Hard soos kameeldoringhout. Sarah du Pisanie

Читать онлайн книгу.

Hard soos kameeldoringhout - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
nie en ek sal haar dalk ’n paar woorde toevoeg wat haar hart sal laat staan.”

      Martie staan verslae en vasgenael op een plek. Sy hoor nie meer die helfte van wat Braam so gekleurd kwytraak nie.

      Een sinnetjie bly by haar maal: “Hy was ellendig siek van koors.” Haar pa is siek! Dalk is sy te laat, dalk leef hy nie eens meer nie! Bekommernis en vrees meng met die ongeduld in haar.

      Sy draai sag om en stap kop onderstebo terug na haar wa toe. Die wa kraak kermend toe sy inklim. Haar gedagtes registreer egter nie sulke alledaagse dinge nie. Alles maal en kolk onstuimig binne-in haar. Sy sal nou baie vinnig ’n besluit moet neem. Sy moet eenvoudig so gou moontlik by haar pa kom.

      Vinnig sit sy regop toe ’n idee haar skielik te binne skiet. As hy moet weet sy is die sendeling se dogter en glad nie so oud as wat hy dink nie, sal hy dan bereid wees om haar saam te neem? Ingedagte byt sy op haar lip. As sy aan die bebaarde man dink, maak die vrees haar lam en gedagteloos. So ’n woestaard wat soveel bier kan drink en so vreeslik kan vloek – tot wat is hy nie nog alles in staat nie?

      Moedeloosheid dwing haar op haar knieë. Lank staan sy so voor die kampbedjie – sonder raad of hoop. Haar gedagtes wil nie vorm aanneem nie en haar denke is net ’n warboel van skokke. Sy staan later op. As sy rustiger is, sal sy weer probeer bid. Nou is dit hopeloos.

      Sy gaan sit in die opening van die watent. ’n Ligte bries stoot soos ’n asemteug teen haar wange. Die werf raak stil en die aandgeluide meng met die stilte binne-in die wa.

      Sy eet ’n stukkie en begin haar aandwerkies afhandel. Haar hande werk stil en sommer vanself, terwyl haar gedagtes koorsagtig ’n opening uit die doolhof soek.

      Vasberade stoot sy haar probleem later op die agtergrond. Tyd bring raad. Vannag as sy rustiger is, sal sy die probleem weer uithaal en probeer orden.

      Die wit linnenagrok vou los en sag om die skraal lyfie. Haar hare hang in twee dik vlegsels oor haar skouers en dit laat haar jonk en weerloos lyk.

      Heelwat later klim sy bo-op die kampbedjie en vou haar bene onder haar in. Haar hande klem om die verslete ou Bybeltjie waaruit sy al soveel leiding en vertroosting geput het. Sy sluit haar oë en toe sy hierdie keer bid vir leiding, is dit stil en afwagtend binne-in haar.

      Vanaand sal sy uit Rut lees: Rut wat ook eens na ’n vreemde land moes gaan; Rut wat ook sonder heenkome was. Sy lees die hele boek deur en dan val haar blik weer op ’n stukkie wat sy reeds gelees het – hoofstuk drie, van vers sewe af. Dis asof die flikkerliggie van die kers dié gedeelte spesiaal uitsonder.

      Nadat Boas geëet en gedrink het, en sy hart vrolik was, en hy gaan slaap het by die ent van die hoop, het sy stilletjies gekom en sy voetenent oopgemaak en gaan lê. En die man het teen midder­nag geskrik en vooroor gebuig en gesien daar lê ’n vrou aan sy voetenent. En hy vra: “Wie is jy?” Toe antwoord sy: “Ek is Rut, u dienares, brei dan u vleuel oor u dienares uit, want u is die losser.”

      Ingedagte bêre Martie haar Bybel onder haar kussing en lê agteroor. Sy vou haar hande onder haar kop en staar peinsend na die skrefie naghemel wat deur die opening van die seil sigbaar is.

      Boas se hart was ook vrolik. Dit maak seker nie nou saak of dit van wyn of van bier was nie. Tog . . . Rut het in hom ’n oplossing vir haar probleem gesien.

      Sy sug. Sy glo nie Boas kon vloek soos hierdie man nie. Hy sê dit in rympies op, en met soveel smaak dat dit seker vir hom lekker is! Wel, van een ding is sy amper seker en dis dat Boas ook so ’n nare swart baard moes gehad het. Ten spyte van alles het Rut egter haar toekoms in Boas se hande geplaas.

      Martie trek haar skraal skouers agteroor toe sy haar op haar elmboog lig om die kers dood te blaas. Wel, as Rut kans gesien het . . . wie is sy dan om terug te deins?

