Met die oog op liefde. Malene Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Met die oog op liefde - Malene Breytenbach


Скачать книгу
dan sy, dan Lily Mpephu. Die ander personeel is in die volgende waens.

      Sy kyk na die verbysnellende landskap toe harde stemme in die gang haar aandag trek. Sy is so nuuskierig dat sy die deur op ’n skrefie oopmaak en uitloer.

      “Waarom moet ek in die ander wa wees as die dokters in dié wa is? Waarom is die apteker hier? Ek is darem die brilmaker. Dis ’n belangrike pos op dié trein,” hoor Naomi hoe Welma Botma luidkeels kla. “Dis nie regverdig nie.”

      Anthony se rustige, paaiende stem antwoord haar. “Welma, die feit dat jy in die wa by die verpleegsters en ander personeellede is, maak jou nie onbelangrik nie.”

      “Julle diskrimineer. Ek hoor hier is nog een leë kompartement in dié wa.”

      Anthony se stem is meteens nie meer besadig nie. Dit is meer soos ’n sweepslag. “Ons reserveer daardie kompartement vir dokter Lotter. Dokter Mpephu het vir Monique Retief hier in dié wa geplaas omdat daar nog een kompartement beskikbaar was. Almal se werk en bydraes is belangrik, van die bestuurder tot die portier tot die laaste veiligheidsbeampte. As jy ontevrede is met ons reëlings, moet jy by dokter Mpephu gaan kla en nie by my nie. Gaan spreek haar sommer nou.”

      Naomi hoor met afgryse dat die meisie in trane uitbars. O, hier is werklik drama. Sy loer weer uit. Anthony het die meisie se hand gevat en hy fluister vir haar. Naomi kan nie hoor wat hy sê nie.

      Meteens gaan ’n deur oop en Monique se stem klink in die gang af. “Watse lawaai is dit tog? Ek wou bietjie slaap, en nou maak julle my wakker.”

      “Welma voel nie lekker nie.” begin Anthony taktvol.

      “Ek het haar gekla gehoor. Jimmel, klim in Johannesburg af as jy dink ons diskrimineer teen jou, Welma.”

      Anthony klink streng. “Nee, ons sal nie weer maklik ’n goeie brilmaker kry nie, en jy is goed, Welma, anders het ons jou nie gekeur nie.”

      “Wat is die probleem?” kom Lily Mpephu se stem.

      “Lily, praat asseblief met Welma en verduidelik …” hoor Naomi, maar Lily is amper voor haar deur en sy maak dit vinnig en saggies toe. Op hierdie trein gaan daar beslis onderstrominge en drama wees, daaraan twyfel sy nie.

      *

      Naomi gaan om vyf voor sewe na die eetwa, waar daar al verskeie mense gesels en kos bestel. Sy ruik die heerlike geure uit die kombuis en dit laat haar honger maag kla. Sy gaan sit by die tafel waar sy middagete geëet het. Lily Mpephu sluit by haar aan.

      Naomi glimlag vir haar. “Is alles onder beheer?”

      Lily slaan haar oë boontoe. “Jy het seker die relletjie in die gang gehoor.”

      “Ek kon nie anders as om dit te hoor nie.”

      “Ek moes mooi met Welma praat. Sy was die duiwel in, sy wou glo by die dokters bly. Kan jy dit nou glo?”

      Sy kyk verby Naomi en glimlag. “Hier kom ons mooi baas. Hy kan enige ding ontlont. Daar is niks verkeerd met sy bedside manner nie. ’n Paar mense op dié trein kan by hom leer. Hallo, Tony.”

      Hy skuif langs Naomi in. Sy ril letterlik en ruik sy naskeermiddel. Hy lyk ook altyd vars.

      “Hallo, Lily, hallo, Naomi. Mag ek jou al so noem?” Hy is so naby dat sy kan sien hoe dig sy swart wimpers is.

      “Natuurlik. Wat noem ek jou?”

      “Tony. Ons kan mos maar informeel wees so onder mekaar. Stem jy saam?”

      “E … ja. Tony, dan.” Sy kyk tersluiks na hom en hy grinnik.

      Monique en Roelf kom saam aangestap. Hy skuif langs Tony in en Monique moet aan die oorkant van die tafel langs Lily inskuif. Naomi sien met ’n skok dat Monique giftig na haar kyk. Seker oor sy langs Tony sit. Dis tog kinderagtig om so te reageer. Sy maak asof sy dit nie agterkom nie.

