Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Huistaal. Riens Vosloo
Читать онлайн книгу.was ’n betroubare vrou. Sy het niks vir niemand gesê nie. Behalwe nou vir haar ekstra spesiale vriendin. En die vriendin is ook ’n versigtige vrou. Sy het net vir haar ma en haar wyse ou tante gesê. Maar snaaks genoeg, toe die son daardie aand sak, weet elke liewe mens wat op die plein was die dief se stok gaan teen dagbreek drie vingerbreedtes langer wees as al die ander s’n.
Die nag kom net so vinnig en so stil soos altyd. Toe die eerste spore van die dagbreek wys dat die nag verby is, kom almal bymekaar op die plein, en elkeen het sy stok by hom.
Die son glip oor die horison, en skielik staan Zafusa daar met ’n blink spies in sy hand en hy gluur die mense aan. Die koning kom uit op sy spesiale drabed met die volstruisvere. Langs hom loop die meesterbouer van die koninkryk en hy dra sy meetstok in sy hand.
Stok na stok word gemeet, reg rondom die plein. Nie een van hulle het eens ’n vingernael langer geword nie. Almal is nog presies ewe lank. Behalwe een. Die een in die sweterige hand van ’n bediende met skelm oë. Sy stok is presies drie vingerbreedtes korter as al die ander.
“Daar’s die dief!” gil Zafusa, en hy spring hoog in die lug en skud sy spies.
“Gryp hom!” brul die koning aan die koninklike wag. “Gooi hom vir die leeus!”
Die dief vergeet skoon dat die ring hom beskerm. Hy val op sy knieë en hy huil en hy kerm en hy haal die ring af van sy hand wat hy agter sy rug weggesteek gehou het. Hy gee die ring vir die koning en toe huil hy nog harder en smeek om genade.
Die koning was so bly om sy ring terug te hê en weer die magtigste koning in Afrika te wees dat die koninklike leeus sonder hul ontbythappie moes klaarkom. Die dief is vrygelaat. Hy is net een ligte straf opgelê. Hy moes drie keer om die stad hardloop terwyl die kinders hom heelpad jaag – en die kinders het dit baie geniet om hulle stokke vir ’n heel ander doel te gebruik.
“Hoe het jy dit reggekry?” wil die koning weet waar hy in sy kamer herstel van die gebeure. Zafusa staan en kyk hoe sakke en sakke goud uit die koning se skatkamer vir hom aangedra word. “Jou towerkrag moet selfs sterker wees as die mag van die ring.”
“Nee,” antwoord Zafusa. “Ek het mos gesê towery is nie nodig nie. Al wat nodig was, was een baie skuldige man. Hy het so goed geweet dat hy die dief was dat hy regtig geglo het sy stok het drie vingerbreedtes langer geword in die nag. En toe sny hy sy stok drie vingerbreedtes korter en hy dink niemand sal dit raaksien nie.”
Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe). | |
1. | Beskryf die koning se klere in drie sinne. |
2. | Waarlangs het die diamante in die ring gekom? |
3. | Min of meer hoeveel sentimeter langer sou die dief se stok die volgende oggend wees? |
4. | Wat is die belangrikste verskil tussen Zafusa en die moetievrou in die verhaal “Die towersak”? Sleutelwoord: toor. |
5. | Wat gebruik Zafusa om die dief aan die kaak te stel? Skryf net die regte antwoord neer: toorkuns / skelmstreek / mensekennis. |
6. | Beskryf die koning se karakter in drie sinne. |
7. | Beskryf die koning se lieflingsvrou se karakter in twee sinne. |
8. | Skryf twee sinne om te sê wat die twee lewenslesse is wat ons uit hierdie verhaal leer. |
9. | Noem een ander kenmerk van die volksverhaal soos ons dit in hierdie verhaal teëkom. |
10. | Daar is twee vorme van wreedheid in die verhaal wat vandag onwettig sal wees. Skryf twee sinne om te sê wat dit is. |
Postaktiwiteit (verryking)
Skryf die onderstaande gedeelte uit die verhaal in dialoogvorm oor. Voeg ook ’n paar beskrywings by sodat ons ’n beeld kan vorm van hoe die koning en die dief lyk:
Die dief vergeet skoon dat die ring hom beskerm. Hy val op sy knieë en hy huil en hy kerm en hy haal die ring af van sy hand wat hy agter sy rug weggesteek gehou het. Hy gee die ring vir die koning en toe huil hy nog harder en smeek om genade.
