Met ander woorde. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Met ander woorde - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
sê hy soek ’n vrou?” wil Lisa laggend weet.

      “Alle mans soek ’n vrou, almal is net nie mans genoeg om dit te erken nie.”

      Ben lag hardop. “So praat ’n man wat geval het. Hy laat dink my aan ’n ou roker wat eendag ophou en dan vir almal wil preek oor die nadele van rook. Daar is niks so hoogheilig soos ’n ou roker of drinker nie.”

      “Het Sanet jou gisteraand gekry?” verander Lisa steeds laggend die onderwerp. “Sy het hierheen gebel om te hoor of ek weet waar jy is.”

      “Sy was by die huis toe ek daar kom.”

      “Ek dog jy wou gisteraand TV kyk.” Willem skink hulle glase vol.

      “Ek wou.”

      “Ek hoop julle is versigtig. Ek wil my nie oor jou bekommer nie.”

      “Ja, Pa, dankie, Pa, ek sal versigtig wees, Pa.” Ben kyk spottend na Willem, wat brommend sy kop skud.

      “Ek het vanoggend ’n draai by jou pasiënt gaan maak. Waarom het jy my nie gesê dis Helen se vriendin nie?”

      Willem stoot effens verleë sy hand deur sy hare. “Ek weet mos hoe jy oor studente voel.”

      “Maar tog het dit jou nie gekeer om haar lêer vir my te gee nie, en jy het geweet as ek dit eers gelees het, sal ek gaan kyk.”

      “Ek het gehoop jy stel my nie teleur nie.”

      Ben rek homself lui uit. “Ek weet nie wat om vir jou te sê nie. Daar kan ’n duisend redes wees waarom sy so ’n episode gehad het. Dis presies waarom ek nie met studente wil werk nie, veral nie die meisies nie. Hulle is so vol hormone en drama.”

      “Ek gaan maak of ek dit nie gehoor het nie,” laat Lisa verontwaardig hoor. “Dis ’n gruwelike veralgemening en ek sal graag wil weet waarom jy dink dis op haar van toepassing. Het sy jou al ooit die idee gegee dat sy die histeriese, hormonale soort is?”

      “Ek ken haar nie so goed nie, maar as ek terugdink aan geleenthede waar ek haar saam met Helen-hulle beleef het, kan hulle ook maar erg dramaties raak.”

      “Jy verwar nou histeries met dramaties. Die meeste vroue is geneig om meer dramaties as mans te wees, maar dit beteken nie ons het almal histeriese persoonlikhede nie. En daai klomp is eintlik maar net vol selfvertroue, hulle weet wat hulle wil hê en natuurlik is hulle nie bang om hulle mening te lug nie. So, as jy my vra, moet julle maar verder soek. Ek glo daar was ’n trigger, hetsy fisiek of emosioneel, wat haar so laat reageer het.”

      “Sielkunde 101,” spot Ben toe Lisa stilbly.

      Sy glimlag soetweg. “Jy skaats op dun ys. As jy my wil hê, sal jy baie nicer moet wees.”

      “Ek het weer daaroor gedink en ek is nie seker dat ek ’n sielkundige wat my kop kan lees vir ’n vrou wil hê nie.”

      “ ’n Witrot kan jóú kop lees, maar los nou eers jou praatjies en sê vir my wat gaan ek vir haar ouers sê,” onderbreek Willem hulle.

      “As sy ’n kêrel gehad het, sou ek gesê het hulle het dalk probleme. Sy sal nie die eerste meisie wees wat ineenstort as ’n verhouding nie uitwerk nie. Die dorp is vol van hulle.” Ben proe stadig aan sy wyn en laat dit vir ’n oomblik op sy tong lê.

      Willem knik en kyk na Lisa. “Sy was vir twee jaar in ’n redelik stormagtige verhouding betrokke, maar sy het vroeër vanjaar met die ou uitgemaak. Ons het hom al ’n keer of wat ontmoet en ek is verbaas dat sy so lank uitgehou het. Verwaande klein bliksem. Hy is saam met haar in die klas en briljant, maar een van daai wat net te slim is vir hulle eie gesondheid.”

      “Daar het jy dalk jou antwoord. Stormagtige verhoudings het die geneigdheid om nie sommer net op ’n dag tot ’n einde te kom nie. Dis soos om ’n tenkskip tot stilstand te bring, dit gebeur nie sommer skielik nie. As jy sê sy het vroeër vanjaar die verhouding beëindig, is dit waar­skynlik die remmerke waarmee jy nou sit.”

      “Dis darem ’n vreeslik simplistiese diagnose,” maak Lisa kopskuddend beswaar.

