Dokter met die X-faktor. Susan Pienaar

Читать онлайн книгу.

Dokter met die X-faktor - Susan Pienaar


Скачать книгу
hiernatoe genooi sonder om haar daarvan te sê.

      Dieter se bakkie staan nie in die oprit of iewers in die erf nie. Sy kyk rond. G’n wonder sy het die ding gemis nie. Dáár staan die voertuig onder ’n boom straataf geparkeer. Dit is gewas en dit blink. As sy die grys viertrek vroegtydig gesien het, sou sy wragtig liewer gesorg het dat sy en Kevin na ’n inkopiesentrum gegaan het.

      Suné kom staan langs haar. “Wat gaan aan met jou, hè? Jy’t nie eens vir Anja en Bennie gegroet nie, en jy storm binnetoe sonder om vir Dieter hallo te sê.”

      Suné se suster kom staan met die baba in haar arms langs haar en Suné op die stoep. “Haai, Leandra.”

      Leandra glimlag. “Hallo, Anja, gaan dit goed?”

      “In die omstandighede seker oukei. Ek kry hopeloos te min slaap met Melda wat tandjies sny.”

      Leandra vat ’n handjie vas. “Hallo, Melda, hallo,” koer sy, maar probeer nie eens om die babadogtertjie by haar ma te vat nie. Sy hou nog altyd haar afstand wat babas betref en wil tog nooit as te nimmer broeis raak nie.

      Anja se man kom gee Leandra ’n drukkie van die kant af. “Hallo, Leandra. Wat gaan jy drink?” Hy staan met ’n yslike bottel koeldrank in sy hand en nog een onder sy ander arm.

      Leandra glimlag. “Haai … hallo, Bennie. Koeldrank sal lekker wees, dankie. Ek sal daar by julle onder die lapa kom drink.”

      Leandra wag tot net sy en Suné op die stoep agterbly voor sy vra: “Wat maak Dieter Erlank hier?”

      “Ek het hom genooi, wie anders? Wat is nou so vreeslik daaraan?”

      “Plaas jy my net vooraf gewaarsku het, dan het ek weggebly.”

      “Maar dis darem baie lelik van jou? Die arme man is alleen in ’n vreemde stad … sonder vriende en sy familie sit iewers in die Noord-Kaap. Dieter het jou mos niks gemaak nie? Of het hy?”

      Suné weet niks van wat intussen gebeur het nie, want hulle het nie Vrydagaand of gister oor die foon gesels nie. “Dieter was Vrydagmiddag lekker ongepoets teenoor my.”

      Suné frons. “Ek verstaan nie so mooi nie. Vrydagmiddag het ons twee mekaar by die hospitaal gegroet en jy’t my niks gesê nie. So wanneer was hy ongeskik met jou?”

      “Dieter is die man wat my parkeerplek gesteel het,” fluister Leandra dringend. “Dit was sý grys trok wat ek ’n modderbespatte skedonk genoem het, en nog al daai ander lelike goed soos: ‘Die ou wat daai ding ry, skree ek’s ’n man met ’n oormaat testosteroon’.”

      Suné sit ’n hand oor haar mond toe sy proes van die lag. “Nooit! En jy’t hom boonop ’n sot ook genoem.”

      Ja, Suné, vryf dit in. “Dis nie iets om oor te lag nie. Hy’t my Vrydag ’n lift aangebied tot by my kar, en toe ek nee sê oor ek naby myne was, het hy my met my eie woorde gekonfronteer. Gesê ek wil nie saam met hom ry nie oor sy bakkie ’n gepanelbeate skedonk is wat vir plaasdiere gebruik word.”

      Suné lag, sluk dit dan. “Vergeet dit, Leandra. Dis nie so erg nie. Buitendien hét hy mos darem jou parkeerplek gesteel, so hy’t verdien wat jy als kwytgeraak het.”

      Mm, Suné is nog nie verlief nie as sy dink Dieter verdien dit. “Jy kan maklik praat, dis mos nie jý wat die goed gesê het nie. Jy verstaan nie, Suné. Ek en daai man moet nou daagliks saamwerk, maar dít is nie vir my die ergste nie, want ek hoef net die nodige in teater met hom te praat. Maar hoe dink jy moet ek hom vandag, terwyl almal jollie is, in die oë gaan staan en kyk en vriendelik wees?”

      “Jy sal maar net beleefd moet wees, want ek beplan om hom vir myself in te katrol. En jy is my beste vriendin, so jy’t nie ’n keuse nie.”

      “Jy’s deksels vinnig, dis al wat ek kan sê.” Leandra stap agter Suné aan lapa toe. Sy voel Dieter se oë op haar. Almal kyk vir haar, so nou moet sy maar ewe skynheilig glimlag. “Hallo,” sê sy net en neem ’n glas koeldrank. “Thanks, Bennie.”

      Dieter vat Melda by Anja. “Hallo, Leandra,” sê hy vriendelik, asof niks onaangenaams tussen hulle gebeur het nie. Sy voel verlig. Dalk het hy maar net gegrap, toe neem sy hom ernstig op.