      Die reuk van die vetkers hang gesellig in die tent toe sy teen die kussing teruglê. Sy glimlag wrang en fluister dan in die donker stilte: “Slaap rustig, ou Boas met jou vrolike hart. Sodra jy die wapad vat, slaap Rut by jou voetenent!”

      Hoofstuk 2

      Net die feit dat sy nou ’n definitiewe besluit geneem het, laat haar die volgende oggend rustiger voel. Aan al die gevolge wat die besluit kan inhou, wil Martie glad nie dink nie.

      Sy veins ’n hoofpyn en Klaus se vrou is die ene simpatie. Sy hou die kleingoed ver van Martie se wa af weg.

      Martie voel skuldig omdat sy die dierbare vroutjie so bedrieg, maar sy wil nie hê die bebaarde Braam Potgieter moet haar te sien kry nie.

      Klaus kom later die oggend daar aan met die nuus dat Braam haar nie wil saamneem nie.

      Eers antwoord sy nie. Toe Klaus haar afwagtend en skewe­kop staan en betrag, sug sy en sorg dat sy baie geskok lyk.

      “Ek sal daaroor moet nadink, meneer Stolz. Ek weet nie wat om nou te doen nie. Ek sal jou laat weet.”

      Sy roep egter vir Apools en Chrisjan en laat hulle in haar geheim in. Saam bespreek hulle die saak tot in die fynste besonderhede.

      Die dag is eindeloos lank en warm. Sy probeer ’n bietjie borduur, maar haar hande sweet só dat dit ’n onbegonne taak is. Dit voel vir Martie soos ’n ewigheid voordat die skemerte uiteindelik oor die werf toesak.

      “Juffrou Martie!” Apools staan agter by die watent om te kom verslag lewer oor die dag se gebeure.

      “Ja, Apools?”

      “Die mense trek môre. Dit is soos juffrou Martie gedink het.”

      “Dan is dit reg, Apools. Is alles in orde?”

      “Ja, juffrou, alles is reg. Ek wag net vir die donkerte, dan sal ek die vaatjies vol vars water kom maak.”

      “Goed, baie dankie. Julle moet goed slaap. Sodra hulle op pad is, kom roep julle my. Ons gee hulle ’n uur tyd om voor ons uit te trek.”

      Die dag breek nog rosig en skaam in die ooste, toe is Martie se wa al ingespan. Chrisjan is voor by die osse en Apools moet nog net die perd opsaal.

      Klaus Stolz is glad nie gelukkig oor haar besluit nie.

      “Is jy doodseker jy wil dit doen, juffrou? Jy kan regtig maar nog hier bly. Hier sal wel weer die een of ander tyd mense verbykom wat in daardie rigting gaan.”

      “Ek moet by my pa kom, meneer Stolz. Hy is siek en jy het tog gehoor wat meneer Potgieter gesê het.”

      “Maar, juffroutjie, Braam Potgieter is ’n vreeslike mens. Hy is goed op sy manier, maar wild! Ek weet regtig nie of dit die regte ding is om te doen nie. Hy het gesê hy vat jou nie saam nie, maar nou weet ek nie! Hy kan soms vreeslike goed aanvang.”

      “Hy sal my darem nie kan wegjaag nie. Ek vra mos niks van hom nie. Ek trek net al in sy spore, dis al!”

      “Dit sal dalk nie altyd so maklik wees nie. Wees maar net gewaarsku en op jou hoede. Sorg dat jy altyd ’n gelaaide geweer byderhand het.”

      Die lang rus het die osse die wêreld se goed gedoen. Hulle is vet en uitgerus en sommer vol lewe. Martie hou die pad gespanne dop. Sy verwag dat die bebaarde reus enige oomblik hier voor haar in die pad sal opdoem. Hy het seker al teen hierdie tyd agtergekom dat hulle aan die kom is.

      Hulle trek egter gemaklik in Braam se spore wat duidelik in die rooi grond lê. Teen die middag is die hitte egter ondraaglik. Die wêreld is nog pragtig en ruig vir hierdie tyd van die jaar. Martie ril liggies toe sy na die bosse en die lang, geel gras langs die wa kyk. Wat skuil nie alles in hierdie ruigtes nie!

      Apools ry kort-kort ’n entjie vooruit met die perd. Hy is ook maar versigtig en Martie weet dat Braam Potgieter by hom net so ’n vrees ingeboesem het as by haar.

      Die son sak al laag in die weste toe Apools vinnig terugkom ná een van sy verkenningstogte.

      “Die mense span uit, juffrou Martie. Gaan ons nader?”

      Martie byt ingedagte op haar lip. Rut is nou glad nie meer so seker van Boas se toegeneentheid nie!

      “Ons


Скачать книгу