Proteus. Deon Meyer
Читать онлайн книгу.net ’n dag of twee. Dan’s ek terug.”
Weer die skud van die kop, vol voorkennis.
“Ek kan nie anders nie.”
“Jy kan nie anders nie? Natuurlik kan jy anders. Jy kan ‘nee’ sê. Jy kan dat hulle hul eie moeilikheid regmaak. Jy skuld hulle niks.”
“Ek skuld vir Johnny Kleintjes.”
“Jy het vir my gesê jy kan nie meer daardie lewe lei nie. Jy het gesê jy’s klaar daarmee.”
Hy sug diep. Hy draai terug na haar toe, sy hande en sy stem pleitend. “Dit is waar. Ek het dit gesê. En ek het dit bedóél. Niks het verander nie. Jy is reg – ek kan ‘nee’ sê. Dit is ’n keuse. Mý keuse. Ek moet die regte ding kies. Ek móét die regte ding doen, Miriam, die ding wat van my ’n eerbare man maak. En dit is die moeilikste keuses. Dit is áltyd die moeilikste keuses.”
Hy sien hoe sy luister en hy kry hoop vir begrip. “My skuld aan Johnny Kleintjes is ’n man se skuld. ’n Ereskuld. Eer beteken nie net om vir jou en Pakamile te sorg nie, om elke middag huis toe te kom, om ’n werk te doen wat binne die wet en geweldloos is nie. Dit beteken ook ek moet my skuld nakom.”
Sy sê niks.
“Verstaan jy?”
“Ek wil jou nie verloor nie.” Byna onhoorbaar sag. “En ek dink nie hy kan bekostig om jou te verloor nie.” Haar oë wys na die seun buite.
“Julle sal my nie verloor nie. Dit belowe ek jou. Ek kom terug. Gouer as wat jy dink.”
Sy draai na hom toe, sit haar arms om sy lyf, hou hom vas met ’n desperaatheid.
“Gouer as wat jy dink,” sê hy.
* * * * *
Die grootste vertrek op Wale Street Chambers se sesde verdieping staan bekend as die Opskamer en dit is nog net agt keer in 24 maande gebruik – vir “paraatheidstoetsing”, die term wat Janina Mentz gebruik vir die kwartaallikse oefenlopies om die stelsels en haar span se standaarde te meet. Die bank van twaalf televisiestelle teen die oostelike muur is gekoppel aan digitale en analoë satelliettelevisie, kringtelevisie en videokonferensiegeriewe. Die ses tafelrekenaars aan die noordelike muur is met optiese vesel aan die plaaslike netwerk en die Internet-ruggraat gekonnekteer. Langs die dubbeldeur aan die westelike muur is die digitale instemmer en ontvanger van die radionetwerk en die sellulêre en landlyn-telefoonsentrale met 18 meeluistervaste lyne en telefoonkonferensiegeriewe. Teen die suidelike muur is die groot wit skerm waarteen die videoprojektor, wat aan die dak hang, sy beeld kan werp. In die middel van die vertrek staan die ovaaltafel met sitplek vir twintig mense.
Die sestien wat nou aan die tafel sit, het ’n sterk vermoede dat die laatmiddag-wekroep na die Opskamer nie ’n kwartaallikse paraatheidstoetsing is nie. Daarom is daar elektrisiteit in die vertrek as sy instap, hul oë wat haar volg met ingehoue afwagting. Daar sou al gerugte gewees het. Die meeluisterspan sou hul voorkennis met ’n meerderwaardigheid gedra het, sou geskimp het en vaag kopknikkend toegegee het dat iets aan die gebeur is terwyl die ander afgunstig raai en op ou gunste sinspeel om inligting te bekom.
Daarom rus die sestien pare antisiperende oë op haar. In die verlede was daar ander vrae wat met die draai van koppe gevra is. In die begin, toe sy dié span namens die direkteur begin saamstel en bou het, was dit meting. Hoofsaaklik van haar vaardighede, haar behendigheid, haar gesagsvermoë. Want hulle is feitlik almal mans en hulle kom uit vorige betrekkings waar hul geslag die septer geswaai het. Hulle het haar getoets en hulle het geleer dat kras taal en kru optrede haar nie van stryk bring nie, dat aggressie haar kalm en koud laat, dat fynonthulde antifeminisme haar nie uitlok nie. Hulle het haar agtergrond stukkie vir stukkie bymekaargesit sodat hulle die nuwe baas kon ken: Die plattelandse herkoms, die briljante akademiese loopbaan, die politieke bedrywighede, die stadige klim van die Partyleer – want sy’s wit en sy’s Afrikaans en iewers tussenin getroud en geskei. Tot die direkteur haar met die hand gaan uitsoek het.
En eindelik het hulle haar gerespekteer vir wat sy hier vermag het, vir die manier waarop sy dit gedoen het.