      Leandra bly ongemaklik staan. Daar is ’n stoel langs Dieter oop, maar sy gaan nie daar sit nie. Netnou dink hy dalk sy is net so orig soos Katleen en Suné. Dankie tog, Kevin staan op sodat sy kan sit, loop haal dan ’n stoel doer aan die ander kant en kom sit langs haar. Gelukkig is almal se oë op die baba in Dieter se arms, so haar huiwering om langs Dieter te sit, het ongesiens verbygegaan. Sy kyk skrams na Dieter en sien hoe hy met Melda speel.

      Sy is lekker geklik. Sy kan nie anders nie, as sy haar kom kry, dink sy aan Dieter en staan sy en droom die simpelste goed oor hom. Sy het tot begin om sy gesig te skets, maar die boek gegooi dat dit dáár trek toe sy als onthou wat Vrydag gebeur het.

      Kyk nou net hoe dierbaar lyk Melda se kuitjies wanneer sy op haar toontjies staan terwyl Dieter haar op ’n bobeen op en af laat spring. Sy gryp-gryp met klein, dom vingertjies na sy gesig en veral na sy mond. Hy bring haar nader, en sy vat aan sy gesig, maar dan neem hy die handjie in syne en soen die vingertjies.

      Nee, genade, laat sy liewer wegkyk. Maar toe sy haar kom kry, kyk sy al weer na hulle. Selfs die baba sien sy mooi mond en tande raak, want sy bly gryp daarna. Lagplooitjies waaier om sy oë terwyl hy saggies met Melda praat en lag. Leandra probeer, maar kan nie wegkyk nie. Gefassineerd staar sy beurtelings na hom en die baba. Hóékom … sy kan dit nie verstaan nie, waarom is sy so oorbewus van Dieter se manlike aantreklikheid? Hy kyk skielik verby die baba na haar, en direk in haar oë. Onder die digte, donker wenkbroue glinster sy oë prettig, die swart pupille donkerder naas die helderheid van die groen. Sy moet onthou om die effense dun fronsplooitjie tussen sy wenkbroue in te skakeer wanneer sy by sy oë kom … die heel boonste lagplooitjie aan die buitekant van elke oog moet net so effentjies dieper as die onderste twee …

      Leandra skeur haar oë weg en drink ’n slukkie koeldrank terwyl ’n diep hunkering haar oorval. Net vir ’n oomblik wil sy Melda wees wat met daardie klein handjies aan sy gesig vat. Hy is darem vreeslik gemaklik met Melda, asof hy gereeld vyf maande oue babas hanteer.

      Leandra voel hoe Kevin sy arm skielik oor haar skouers sit en met haar hare speel. Sy vererg haar bloedig vir sy vatterigheid, maar probeer dit ignoreer terwyl sy meedoen aan die gelag en gesels. Kevin sit dan boonop ’n hand op haar been, vryf daaroor en skuif die syerige materiaal van haar rok effens boontoe. Leandra sien uit die hoek van haar oog hoe Dieter se blik oomblikke lank op Kevin se hand rus.

      Sy staan so bedaard moontlik op en loop staan langs die visdam. Die vervlakste Kevin! Hoekom wil hy maak asof hulle iets meer as vriende is? Daar is minder as niks tussen hulle nie, nie eens egte vriendskap nie. Maar die eintlike ding wat sy nie kan verstaan nie, is hoekom sy hoegenaamd omgee wat Dieter daarvan dink dat Kevin so aan haar vat.

      Kevin kom staan langs haar en sit ’n hand op haar skouer. “Dit lyk nie vir my of ons vandag voor tweeuur geëet gaan kry nie.” Hy druk sy gesig in haar hare in en asem diep in. “Jy ruik lekker.”

      Sy roer nie, want dit voel asof haar rug brand van al die oë op hulle. “Verdomp, Kevin, moenie so voor almal aan my ruik en vat nie.” As sy hom wegstoot, gaan sy juis die aandag op hulle vestig. Wat ís dit tog met haar? Hoekom is sy altyd ontevrede met haar persoonlike lewe? Sy was nog nooit vreugdevol oor enige van haar verhoudings nie. Dit lyk vir haar sy is net gelukkig wanneer sy by die hospitaal is en werk.

      “Jy’s darem frieken omgeëllie.” Kevin laat sak sy hand.

      Leandra kyk om en sien verlig tannie Magriet en Suné wink vir haar. “Loop sit jy by die mans terwyl ek met die kos gaan help.” Sy gaan die tyd hier uitrek totdat sy haar pasiënte by die hospitaal moet gaan ondersoek. Maar eers wil sy met Kevin praat. Sy gaan die hek by haar huis nie weer vir hom oopmaak nie. Hy het homself genooi, nié sy nie.

      Als is eindelik reg, sien Leandra toe sy die eetkamer binnekom. Hulle het die kos skaars tafel toe gedra, of die mans kom binne en neem hulle sitplekke in. Leandra voel verlig. Sy het so opgesien teen die


Скачать книгу