      “Wat sê ek Maandag vir meneer en mevrou Lazarus? Dis die remmerke van ’n verhouding wat skeefgeloop het?”

      “Sê vir hulle net wat jy weet. Wys hulle al die verslae en uitslae en sê dis soms moeilik om ’n diagnose te maak. Jy sal nie die eerste dokter wees wat nie weet wat met ’n pasiënt aangaan nie,” laat Ben skouerophalend hoor. “As ek haar ouers is, sal ek haar laat opneem vir observasie as sy nie binne die volgende week of twee beter word nie.”

      “Of jy kan haar by jou opneem vir waarneming . . .” Willem kyk hoopvol na sy vriend en Ben begin stadig glimlag.

      “Of jy kan haar vir Karel stuur. Hy hou daarvan om met studentemeisies te werk.”

      “Julle stuur haar nie na Karel toe nie. Daai man het die morele waardes van ’n vlakhaas – en dan beledig ek waar­skynlik die haas.” Lisa kyk ergerlik van die een na die ander.

      Ben hou sy hand op. “Weet jy of sy en die kêrel ’n seksuele verhouding gehad het? As dit die geval is, is ek nog meer oortuig van my diagnose. Sy voel dalk nou skuldig omdat sy saam met hom geslaap het en nie met hom gaan trou nie. Sommige meisies se koppe werk so.”

      “Hoe kan jy sommer net ’n diagnose uit jou duim sit en suig? Vroue is wragtig meer gekompliseerd as dit, en die lewe begin en eindig nie noodwendig vir ons by ’n man nie, al wil julle dit graag glo. Sy mag ’n plaaskind wees, maar sy is nie naïef nie en sy het nie ’n slagoffermentaliteit nie. Sy is eintlik een van daai mense wat high on life is.”

      “Hoe lyk ’n mens wat high on life is?” Ben kyk spottend na Lisa.

      “Dis die verskil tussen iemand wat ’n dop of ’n joint nodig het om ’n party te geniet en mense wat stone sober die lewe van ’n party kan wees. Hulle láát dinge gebeur. Sy is gedurig met een of ander projek besig. Sy dien op die juridiese vereniging, sy was lid van haar koshuis se HK en sy is in haar derde jaar as studenteraadslid verkies. Dis nie iemand wie se wiele afval as ’n verhouding nie uitwerk nie. En verder kom sy van die Karoo af. Daai mense het sterk ruggrate.”

      Ben hou sy glas vir Willem om weer vol te skink. “Is dit nou ’n geval van virtue lies in the eye of the beholder?” Hy lag en hou dan sy hand op toe Lisa se mond weer oopgaan. “Ek is nie besig om haar karakter aan te val nie en ek sê ook nie dit is die oorsaak van haar probleem nie, maar niemand van ons kan sê hoe iemand onder sekere omstandighede sal optree nie. Sterk mense is nie onfeilbaar nie en sy is op ’n ouderdom waar vroue nog by tye baie emosioneel kan wees, veral as hulle studente is, want die fokus is nog grootliks op hulleself en enige rimpeling in die teekoppie kan as ’n volskaalse storm ervaar word.”

      “Los nou maar die gemiddelde student,” maak Willem hulle stil. “Ek moet haar die voordeel van die twyfel gee en seker maak ons het nie hier met ’n groter probleem te doen as ’n kêrel nie.”

      “Maak net seker van haar seksuele geskiedenis. Ek is ernstig as ek sê dit kan soms tot erge emosionele probleme aanleiding gee.”

      “Jy klink nou soos een van Freud se dissipels. Wat is volgende? ’n Elektra-kompleks?”

      Ben skud laggend sy kop vir Lisa. “Moenie sommer vir Sigmund afskryf nie. Hy het ook geglo dat ’n vrou se inherente afguns haar daarvan weerhou om ’n regverdige oordeel te hê. Ek vermoed hy gaan nog eendag tot profeet verklaar word.”

      Toe Willem begin lag, kyk Lisa met nougetrekte oë na hom. “As ek jy is, sal ek versigtiger wees waarvoor ek lag.”

      “Kan jy nie dink voor jy praat nie?” kla hy in Ben se rigting. “Here I was, peacefully minding my own business.”

      “Moenie al die skuld op hom pak nie. Jy het nie nodig gehad om saam met hom en sy vriend Freud te stem nie.”

      “Kan ons asseblief terugkom na die onderwerp onder bespreking? Wat sê ek Maandag vir Kristina se ouers?”

      Ben staan stadig op en strek sy arms bo


Скачать книгу