Ettie Bierman Keur 9. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman


Скачать книгу
toon geen gebreekte bene nie en daar is nie inwendige beserings nie – slegs kneusplekke aan die kop, skouer en regterbeen, en jy ly natuurlik nog aan skok.”

      “Was ek … bewusteloos?”

      “ ’n Kort rukkie, ja, as gevolg van die stamp teen jou kop toe jy op die teer geval het.”

      “Wat het gebeur? Is ek om … omgery?”

      Johan Retief lyk grimmig. Bokant die wit jas is sy gesig wasbleek. Sy wenkbroue is in ’n ontoegeeflike frons saamgetrek, en die bruin oë is ysig terwyl hy na die skraal figuurtjie in die hospitaalbed kyk. Hy voel lus om die dekselse meisiekind se nek om te draai. Het sy nie besef dat sy dood kon gewees het nie? Hy word van nuuts af koud toe hy in sy gedagtes die blonde meisie reg voor sy motor se wiele sien instap. Hyself het ook al noue ontkomings gehad en een keer was hy ’n passasier in ’n eenmotorige vliegtuig wat teen ’n stel kragdrade vasgevlieg het, maar hierdie ondervinding sal in sy geheue gegraveer bly, so lank as hy leef. As hy die rem ’n breukgedeelte van ’n sekonde te laat ingetrap het … Waar het sy in elk geval so skielik vandaan gekom? Hy dag sy is lankal reeds by ’n hotel, maar sy moes op die stasie versuim het – net so lank as wat dit geduur het om sy motor uit die parkeerterrein te haal en in Smitstraat verby te kom presies op die oomblik toe sy kop onderstebo en vas aan die slaap oor die straat gestap het.

      “Is jy kleurblind, juffrou Verster?” vra Johan kil.

      “Nee.”

      “Kan jy rooi van groen onderskei, of ly jy aan Daltonisme?”

      “Hoekom vra jy?”

      Die tirade wat volg, is totaal onverwags.

      “Omdat jy soos ’n stiksiende dwaas reg voor my motor ingestap het, reg teen die verkeerslig wat op daardie oomblik baie duidelik rooi was. Dis hoekom ek wil weet of jy kleurblind is, juffrou Verster. Of is dit jou gewoonte om jou oë toe te maak sodra jy oor ’n bedrywige straat stap? Wat sou gebeur het as ek nie betyds kon rem nie, of vinniger gery het, of per ongeluk anderpad gekyk het, of as my reflekse te stadig was?”

      “Dan sou ek seker dood gewees het,” sê Ila met ’n klein stemmetjie.

      Johan voel lus om die meisie aan die skouers beet te kry en heen en weer te skud. Ja, dis presies wat sou gebeur het. Sy sou morsdood gewees het.

      “Ek behoort jou oor my skoot te trek en jou die pak slae te gee wat jy verdien,” sê Johan kwaad. “Maak nie jou oë oop nie, loop onder ’n aankomende motor in …”

      “Ek is jammer.”

      Ila se boetvaardigheid het nie die gewenste uitwerking nie. Die man is blykbaar ’n geneesheer, want hy het ’n wit jas aan en daar hang ’n stetoskoop om sy nek. Maar wat Ila nie kan verstaan nie, is waarom hy so woedend vir haar is. Sy kan aanvaar dat hy waarskynlik geskrik het omdat hy haar raak gery het, maar dis nie genoegsame rede om so briesend te wees nie, is dit? ’n Ongeluk is ’n ongeluk, en sy het mos gesê sy is jammer. Of het hy dalk ook seergekry – dalk sy kop teen die voorruit gestamp toe hy so vinnig moes rem?

      “Jammer help niks. As jy daar in ’n lewelose bondeltjie in die middel van die straat gelê het, sou dit niks gehelp het om agterna te sê jy is jammer nie.”

      Selfs in sy eie ore klink Johan se woorde vir hom verspot en onsinnig. Onder normale omstandighede sou hy miskien self lag gekry het oor sy agterstevoor redenasie, dog hy is nie in ’n luim om enigsins geamuseerd te voel nie. Daarvoor het hierdie snip van ’n vroumens hom te kwaad gemaak.

      Ila het verwag ’n verskoning sou hom vriendeliker stem, maar die fors geboude jong dokter se gesig lyk nog steeds soos ’n donderwolk.

      “Is die hospitaal oorvol en die personeel baie besig?” probeer Ila ’n rede vir sy gramskap vind. “As dit die geval is, vra ek om verskoning dat ek nog meer werk vir die dokters en verpleegsters veroorsaak het. Ek het niks oorgekom nie en ek is nie siek nie. Dis nie nodig dat ek ’n bed moet beset nie. Ek kan huis toe gaan en dan … dan is daar darem een pasiënt minder.”

