Met ander woorde. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Met ander woorde - Wilna Adriaanse


Скачать книгу

      Met ander

      woorde

      WILNA ADRIAANSE

      Tafelberg

      niets is sterker

      dan de stilte

      niets heeft zoveel kracht

      als het zwijgen van de nacht

      niets is sterker

      dan de stilte

      niets is sterker dan het woord

      dat niemand hoort

      STEF BOS: De Stilte

      Hoofstuk 1

      Asof daar op ’n onsigbare teken gewag is, begin Stellenbosch se strate en sypaadjies wemel. Dis daardie tyd van die middag wanneer drawwers, stappers en fietsryers kompeteer vir ’n plek in die buitelug. Sommige is alleen; ander in groepe. “Endorfien-junkies”, noem Cato hulle. Almal verslaaf aan die onsigbare sensasie wat oefening meebring. Lywe word gedryf en gekondisioneer om deur die grense van moegheid te breek tot waar die euforie wag. Waar grense nie meer bestaan nie. Spiere beur en bult teen die wette van die fisika.

      Die kaal platane in Victoriastraat gooi lang herfsskadu’s en die laatmiddagkoue slaan in ’n dun mislagie uit die grond op. Kristina sien dit alles. Sy ruik die blarevrot in die slote en hoor die motors en die stemme wat na mekaar roep, maar vandag bly die beelde en geluide aan die grense van die skaduwees. Haar hardloopskoene met die wit strepies klap onverpoos op die teeroppervlak. Haar voete ken die pad soos voëls elke jaar hulle pad na die somer vind. Haar hartklop gee die pas aan en haar asem is wit ontploffinkies voor haar mond. Langs Coetzenburg swaai sy uit die straat weg en die geluide word minder. Plaasreuke verdryf die uitlaatgasse. ’n Hond blaf êrens naby. Haar treë rek onwillekeurig teen die skuinste uit en die dorp se geluide raak onder haar weg, bly saam met die mislaag op die grond, terwyl haar bene haar al hoër en al verder van die knaende pyn af dra.

      Ben maak die spreekkamerdeur toe en sak in die gemakstoel neer terwyl sy voete die koffietafel vind en hy sy kop teen die rugleuning laat sak. Wat ’n week! Hy word nie maklik moeg nie, maar dis asof Noag se ark oopgegaan het en die pasiënte in pare by sy deur opdaag. Hy is seker hierdie sal in die toekoms ook as die depressiejare bekend staan. Al verskil is dat dit nie hierdie keer met materiële armoede gepaardgaan nie, maar eerder met ’n geestesbankrotskap. En in Suid-Afrika ook met voortdurende vrees. Mure word al hoër en die elektriese heinings se kragstroom al sterker. Lywe gaan gebuk onder vrees of is voortdurend gereed om te vlug. As jy bly, vrees jy vir jou veiligheid, vir jou werk en ’n miljoen ander dinge. As jy vlug, vrees jy nie meer nie, maar jy verlang blykbaar terug – selfs later na die vrees. Hy vermoed die mens sal herbedraad moet word. Ons weerstand is te swak vir al die hedendaagse verwagtings en verpligtinge. Maandag is nie meer wasdag en Dinsdag strykdag nie. Daar is weinig verskil tussen ’n Woensdag en ’n Sondag. Een van die mens se grootste vrese het ’n toe winkel geword. Wat gemaak as die melk, brood en honde­kos opraak, as die was- of skottelgoedmasjien breek, of – ramp der rampe – al die winkelsentrums se deure sluit en die dwalende menigtes by die huis moet bly?

      Ben kyk na die kaggel waar ’n paar hopelose vlamtonge aan die laaste uitgebrande stompie probeer lek en rek hom lui uit. Die koue bekruip hom skielik uit die donker hoeke en hy wil huis toe gaan, want hy is seker hy het sy brood vir die dag verdien.

      Die gelui op sy lessenaar laat hom skeefweg opkyk, hoop­vol dat dit sal ophou as hy dit ignoreer. Die telefoon raak egter eers na die vyfde lui stil, en oomblikke later is daar ’n ligte kloppie aan die deur.

      “Ek is jammer om jou weer te pla, maar dokter Uys is op die telefoon.”

      “Wat wil hy hê?”

      “Ek het nie gevra nie.” Riëtte glimlag. “Ek dink ook nie hy sou my gesê het as ek gevra het nie.”

      Daar verstryk byna ’n minuut voordat Ben hom met ’n sug uit die stoel lig. “No rest for the weary . . .”