      Die eetwa is gou vol geselsende mense. Kelners draf heen en weer om die kos te bedien. Naomi geniet dit vreeslik om langs Tony te sit. Sy verbeel haar hy gee vleiend baie aandag aan haar.

      “Weet jy iets van die geskiedenis van oftalmologie?” vra hy terwyl hy ’n broodjie uit ’n mandjie neem en dit breek.

      “Ja, nogal, hier en daar.”

      “Dis vreeslik interessant. Die eerste katarakchirurg was die Indiër Sushruta wat in 800 v.C. gelewe het. Aristoteles het weer diere se oë gedissekteer en agtergekom dat die oog uit drie lae bestaan.”

      “Ek weet dalk iets wat jy nie weet nie. Die man wat die taal Esperanto uitgewerk het, was ook ’n oogarts. Ek vergeet sy naam.”

      Tony lag. “Nee, jy lyk verniet so ingenome met jouself, ek weet wel van hom. Ek onthou ook nie sy naam nie, maar hy was ’n Pool.”

      “Kyk hoe loop hulle te koop met hulle kennis,” spot Roelf.

      Naomi ignoreer vir Roelf en konsentreer op Tony. “Wat weet jy nog wat ek nie weet nie?”

      “Weet jy dat die president van Sirië, Bashar al-Assad, sy kliniese opleiding in oftalmologie in ’n Londense hospitaal gedoen het?”

      “Nee, sowaar?”

      Roelf spot weer luidkeels: “Dis waarom hy nie ’n land kan regeer nie. Hy moes liewer by oogsiektes gehou het. Nou brand sy land en haat die hele wêreld hom.”

      Naomi kyk nie eens na hom nie. “Jy kom pas van Engeland af, Tony. Wat het jy alles daar gedoen?”

      “Ek was by die Royal College of Ophthalmologists waar ek die MRCOphth-eksamen afgelê het. ”

      Naomi kan haar verwondering en bewondering nie wegsteek nie. “Dis indrukwekkend. Die keuring is seker baie streng?”

      Hy haal sy skouers glimlaggend op asof dit niks is nie. Maar sy weet net die uitblinkers kry dié geleentheid.

      “Waarmee werk jy die graagste?”

      “Retinale oftalmologie, laserbehandeling en chirurgie van die retina. Ek verwyder graag katarakte en werk met die kornea, die okulêre oppervlak en oogsiektes, gloukoom …”

      Monique gaap openlik. Naomi is verbaas dat sy haar verveeldheid sommerso wys. Tony het dit opgemerk en frons vlugtig. Naomi trek weer sy aandag.

      “Wie is volgens jou die heel beste oftalmoloog?”

      “O, ek bewonder meer as een, maar ek sonder graag vir dokter Albrecht Hennig van Duitsland uit. Hy het die vishoektegniek uitgevind. Hy en sy span het in 2004 meer as agt-en-veertigduisend suksesvolle katarakoperasies in Nepal gedoen.”

      “Sjoe, dis baie!”

      “Ja, in vergelyking daarmee werk ons maar op ’n klein skaal. Hy is genomineer as Eye Health Hero by die jaarvergadering van die International Agency for the Prevention of Blindness in September 2012. Ek was so gelukkig om daar te wees.”

      “Dit moet lekker wees om sulke erkenning vir jou werk te kry.”

      “Ek weet nie of ek nagereg moet eet nie,” onderbreek Monique hulle gesprek. Sy glimlag guitig vir Tony. “Dit maak vet en jy het gesê jy kan vet mense nie verdra nie.”

      Naomi sien hoe sy gesig verstrak. “Wanneer het ek dit gesê?”

      “Ag, eendag toe ek jou vertel het ek is op dieet.”

      “Ek het seker net ’n grap gemaak. Ek sou dit nie ernstig bedoel het nie.”

      Lily Mpephu, wat rond van lyf is, frons.

      *

      Na ete drink hulle koffie. Toe gaan almal na hulle kompartemente. ’n Vroeë aand sal haar goed doen, dink Naomi. Môre gaan weer ’n opwindende dag wees. Eers sal sy gaan stort daar op die verste punt van die wa. Sy neem haar sweetpak, handdoek, toiletsakkie en sjampoe saam.

      Net toe sy verby Tony se kompartement stap, kom hy ook uit met ’n handdoek, toiletsak en skoon klere oor sy arm. Haar simpele hart begin sommer rumoer.

      Hy


Скачать книгу