Lang pad na liefde. Amelia Strydom

Читать онлайн книгу.

Lang pad na liefde - Amelia Strydom


Скачать книгу
dink iemand met haar verlede sou juis haar eie huis wou hê. Oukei, eiendomme langs die kus is nie goedkoop nie, en Anouk is aan die see geheg, maar sy behoort tog ’n klein plekkie te kan bekostig?

      Hy ry amper verby die karavaanpark se afdraai, sien die bord net betyds. Die sinkplaatpad dwing hom om stadiger te ry. Hy parkeer die Jag voor die houtkantoortjie, steek sy sonbril in sy bosak, en loop by die trappies op. Die vrou agter die lessenaar druk haar sigaret gou dood.

      “Middag, het meneer ’n booking vir die naweek?”

      ’n Booking? Sy speel seker. Rough and tough is nie sy scene nie, dankie. As hy vakansie wil hou, doen hy dit waar iemand vir hom sy bed ooptrek en ordentlike kos kook. Hy werk sy gat af. Wanneer hy die dag afvat, wil hy rus.

      “Middag. Ek soek vir Anouk Viviers?”

      Die vrou glimlag dat haar oë toeskreef. “Staanplek 7. Draai links wanneer meneer nou hier uitloop. Mens kan haar woonwa nie mis nie, dis die een wat so mooi gedecorate is. Sy’s by die huis, is netnou verby met haar ancient Chevy.”

      Kan dit nog haar ma-hulle se Bel Air uit die 1950’s wees? Hy sê dankie, stap uit en loer na sy Jag. ’n Kring seuns staan daarom.

      “Hei! Wat maak julle?”

      “Ons kyk net, oom,” roep ’n rooikop. “Dis ’n dêm mooi kar.”

      “Dis dêm duur ook, so loop speel julle iewers anders.”

      Hy kon netsowel met die meeue daar doer onder gepraat het.

      “Watse kar issit, oom? ’n Lamborghini?”

      Hy kners op sy tande vir die “oom”. Goeie donner, hy’s ses-en-twintig, nie ses-en-vyftig nie. Sy pá is ’n oom.

      “Moenie simpel wees nie, ’n Lamborghini is geel,” meen een van die outjies. “Dis ’n Aston hierdie.”

      Elke stowwerige seunsgesig draai na hom. “Dis ’n Jag F-type.”

      “Jis, oom moes dit in rooi gevat het!”

      “Ek hou van die swart. Toe, weg is julle.”

      “Oom kan oom se kar nie sommerso los nie.” Weer die rooikop. “Sê nou die bobbejane kom? Hulle sal oom se dak vol duike spring. Ons sal dit vir oom oppas.”

      “Oom kan net ’n lassie maak vir Coke en chips,” onderhandel ’n kort laaitie met ’n Stormers-pet.

      “Bietjie laat vir bobbejane,” antwoord Rossouw.

      “Nie te laat vir skollies nie. Hulle sal die wieldoppe van oom se kar afsteel vir tikgeld.”

      “Dink op jou voete, nè?” Rossouw haal ’n noot uit sy beursie. Meer as wat die seuns verwag het te oordeel na hoe hulle na asem snak. “Hou tog maar ’n oog, ek gaan ’n rukkie wees. Maar as ek een van julle mannetjies aan my kar sien vat, trek ek julle velle af, oukei?”

      “Sharp.” Die rooikop stoot sy borskas uit. “Ek sal kyk dat niemand eens op oom se Aston asemhaal nie.”

      “Jag,” sê Rossouw in die wegloop. “F-type, coupé.”

      Die vrou by ontvangs was reg: Net ’n blinde sou Anouk se karavaan kon mis. Rossouw fluit tussen sy tande deur. Nou het hy alles gesien. Sy het sowaar as wragtag die buitekant met ’n blommotief versier. Pienk en blou en wit, soos die lappieskomberse wat ou tannies maak. Slaat hom dood, dit lyk nogal mooi ook. Ánders, gesellig, nie simpel nie. Anouk het nie haar oog vir detail verloor nie. Daar is selfs ’n stukkie wit picket fence voor die woonwa, ’n wit houttafeltjie met stoele.

      Die karavaandeur is toe, maar hy hoor musiek daaragter speel. ’n Babablou Bel Air met wit trimmings staan lewensgroot langsaan geparkeer. Lyk wraggies soos haar pa s’n, maar opgeknap. Sou Anouk ’n idee hê wat dit werd is? ’n Versamelaar sal sy hand diep in die sak steek vir daardie baby. Hy klop aan die deur.

