Sarah du Pisanie Omnibus 9. Sarah du Pisanie

Читать онлайн книгу.

Sarah du Pisanie Omnibus 9 - Sarah du Pisanie


Скачать книгу

      Skielik verskyn die donker gestalte van ’n ruiter op ’n perd van agter ’n bos en kom neem reg voor hulle in die pad stelling in. Hierdie man is gemasker, met ’n groot hoed op en ’n sakdoek om die onderste gedeelte van sy gesig gebind.

      “Julle is vroeg. Ek het beplan om julle by Trawal voor te keer.”

      “Ek het vroeër begin, omdat ons net een perd het. Ek kan nie so vinnig beweeg nie. Ons sal in elk geval eers môrenag by ons bestemming wees. Ek kan nie deur die dag ry nie.”

      Die gemaskerde man oorweeg hierdie woorde eers ’n oomblik lank en knik dan liggies.“Ja, dit is slim van jou om vroeër te begin. Ek sal jou daardie eer toegee. Jy handel op eie inisiatief en wag nie dat alles vir jou voorgesê word nie.”

      Katrien skuif vaster teen Dewald en sy voel hoe sy arm gerusstellend stywer om haar middel span. Die stem van die gemaskerde man het ’n vreemde aksent en hy is ook taamlik geset. Dit is beslis nie die een wat haar gevang het nie.

      “Kom!” Die gemaskerde man draai uit die grondpad uit en ry oor die veld. Hy ry op ’n vinnige galop en hulle moet ook na ’n galop oorslaan om by te hou.

      “Dewald,” fluister Katrien agtertoe.

      “Ja?”

      “Ek is bang.”

      “Moenie bang wees nie. Ek is by jou en ek sal jou beskerm.” Die man voor hulle hou sy perd in en klim af. “Kom.”

      Dewald spring van die perd af en hou sy hand na Katrien uit wat gewillig in sy arms afgly. Hy sit sy arm styf om haar middel en help haar tot by ’n groot klip daar naby.

      Die nag is te donker om te sien wat hierdie toneeltjie aan die uitdrukking in die gemaskerde man se oë doen. Katrien se vrees van so effe sou heeltemal gegrond gewees het as sy dit kon sien.

      “Maak die vroumens vas, ek moet alleen met jou praat.”

      “Sy kan nie wegkom nie. Sy het haar enkel beseer.”

      “Maak vas die vroumens. As sy jou hart sag gemaak het, skiet ek haar hier voor jou dood.”

      “Jy sal dit nie waag nie. Klaus het haar nog nodig.”

      Dewald praat nie verder teë nie, maar sy hande is sag en teer terwyl hy haar hande agter haar rug vasbind.

      “Waaraan moet ek haar vasmaak? Hier is nie ’n boom nie.”

      “Bring net die perde saam sodat sy nie een van hulle kan gryp nie.”

      Dewald gee haar ’n sagte drukkie op haar skouer en Katrien voel effens beter.

      Die hele situasie is vir haar onverstaanbaar. Die een oomblik wil sy graag vir Dewald vertrou en voel sy ook dat sy dit kan doen, maar dan gebeur daar skielik weer iets vreemds en weet sy nie wat om te dink nie.

      Sy sien hulle agter die rots inbeweeg en sluip saggies nader. Haar enkel is al baie beter en sy kan al met redelike gemak daarop trap. Sy sien die flikkerligte van ’n vuurhoutjie toe die ander man ’n sigaret aansteek en dan hoor sy die diep gemurmel van sy basstem.

      Sy hoor Dewald se gedempte stem. “Nou wat het nou gebeur? Van watse probleem praat jy?”

      “Daar is ’n hele klomp Beskermingstroepe op Otjimbingwe. Ons het hulle nie nou al daar verwag nie. Hulle sou eers volgende maand kom, aangesien hulle daar om Windhoek gekonsentreer was. Jy het tog self gesien en gehoor dat hulle alles regmaak vir ’n moontlike aanval deur ons. Ons het dit juis so beplan om die beeste hierdie keer net anderkant Otjikango oor te neem en hulle dan eers ’n week of twee op Skurwekop te los en hulle dan af te jaag Rehoboth toe.”

      “Ja, ek weet. En nou?”

      “Dit is hoekom ek julle kom voorkeer het.”

      “Wat kan nou aan die saak gedoen word?”

      “Jy en die meisiekind sal julle by die beeste moet aansluit.”

      “Hoekom ek ook? Sy kan mos alleen gaan.”

