Die Suidwestertjie. Sarah du Pisanie

Читать онлайн книгу.

Die Suidwestertjie - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
vinnig neer en stap na haar toe.

      “Het jy dan ’n skuldige gewete, Sarie-kind? Jy ís soms onmoontlik en dit sal goed wees as iemand jou ’n slag skrik maak.”

      Sarie sug van verligting toe sy besef dat sy darem nie vir ’n oortreding ingeroep word nie. Sy sit haar arm om die skraal skouers in die netjiese, maar oudmodiese baadjiepak en gee die ouer vrou ’n vinnige drukkie.

      “Dankie, juffrou, jy is dierbaar.” Sy soen haar skrams op die wang en stap dan beslis na die toe deur.

      Juffrou Van der Walt se oë is sag en as Sarie nou moes omdraai, sou sy die sagtheid agter die dik brillense gesien het.

      Sy tik liggies aan die deur en vee dan senuweeagtig haar hand aan haar heup af voordat sy die deur oopstoot en instap. ’n Oomblik leun sy eers met haar rug teen die deur wat sy sag agter haar toedruk en haal diep asem.

      Hy is groot en stewig gebou en lyk tuis agter die enorme lessenaar. Sy hare is donker, amper swart, en lê los en blink op sy kop. Sy skouers is breed en pas die grys pak ordentlik vol.

      “Kom maar binne.” Hy kyk nie op nie, hou net aan met skryf.

      Sarie sluip saggies nader en gaan staan styf en regop voor die lessenaar. Haar blik dwaal ondersoekend deur die vertrek. Alles is weelderig en smaakvol, soos in die res van die gebou, maar hier is heelwat meer luukse artikels as in die ander kantore.

      Haar blik volg die sterk hand wat die pen oor die papier skuif en haar aktiewe verbeelding neem stadig met haar die loop.

      Sy wonder wat hy sal doen as sy skielik sy kop afdruk sodat sy neus aan die papier raak. Sy het dit dikwels met haar broers gedoen wanneer hulle so diep ingedagte gesit en skryf het. Hulle het haar natuurlik gevang en oor hul skoot getrek, maar dit het meestal in ’n spelery ontaard … Of sal sy liewer haar vingers in haar ore steek en haar mond met haar duime skeef trek? Wanneer hy hom dan verwerdig om op te kyk, steek sy haar tong uit en draai haar oë skeel.

      Sy keer die giggeltjie met mening en byt haar kieste styf vas, want wanneer hierdie histeriese gegiggel kop uitsteek, kan al die kwaai oë en fronse dit nie meer keer nie.

      “Sit tog, juffrou.” Hy klink ongeduldig en kyk fronsend op. Sy oë is donkerbruin, amper swart en sy voorkop is in ’n ontsierende plooi saamgetrek.

      Gelate sak Sarie in die stoel neer. Luister, ou Blouwildebesie, ek is nie sommer ’n hierjy nie, praat sy haarself moed in. As ek my sonde nie ontsien nie, skop ek jou op jou skeen en hardloop weg.

      Sy kruis haar lang, skraal bene netjies en sit styf en regop in die sagte stoel met haar notaboekie en potlood in die hand. Ongemerk lig sy haar ken. As hy nou suur wil wees net omdat sy hom ’n blouwildebees genoem het, moet hy dit nou maar regtig wees. Haar broers het haar al baie erger dinge as dit genoem. Hul geliefkoosde naam vir haar is dan glad Patrys en dit net oor die paar sproete op haar neus! ’n Mens moenie so liggeraak wees nie. Hý moet ’n slag tussen die klomp Suidwesters kom; hulle sal hom gou genees.

      “Juffrou!”

      Sarie wip soos sy skrik. Sy het nooit eens opgemerk dat hy sy skrywery gestaak het en haar ernstig, fronsend sit en dophou nie.

      2

      Sarie trek die swaar kiaathoutdeur agter haar toe en leun dan bewerig met haar rug daarteen voordat sy haar asem stadig uitblaas.

      Juffrou Van der Walt glimlag breed toe sy die laai toedruk en regop kom. Sarie beduie wild met haar kop en praat in ’n fluisterstem terwyl sy die woorde uitspel met haar lippe: “Hoekom het juffrou my nie gewaarsku nie? Ek was so verskrik, ek kon aan geen rede dink om te weier nie.”