Die moeder wat stof geword het
Kasiya Makaka Phiri
Prelees – groepbespreking
Hierdie pragtige verhaal kom uit Malawi.
In verhale kom min of geen feite voor nie, want dit is fiksie. Maar soms kom daar ’n paar feite in voor. Of soms gebeur daar iets in ’n verhaal waarvan ons kan sê: Wel, dit sou kon wees, dit is moontlik. In hierdie verhaal, wat in die heelal afspeel, sal jy op sulke “moontlike onmoontlike” dinge afkom.
Die verhaal
Eens op ’n tyd het die son ’n dogter gehad. Net soos haar skitterende vader was sy ’n ster van groot glans. Sy het skoene van glinsterende stersaffiere gedra, en aan haar vingers en om haar enkels, polse en nek het vonkelskerfies van verskietende sterre gesprankel. Haar glans het die hemelruim agter die son verlig, en sy het oor hierdie ruim geheers en dit met groot wysheid en liefde regeer.
Toe, eendag, op een van haar inspeksierondes tussen die ontelbare planete in die onmeetlike heelal, sien sy ’n planeet in ’n afgeleë uithoek. Dit was baie ver, net-net binne bereik van die son se vingerpunte, en in alle skakerings van groen en blou.
Die ster het lank en aandagtig daarna gekyk voor sy gepraat het.
“Op daardie planeet,” sê sy vir die son, “moet my troon staan. Ek wil my lewe deurbring in daardie ryk groene en koel bloue.”
Die son sug. Hy kyk na sy dogter se glans en sug weer. Sy oë kan ver in die toekoms in sien.
“Alles is joune,” sê hy. “Jy mag gaan waar jy wil. Jy mag doen wat jy wil. Maar onthou dat jy die grootste deel van jou glans sal moet prysgee en hier agterlaat. Jou mantel met die gloed van die daeraad, jou kleed van helder lig, jou skoene van stersaffiere, jou enkelringe en armbande en halssnoere vol van die aand- en môresterre se vonkeling – niks hiervan kan jy saamneem nie. Die sensitiewe groen van die planeet sal nooit die hitte van jou uitstraling kan verduur nie, en die blou sal heeltemal opdroog. Maar in die plek van jou glansryke kleding mag jy drie wense wens wat onvoorwaardelik toegestaan sal word.”
“Goed,” sê die ster. “Laat ek daaroor nadink.”
Sy het jare en jare daaroor nagedink, want so is dit met die son en die sterre in die onmeetlike heelal. Alles neem jare en jare om te gebeur, hoewel dit vir hulle maar soos ’n vonkeling vervliet. Eindelik het sy genoeg gedink en haar besluit geneem.
Haar mantel met die gloed van die daeraad laat sy van haar skouers afgly, sy werp haar kleed van helder lig af, haar skoene van stersaffiere, haar sandale van skemerlig, haar fyn pantoffels van die skemering se nagloed … In ’n verblindende skittering oorhandig sy dit alles aan haar vader. Toe sê sy: “Nou gaan ek na die groen-en-blou planeet om sy moeder te wees.”
“Neem enigiets wat jy nodig het,” antwoord die son. “Jy moet weet dat ons jou oneindig sal mis, al sal jy elke dag vir ons sigbaar wees. En onthou dat jy altyd welkom is hier. Helaas, die gloed van ons strale sal waarskynlik nie altyd vir jou aangenaam wees in jou nuwe liggaam op daardie klein planeet nie.”
Daarop strooi hy die ster se ringe, die enkelringe, die armbande en halssnoere in ’n baan van flonkerende stersaffiere en sterstof om hom uit sodat dit soos ’n stroom gestorte melk oor die hemelruim sprei. Van die groen-en-blou planeet af sal die ster hulle kan sien, sodat sy nooit sal vergeet waarvandaan sy gekom het nie.
Eindelik vertrek die ster. Eers ry sy op ’n verskietende ster wat deur tyd en ruimte pyl, later op ’n enkele ligstraal in die mildheid van ’n nuwe dag. Steeds strek die pad oneindig ver voor haar uit. By haar het sy ’n skoffel, ’n stamper en vysel, ’n wanmandjie, ’n waterpot, ’n kookpot, borde gemaak van bamboes en hout, ’n byltjie, ’n slaapmat en ’n groot karos. Haar laaste rit is op die eerste ligstraal wat die groen-en-blou planeet bereik.
Toe sy op die planeet land, sien sy hoekom dit van ver af so groen gelyk het. Die woude en uitgestrekte grasvelde is so mooi dat haar hart van