Ena Murray Keur 4. Ena Murray

Читать онлайн книгу.

Ena Murray Keur 4 - Ena Murray


Скачать книгу
trouring aan haar vinger geglip het, is daar verbasing, verwarring in haar hart. Selfs op hierdie oomblik, met Babilon voor haar, met sy baas se groot gestalte en strak gesig hier langs haar in die motor, kan sy dit nog nie glo nie, nog nie die werklikheid aanvaar nie. Die feit dat sy werklik met Calvyn de Ridder gaan trou het, werklik toegestem het om so iets te doen ná alles wat gebeur het, laat haar verslae, en sy besef dat die lang maande van swaarkry ’n vreemdeling van haar gemaak het, ook vir haarself.

      Wat het haar besiel om so iets te doen? En tog, van die oomblik af dat sy in sy geslote gesig opgekyk het toe hy so skielik sy verskyning in haar kamerdeur gemaak het, het sy instinktief geweet dat soos Calvyn dit wil hê, so sal dit gebeur; dat wat hy besluit oor haar en haar kind, so sal wees.

      Miskien het die maande wat haar weggaan van Babilon voorafgegaan het, iets daarmee te doen gehad – daardie maande wat sy geleer het om maar liewer te swig as om die baas van Babilon teen te gaan. Miskien was dit die gewoonte wat in daardie maande aangekweek is, wat haar ná vergeefse en floue proteste Calvyn maar sy gang laat gaan het, soos hy gewoond is om te doen. Want diep in haar onderbewussyn het die wete gelê: Calvyn kry tog maar altyd op die end sy sin. Waarom haar onnodig bemoei? Waarom stry terwyl sy tog nie in staat is om met haar verswakte gestel en afgestompte sinne sterk teen hom te staan nie?

      Gisteraand het hulle halfpad gekom en in ’n hotel oornag. Sy was nogal verbaas oor Calvyn voorgestel het dat die pad te lank vir haar en die kleintjie is om in een skof af te lê. Maar dan, het sy besef toe sy in die bed lê en Calvyn reeds nag gesê en na sy eie kamer gegaan het, is sy bedagsaamheid natuurlik nie vir haar bedoel nie, maar vir die erfgenaam van Babilon. Die ou verbittering het weer soos ’n vlam in haar opgestoot. Dis wat haar lewe van nou af sal wees: sy sal in die skaduwee van haar kind lewe, sy sal geduld word om haar kind se ontwil. Haar oë het lank op die onskuldige gesiggie gerus. Jou toekoms is verseker, my seun, maar … watter soort toekoms wag op jou ma? Wat kan Babilon anders as nog meer trane en verdere hartseer vir my inhou? Die bitter gedagtes het in haar bly kolk en maal.

      Dis op ’n ongeleë oomblik dat hulle op Babilon aankom. Toe hulle voor die stoep stilhou, kyk Salome met beklemming in haar hart na die groepie mense op die stoep. Dis teetyd en elkeen sit met ’n koppie in die hand. Hulle is almal daar – Ria, Joey de Ridder, Wanda en Deon.

      Skielik voel sy ’n hand oor hare skuif en sy hoor Calvyn sê: “Daar is niks om te vrees nie. Ek het Deon se deel van die plaas oorgeneem en Babilon behoort nou heeltemal aan my. Dit is nou jóú huis, jy is die vrou daarvan. Verstaan jy, Salome?”

      Sy kyk stadig na hom op met paniek in haar oë, en sy oë vernou terwyl sy greep op haar vingers versterk. “Jy is geen indringer nie. Jy is my vrou. Van vandag af neem jy die huishouding van Babilon oor, en soos jy in die huis besluit, so sal dit wees. As daar iemand is vir wie jou besluite nie pas nie, dan … wel … dan moet sy padgee. Deon en Wanda bly op Wanda se plaas. Haar ouers het dorp toe getrek. Vir hulle sal jy byna nooit sien nie. Dis maar heel toevallig dat hulle vanoggend hier is. Seker maar net vir Ma kom groet. Ek wonder wanneer het dié teruggekom, en hoekom so gou al.” Hy klim uit, maak die deur vir haar oop en trek haar uit totdat sy klein en fyn langs hom staan. Hy kyk op die blink hare af. “Hierdie keer gaan dit anders wees, Salome. Dit belowe ek jou. Hierdie keer is jy my vrou.”

      Dis ’n verslae groepie mense wat sien hoe Calvyn, met sy arm beskermend om die skraal skouertjies, Salome die treetjies oplei. Dan kan Ria haar nie langer bedwing nie. Sy spring op en storm vorentoe.

      “Salome!” Sy huil terwyl sy Salome styf vasdruk. “Ag, Salome!”

      Dan druk Calvyn Ria sag maar beslis weg en lei Salome nader.

      “Goeiemôre, Ma. Welkom terug. Soos Ma sien, is al die verdwaalde skape van Babilon terug. Salome ook – om te bly.”

      “Wat … wat bedoel jy?” Joey is bleek, en hoewel sy ’n mate van hooghartigheid behou, is daar ook vrees en onsekerheid in haar stem.