      “Nou hoekom op aarde wil jy weier? Dit is ’n baie groot eer en voorreg om meneer Kritzinger se sekretaresse ’n maand of twee af te los …”

      “ ’n Maand of twee!” Sarie druk vinnig haar hand voor haar mond en sluip saggies nader aan Blommetjie. “Ek het gedink dit is net ’n paar dae. Ek … ek kan dit nie doen nie, juffrou! Hy … hy sal my wegjaag. Ek sal weer die simpelste goed aanvang.”

      “As jy net jou mond toehou, sal alles goed gaan. Jou mond is die ding wat jou gedurig in die moeilikheid laat beland, nie jou werk nie.”

      “Juffrou!” Angstig sit Sarie haar hande op juffrou Van der Walt se skouers. “Asseblief, juffrou, ek kan dit nie doen nie. Kan juffrou nie maar hier waarneem nie?”

      “Ek kan nie meer snelskrif doen nie, Sarie. Ek het dit jare laas gedoen en dit heeltemal verleer. Buitendien kan ons nie die tiksterkantoor net so los nie. Jy weet hoe belangrik dit is dat al die tikwerk nagesien moet word.”

      “Maar wat van Alet?”

      “Alet kan ook nie snelskrif doen nie. Meneer Kritzinger dring aan op iemand wat snelskrif baie goed ken; hy dikteer nog baie van sy briewe.”

      Sarie is baie na aan trane. Sy byt haar lip styf vas en die kuiltjie in haar wang spring in en uit van senuweeagtigheid.

      “Sarie, is jy tog nie bang nie?”

      “Ja, juffrou.”

      “Daar is niks om voor bang te wees nie, Sarie.” Juffrou Van der Walt neem haar saggies aan die skouer. “Ek het jou persoonlik aanbeveel en ek weet jy kan die werk doen. Jy gaan dit doen en sommer goed ook. Jy sal my mos nie in die skande steek nie, nè, Sarie?”

      “Ek sal probeer, juffrou, maar … maar as ek môreoggend nege-uur in die gang lê met ’n af nek, is dit juffrou se gewete wat juffrou gaan opkeil.”

      Juffrou Van der Walt gee onverwags een van haar seldsame laggies en Sarie staar haar verstom aan.

      “As ek jy is, Sarie, speel ek ek het keelseer sodat dit nie nodig is om iets te sê nie. As jy nie met die baas praat nie, sal jy dalk hou tot halftien.”

      Sarie glimlag valerig en staar angstig om haar rond.

      “Gaan haal gou jou handsak en kom sodat ek vir jou kan wys waar die meeste goed is. En, Sarie, ek is net hier onder in die gang as jy vashaak. Jy kan my net bel.”

      “Baie dankie, juffrou. Ek sal my ouers se adres by juffrou laat, net ingeval …”

      “Verspotte kind!” Juffrou Van der Walt draai vinnig om sodat Sarie nie die pret in haar oë kan sien nie.

      Verdwaas kom Sarie in die middel van die tiksterlokaal tot stilstand en vier paar oë staar haar bekommerd aan.

      “Sarie?” Alet stap om haar lessenaar. “Wat is dit? Is jy afgedank?”

      Ongemerk skuif die ander drie ook in ’n kringetjie om haar. “Wat is dit, Sarie?” Sankie skud haar saggies aan haar skouer.

      “Die baas se sekretaresse was in ’n motorongeluk en ek moet daar gaan aflos … dalk ’n maand lank.”

      “Maar …” Alet lag ongelowig. “Hoekom lyk jy dan asof jy ’n spook gesien het? Dit is mos ’n vreeslike eer.”

      “Wil jy nie maar die eer vir jou vat nie, Alet? Toe, asseblief.”

      Alet sleep haar aan haar arm en laat haar op die rand van die lessenaar sit. “Magda, gee asseblief vir Sarie ’n bietjie water aan.”

      Magda skarrel vinnig weg en kom terug met ’n glas water wat sy voor Sarie se mond hou.

      “Wanneer moet jy begin?” Ilze kyk bekommerd na die bleek gesiggie. Sy sou ook maar so gevoel het; die baas is ’n bot, onvriendelike mens.

      “Nou! Blommetjie wag om vir my te wys waar alles is.”

      “Jy is die een met die beste kwalifikasies, ou Saartjie.” Alet vryf liggies oor Sarie se wang en tik haar dan speels teen die ken. “Ons ander kan nie een snelskrif doen nie en die baas is glad nie lief vir die diktafoon nie.”

      “Dit is wat Blommetjie ook sê.”

      Sankie gee Sarie se handsak aan en Magda druk gou Sarie se hare effe netjieser. Sy staan ’n entjie agtertoe


Скачать книгу