      “Ek ko-om,” roep Anouk.

      Rossouw skakel sy onweerstaanbare glimlag aan, reg om haar uit haar sokkies te charm. Totaal onnodig, want dis nie Anouk wat die deur oopmaak nie. Dis ’n dogtertjie. Haasbek. Blonde boksterte. Oogkleur so blou as kan kom. Die enigste mens wat hy ken met sulke oë is … Shit. Waddehel gaan hier aan?

      2

      “Ek, um …” Rossouw hap na woorde. “Bly Anouk nie hier nie?” Asseblief, asseblief, sê nee. Sê dis iemand anders se geblomde woonwa en Bel Air. Sê jy kuier net hier. Jy kan nie Anouk s’n wees nie.

      “Mamma! Hier’s ’n oom wat jou soek!”

      Die kind draai weer na hom, haar oë nog net so blou. “My mamma bak pannekoek. Vrydagaand eet ons altyd pannekoek met roomys en karamel. En piesangs, want dis gesond.” Sy kreukel haar wipneus. “Ons moet gesonde kos ook eet.”

      “So … Anouk is jou ma?” Hy sukkel om sy stembande aan die werk te kry.

      “Ja-aa, ek sê mos.”

      “Hoe oud is jy?” vra hy, al het hy ’n goeie idee.

      “Jy moet eers vra wat my naam is, man.”

      “Wat’s jou naam?”

      “Skyla. Want my oë lyk soos die lug.” Sy kyk hom op en af. “En sky is Engels vir lug.”

      Anouk se logika. Net sy wat haar kind so ’n hippienaam sal gee. Fokus, Van der Linde. “Hoe oud is jy?” vra hy weer.

      Sy konsentreer so op vingers aftel dat die puntjie van haar tong by een mondhoek uitloer. Verdomp! Daar’s ’n handvol foto’s in sy ma se album waarop sy tong presies dieselfde ding doen. Een waarop hy sandkoekies bak op die strand. By die kombuistafel vingerverf. Op die laerskool se krieketveld staan, kolf in die hand.

      “Só oud is ek.” Skyla hou ’n volle hand en haar ander duim in die lug. “Ek gaan volgende jaar grootskool toe.”

      Rossouw se maag bungee-jump van die land se hoogste brug af. Hy druk een hand teen die karavaan om orent te bly. As die aarde net wil ophou draai. Die gesuis in sy ore dreun die see tjoepstil.

      “Nou moet jy sê wat jou naam is,” sê die dogtertjie.

      “Huh?”

      “Wat’s jou naam?”

      “Rossouw.”

      Skyla se oë rek, asof sy ekstra seker wil maak hy sien presies hoe blou hulle is. Daar is ’n donkerder kring om elke iris, asof dit met vetkryt omlyn is. Nes dié wat soggens vir hom kyk wanneer hy skeer.

      “My pappa se naam is Rossouw.”

      Shit, shit, shit. Sal een van die wit houtstoeltjies sy gewig dra? Sy kniekoppe gaan hom in die skande steek.

      “Skyla? Wie’s dit?” In die woonwa hou Die Heuwels Fantasties op bedel vir Kersfeespille. Anouk verskyn agter die dogtertjie. Een kyk na haar gesig, en sy laaste knerts twyfel verdwyn. Haar hand fladder in slow motion na haar keel. Die kleur syfer uit haar gesig soos water wat in seesand wegloop. Sy moenie nou staan en omkap of iets nie. Hý kan nie help nie, hy sukkel om self regop te bly.

      “Skyla.” Anouk sit haar hand op die kind se skouer. “Gaan jy na Mollie toe. Sê Mamma het jou gestuur.”

      “Maar ek wil …”

      “Weg is jy, en bly daar tot Mamma jou kom haal.”

      “Maar Mamma, die oom se naam is …”

      “Ek weet wat die oom se naam is. Ons sal later daaroor praat. Toe, draf.”

      Skyla kyk ’n laaste keer grootoog na Rossouw voor sy by hom verbyskuur. Hy besef eers hy het sy hand uitgesteek toe ’n bokstertjie tussen sy vingers deur glip. ’n Skoon geur, seep en kleindogtertjiesjampoe, waai by hom verby. Hy is lus om sy neus in die kind se hare te druk.

      Skyla maak geen geheim daarvan dat sy nie na Mollie, wie dit ook al is, wil gaan nie. Sy loop sleepvoet, omkyk-omkyk,


Скачать книгу