Daarom stap sy in die vertrek in met ingehoue selfvertroue en kyk op haar horlosie voor sy sê: “Goeienaand, almal.”
“Goeienaand, mevrou Mentz.” ’n Gemoedelike koor wat voldoen aan die direkteur se voorskrifte oor formele betiteling.
Sy is ontspanne, onopsigtelik in beheer. Sy vou die grys romp met ekonomiese presisie onder haar in as sy aan die hoof van die lang tafel gaan sit, by die skootrekenaar wat onder die tafel by een van die veelvuldige poorte ingeprop is om deur die videoprojektor te kan werk. Sy skakel die stelsel aan.
“Laat ek begin by die een ding wat seker is: Dié Opskamer is vanaf hierdie oomblik amptelik operasioneel. Hierdie is nie ’n toetsing nie.” Daar is ’n tinteling in die vertrek.
“Laat daar geen twyfel wees dat hierdie die ware Jakob is nie. Ons het hard gewerk om tot hier te kom en nou gaan ons vaardigheid en ons vermoëns getoets word. Ek maak staat op julle.”
Koppe knik, geesdriftig.
Sy aktiveer Microsoft Powerpoint. “Hierdie foto is negentien dae gelede by die ingang van die Amerikaanse Ambassade geneem, deel van ons roetinewaarneming. Die man wat by die deur uitkom, is Johnny Kleintjes, ’n voormalige leiersfiguur van die Struggle se intelligensiediens. Hy het Wiskunde en Toegepaste Wiskunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer, maar het weens politieke bedrywighede, inperking en geweldige druk van die destydse regime se Veiligheidspolisie nie sy graad voltooi nie. Hy was ’n uitgewekene sedert 1972, te laat om een van die mgwenya van die jare sestig te wees. Het vinnig opgang gemaak by die ANC- en MK-kantoor in Londen. Getroud in 1973. Hy kry Oos-Duitse opleiding by Odessa vanaf 1976 en spesialiseer gou in Intelligensie, waar hy die bynaam Umthakathi, “towenaar”, kry — danksy sy behendigheid met rekenaars. Kleintjes was verantwoordelik vir die vestiging van die ANC se rekenaarstelsels in Londen, Lusaka en Quibaxe in Angola in die jare tagtig en, meer belangrik, die projekleier vir die integrasie van Struggle- en Regime-rekenaarstelsels en -databasisse sedert 1995. Na sy vrou se dood aan kanker in 1997 tree hy op ouderdom 62 af en deel ’n huis met hul enigste dogter, Monica.”
Sy kyk op. Sy het steeds die aandag.
“Die vraag was: Wat het Johnny Kleintjes by die Amerikaanse Ambassade gaan doen? En die antwoord is dat ons nie geweet het nie. Telefoonwaarneming van die Kleintjes-huishouding is dieselfde aand geïnisieer.”
Sy druk die muisknoppie. Nog ’n foto, swart-wit. ’n Vrou, effens geset, by ’n motor se oop deur. Die growwe grein dui op ’n telefotolens en ’n lang afstand.
“Dit is Monica Kleintjes. Tipiese verhaal van ’n kind van uitgewekenes. In Londen gebore in 1974, het daar skoolgegaan en daar gebly om haar studies in Rekenaarwetenskap in 1995 te voltooi. Sy was in 1980 die slagoffer van ’n motorongeluk buite Manchester, waartydens sy albei bene verloor het. Sy weier om krukke of ander hulpmiddele te gebruik en kom sedertdien met kunsbene oor die weg. Sy is enige personeelbestuurder se regstellendeaksie-droom en is nou in diens van Sanlam se tegnologieafdeling as senior bestuurder.”
Janina manipuleer sleutels op die rekenaar. “Dit dan die hoofrolspelers van wie ons foto’s het. Laat ons kom by die rede waarom ons hier is. Die volgende gesprekke is vanmiddag na aanleiding van ons meeluistering opgeneem.”
* * * * *
Hy en Pakamile sit soos elke aand by die kombuistafel met die groot blou atlas en die jongste National Geographic. Miriam se stoel is soos altyd ’n entjie weg, naaldwerk op haar skoot. Vanaand lees hy oor Chile, oor ’n eiland aan die Suid-Amerikaanse weskus waar wind- en reënerosie fantastiese vorms uit die rots kerf, waar unieke plantlewe ’n vals groen paradys skep en dierelewe byna nie bestaan nie. Hy lees in Engels soos dit geskryf staan, want die seun moet daaruit die taal beter leer ken, maar vertaal dan paragraaf vir paragraaf in Xhosa. Dan sal hulle die atlas oopslaan en Chile op die wêreldkaart soek en later blaai na ’n kleiner skaal kaart van die land self.
Hulle lees nooit meer as twee bladsye nie, want Pakamile se konsentrasie verflou vinnig,