'n Nooi vir Omdraaikrans. Sarah du Pisanie

Читать онлайн книгу.

'n Nooi vir Omdraaikrans - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
alles deurmekaar kom krap.

      “Ek sal hulle alles moet vertel.”

      “Dink jy hulle sal verstaan?” Hilda is opreg bekommerd. Vir die heel eerste keer lyk die plan vir haar ook nie so eerlik nie. Mariet het die dierbaarste twee ouers en sy sal nie wil hê hulle moet haar in ’n slegte lig beskou nie.

      Die harde, selfsugtige streep in Hilda kry egter die oorhand. As sy nou gaan sag word, lê daar vir haar drie maande van uiterste verveling voor. Oorspronklik was sy nie van plan om watter kursus ook al te volg nie. Sy is nou egter wel bereid om dit te doen eerder as om daar in die boendoe begrawe te word.

      “Ek weet nie of hulle sal verstaan nie, Hilda. My pa sê altyd daar is nie so ’n ding soos ’n middeweg nie. ’n Ding is reg of dit is verkeerd. Hierdie ding wat ons wil doen, is verkeerd!”

      “Ag, ek is seker daarvan dat hulle tog sal verstaan, Mariet. Dit is mos net drie maande. Hulle is sulke wonderlike mense. Hulle sal tog vir my die kans gun.”

      “Dit is juis omdat hulle sulke wonderlike mense is dat ek hulle nie wil bedrieg nie. Ek moet sê, ek sal meer tevrede voel as hulle van alles weet.”

      “Goed, ek sal vir hulle ’n briefie skryf en verduidelik, dan kan jy dit sommer saam met joune pos.” Hilda sien nou vir alles kans, selfs om die minste te wees.

      “Dit sal gaaf wees, Hilda. Hulle behoort dan van jou opregtheid oortuig te wees.”

      Hilda wil dinge nou finaliseer en sy skryf dus sommer dadelik die briefie. Mariet skink vir haar nog ’n koppie tee, wat sy met ’n diep bekommerde frons op haar voorkop drink.

      “Wel, hier is die briefie. Ek sal jou nog moet inlig oor my pa se doen en late die afgelope twee jaar – ons hoef gelukkig net dié tydperk se gebeurtenisse in hooftrekke saam te vat.”

      “Ja, dit sal goed wees. Is die doktor en jou pa groot vriende?” “Nee … soos ek gesê het, hulle is net kennisse. Ek het die man nog nie met ’n oog gesien nie.”

      Hilda som haar pa se bedrywighede van die afgelope twee jaar vinnig op soos een wat dit al oor en oor geoefen het.

      “Wat was jou pa se beweegrede om jou juis na dié doktor toe te stuur? Jy sê dan hulle is nie ou vriende nie.”

      “Hy wil maar net hê dat ek drie maande lank my brood moet verdien sodat ek kan weet hoe dit voel.”

      “Is jy seker, Hilda? Hy kon mos maar vir jou enige ander werk gekry het. Hoekom juis daar op die plaas terwyl hy weet dat jy die stilte en eensaamheid so haat?”

      “Ag, dit is maar alles deel van sy plan. Hy wil hê ek moet rustiger word. Selma sê ek moet weer ’n slag leer dat die aarde onder my voete van grond is.”

      Hilda sê dit smalend, maar dit gee vir Mariet ’n heel ander beeld as dié van ’n wrede stiefma.

      “Wel, Hilda, hoe kom ek daar en wanneer moet ek gaan?”

      “Mariet … ek is jammer, maar dit was ook nog ’n voorwaarde. Ek … mag nie my motor saamneem nie.”

      “Ek begin so stadigaan begryp hoekom jy so teësinnig is om daarheen te gaan.”

      “O, Mariet! Jy is die wonderlikste vriendin. Ek weet nie hoe ek jou ooit sal kan vergoed vir alles nie!”

      “Sorg jy net dat jy die kursus slaag. Jou pa slag ons albei af.”

      “Ek sal! O, ek sal, Mariet.”

      “Wel, jy het nog nie my vraag beantwoord nie. Gaan iemand my daarheen neem?”

      “Nee, jy moet met die trein ry.” ’n Vies trek kom oor Hilda se gesig. “Daar is vanmiddag ’n trein wat jou omstreeks middernag tot op Omdraaikrans bring.”

      Volgens die trek op Hilda se gesig sou ’n mens dink dat haar pa van haar verwag om met ’n donkiekar te ry.