      “Man, moenie onnosel wees nie. Iemand sal haar moet oppas sodat sy nie ’n boodskap kan deurkry na die troepe toe nie.”

      “Goed. Goed, ek verstaan. Maar wat gebeur nou? Oorspronklik sou sy en Klaus met die wa vooruit gery het tot op Bloukrans en daar sou ek haar gekry het om haar dan weg te steek op Skurwekop. Wanneer die beeste die dag op Bloukrans aankom, sou ons haar net vir haar werksmense gewys het en hulle moes dan dink dat ek en sy weer verder vooruit ry. Die blaam sou dan later op haar neergekom het, omdat sy haar beeste en haar werksmense in die steek gelaat het om saam met ’n man rond te flenter.”

      “Ja, dit is hoe dit sou wees. Dan sou hulle die beeste nog aangejaag het tot anderkant Otjikango en daar sou ons oorgeneem het. Ons sou dan die klomp werksmense met ’n draai naby Windhoek gaan los het, sodat hul storie heeltemal verwarrend kon klink.”

      “Wel, ek het nou net gedink ek is deurmekaar en dat ek die oorspronklike reeks opdragte vergeet het. Wat gebeur nou?” Dewald klink so koel en beredeneerd dat Katrien op haar tande kners. “Nog presies dieselfde. Ons sal net nie ongesiens by die Beskermingstroepe verbykom nie. Hulle inspekteer glo die beeste wat daar verbykom en sien toe dat dit die werklike eienaars is wat daarmee trek. Ongelukkig het hulle nou gehoor hier is ’n vrou by hierdie trop. Hulle het blykbaar deesdae hul informante wat hulle laat weet wanneer daar ’n trop aan die kom is.”

      “So! Dit raak dan mos nou gevaarlik.”

      “Ja, en ons het nogal gedink dit gaan een van die maklikste rooftogte wees, juis omdat ’n vroumens hulle bring. Nou lyk dit vir my asof dit juis ons probleem is. Ons kan nie nou sommer een van ons manne daar sit en maak asof ons die eienaar is nie.”

      “Waar kry julle al die gegewens?”

      “Ons het ’n Herero in die fort wat ons goed betaal om vir ons die nuus uit te bring.”

      “Dit is slim van julle. In verband met die nuwe plan, wat word nou van my verwag?”

      “Jy moet net sorg dat jy haar gedurig onder skoot het. Jy slaap by haar in die wa. Jy los haar nie ’n oomblik alleen nie.”

      “Nee, dit kan ek darem nie doen nie.”

      “Julle was die hele week alleen in die berg. Hoekom nou skielik so vroom?” Katrien hoor die ander man se sissende stem, laag en wantrouig. “Luister, ek het oë in my kop. Ek dink ek moet liewer self saam met haar ry, dan neem jy my werk oor. Dit lyk mos vir my asof daardie vrou jou sag begin maak. Ek het vir Klaus gesê hy moet liewer dat ek dit doen . . .”

      “Ag, man, moenie simpel wees nie. Ek werk net op ’n ander manier as jy. Daar is baie maniere om ’n ding reg te kry. Ek het haar so verlief gemaak op my, sy eet uit my hand uit! Dit is baie makliker as om haar heeldag met ’n geweer op te pas.”

      Geskok staan Katrien agter die rots. Trane van magtelose woede loop oor haar wange.

      Die gemaskerde man lag sag en wellustig. “Ja, dit is seker ook ’n manier, maar daar sou nie veel van haar oor gewees het as ek ’n week lank saam met haar alleen was nie.”

      “Ek vreet nie alles in een dag op nie; ek kou liewer lank aan die lekker.” Dewald klink egoïsties en vol van homself.

      “Wel, dit klink nogal asof dit kan werk.” Dit is ’n rukkie stil en dan praat die gemaskerde man weer. “Nou hoe gaan jy die saak so oplos?”

      “Nee, sy dink ek gee vir haar om en ek sal haar help om haar beeste terug te kry. Sy maak nou net soos ek sê.”

      “Ja, dit kan nogal werk. Jy sorg net dat sy nie die een of ander gek ding aanvang nie, want dan is dit verby met jou.”

      “Nee wat, man, sy sal niks doen nie. Ek sê jou mos, sy eet uit my hand uit.”

      Die groot man klap met sy lippe en lag luidrugtig. “Nee, kyk, soveel selfbeheersing kan ek tog nie aan die dag lê nie. Nie eens vir so ’n vet slag soos ons met hierdie klompie beeste gaan slaan nie.”


Скачать книгу