      “Daar is geen tekort aan beddens nie,” sê Johan bruusk. “Hier is nie ’n noodtoestand wat veroorsaak dat die personeel nie vir die aantal pasiënte opgewasse is nie.”

      “Ek sien.” Ila aarsel en vra dan reguit: “Is dit dan jou motor, dokter … e …”

      Johan frons. Wat bedoel die meisiekind? Is dit die stamp wat sy teen die kop gekry het, of is dit vertraagde skokreaksie wat intree? Dis goed hy het beveel dat sy ’n nag vir waarneming in die hospitaal gehou moet word.

      “Is dit hoekom jy so kwaad is? Het ek jou motor se modderskerm ingeduik? Ek sal die skade betaal.”

      Johan Retief kan eers nie sy ore glo nie; dan is hy weer opnuut ergerlik omdat die meisie so min van hom dink. Asof hy enigsins in ’n toestand was om op te let of die hele Mercedes verfrommel was en albei die modderskerms afgebreek en in die straat bly lê het …

      “Daar was geen skade aan my motor nie, juffrou,” antwoord hy styf.

      “Ek is bly. Het jy dan jou kop gestamp of … of seergekry omdat jy so vinnig moes rem?”

      Daar is ’n onbegrypende frons op die swartkop-dokter se gesig. Hy wonder hoe die vroumens dan so rondspring met haar vrae. Hy kan nie die strekking van haar gedagtegang volg nie.

      “Hoekom?” vra hy kortaf.

      “Omdat dit lyk of jy … u kwaad is en ek wil uitvind hoekom.”

      Nou eers snap Johan die rede vir die vrae wat aanvanklik so onlogies geklink het. Hy voel bitter skaam. Hy weet hy kan die arme dametjie seker nie verkwalik omdat sy so ’n afleiding gemaak het nie. Maar hy wil nie dat Elizabeth Verster so ’n lae dunk van hom moet hê nie. Hy wil verduidelik waarom hy haar nek wou omdraai en haar heen en weer wou skud en oor sy skoot trek, dog vir die eerste keer in sy agt-en-twintig jaar is die selfversekerde dokter Johan Retief met stomheid geslaan. Sy wange word rooi en hy is meteens meer geïnteresseerd in sy skoenpunte as in die meisietjie in die bed.

      “Is dit omdat u dink ek gaan ’n assuransie-eis instel?”

      Moenie dit nog dieper invryf nie, dink Johan. Hy voel alreeds soos ’n lae wurm en ’n gemene skurk.

      “Ek sal nie, want ek weet dit was mý fout. Ek was ingedagte en het nie opgelet die verkeerslig was rooi nie. En … ek het nog nie eers dankie gesê dat u reflekse so goed was nie.”

      Johan waag dit om vlugtig op te kyk. Tot nou toe het hy slegs die fyn gesiggie en die paar groot, groen oë met die digte, swart wimpers raakgesien. Nou sien hy die donker kringe onder haar oë en merk die tekens van onlangse trane op die bleek wange. Hy onthou hoe hartseer sy vanoggend op die stasie gelyk het. Hy kon egter nie daarop aandring om met haar bagasie te help nie. Hy het saam met Pieter en Solly Petzer-hulle weggestap, maar die groot, groen oë het voor hom gebly. Selfs nadat hy in sy motor geklim het, het die indruk nie vervaag nie. Hy het gewonder of hy die blondine dalk weer êrens sou raakloop. En toe verskyn sy uit die bloute, en byna ry hy haar dood … Hy dink hy was uit die Mercedes nog voordat sy op die teerstraat geval het.

      Dit laat Johan Retief nog meer soos ’n lae wurm voel toe hy daaraan dink dat hy met Elizabeth rusie gemaak het voordat sy oor ’n straat gestap het sonder om na aankomende verkeer op te let. Dus – wat sy gedoen het, was nie so absoluut onvergeeflik as wat hy wou voorgee nie. Waarom was hy dan so onbillik teenoor die meisie, so woedend vir haar, en dit terwyl sy vol kneusplekke is, nog aan skok ly en vanoggend so hartseer was?

      Die groen oë is vraend op hom gerig, asof Elizabeth Verster nog steeds vir ’n antwoord wag. Johan het nog nie eers teenoor homself erken waarom hy in so ’n onredelike buis was nie, en hy sien nie kans om sy vreemde reaksies aan Elizabeth te probeer verklaar nie. Hy is nie iemand wat weghardloop of van die waarheid wegskram nie, dog op hierdie oomblik het hy nie die moed om vir ’n byna wildvreemde meisie te vertel dat sy ’n paar uur gelede op die stasie ’n onuitwisbare indruk op hom gemaak het nie. Sy sal hom uitlag en sê hy is voorbarig of hy jok of soek verskonings. Dit sal sy verdiende loon wees, want hy het ’n baie eienaardige manier


Скачать книгу