      Riëtte trek die deur agter haar toe en Ben tel die gehoorbuis op terwyl hy op die draaistoel agter sy lessenaar gaan sit. Hy brom ’n onhoorbare groet.

      “Hoe lank moet ’n mens vir jou wag om ’n telefoon te antwoord?” wil ’n ergerlike stem weet, en Ben kan Willem se gesig voor sy geestesoog sien.

      “Ek hoop jy bel oor plesier, want as dit oor werk is, gaan ek die donner in wees. Ek het nou baie lekker gesit.”

      “Van sit en staan kom niks gedaan,” brom Willem.

      Ben lag. “Ek het groot planne, en as jy nice met my is, kan jy dalk my vennoot word. Ons gaan sakke vol geld maak.”

      “Gaan ons ’n bordeel oopmaak?”

      “Dit was nie my plan nie, maar dit klink ook nie te sleg nie. Nee, ons gaan die hele mensdom herbedraad.”

      Toe daar net ’n stilte volg, gaan hy met ’n sug voort. “Ons voltage is nie reg vir die een en twintigste eeu nie, maar met ’n paar verstellings behoort ons beter te kan funksioneer. Ons gaan definitief die Nobelprys wen vir die grootste humanitêre guns ooit aan die mensdom.”

      “Benna, ek weet nie waarop jy is nie, maar dis te sterk vir jou. Jy sal drasties die dosis moet verminder.”

      Ben snork verontwaardig. “Spot maar; ek gaan alleen daai prys kry en ek gaan jou nie eens in my speech noem nie. En terwyl ek op my eie eiland sit, met my eie harem, gaan jy nog na kinders se mangels en mans se prostate moet kyk.”

      “Voordat jy beroemd raak, moet jy eers vir my iets doen.”

      “Hoe dringend is dit? Jy weet ek is ’n besige man!”

      “Baie dringend. Kan jy vanaand dorp toe kom? Ek sal vir jou ’n dop koop – en as jy jou gedra, dalk ’n lekker steak ook.”

      “Dit moet ’n moerse groot guns wees.”

      Die gelag in sy oor laat Ben opnuut besef hoe goed hulle mekaar na sewentien jaar van vriendskap ken.

      Die restaurantjie is nog stil en daar sit net hier en daar mense by tafels. Willem bestel vir hulle elkeen ’n whiskey. Eers toe die kelner die twee glase voor hulle neersit en Ben vraend na die lêer tussen hulle kyk, maak Willem keel skoon.

      “Ek het ’n pasiënt oor wie ek bekommerd is. Ek wil graag jou mening vra voor ek iemand anders raadpleeg.” Hy kyk oor Ben se skouer na die deur wat oopgaan en nog vroegaand-dorstiges inlaat voordat hy voortgaan.

      “Sy is drie en twintig jaar oud en het ’n week gelede een middag teen die bergpad gaan draf, maar nie weer die aand by haar blyplek opgedaag nie. Haar vriendinne het teen middernag die polisie in kennis gestel en hulle het haar in die vroeë oggendure onder ’n bos teen die berg gevind. Sy was by haar bewussyn, maar kon nie onthou hoe sy daar gekom het nie. Sy het ’n paar krapmerke en blou kolle gehad, maar sover sy kan onthou, is sy nie aangerand nie. Volgens haar moes die takke haar so gekrap het. Ek is nie so seker nie, maar dit lyk of sy werklik niks anders onthou nie.”

      “Probeer sy nie maar net vir iemand cover nie?”

      “Ek weet nie. Dis of haar persoonlikheid oornag verander het. Haar ouers het elke moontlike en onmoontlike toets laat aanvra, maar dit het sover niks opgelewer nie.” Hy neem ’n sluk van die whiskey en skud sy kop. “Hulle wil by my antwoorde hê, maar ek is net so dronkgeslaan en sy hou vol sy kan niks onthou nie. Sy weet ook nie waarom sy die nag teen die berg gebly het nie.”

      Ben trek die lêer nader, maak die omslag oop en laat die blaaie deur sy vingers gly. Sy blik gly geoefend oor die inskrywings voor hy die lêer toemaak en vraend opkyk: “Net lees, nè?”

      “Ek het mos so gesê.” Willem se blik dwaal oor die tafels, wat nou byna almal vol sit.

      “Solank ons albei dit verstaan.” Ben maak die omslag toe, gooi die laaste whiskey in sy keel af en suig dan aan ’n ysblokkie.

      “Wil jy nie eet nie?”

      “Nee dankie, Katie het kos gemaak, en in elk geval wil ek sommer net vanaand ’n slag voor die TV gaan lê en ve­geteer.”


Скачать книгу