      “Ons is gister getroud – ek en Salome, en …”

      “Getroud!” Ria kyk verbysterd van die een na die ander. “Getroud! Maar … maar mág julle? Ek bedoel … dis mos teen die wet … Ek bedoel, daar is mos ’n soort wet wat …”

      Calvyn se kalm stem bring haar ontstelde stameling tot swye.

      “Nee, nie meer nie. Dis lankal teruggetrek. Ek verseker jou ons is volkome wettig getroud.” Hy kyk stip na Joey, wat bleek in haar stoel sit. “En daarom is Salome van vandag af die vrou in hierdie huis. Dis haar huis en haar huishouding.” Hy lei haar ’n paar tree verder. “Goeiemôre, Wanda, Deon.”

      Salome kyk eerste in Wanda se oë – oë wat haar met giftige wantroue aanstaar. Dan gaan haar blik na Deon, en weer eens tril verbasing deur haar. Sy het hierdie oomblik so gevrees, die oomblik wanneer sy weer in Deon se oë sal moet kyk. Maar sy het verniet gevrees, want Deon se blik is afgewend en dis hy – nie sy nie – wat bid dat die grond moet oopgaan. Die greintjie gewete wat nog in Deon de Ridder lewe, roer onrustig.

      Calvyn druk ’n stoel teen Salome se bewende bene aan.

      “Sit, Salome.” Hy laat weer sy blik oor die ander dwaal. “Daar is nog iemand wat ek aan julle wil voorstel. Ek is nou terug.”

      Dis ’n swaar swye wat volg terwyl Calvyn terugstap motor toe. Toe Salome dit waag om een keer op te kyk, is dit in Ria se grootgerekte oë waarin sy vaskyk. Duidelik vra die jong meisie se ontstelde blik: Het julle hom hiérheen gebring? En duidelik antwoord Salome se oë: Ja, natuurlik, waarheen anders dan?

      Hy plaas die babadrawiegie in die middel van die stil groepie neer sodat elke oog hom kan sien.

      “Ontmoet die erfgenaam van Babilon – my seun, Calvyn.”

      Salome kyk na hom op, en wat sy sien, laat die onstuimige woelinge in haar skielik verstil. Saam met die res staar sy roerloos na hom, sien die forse gestalte wat soos ’n wakende engel oor die mensie in die drawiegie staan, die sterk gesig, die oë so uitdagend, die mond so vasbeslote. En dit word wonderlik stil binne-in Salome, want meteens sterf die laaste vrees oor haar kind se toekoms weg. Sy weet dat sy nooit oor haar kind ’n oomblik van bekommernis hoef te hê nie, geen bedenkinge oor die klein Calvyn meer hoef te koester nie. Die ander Calvyn, die groot man wat hom so trots en uitdagend as sy seun voorgestel het, sal hom beskerm, hom alles gee wat ’n seun maar kan verlang. Wat Calvyn de Ridder ook al mag wees, watter foute hy ook al mag hê, één ding weet sy: haar kind is veilig by hom. Hy sal vir hom ’n pa wees.

      Dan dwaal haar blik weg van haar man se gesig af en rus op Deon. Die eerste keer in haar lewe sien sy Deon de Ridder werklik bleek, werklik ontsteld. Net vlugtig flits sy oë in hare, maar dis yskoue oë, net so uitdagend soos dié van Calvyn, wat in syne terugstaar. En langs hom staar Wanda na die mandjie, en dis of sy in ’n standbeeld van skok verander het. Kalm draai Salome haar kop en kyk na Joey de Ridder, die tweede keer haar skoonma. Haar wange lyk deurskynend bleek, en ook sy kyk af in die mandjie asof sy die engel van oordeel self daarin sien lê. Salome draai haar kop verder, en hulle glimlag vir mekaar – Ria en Salome …

      Dis weer Ria wat eerste tot verhaal kom en opspring. Sy kniel langs die mandjie en trek die kombersie verder weg van die gesiggie.

      “O, Salome! Hy is te pragtig! Mag ek … mag ek hom maar optel?”

      “Ja. Hy sal nou-nou wakker word. Dis sy voedingstyd,” sê sy floutjies.

      Versigtig, asof hy breekbaar is, lig sy die mensie op voor almal se oë. Hy gee ’n lang gaap en knies met die vuisies teen die neus. Dan gaan die ogies ontevrede oop en kyk fronsend op na die rusverstoorder. Ria ruk haar asem in.

      “Calvyn, het jy gesien?”

      “Wat?” Hy sak ook op sy hurke langs Ria neer en die eerste keer in maande sien die mense van Babilon dat sy baas glimlag.

      “Hy lyk nes jy en Pa! Kyk net daardie frons! Dis dan kompleet …” Dan swyg sy vinnig en ’n bloedrooi blos vlek oor haar wange. Dis Calvyn wat die delikate oomblik oorbrug.

      “Natuurlik lyk hy nes ek en Pa. Dis mos ’n klein Calvyn, die toekomstige Calvyn de Ridder, wat jy


Скачать книгу