      “Dan sal ons moet gaan klaarmaak. Jy sal die man moet bel, Hilda. Iemand moet my vannag op die stasie ontmoet.”

      Hilda is die ene gretige behulpsaamheid en stoot vir Mariet behoorlik by die deur uit na haar kamer toe.

      “Ons moet net eers gou ’n bietjie met jou hare eksperimenteer. Jy moet dit net die eerste dag of wat dra soos myne. Dan kan jy daarmee maak wat jy wil.”

      Hilda werk met koorsagtige haas om alles gereed te kry.

      Mariet kyk na haar blosende wange en ’n ongemaklikheid roer in haar binneste. Sy wens net sy kan oortuig wees van Hilda se opregtheid. Hilda kan gewoonlik so goed toneelspeel dat ’n mens nooit seker is wanneer dit die ware Jakob is nie.

      “Neem nou maar van die klere wat ek vir jou ingepak het, Mariet. Al is dit net die aandklere.”

      “Nee! Ek sal dit nie doen nie. Ek het nog nooit iemand anders se goed gedra nie. Ek sal dit ook nie nou doen nie. Dit sal my die hele tyd herinner aan die oneerlikheid van alles.”

      Hilda dring nie verder aan nie. “Kom ons kyk dan wat is in jou tas wat geskik sal wees om mee daar aan te kom.”

      ’n Warm wolromp van geruite materiaal en ’n dofpienk truitjie met ’n bypassende serp val darem in Hilda se smaak. Mariet dink sinies daaraan dat dit een van haar beste uitrustings is wat net-net goed genoeg is.

      Dit is met ’n swaar gemoed dat Mariet ’n paar uur later deur die venster van die skommelende trein staar.

      Die rustigheid van die veld laat die onstuimigheid geleidelik bedaar, maar die rooi gloed van die ondergaande son laat haar met ’n seer hart na haar eie mense verlang.

      Sy sug liggies. Tog is daar diep in haar oë ’n sagte flikkering.

      Dit voel alles so geheimsinnig en anders.

      Mariet lag saggies. Haar broer Dirkie sal sê dit is omdat dit na avontuur ruik dat sy haar so maklik deur Hilda laat ompraat het. Dalk is dit … Hoe sal ’n mens nou weet?

      2

      Mariet trek die serp reg om haar nek en borsel haar hare met nog ’n paar hale. Die los hare irriteer haar. Haar hare is te lank om so los te dra. Sy hoop tog net die ou doktor is vanoggend beskikbaar sodat hy haar kan bekyk en klaarkry.

      Sy het die vorige nag omtrent middernag op Omdraaikrans aangekom. Dit voel alles ’n leeftyd ver van die Kaap met sy besige strate en baie mense af.

      Sy kon nie veel van die omgewing sien nie. Dit was donker en koud en sy het maar in die een hoek van die motor gesit.

      Doktor Liebenberg se chauffeur het haar op die stasie kom haal; ’n stil man wat niks onnodigs met haar gesels het nie.

      By die huis was dit net mevrou Liebenberg wat haar ingewag het; ’n netjiese vrou wat daardie tyd van die nag nog onberispelik in ’n duur snyerspakkie geklee was.

      Die vrou was nie onvriendelik nie, maar ook nie wat ’n mens gasvry sal noem nie. Sy het haar voorgestel as Alet Liebenberg. Baie korrek, maar sonder warmte.

      Mariet wou nie eet nie en het selfs ’n koppie tee van die hand gewys. Mevrou Liebenberg het haar dus haar kamer gaan wys en haar ’n goeie nagrus toegewens.

      “Jy kan môre ’n bietjie later slaap. Ek glo Kobus sal jou verskoon. Hy is baie gesteld op stiptelikheid, maar hy sal darem insien dat jy moeg is ná die treinrit.”

      Mariet kon die bedekte vermaning en die krapperigheid in die vrou se stem hoor. Sy het liggies gefrons en net ’n sagte “dankie” gemompel.

      Sy sal daaraan gewoond moet raak dat sy nou Hilda Cronjé is; Hilda met haar selfsugtige en selfgerigte geaardheid, wat seker nie baie liefde uitlok nie.

      Hierdie doktor en sy vrou weet natuurlik alles van Hilda af. Bernard Cronjé is nie ’n man wat sal doekies omdraai om sy eie kind te beskerm nie.

      Sy het hom destyds in Windhoek al so opgesom. Hy was twee keer by die koshuis om vir Hilda te kom haal. Eenkeer het hy vir haar


Скачать книгу