baard af en ek sal die stert van my esel afsny. Dan kan ons dit saam tel.”
Toe sê die sultan: “Nee, jy is te slim. Daar is nie ’n vraag wat jy nie kan beantwoord nie.”
Hy roep een van sy hofdienaars nader en stuur hom om iets te gaan haal. Die man kom terug en druk ’n sakkie goud in Selham se hande.
Die slangman buig diep voor die sultan en stap uit na sy esel toe.
Toe gaan die sultan weer op die terras uit om te sien hoe die slim slangman by die paleis se poort uitry maar terselfdertyd ook uitstap, want Selham is daar weg op die kleinste eseltjie wat die sultan al ooit gesien het.
Woordverklarings
esel – donkie
onthoof – iemand se kop afkap
ruiter – iemand wat perdry
slangbesweerder (snake charmer) – iemand wat op ’n fluit speel en op ’n slang konsentreer tot die reptiel heen en weer begin wieg
sultan – ’n Oosterse vors
uitoorlê – om iets te doen wat ’n ander persoon nie verwag of voorsien nie, tot nadeel van die ander persoon
Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe). | |
1. | Waarom sou jy sultan Jadi as ’n wreedaard beskou? Skryf drie sinne daaroor. |
2. | Waarom dink jy raak die sultan so maklik verveeld? |
3. | Met watse instrument het die sultan die vermaakkunstenaars laat onthoof? |
4. | Wat is die slangman se naam? |
5. | Dink jy die verteller bedoel dit wanneer hy/sy van die sultan sê “mag hy geseën wees”? Hoekom sê jy so? |
6. | Skryf in drie sinne hoe die slangman die sultan uitoorlê het. |
7. | Waarom kyk die sultan hoe die slangman die paleis se poort uitry? |
8. | Verdien hierdie vors respek of nie? Waarom sê jy so? |
9. | Is hierdie verhaal ’n voorbeeld daarvan dat ’n ryk, magtige mens enigiets kan regkry? Waarom sê jy so? |
10. | Hoe weet jy hierdie verhaal speel nie in Suid-Afrika af nie? Noem twee sake. |
11. | Noem twee kenmerke van ’n volksverhaal in hierdie verhaal. |
Postaktiwiteit
Skryf tien sinne om die gebeure in hierdie verhaal op te som. Gebruik goeie, volledige sinne, nie telegramstyl nie.
Die watermense
Linda Rode
Prelees – groepbespreking
Kyk na die illustrasie. Waarheen spoel die water?
Vertel wat jy weet van ’n riviermonding; daardie plek waar ’n rivier in die see uitmond.
Hoekom kry mens so baie haaie en krokodille by die riviermonding?
Die verhaal
In ’n vallei, naby aan die plek waar ’n rivier in die see uitmond, het daar baie jare gelede ’n Xhosa-hoofman en sy mense gewoon. Tussen die riviermond en die see was ’n hoë roesrooierige kransmuur waarteen die branders met hoogwater donderend geslaan het.
“Bly weg daar van die krans af,” het die oudste ouma die kinders gewaarsku wanneer die skemer saans oor die vallei begin kruip. “Hulle sê die watermense met hulle bleek gesigte en hulle lang haartoue soos seegras en hulle slap hande soos robvinne kom sit saans daar teen die voet van die krans, veral as dit volmaan is. En oe, oe, oe, as jy in ’n waterman se oë kyk …!”
Maar die hoofman se enigste dogter het niks daarvan geglo nie.
Op ’n dag toe die son die aarde vuurwarm bak, glip sy stilletjies weg van die ander meisies, want sy was maar altyd ’n alleenkind, en dwaal op die strand en die rotse rond. Sy ryg vir haar ’n snoer van skuimwit skulpe. Sy sit lank en kyk na die bleekgroen water van Ulwandle, die see, en verbeel haar sy hoor sagte stemme wat sing en lok. Sy steek haar arms uit – ag, as sy maar soos die visse deur die seewater kon glip, wens sy. Koel sou dit wees, en lig sou sy deur die branders kantel en gly … Só droom sy die ure om.
“Siphokazi! Siphokazi!” Dis haar ma wat roep.
En “Si-pho-ka-zi! Si-pho-ka-zi!” weerklink dit op uit die vallei soos haar maats ook roep, want die